Palmsondag - Lukas 19:28-41

Skriflesing (Lukas 19:28-41)

28Nadat Jesus hierdie dinge gesê het, het Hy voor hulle uit geloop op pad na Jerusalem. 29Toe Jesus naby Betfage en Betanië teen die Olyfberg kom, stuur Hy twee van sy dissipels 30met die opdrag: “Gaan na die dorpie daar oorkant. By die ingang sal julle ‘n vasgemaakte donkievul vind waarop niemand nog ooit gesit het nie. Maak hom los en bring hom hierheen. 31As iemand julle vra, ‘Waarom maak julle hom los?’ moet julle só antwoord, ‘Die Here het hom nodig.’ ” 32Die twee wat gestuur is, het daarheen gegaan en dit aangetref net soos Hy vir hulle gesê het. 33Toe hulle die donkievul losmaak, vra sy eienaars vir hulle: “Waarom maak julle die donkievul los?” 34Hulle het geantwoord: “Die Here het hom nodig.” 35Hulle het toe die donkievul na Jesus geneem. Hulle het hulle boklere oor die donkievul gegooi en Jesus laat opklim. 36Soos wat Hy ry, het hulle hulle boklere op die pad voor Hom oopgesprei. 37Toe Hy al naby die afdraande teen die Olyfberg kom, het die hele skare dissipels God vol vreugde hardop begin prys oor al die kragtige dade wat hulle gesien het. 38Hulle het uitgeroep: “Geseënd is die Koning, Hy wat kom in die Naam van die Here! Vrede in die hemel en heerlikheid in die hoogste!” 39Sommige van die Fariseërs in die skare het egter vir Jesus gesê: “Meester, berispe u dissipels!” 40Maar Hy het geantwoord: “Ek sê vir julle, as hulle stilbly, sal die klippe dit uitroep!” 41Toe Hy naby kom en die stad sien, het Hy oor haar gehuil

 

Preek

Tydens my eerste twee weke hier op Vaalwater het ek een dag in my kantoor gesit, besig om te werk. Toe ek op ‘n stadium buitentoe stap, sien ek dat ‘n donkie op die paadjie by die lapa se badkamers gemors het. Lyk my daai donkie kon nie knyp tot hy in die badkamer gekom het nie. Of dalk was dit omdat die badkamer gesluit was. ‘n Ander dag het ek met die bakkie pas by die kerk gekom, toe ek gesien het dat ‘n donkie besig is om deur die ingang van die hek te loop. So ek draai my ruit af, sê vir daai donkie “nee, nee, jy kan nie inkom nie”. Gelukkig het die bakkie wat in ry hom toe bang gemaak en hy het weggeloop. Of dalk het hy verstaan wat ek vir hom gesê het. Ek sien ook gereeld donkies wanneer ek hier in die strate rond ry. Ek het niks teen donkies nie. Dis maar net iets wat ek waarneem.

 

So wanneer Lukas praat oor Jesus wat op ‘n donkie ry, dink ek is dit iets wat ons maklik in ons kop kan visualiseer. ‘n Donkie is vir my ‘n mooi dier, maar wanneer ‘n mens dink aan die kulturele konteks van die tyd toe Lukas geskryf is, moet ‘n mens onthou dat ‘n donkie nie ‘n perd is nie. Perde is gebruik vir konings, vir oorloë en strydwaens. Donkies is gebruik vir pak-diere. Donkies was die trek-lorries van die antieke tye. Perde was die sportmotors. Jesus gaan Jerusalem binne op die rug van ‘n donkie. Jesus ry agter in ‘n trek-lorrie, binne in die “container” waar goedere gestoor word, terwyl die konings en presidente in luukse vliegtuie en sportskarre rond rits. Hoekom? Hoekom doen Jesus dit? Dit was nie omdat hy moeg was dat hy ‘n donkie gekies het nie. Dit was nie omdat hy nie van perde gehou het nie. Christus het geweet dat die tyd van sy sterfte naby was. Hy wou op ‘n plegtige wyse die aard van sy bediening wys. Ek dink ons moet ook onthou dat hierdie nie die eerste keer is dat ‘n donkie gebruik is binne ‘n koninklike tema in die Bybel nie. Lukas het heel moontlik onthou van wat in die Ou Testament gebeur het, soos in 1 Konings 1:33, waar Salomo op David se donkie was, en ook 2 Konings 9:13, by die pas-gesalfde Jehu. So binne die Romeinse en sekulêre kultuur was donkies glad nie geskik vir konings nie, maar binne die Joodse kultuur is dit iets wat nie vreemd was nie. Dit was eintlik so half ‘n teken en uitdrukking van eer. Goddelike eer. 

 

In die vrolikheid van vanoggend se viering is dit eintlik belangrik dat ons as die kerk herinner word van ons sentrale doel: om gehoorsaam deel te wees van die Evangelie.

 

In die vorige eeue, toe papier ‘n baie duur item was en brieweskryf die enigste manier was om kontak met iemand wat ver is te hê, het skrywers ‘n interessante manier gevind om papier so spaarsamig as moontlik te gebruik. Een stuk papier kan gemaak word om twee keer soveel inligting te bevat deur die kuns van palimpsest te beoefen.

 

 Nadat die bladsy vol geskryf is, is die papier eenvoudig 45 grade gedraai en dan is nog ‘n hele bladsy bo-op die bestaande lyne geskryf. Hierdie briewe kan die maksimum hoeveelheid nuus op ‘n minimum hoeveelheid papier saamdruk. Daar was net een nadeel. Dit het nou nie juis baie maklik gelees nie. Die mense wat gelees het moes ongelooflik baie gekonsentreer het en kop gehou het met wat hulle lees, omdat dinge so half bo-oor mekaar geskryf was.

 

Jesus se intog in Jerusalem is een van daardie baie gelaagde palimpses. Terwyl Lukas besig is om hierdie storie te vertel, kan ons lae tradisie en lae van implikasies sien wat daaronder en daardeur loop. Elke toneel in die verhaal put sy krag uit ‘n vroeër ouderdom, ‘n vorige inkarnasie. Die voortdurende terugflitse na Sagaria, 2 Konings en die Psalms is nodig om betekenis aan Jesus se optrede te gee. Maar een van die mees invloedryke dinge in hierdie hele storie is seker die stad Jerusalem self. Bill Wylie Kellermann, in Seasons of Faith and Conscience: Kairos, Confession, Liturgy, praat oor Jesus wat “trane van liefde vir Jerusalem” huil.

 

Kellermann gebruik ‘n metafoor vir die stad self. Hy sien dit ook as ‘n palimpsest wat tussen hierdie feestelike ingang en die wreedheid van die kruisiging lê. Daar is so baie lae, so baie dinge wat met mekaar oorvleuel, soveel goed wat geïntegreerd is. Hy herinner ons daaraan dat die naam Jerusalem in die Joodse tradisie ironies genoeg “fondament van vrede” beteken. Jesus se stap deur die stad is eintlik ‘n toer van die stad, wat begin met die heerlike optog vanaf die Olyfberg in vandag se teks en voortgaan na Lukas 19:48 met sy aankoms by die tempel self. Dis ‘n manier om te wys hoe Jerusalem se “fondamente van vrede” ” verkrummel het.

 

Omdat dit die seisoen van Pasga is, die heilige vakansiedag wat mos oor Israel se bevryding uit Egipte gaan, is Jesus se wandel selfs ‘n kragtiger beeld. In sy stap reis hy van die historiese plek van oordeel na ‘n toneel van korrupsie en onreg (die deurmekaar tempel gevul met geldwisselaars en duiweverkopers).

 

Een van die mees ingewikkelde palimpses wat Kellermann bespreek, is gebaseer op ‘n waarneming wat oorspronklik deur die teoloog William Stringfellow gemaak is. Onthou dat Jesus aan die begin van Jesus se bediening deur die duiwel gekonfronteer is met versoekings van mag. In Lukas se teks wanneer Jesus die versoeker se verleidings suksesvol weerstaan, trek die duiwel terug om op “‘n meer gunstige tyd” te wag. Wat Kellermann en Stringfellow voorstel, is dat hierdie ekstatiese oomblik van toetrede tot die stad, miskien daardie oomblik kan wees.

 

Onthou jy hoe Jesus vir die dissipels gesê het om die geleende donkie se eienaar in te lig dat die dier gevat word omdat die Here dit “noodsaak” gehad het? Miskien was die behoefte wat Jesus gevoel het om ‘n simbool te gebruik wat nie van mag en majesteit gepraat het nie, maar van nederigheid en diens. Die skraal, skraal skepseltjie wat Jesus gebruik het om tussen die skare te ry, kon ook ontsag of vrees inboesem. Terwyl die skare dus sy toetrede tot die stad toegejuig het, was die visuele beeld wat Jesus geprojekteer het ‘n palimpses van nederige diens.

 

Dwarsdeur sy bediening en veral tydens hierdie oomblik van aanloklike krag, kan ‘n mens nie ontsnap van Jesus se verwerping van geweld en die weë van die yweraars nie. Natuurlik is yweraars steeds met ons – diegene wie se heldhaftigheid net so gretig is om ‘n lewe te neem as om ‘n lewe af te lê. Jesus red die kerk daarvan om in die yweraars se verdraaide logika van geweld te verval deur te demonstreer dat die triomfalisme van mag nooit die regte pad is nie. 

 

Hierdie hele teks van vanoggend herinner my baie aan ‘n film met die naam “Children of Men”. Toe ek voorgraads finalejaar op universiteit was, het ons ‘n Nuwe Testament opdrag gekry waar ons die Bybel en Populêre Media moes bespreek. Met ander woorde, ons moes gekyk het na boeke, of flieks, of enige iets in die populêre media, en ons moes kyk of dit ‘n positiewe of negatiewe invloed op die Bybel en ons verstaan daarvan gehad het. Ek het besluit om na die film “Children of Men” te kyk. Dis ‘n film wat sy inspirasie by die Bybel kry, meer spesifiek, Christus se bediening. Die film probeer wys hoe dit miskien sou gewees het as Christus se bediening, waarvan ons in die Evangelies lees, in vandag se moderne konteks sou plaasvind. Dit gee vir ons ‘n alternatiewe hoek.

 

Children of Men vind plaas in die jaar 2027 en is gebaseer op die boek met dieselfde titel, geskryf deur P. D. James wat in 1992 gepubliseer is. Dit speel af in ‘n distopiese wêreld waar vrouens nie meer kinders kan kry nie. Die laaste kind is meer as 18 jaar gelede gebore en is tans ‘n beroemde kind, bloot as gevolg van sy geboorte. Al die regerings van die wêreld het in duie gestort en die Verenigde Koninkryk is die enigste plek wat steeds ‘n regering het. 

 

Die hoof karakter is Theo Faron. Kort na die dood van Baby Diego, die wêreld se jongste kind wat in ‘n vuisgeveg dood is, is Theo deur ‘n oproeringsgroep, bekend as die Fishers, ontvoer. Hierdie groep word deur sy ex-vrou gelei. Die Fishers is ‘n organisasie wat veg vir gelyke regte vir vlugteling veg, aangesien hulle in onmenslike omstandighede deur die VK regering gevangene gehou word.

 

Mense wat wou reis moes dus ‘n reispermit kry. Die storielyn handel oor Theo, wat die Fishers help om vir ‘n swanger buitelander, met die naam Kee, ‘n vals reispermit kry sodat hulle haar by ‘n groep met die naam The Human Project kan kry. Dit is ‘n organisasie wat daaraan werk om die onvrugbaarheid van vrouens op te los, maar die bestaan van hierdie organisasie word slegs deur gerugte versprei. Niemand weet of die organisasie werklik bestaan nie. Kee is die eerste vrou in 20 jaar wat swanger geword het. Nadat Theo uitgevind het dat die Fishers eintlik nooit van plan was om Kee by The Human Project te kry nie, moes hulle vlug. Aan die einde van hulle vlug moes hulle op ‘n klein bootjie vaar tot by ‘n dobber in die see waar ‘n skip van The Human Project hulle blykbaar sou oplaai. Theo het hierdie inligting by een van sy vriende, Jasper, bekom. Toevallig, op dieselfde dag, was daar ‘n groot opstand en Theo is in die proses erg bewond. Theo en Kee kry dit wonderbaarlik reg om op die klein bootjie te kom om tot by die dobber te vaar. Die fliek eindig waar Theo in die bootjie by Kee aan sy wonde sterf, enkele minute voor die boot van The Human Project in sig kom.

 

Een prominente teologiese motief wat na vore kom is ‘n teologie van hoop. Christus wat met ‘n donkie in die stad in kom, is ook ‘n voorstelling van hoop. Hoop vir die Jode en Israeliete wat deur die gondsdienstige leiers onderdruk en vervolg word. Daar is duidelike teologiese elemente binne die storielyn van die film. Die teoloog Conrad Ostwalt skryf dat moderne films van ‘n eskatologiese versoening wegbeweeg om meer op ‘n poging om hoop vir hierdie wêreld te bring. Met ander woorde, daar word nie meer vir hierdie onderdrukte mense gesê “toemaar, alles gaan oraait wees as jy eendag in die hemel is” nie. Nee, daar word nou beweeg na ‘n plek waar ons regtig daaraan werk om God se Koninkryk hier en nou te bring vir die mense wat dit die nodigste het. God is besig om aktief by ons en deur ons te werk. Dit help nie ons sit net op ons stoele en wag vir iets om te gebeur nie. Saam met tegnologie en film stories het mense hierdie alternatief gegee. So hoe pas Children of Men in by hierdie idee van God wat aktief betrokke by ons is sodat ons deel kan wees om God se Koninkryk te laat kom?

Om hierdie vraag te beantwoord kan daar na die naam van die hoofkarakter, Theo, gekyk word, meer spesifiek na die Griekse oorsprong van sy naam. Die naam Theo is etimologies verbind met die Griekse woord vir God, Theos. Dis ook waar die woord “Teologie” sy oorsprong kry. In die film is Theo slegs ‘n mens, maar sy aksies het die gevolg dat in die opoffering van homself om Kee te red, hy in effek een van die talle children of men is wat beide ‘n letterlike en figuurlike menslike wedergeboorte tot gevolg het.

 

Die Fishers, die naam van die organisasie wat die probleem van onvrugbaarheid probeer oplos, kan ook gesien word as ‘n spel op woorde van die Christelike vis-simbool wat deur die eeue gebruik is om Christene te identifiseer. In die film is die Fishers egter nie aan Theo en Kee se kant nie. So daar kan miskien voorgestel word dat daar deur die geskiedenis gewelddadig opgetree is in die naam van die Bybel, meer spesifiek die Messiaanse boodskap; Christus se boodskap. Die Fishers se aanvanklike bedoelings was wel positief, maar het geleidelik ontwikkel om die ideologieë van die lede te bevorder.

 

Hierdie is maar net ‘n paar voorbeelde van hoe die film “Children of Men” gebruik kan word om vir ons ‘n ander oogpunt van Christus se boodskap te gee. Die manier hoe die film God, Christus en ons geloof voorstel, is miskien ‘n manier om Christus voor te stel wat op ‘n donkie ry. Dis nie iets wat ons verwag nie. Ons verwag nie dat ‘n film Christus op so ‘n ander manier voorstel nie. Ons verwag nie dat Christus op ‘n donkie moes inry nie.

 

Op Palmsondag herdenk ons Christus wat op hierdie onverwagse manier by sy mense aangekom het. Op die rug van ‘n donkie. Nie ‘n perd nie. Ons herdenk die feit dat Christus, soos Kee in die fliek, iemand is wat nie tradisioneel gesien is as iemand wat nuwe lewe vir ons kan gee nie. Ons herdenk die dissipels, wat hulle klere gegee het sodat Christus iets het om op te sit, en dat die donkie iets het om op te loop, net soos wat Theo sy alles gegee het om seker te maak dat Kee by die regte plek uitkom.

 

Ek wil graag afsluit met ‘n gedig wat deur Neels Jackson geskryf is, wat die gebeure wat ons op Palmsondag vier, uitbeeld.

 

Met ’n donkie gaan jy nie oorlog toe nie.

Eeue se krygers het pérd opgesaal

om glorie op die slagveld te gaan haal.

Vir ’n donkie sal jy diens kon vra:

om ’n kar te trek, ’n sak meel te dra . . .

Met ’n perd kan jy die slinksste vyand jag,

hom inhaal en oorweldig met brute krag.

Op ’n perd kon ’n heerser van weleer

sy meesterskap demonstreer.

Dáár sit die grote Alexander,

Nero, Napoleon en elke ander

vegtende vors: op die rug van sy ros.

Maar Jesus,

Jesus Christus,

Hy . . .

Hy het op ’n donkie gery.

 -Neels Jackson

 

Amen.