Skriflesing (Efesiërs 5:15-20)
Die lewe deur die Gees
15 Let daarom sorgvuldig op hoe julle leef – nie as onverstandiges nie, maar as wyses. 16 Koop die tyd uit, omdat die dae vol boosheid is. 17 Om hierdie rede moet julle nie onverstandig wees nie; probeer eerder om te verstaan wat die wil van die Here is. 18 En moenie deur wyn bedwelm raak nie; daardeur ontstaan losbandigheid. Inteendeel: Word vervul deur die Gees, 19 terwyl julle onder mekaar psalms, lofgesange en geestelike liedere laat opklink, ja, van harte tot die Here sing en psalmsing, 20 en God die Vader altyd oor alles in die Naam van ons Here Jesus Christus dank. (2020-vertaling).
Preek
Die stad van Efese het ‘n baie ryke geskiedenis in die Bybel. Alreeds in Handelinge 19 lees ons die storie van hoe Paulus in Efese aangekom het. Efese was ‘n absolute massiewe stad gewees en was ook die episentrum van aanbidding, nie net vir Jode en Christene nie, maar ook baie ander Griekse en Romeinse gelowe. Paulus het vir omtrent 2 jaar ‘n groot missionale teenwoordigheid in Efese gehad, wat natuurlik veroorsaak het dat baie mense daar volgelinge van Christus geword het. So, ‘n hele paar jaar later, nadat Paulus deur die Romeine in die tronk gegooi is, het hy hierdie brief aan die inwoners van Efese geskryf.
Ek onthou vorige kere wat ek ‘n boodskap uit Efesiërs moes uitwerk. Ek het al ‘n boodskap by Durbanville Moedergemeente gegee oor Efesiërs 1, wat oor Christus se onvoorwaardelike genade gegaan het. ‘n Week later oor Efesiërs 2. Hier gaan dit daarom dat daar nie vyandskap tussen tradisionele groepe, kulture, rasse of geslagte in die gemeenskap van die Here mag wees nie. In Christus mag daar nie onderskeid tussen man of vrou, slaaf of vryman, Jood of nie-Jood gemaak word nie. Later ook Efesiërs 4, wat nog ‘n stap verder as Efesiërs 2 en handel oor eenheid tussen verskillende kerke en groepe. Hierdie week praat ons oor Efesiërs 5.
Wanneer ek ‘n bybelstudie oor ‘n teks lei dan is een van my eerste vrae gewoonlik: Wat het vir jou uitgestaan? Wat is ‘n vers of ‘n konsep wat jou aandag gevang het toe jy vir die eerste keer hierdie teks gelees het. Nou, wat my aandag eerste gevang het toe ek hierdie teks gelees het, is die deel oor wyn, vers 18. Miskien is dit omdat ek op Stellenbosch geswot het wat omring is deur wynplase.
Soos met enige bybelteks is dit absoluut noodsaaklik dat ons die hoe, waar en hoekom van die teks verstaan. Hoe het die omstandighede gelyk toe Paulus hierdie brief geskryf het, waar was Paulus toe hy hierdie brief geskryf het, en hoekom het Paulus gevoel dat dit so belangrik is dat hy mense waarsku om nie deur wyn bedwelm te word nie. So kom ons stap ‘n tree terug en kyk na die geskiedenis van Romeine en die gode wat hulle aanbid het. Dit het alles tedoen met ‘n afgod met die naam Dionusos. Dionusos was die Romeinse wyngod. Sy kultus het vanaf Asië na Antieke Griekeland oorgekom. Dionusos-aanbidding was berug vir die onbeteulde orgiese aard daarvan; dit het wyn, musiek, dans en seksuele-wangedrag behels. Euripides, ‘n antieke Griekse dramaturg, het ‘n onvergeetlike beskrywing van Dionusos-aanbidding opgeneem in sy drama Bakgai. Hierdie drama beeld die pogings uit van koning Penteus van Tebe om die Dionusos-kultus in sy stad uit te roei. Aan die einde van die toneelstuk verskeur ‘n groep waansinnige vroulike aanhangers van Dionusos die ongelukkige koning se liggaam.
Die kultus het deur die Hellenistiese tydvlak taamlik gewild gebly. Hoewel dit gedurende die 2de eeu vC in Rome onderdruk is, het Dionusos-aanbidding ‘n herlewing gekry en ‘n goedgekeurde godsdiens in die Romeinse Ryk geword. Buitestaanders het Joodse aanbiddingsgebruike soms met dié van die Dionusos-kultus verwar, moontlik as gevolg van ‘n paar redes. So, Voor die Joodse Makkabese Opstand, wat in 167vC begin het, het Griekse meesters hulle Joodse slawe gedwing om aan die aanbidding van Dionusos deel te neem. Ons lees hiervan in een van die apokriewe boeke, 2 Makkabeërs 6:7. Mense wat hierdie dinge van ‘n afstand gesien het, het baie keer die afleiding gemaak het dat hierdie Jode uit vrye wil aan die Dionusos-kultus deelgeneem het. Verder, die Joodse gemeenskap het simbole gebruik wat ook met die aanbidding van Dionusos vereenselwig is, soos die wingerdblaar, druiwetros en beker, wat almal vandag nog groot simbole in ons Christelike geloof is. Nog meer, Ekstatiese aanbidders van Dionusos het dikwels ‘n betekenislose frase uitgeskree: “Euoe Shaboe!”. Dit is dalk verwar met die Joodse Godsnaam “Jahwe Sabaot”, wat somtyds ook as “Jao(e) Sab(a)oet” uitgespreek is. Mens kan nogal insien hoe hierdie twee frases van ‘n afstand soortgelyk kon klink… “Euoe Shaboe”, “Jao Sabaot”. As iemand in die verte dit hoor, dan hoor hulle dikwels net die “oe” klank van die eerste en laaste woord.
Dionusiese dronkenskap was meer as ‘n blote selfoorgawe; dit was ‘n vervalste spiritualiteit. In die waansinnige en ekstatiese Dionusiese rituele is bedwelming deur drank gelykgestel aan vervulling met die gees van Dionusos. Sommige van die jong gelowiges in Klein-Asië het waarskynlik hierdie vorm van aanbidding saam met hulle in die kerk ingedra deur wyn met vervulling deur die Heilige Gees in verband te bring. Paulus wou hê niemand moet beskonke waansin met die krag van die Gees verwar nie. Hy het hierdie gedagte afgewys deur dronkenskap af te keur en vervulling met die Gees met ander aktiwiteite in verband te bring.
In my slaapkamer by my ouers se huis is daar ‘n groot plakkaat, met die titel “Die smal en breë weg”. Eks seker die meeste van ons het al daardie plakkaat gesien. Dis ‘n groot geverfde portret met nommers by die verskillende prentjies en onder aan die plakkaat het elke nommer ‘n teksverwysing. Aan die linkerkant is daar ‘n breë grondpad met ‘n bank, hotel, casino’s, en ‘n groot “Welkom” teken by die ingang. Aan die regterkant van daardie plakkaat is daar ‘n smal pad. Die ingang is so klein ‘n mens moet buk om daarby in te kom, daars trappe om op te gaan, ‘n kerkgebou, tente en ‘n styl optraand. Aan die einde van die breë pad is daar ‘n rooi, vurige hel, en aan die einde van die smal pad is daar ‘n geel koningkryk, engele en reënboë.
So hoekom hou ek hierdie plakkaat teen die muur op? Hoekom het ek dit nog nie afgehaal nie? Want ek dink dit is die perfekte voorbeeld van hoe ons nie met die Bybel tewerk moet gaan nie. Dis die perfekte voorbeeld van hoe ons as mense namens God besluit wat in die Bybel staan en hoe ons mense kan verdoem, eerder as om self by God te hoor wat hierdie ingewikkelde tekste sê. Regs onder aan die plakkaat is daar die woorde “Is jy tevrede met jou toekoms?” en bo, langs die titel staan daar “Soek jouself!”.
Ek het so paar minute gelede begin deur bietjie agtergrond te gee oor Efese. Dis ‘n groot stad, daar was baie gelowe, en Paulus skryf dit terwyl hy in die tronk is. Ek gee ‘n idee van hoe die wêreld gelyk het sodat ons die skrifgedeelte beter kan verstaan. Ek praat oor die Romeinse wyngod, Dionusos sodat ons die konteks van die tyd beter kan verstaan. Maar dis nie wat daardie plakkaat in my slaapkamer doen nie. Dit skets ‘n prentjie van, byvoorbeeld, nommer 52, wat korrespondeer met ‘n man wat swart aangetrek is met ‘n masker wat ‘n vrou in ‘n rooi bikini skiet. Onder aan is die teksverwysing Titus 2:5 “verstandig en kuis, goeie huisvrouens, onderdanig aan hulle mans”. Nommer 69 is ‘n man wat oorgewig is wat in ‘n restaurant eet, met die teksverwysing Spreuke 23:2 “En bedwing jou as jy ‘n groot eetlus het”. Nou, met hierdie tipe nie-kontekstuele teologie en sogenaamde “tweeser teologie”, sonder om enigsins iets te weet oor die boek of agtergrond van die tekste, is dit eintlik skynheilig van die ontwerper van hierdie plakkaat om nie ‘n prentjie te hê van iemand wat oefening doen en lekker draf, saam met die teksverwysing van Spreuke 28:1, wat sê “Die goddelse hardloop weg, al jaag niemand hom nie” of miskien iemand wat in bubblewrap toegedraa is en alleen op ‘n bankie sit, met die teksverwysing van Spreuke 28:14 “Dit gaan goed met ‘n mens wat altyd versigtig is”. Ek kyk onlangs weer na hierdie plakkaat en ek sien nommer 50. Mense wat rondom ‘n tafel staan, besig om gesellig wyn te drink. Hulle lyk nie dronk of buite beheer nie, hulle staan en gesels met mekaar terwyl daar een of twee halwe glasies rooiwyn op die tafel staan. Die teksverwysing? Efesiërs 5:18. “Moenie deur wyn bedwelm raak nie”.
Ek sluit af: Die baie bekende Franse filosoof, Paul Ricouer, skryf oor sogenaamde “vrot” afdelings van geloof: Die begeerte om beskerm te word en die vrees om gestraf te word. Wanneer ons na die plakkaat van die smal en breë weg kyk, dan is die eerste emosie wat ons gewoonlik voel een van vrees. Ons vrees wat met ons gaan gebeur as ons nie op hierdie smal weg bly nie. Ons vrees dat ons dalk onbewustelik iets verkeerd gaan doen. Dis nie wat geloof in God beteken nie. God is nie ‘n God van angstigheid en bang-maak beelde nie. Dis nie wat die konsep van “ die vrees van God” beteken nie. God is ‘n God van liefde. Julle sien, die teks oor die smal en breë weg is 2 versies in Matteus 7, in vers 13-14:” Gaan deur die nou poort in. Die poort wat na die verderf lei, is wyd en die pad daarheen breed, en die wat daardeur ingaan is baie. Maar die poort wat na die lewe lei, is nou en die pad daarheen smal, en dié wat dit kry, is min”. En so word ‘n hele plakkaat geskilder deur twee verse in die Matteus evangelie op ‘n teologie van angstige vrees te interpreteer.
Ja, ons moet beslis die Bybel ernstig opneem en gedeeltes soos die smal en breë weg kontempleer en bespreek, maar ons moet dit doen op ‘n verantwoordelike manier deur na God toe te gaan en te hoor wat God se hart agter die teks is, en dit nie lees op ‘n manier wat ons bang gaan maak vir ‘n kwaai God nie. Dit is juis hoe ons die Bybel ernstig opneem. God se genade is groter as dit. God se liefde is baie groter as dit.
Efesiërs 5 praat oor die misbruik van wyn, maar die doel van die teks is om die vroeë Christene te waarsku oor Dionusos en die kultus wat daarmee gepaard gaan. Paulus sê vir sy luisteraars dat God soveel groter is as Dionusos en dat hulle nie met daardie kultus geassosieer moet word nie. Dit is die konteks van Efesiërs 5. Paulus waarsku ons oor afgode en kultus praktyke. Paulus waarsku ons dat ons by God moet hoor wat die beste vir ons lewens is. Dit is wat Paulus se hart is wanneer hy die woord “bedwelm” gebruik.
Dis wat Christus vir my so wonderlik maak. Eers vat God die beeld van die kruis, ‘n beeld van dood, seer en hartseer, en draai dit heeltemal op sy kop tydens die opstanding. Nou is die kruis nie meer ‘n beeld van dood nie, maar ‘n beeld van lewe, liefde en omgee. So gepraat van Efesiërs 5, Christus vat die beeld van wyn, ‘n beeld wat met Dionusos en ‘n kultus geassosieer is, en draai dit weereens op sy kop. Wyn is nou in ons Christelike geloof ook ‘n simbol van liefde, lewe en omgee wanneer ons aan die nagmaal dink. Wyn is nou nie meer Dionusos nie. Nee, wyn is nou Christus se bloed wat vir ons gegiet is. En Paulus waarsku ons dan in Efesiërs 5 dat ons nie na die vorige beeld moet terug gaan nie.
Ek dink die punt wat Paulus met hierdie gedagte wil maak is dat ons as Christene nie met aktiwiteite betrokke moet raak wat in kontras met ons oortuigings is nie. In die tyd toe Paulus Efesiërs geskryf het was hierdie aktiwiteite Dionusos-aanbidding deur middel van wyn. Vandag se konteks is so dat wyn nie meer met Dionusos geassosieer word nie. Dink bietjie by jouself wat moontlik die ‘Dionusos’ in jou lewe is. Wat is die dinge wat jou aandag van God af weg neem? Wat is die dinge in jou lewe wat jou “bedwelm” maak dat jy nie aandag aan God kan gee nie?
Christus was bekend vir sy stories en analogieë. Maar ek dink een van die grootste byvoeggings wat Christus in ons lewens gemaak het is om hierdie kulturele simbole wat nog altyd in die antieke tye negatief was, te verander in lewegewende simbole. Simbole wat op die ou end Christene sou definieer en uitsonder. Dit is ware liefde. Dit is die Christus waarin ons glo. Dit is die Christus van liefde.
Amen.