Psalm 104:24-34, 35b - 'n Psalm van Lof

Skriflesing (Psalm 8)

1Vir die musiekleier. Op Haghittiet. ‘n Psalm. Van Dawid. 2Here, ons Heer, hoe magtig is u Naam oor die hele aarde, U wat u luister bo die hemelruim vestig. 3Deur die mond van kleuters en suigelinge het U mag gevestig, vanweë u teenstanders, om vyande en wraakgieriges stil te maak. 4Wanneer ek na u hemelruim kyk, die werk van u vingers, die maan en die sterre wat U gevestig het – 5wat is ‘n mens dan dat U aan hom dink, ‘n mensekind dat U aan hom aandag skenk? 6U het hom net minder as ‘n hemelse wese gemaak; U het hom met eer en majesteit gekroon. 7U laat hom heers oor die werk van u hande; U het alles onder sy voete gestel: 8al die kleinvee en beeste, ja, selfs die diere van die veld, 9die voëls van die hemel, en die visse van die see wat verbytrek op hulle roetes deur die oseane. 10Here, ons Heer, hoe magtig is u Naam oor die hele aarde!

 

 Preek

Ek vind baie aanklank by Psalms soos Psalm 8. Daar word van die hemelruim gepraat, van die maan, sterre en alles daarbuite. Dit praat oor die grootsheid van die skepping in vergelyking met ons mense. Dit maak dit al hoe meer kosbaar dat God individueel vir ons omgee. Maar die rede hoekom ek by Psalm 8 aanklank vind is omdat dit oor die kosmos en die ruimte praat.

 

Kyk, ek is die tipe persoon wat my alarm stel vir 1h die oggend net sodat ek die lansering van SpaceX se eerste missie met mense aanboord kon kyk. Dis ‘n ware verhaal. Ek het dit regtig gedoen. Ek het die fliek Apollo 13 seker al 20 keer gekyk. Toe ek ‘n paar jaar gelede vir my suster in Engeland gaan kuier het, het ek via Parys gevlieg, en net so 20 minute van die lughawe is daar ‘n groot vliegtuig en ruimte museum waarnatoe ek gegaan het terwyl ek vir my vlug-konneksie gewag het. Ek moes ‘n ekstra visum kry net om dit te kon doen. So ek dink dis veilig om te sê dat ek van die ruimte en sterre hou. Ek het ook op Kersdag, toe die James Webb teleskoop gelanseer is, aan die Kersfees etenstafel saam met my gesin gesit terwyl ek op my selfoon die regstreekse uitsending van die lansering gekyk het. Natuurlik is ek ook ‘n groot Sci-Fi en StarWars aanhanger.

 

Ek raak baie opgewonde oor hierdie onderwerp. So wanneer ek iets in die Bybel lees wat oor die hemelruim gaan, dan raak ek ekstra opgewonde, want dit beteken dat ek oor ‘n kosmologiese teologie kan praat. Die gesprek tussen die kosmos en teologie het eintlik begin by die bekende Galileo. Galileo se bevindings het groot konflik tussen kom en die deestydse katolieke kerk veroorsaak, want, volgens die Katolieke se interpretasie, was Galileo se wetenskap teenstrydig met die Bybel. Die gebeurtenis wat Galileo se betrokkenheid by kosmologiese kwessies veroorsaak het, was die uitvinding van die teleskoop deur ‘n Nederlander in die somermaande van 1608. Galileo het dit omtrent ‘n jaar later by sy vriend Paolo Sarpi verneem en vinnig vir homself so ‘n teleskoop gemaak. Ewe belangrik was sy besluit om die teleskoop na die hemel te draai en om ‘n speelding te verander in ‘n instrument van wetenskaplike ondersoek. Galileo het toe die sterre, die Maan, die planete en uiteindelik die Son deur sy teleskoop bewonder. Hy het sterre gesien wat voorheen onsigbaar was vir die blote oog en sodoende agter gekom dat die hoeveelheid sterre wat hy kon sien ongeveer 10 keer meer was as wat die mense voorheen gedink het! Hy het kraters, berge en valleie op die Maan waargeneem. Hy het ontdek dat die oppervlak van Venus deur ‘n volledige stel fases gegaan het, net soos die maan, van dun halfmaan tot volle sirkelvormig. Galileo het vier “klein sterretjies” waargeneem wat rondom Jupiter beweeg, en soos honde aan ‘n leiband gemerk het; sterre wat Galileo in sy gepubliseerde weergawe van dit wat hy deur sy teleskoop gesien het as satelliete sou identifiseer. Dit het gelyk of Saturnus “ore” het – deur Galileo geïnterpreteer as ‘n paar satelliete wat die planeet “op sy flanke” vergesel, maar is uiteindelik (na Galileo se dood) as ringe verstaan. En uiteindelik het Galileo kolle waargeneem wat op die oppervlak van die Son rondbeweeg; hy was nie die eerste wat dit gedoen het nie en het daarna in ‘n bitter prioriteitsgeskil oor sonkolle met die sterrekundige Christopher Scheiner betrokke geraak.

 

Later in sy lewe het Galileo in groot konflik met die Katolieke kerk betrokke geraak, maar dit het eintlik net die gevolg gehad dat mense meer vrae begin vra het, en dieper na die Bybel begin kyk het. Maar ek dink die belangrikste ding wat gebeur het, is dat ons as mense net al hoe meer bewus geword het van die grootsheid van God en God se skepping. Ons begin besef dat die aarde nie alleen in die heelal is nie. Ons begin besef dat God soveel meer geskep het as wat ons ooit aan kan dink. Ons begin besef hoe kosbaar God se liefde vir ons is wanneer ons kyk na die hele ganse skepping, nie net dit wat ons rondom ons met ons eie oë sien nie, maar dit wat ons deur teleskope, radioteleskope, en ander wetenskaplike instrumente en wiskunde waarneem. Ons begin dan besef dat die mensdom dan eintlik al die jare deur geskiedenis onwetend God beperk het tot slegs een deel van die skepping, nie die hele skepping nie. En dit word eintlik beskryf deur God se persoonsnaam, YHWH.

 

Psalm 8 kom uit Israel se gebedeboek, soos die Psalms dikwels genoem word. Psalm 8 is ‘n lofpsalm, ‘n psalm wat na aanleiding van God se wonderbaarlike skepping lof aan God toebring. Dit is ‘n psalm wat in sy geheel aan God gerig is. Psalm 8 spreek van verwondering en lof oor God as Skepper en die mens se posisie binne die groter skepping.

Die struktuur van Psalm 8 staan bekend as ‘n inclusio, oftewel ‘n omraming. Dit beteken dat die begin en die einde van die psalm na die grootheid van God verwys. Binne die raam van die verwysing na God word daar dan oor die mens gepraat, maar nooit los van God en van die verhouding tot God nie.

 

Die openingsreël van die psalm is ongemaklik om in Afrikaans te vertaal, want dit begin met YHWH, wat gekenmerk word as “Here.” As die regte Hebreeuse naam vir God, word YHWH dikwels in Afrikaans vertaal as “Here”. YHWH se naam word deur die hele skepping as glorieryk gevier. Vir die antieke psalmdigter was die naam meer as ‘n blote etiket; dit het ook van ‘n persoon se karakter gepraat. Daarom beweer die psalm se openingsreël dat YHWH die majesteit of heerlikheid van die skepping is. Hierdie begin van die psalm in sy ou Nabye Oosterse konteks het natuurlik koninklike konnotasies, wat ons herinner aan die troonbestygingspsalms wat die koningskap van YHWH vier. Byvoorbeeld, Ps 99:3 vra vir die lof van YHWH se groot en ontsagwekkende naam, en Ps 97:9 beskryf YHWH as die Allerhoogste oor die hele aarde. Kyk, die antieke skrywer het dit gesien as God wat die Allerhoogste oor die hele aarde is, maar is dit nie ‘n onbewustelike manier om God te beperk nie? Die skepping is baie, baie meer as net die aarde, so as ons vandag hierdie Psalms lees, dan lees ons dit vanuit die oogpunt dat God baie meer is as wat die Psalmdigter gedink het. 

 

Die tema wat op die openingsreël volg, handel oor die lof van YHWH selfs in die hemelse ryke. Dalk was dit dan op hierdie punt wat die digter begin besef het dat God se skepping wyer strek as net dit wat ons rondom ons sien. Vers 4 besing die grootsheid van God se skeppingswerk. Die psalmdigter staan in verwondering wanneer hy van die hemelruim bewus word en dit as God se handewerk herken. Die hemelliggame (maan en sterre) vertoon die afdrukke van God se vingers. Dit alles het God geskep. Met sy vingerpunte het God die asemrowende hemelruim tot stand gebring. Juis hierdie hemelruim herinner die psalmdigter aan homself, aan die mens, wat ook die afdruk van God se vingers is.

 

In ‘n trinitariese teologie is die skepping oop, nie geslote nie. Die Gees van God, soos die ewige Woord, is van sy begin af aan die werk in die wêreld, beweeg oor die oerwaters (Gen. 1:2), en gee lewe en asem aan skepsels (Ps. 104:30). Die kreatiewe en herskeppende Gees van God gaan voort om oral op te tree, geregtigheid uit te brei, gemeenskap te bou en te herstel, en alle dinge te vernuwe. Die Gees werk vry, soos die wind (Joh. 3:8). Gelowiges erken egter die Gees hoofsaaklik as die transformerende krag wat van die Vader en die Seun kom en wat mense bevry vir deelname aan die goddelike herskeppende aktiwiteit. Gelei deur die Gees word ons geroep om God se vennote – God se medewerkers (vgl. 1 Kor. 3:9) – te wees om die skepping na sy bestemde doel te lei: die heerskappy van God.

 

God laat ons na ons asem snak! Dit wil Dawid in Psalm 8 verwoord. Hy is heeltemal oorweldig deur God se luister, maar is terselfdertyd aangegryp deur God se deernisvolle omgee vir die geringe mens. Kyk net hoe word dit beskryf: Die mens is in God se gedagtes, God kom lê besoek by die mens af, en God neem die mens in diens en stel haar aan oor die werke van sy hande.

 

Op 8 Junie 1992, amper presies 30 jaar gelede tot die dag, het NASA se Hubble ruimte-teleskoop ‘n foto van die hart van die M51 spiraal-sterrestelsel geneem. Wat hierdie foto uniek maak is dat die sterrestelsel 90 grade op sy sy gedraai is, wat beteken dat ons ‘n perfekte portretfoto daarvan kon kry. Kom ons kyk na die foto. 

Die foto van M51 sterrestelsel is omtrent 1100 miljoen ligjare groot. Dis ook een van ons naaste en helderste sterrestelsels. Soos ek vroeër gesê het: ek hou baie van die ruimte. Ek dink nie dis nodig om hierdie foto verder te verduidelik nie.

Psalm 8 nooi ons uit om saam met die Psalmdigter in verwondering te staan oor die omvang van die hemelruim en die ontsagwekkende heerlikheid van God. Stephan Joubert beskryf iets hiervan in eietydse idioom wanneer hy George Shaffner se wiskundige perspektief op die wonder van lewe aanhaal:

 

“Shaffner bereken onder meer dat die wiskundige moontlikheid vir jouself om daardie 23 chromosome, waaroor jyself beskik, van jou ma te geërf het, gelyk is aan 1 in 10 miljoen. Dieselfde geld vir die 23 chromosome wat jy van jou pa gekry het. As jy hierdie twee vermenigvuldig, kom jy tot die slotsom dat vir jou, om jyself te kon wees, gelyk is aan die wiskundige moontlikheid van 1 in 100 triljoen. Verbysterend! As jy boonop ook in ag neem dat presies dieselfde met jou ouers gebeur het asook met hulle ouers, dan raak selfs die wiskunde stom. Dan buig jy maar net in stil aanbidding voor ons groot Skeppergod. Dan sing jy stamelend saam met die skrywer van Psalm 8 dat dit net genade is dat God ons as mense raakgesien het. Tog weet ons saam met hierdie psalm ons is kosbaar vir die Here. Ons is sy meesterwerke. Ons is die kroon van sy ganse skepping.”

 

In vers 4 word oor die grootheid van die kosmos gepraat. Die hemel, maan en sterre lê wyd en groots, en tog is dit net die werk van God se vingers. Dit beteken die hemelruim, sterre en heelal – massief soos dit is – is klein in verhouding tot God.

Maar ons mense, ons is ondenkbaar kleiner as die kosmos. In verhouding tot die grootsheid van die naghemel, wat is die mens dat God aan ons dink en na ons omsien? Hierdie is ‘n uitroep van verrassing en verwondering. Hoe is dit moontlik dat ‘n groot God, met ‘n groot skepping, kan dink aan die mens en vir die mens sorg?

 

Tog is dit tipies van God. God wat alles gemaak het, het ook die mens gemaak. Oor die mens kan ons nooit los van hierdie God dink nie. Aan die mens, sy skepsel, het God ‘n besondere posisie gegee.

 

In vers 6 word hierdie posisie beskryf deur te sê God het ons “net ‘n bietjie minder as ‘n hemelse wese gemaak”. Die Hebreeuse woord vir “hemelse wese” is elohim, wat “God” beteken. God het ons gemaak en ons net onder God self geplaas. Nou hierdie is ‘n konsep wat deur so baie mense misverstaan word omdat hulle op ‘n manier God probeer speel. Ons moet versigtig daarvoor wees. Dit is ‘n posisie van afhanklikheid van God.

 

Van God ontvang die mens “aansien en eer”, of “eer en heerlikheid” (1933-vertaling). Die 2020 vertaling sê die mens is  “met majesteit gekroon”. Hierdie is almal koninklike en goddelike eienskappe. Teenoor die res van die skepping is die mens in ‘n heerser- en bewaringposisie geplaas (verse 7-9). Die mooi woord wat ons teoloë van hou om te gebruik is “rentmeesterskap”. Ons is slegs rentmeesters van die aarde. In Engels “stewards” of “stewardship”.

Die wonderbaarlike glorie van God se skepping word die spasie waarbinne God aan die mens plek gee. Die mens is God se beeld en verteenwoordiger wat die skepping oppas en versorg, nie vanweë ons besondere potensiaal nie, maar vanweë die taak en toerusting wat God aan die ons opgedra het.

 

Ek onthou in my studentejare het ek dit baie geniet om in Stellenbosch se botaniese tuine te sit en studeer vir eksamens. Daar is ‘n koffiewinkel in die middel van die tuin, so ek het altyd vir my ‘n koffie en kaaskoek bestel terwyl ek daar gesit en swot het. Een van die kere wat ek daar gesit het was ek besig om die werk van Daniel Migliore te lees. In sy boe “Faith Seekeing Understanding” praat hy onder andere van ‘n kosmiese dimensie van Christologie. Met ander woorde, hoe ons na die kosmos kyk in verhouding met Christus. 

 

Hierdie kosmiese dimensie van Christologie kan ook gesien word as die eskatologiese dimensie van Christus se opstanding. Christologie – die studie van Christus. Eskatologie – die studie van die eindtye. So ek sê weer: Hierdie kosmiese dimensie van Christologie kan ook gesien word as die eskatologiese dimensie van Christus se opstanding. Die baie bekende Duitse teoloog Jürgen Moltmann gee ook die stelling dat Christus se opstanding die begin van God se nuwe wêreld is. God se wêreld. Nie slegs die aarde nie, maar die hele kosmos. Moltmann is bekend daarvoor dat sy teologie rakende die opstanding so ‘n kosmiese uitkyk het. Hy verduidelik dat alhoewel ‘n element van die Paasfees boodskap die redding van die mensdom is, dit nie beperk tot dit is nie. Die opstanding is nuwe hoop vir mense, gemeenskappe, en ook die hele kosmos wat nie meer gevangene is deur die gryp van dood nie, soos ook in Romeine 8:18-25 beklemtoon word. Migliore sluit af deur die stelling te maak dat om in die opstanding van Christus te glo, is om te glo dat God triomfeer oor dood in menslike geskiedenis, asook die dood wat tans vir die mensdom relevant is. Hierdie is die hart van die evangelie.

Op Drie-eenheidsondag, midde-in die Covid-19-pandemie, word die gemeente van Christus gekonfronteer met die werklikheid dat die mens as kroon van God se skepping ‘n vernietigende mag kan wees en dat die Seun van God ons moet leer hoe om God se medewerkers, oftewel, rentmeesters te wees.

 

Jesus, die Seun van God, is ook die volmaakte mens wat ons leer hoe om mense te wees. Hy fokus op die wil van sy Vader en doen net wat die Vader hom leer.

 

Walter Brueggemann het ongelooflik baie oor die Psalms geskryf. Hy rig ons aandag op die struktuur van Psalm 8:

“In die sentrum van die Psalm word menslike vermoë en gesag bevestig. Dit word omring deur verwondering en lofprysing aan God. Hierdie psalm bevestig dat die mens die hoogtepunt en kroon van die skepping is, maar dat hierdie status gevorm word en gekwalifiseer word deur lof aan God wat die mens en die skepping gemaak het.” 

 

Dit is ‘n lofprysing wat die goed geordende skepping van God omhels en bevestig. Die mens (dis nou ons) moet dit bewaak en beskerm, en doen dit deur in die regte verhouding tot God te leef. Vanuit ons verhouding met God bewaar ons God se skepping. Jesus leer ons hoe om dit te doen.

 

In sy verwerking van Psalm 8 skryf Barend Vos:

 

U het ons dan ampergode gemaak!

‘n Soort baas oor u handewerk.

U het ons gekroon met aansien wat ons verleë maak.

Leer my elke dag om mooi te kyk

na wat U aan my toevertrou het –

U wat so mooi na my kyk.

Here, ons Here,

klokhelder klink u Naam oor u skepping heen!

Amen.