Die Fondasie van die Evangelie - 1 Korintiërs 15:12-20

Skriflesing (1 Korintiërs 15:12-20)

OPSTANDING VAN DIE DOOIES

12Maar as Christus verkondig word, dat Hy uit die dood opgewek is, waarom sê sommige van julle dat daar nie ‘n opstanding van dooies is nie? 13As daar geen opstanding van dooies is nie, is Christus ook nie opgewek nie. 14En as Christus nie opgewek is nie, is ons verkondiging sinloos, en ook julle geloof sinloos. 15Boonop word ons as valse getuies vir God bevind, omdat ons teen God getuig het dat Hy Christus opgewek het – wat Hy dan nie opgewek het nie, as dit so is dat dooies nie opgewek kan word nie. 16Want as dooies nie opgewek word nie, is Christus ook nie opgewek nie. 17En as Christus nie opgewek is nie, is julle geloof vergeefs, en is julle steeds in julle sondes. 18Dan is ook diegene wat in Christus ontslaap het, verlore. 19Indien ons hoop slegs vir hierdie lewe op Christus gevestig is, is ons die bejammerenswaardigste van alle mense. 20Maar nou, Christus ís opgewek uit die dood – die eersteling van die ontslapenes.

 

Preek

Korinthe was ‘n gemeenskap vir wie Paulus baie goed geken het. Dit was ‘n antieke stad met baie tempels, Grieks- en Romeinse gode en dit was ‘n groot ekonomiese spilpunt. So Paulus het doelbewus soontoe gegaan om die Evangelie te versprei omdat hy geweet het watter groot invloed hulle op die res van die samelewing kon gehad het. Dit was eintlik ‘n baie slim strategiese ding wat hy gedoen het. Nou, Paulus het vir omtrent ‘n jaar en ‘n half daar gebly en met die mense daar oor die Evangelie gesels, en gevolglik het baie mense daar ook volgelinge van Christus geword. Ons lees ook daarvan in Handelinge 18. So na ‘n rukkie het Paulus aan beweeg en na ander gemeenskappe en dorpe en stede gegaan om verder die Evangelie te versprei. Nou terwyl hy in ander stede besig was, het hy stelselmatig begin om terugvoering by ander mense te kry oor hoe dit met die gemeenskap in Korinthe gaan. Ek dink arme ou Paulus was seker nogal geskok gewees om te hoor dat dinge regtig nie goed gaan daar in Korinthe nie. Daar was ‘n hele klomp probleme waarmee hulle gesit het. En dis hoekom Paulus besluit het om hierdie brief vir hulle te skryf.

Die hele boek van Korinthe is in 5 dele verdeel, met ‘n laaste groet, wat seker maar die 6de deel kan wees. Deel een gaan oor verdeeldheid (hoofstuk 1-5), deel twee oor seksuele wangedrag (5-7), deel drie oor kos (8-10), deel vier oor die samekoms van mense (hoofstuk 11-14), en laastens gaan deel vyf oor die opstanding (hoofstuk 15). Hierdie laaste deel is nou waar vanoggend se teksgedeelte inpas. Maar Paulus het baie logies en stelselmatig elk een van hierdie probleme aangespreek. Hy het in elke afdeling eerstens die probleem beskryf, dan het hy ‘n reaksie op daardie probleem gegee in terme van die Evangelie. Hy wys eintlik vir hulle dat hulle nie besig is om werklik te leef soos wat hulle sê hulle glo nie. Die brief van 1 Korintiërs gaan dan mos eintlik oor om te dink oor hoe elke aspek van ons lewens verband hou met die Goeie Nuus van die Evangelie.

Die hele hoofstuk 15 gaan dan eintlik oor die opstanding van Jesus. Daar was sommige mense in die stad van Korinthe wat gedink het dat die hele konsep van die opstanding eintlik maar ‘n belaglike ding is. Ons het laas week bietjie meer in diepte hieroor gesels. Die inwoners van Korinthe het gedink dat die hele idee van die opstanding nie ‘n sentrale rol in hulle geloof hoef te speel nie. Paulus sê nee! Die opstanding is ‘n onontbeerlike deel van die Evangelie! Ons glo daarin omdat daar, onder andere, honderde en honderde oog-getuies was wat Jesus werklik lewendig gesien het na die kruisiging. Paulus sê dat as Christus nie uit die dood opgestaan het nie, was sy dood betekenisloos en sou ons almal nog steeds verlore in ons sondes gewees het. Dit is as gevolg van die opstanding dat ons ‘n rede het om verenig te wees (deel 1), dis die rede hoekom ons ‘n motivering het vir seksuele integriteit (deel 2), dis die rede hoekom ons die krag het om ander mense liewer te hê as wat ons vir onsself is (deel 3 en 4) en laastens is dit ons hoop vir oorwinning na die dood (deel 5). Hierdie opstanding van Christus wat Paulus hier verduidelik vorm eintlik die fondasie van ons hele geloof. (SLIDE)

Die teoloog Mark Taylor beskryf 1 Korintiërs 15 as die mees in-diepte bespreking van liggaamlike opstanding in die Skrifte. Hoofstuk 15 begin natuurlik met ‘n verduideliking van hoekom ons in die opstanding kan glo, soos ons laas week bespreek het. Dan, daarna, in vers 12, begin hy met die implikasies van “wat as” Christus nie uit die dood opgestaan het nie. Dis vreeslik interessant om te lees hoe Paulus al hierdie “wat-as” stellings gebruik. Hy vra baie retoriese vrae. Vrae waar almal eintlik die regte antwoord ken. Ons moet ook onthou dat Christus se graf al vir meer as 30 jaar leeg was toe Paulus hierdie brief geskryf het. Hy sê “as” Christus nie opgestaan het nie, dan preek ons vir niks. Dan is ons “kerugma” (Griekse woord vir ‘verkondig’) nutteloos. Vers 17 sê ook dat “as” Christus nie opgestaan het nie, dan lewe ons nog in sonde. Vers 18 sê dat “as” Christus nie opgestaan het nie, dan het ons geen toekomstige hoop nie.

So basies, wat hier gebeur, is dat Paulus hier in vers 1-11 praat oor die werklikheid van die opstanding (wat ons laasweek behandel het), en in vers 12-20 praat hy dan oor die inwoners van Korinthe se ontkenning van die opstanding en hoe dit teenstrydig is met hulle eie belydenis wat hulle sê hulle glo. Hulle het ‘n tipe van nihilistiese geloof gehad. ‘n Nihilistiese geloof is ‘n filosofiese term wat gebruik word om die ontkenning van die bestaan van betekenis of waarde in die wêreld aan te dui. Die woord kom van die Latynse “nihil” wat letterlik “niks” beteken. Dit was die bekende filosoof Frederich Nietzsche op hierdie term in sy werk gefokus het. Nietzsche was natuurlik die filosoof wat so bekend daarvoor was dat hy gesê het “God is dood”, wat natuurlik mense ontstel het. So dit maak sin dat hy ‘n nihilistiese benadering gehad het tot sy werk.

Maar hoekom praat ek nou oor ‘n filosoof wat gesê het “God is dood”? Hoekom is dit belangrik? Want hoe ons as gelowiges dink oor die stelling “God is dood” is basies hoe Paulus gevoel het oor die gemeente in Korinthe se optrede! Die gemeenskap in Korinthe het ontken dat daar enige waarde en betekenis in die lewe is! Dis ‘n nihilistiese geloof! Hulle argument was “Christus het ons klaar verlos van ons sondes aan die kruis, so nou kan ons eintlik maar net doen wat ons wil”. Hulle het dit as ‘n ander tipe van bevryding gesien. Vry om te doen net wat hulle wil sonder enige morele kompas. Dit klink vreemd vir ons vandag, maar dit was die logika wat hulle gevolg het. Maar dan kom Paulus in en sê vir hulle “nee!”. “Dis nie die punt van die opstanding nie”. Hy skryf vir hulle dat as hulle die opstanding ontken en so aan gaan met hulle nie-morele, nihilistiese lewe, dan is Christus se dood en opstanding heeltemal nutteloos. Dis harde woorde wat Paulus gebruik.

Maar daar is nog ‘n vraag wat ons moet vra. Wat het nou eintlik presies gebeur dat Paulus so spesifiek oor die opstanding skryf? Wat presies is die gerugte wat hy gehoor het? Wat het die mense in Korinthe kwyt geraak? Die kort antwoord: Ons weet nie presies nie. Die lang antwoord: daar is ‘n hele paar moontlikhede wat ‘n hele klomp geleerdes al oor geskryf het. Ons kan eintlik maar net afleidings maak. Een van die moontlikhede is dat Paulus hulle standpunt misverstaan het. Dalk was dit soos ‘n antieke weergawe van die kinder-speletjie “telefoontjie”, waar die feite al hoe meer verdraai geword het soos wat gerugte versprei word. Maar dis net een van die moontlikhede. ‘n Ander moontlikheid wat sommige geleerdes oorweeg is dat sommige wat die inwoners van Korinthe aanhangers was van en of ander platoniese onsterflikheidsleer, wat basies gesê het dat dit nie nodig is om op te staan nie, want jou siel gaan mos in elk geval aanhou lewe. Dis ‘n diepe dualistiese verstaan van die lewe: Die neiging dat die liggaam en siel geskei is, dat die liggaam sleg is, en dat die gees goed is, en dat ons alles moet doen wat ons kan om hulle van mekaar te skei. Maar weereens, dis maar net een mootnlikheid.

Daar is ook nog ‘n ander moontlikheid wat teoloë oorweeg: en dit is dat die inwoners van Korinthe steeds geleef het met hierdie idee van die onmiddellike wederkoms. Dat Christus dalk letterlik die volgende dag by hulle sou opdaag. Maar intussen het daar baie van hulle vriende en mede-inwonders klaar gesterf en nie weer lewendig geword nie, soos sommige van hulle dalk die opstanding sou verstaan. So, in hulle koppe, sou dit nodig gewees het vir Paulus om sy leringe aan te pas, want in hulle koppe was dit duidelik dat wat hy vroeër gesê het oor die opstanding nie meer van toepassing is nie. Maar dis nou weer nie waar dit stop nie, want ‘n ander groep mense meen dat die inwoners van Korinthe maar net realiste was, want volgens hulle is die dood die enigste absolute ware ding in die lewe, want dit is iets wat definitief met elke persoon gaan gebeur, maak nie saak wat nie. So hulle het dan nie heeltemal verstaan wat Paulus bedoel het nie.

Daar is nog ‘n hele klomp ander gedagtes van wat die oorsaak van Paulus se skrywe oor die opstanding kan wees, soos dat die opstanding alreeds plaasgevind het of dat dit slegs gelowiges gaan wees wat in die oomblik van die wederkoms lewendig is wat aangeraak word, maar die punt wat ek hier wil maak is dat ons eintlik nie weet wat die oorsaak van Paulus se skrywe is nie. Ons weet nie met absolute sekerheid wat die mense van Korinthe se storie was nie. Maar die hele punt van Paulus se skrywe, is om die oorwinning van Christus te beklemtoon. Hy maak die Korintiërs se argumente irrelevant. Paulus maak dit duidelik hoekom die opstanding regtig eintlik maar die fondasie van ons hele geloof is.

Paulus hou dan nogsteeds aan om te vra “wat-as”. Hy adresseer hierdie oorsake waaroor ons nounet gepraat het deur iets soos ses verskillende “wat-as” vrae te vra. Dis nie om te sê dat as die dode in beginsel nie opgewek kan word nie, dan kon Christus ook nie opgewek word nie. Dis nie om te sê dat Christus ‘n uitsondering op hierdie reël is nie. Die logika wat Paulus hier probeer oordra is eerder dat dit onmoontlik is om te bely dat Christus opgewek is sonder om daarmee saam te bely dat die dodes op grond daarvan opgewek word, want dit sou teenstrydig wees met die opstanding self.

Ek lees hierdie week van “Science Court”, wat ‘n Amerikaanse TV-program is wat na wetenskap kyk en ‘n reeks gevallestudies doen om sekere onderwerpe te behandel. Een week het hulle een spesifieke studie gedoen oor hoender-bene. Die studie deur Craig Strasshofer het volgehou dat wat lyk asof dit dood was, eintlik maar lewendig was! Hy het van bene gepraat! Hulle lyk dalk nie lewendig nie, het hy gesê. Hulle lyk dalk heeltemal los van die oorspronklike hoender. Maar hulle is nie dood nie. Ver daarvan! Sy redenasie is dat aan die binnekant van daardie bene is daar eintlik nogal baie dinge wat daar aangaan sonder dat ons daarvan weet. En hulle hou die wonderlike potensiaal vir herstel in. Hierdie bene kan in ‘n sekere sin ‘n heeltemal nuwe lewe bou.

Ons weet nou uit die wetenskap en medisyne dat bene allesbehalwe dood is. Bene is lewende weefsel. Dit het bloedvate en lewende selle – selle wat hulle help om hulself te herstel wanneer dit gebreek of gekraak word. Selle wat nuwe been en nuwe lewe kan regenereer. Hulle bevat DNA in hul murg. Hulle is die boustene van die hele liggaam. Die bene wat ons in ons liggame het hou werklik die sleutels tot ons identiteit. En die sleutels tot die lewe.

Ek wil graag afsluit: Ek is ‘n persoon wat baie van films en flieks hou. Jurassic Park is een van hulle. Vir dié van julle wat nie vertroud is nie – in hierdie reeks van films onttrek wetenskaplikes dinosourus-DNS en herskep die spesie vandag. Die resultaat is natuurlik rampspoedig vir ons! Maar ons leef nou in ‘n wêreld waarin die dooies werklik kan lewe – deur die boustene van die bene. Dit gee nuwe betekenis, dink ek aan God se vraag aan Esegiël: “Kan hierdie bene lewe?”

Esegiël antwoord natuurlik skerp en bekwaam: “Net U kan weet, God!” Is dit nie ‘n wonderlike antwoord nie? Dis eintlik een van die dinge wat Esegiël so besonders maak. Esegiël weet dat hy self nie weet nie, maar, hy weet reeds, niks is onmoontlik by God nie. En deur God se vraag, weet hy, iets gaan gebeur. Hy weet nie wat nie, maar iets besonders.

Is dit nie miskien iets waarby Paulus hier aansluit nie? Paulus praat so baie van die opstanding hier in Hoofstuk 15 van 1 Korintiërs. Oor die belangrikheid daarvan, oor die teologiese implikasies daarvan, oor die groot mag van God by die opstanding. Dis nie die eerste keer wat ons van so ‘n opstanding in die Bybel lees nie. Maar miskien probeer Paulus ook hierdie gemeenskap herinner dat iets soos die opstanding is duidelik moontlik by God, omdat daar alreeds in die Ou Testament daaroor geskryf is. Dis klaar iets wat hulle bely. Dis klaar iets wat hulle sê hulle glo. So wat maak Christus se opstanding anders? Hoekom sukkel hulle dan om dit te glo? Dis hierdie hoop wat ons het. Dis hierdie hoop wat die fondasie van ons geloof is. Ons moet onthou dat terwyl ons nou so dink oor die opstanding, dit nie net gaan oor die gebeurtenis opsigself nie, maar dit gaan ook oor ‘n uitbeelding van God se mag. Dis ook ‘n beskrywing van die krag wat God in ons lewens kan hê.

 

So, net om vinnig op te som: 1 Korintiërs 15 gaan oor die opstanding. Vers 1-11 gaan oor Paulus se beskrywing van al die ooggetuies wat die opstanding kan bevestig, en vv12-20 (vanoggend se teks) gaan oor Paulus wat die gemeenskap in Korinthe aanspreek omdat hulle sê hulle glo in Christus, maar hulle sukkel om die opstanding van Christus ook te bely. Paulus sê dan dat dit onmoontlik is om in Christus te glo sonder om die opstanding ook te bely! Sy doel hiermee is om hulle te laat besef dat hulle ‘n nihilistiese geloof het: ‘n Geloof wat gebasseer is in die ontkenning van die bestaan van betekenis of waarde in die wêreld. In hierdie konteks spesifiek met betrekking tot die opstanding. Hoekom het hulle hierdie nihilistiese geloof? Wat was die oorsaak van Paulus se skrywe? Ons weet nie, maar ons dink daar kan ‘n hele klomp moontlikhede wees, soos miskien ‘n misverstand, miskien ‘n antieke onsterflikheidsleer, miskien omdat daar klaar ‘n klomp mense in hulle gemeenskap alreeds dood is en nie weer opgestaan het nie. Die punt is, Paulus maak al hulle argumente irrelevant deur die hele fondasie van die belydenis van die opstanding aan hulle te verduidelik. Uiteindelik weet ons (en die gemeenskap van Korinthe), dat die idee van ‘n opstanding in terme van God nie iets is wat nuuts is nie. Alreeds in Esegiël 37 word daar mos van droë bene wat opstaan gepraat. God is nie beperk tot hierdie menslike sterflikheid van ons nie. Maar dit beteken baie meer as dit. Dit gaan dieper. Ons moet ook dink aan wat ons geestelik dood maak. Die dinge wat skadelik is vir ons. Ons moet God toelaat om ons ook op hierdie manier op te wek.

 

Dink weer bietjie oor jou eie lewe. Wat is sommige van die tye waar jy bewus geword het van God se ingryping? Die mense in Korinthe het nou gehoor hoe God ingegryp het deur Christus se opwekking, maar hulle het nie opgelet hoe God steeds by hulle ingryp nie. Wat van jou lewe? Hoe sien jy die merkwaardigheid van die opstanding raak? In watter tye van jou lewe het jy gevoel hoe God jou op ‘n metaforiese manier opwek uit die dood? Dis nou in tye wanneer dit voel asof alle hoop weg is, asof die wêreld inmekaar tuimel, asof jy geen beheer oor enige iets het nie. Hoe het God jou in daardie tye opgewek? Paulus probeer Korinthe oortuig van Christus se liggaamlike opstanding. Ons glo dit vandag. Ons bely dit vandag. Maar dis nie waar dit moet stop nie. Dis nie die eindpunt nie. Ons moet toelaat dat God ons ook geestelik opwek van ons blindheid, net soos wat Paulus die gemeenskap in Korinthe gehelp het om hulle oë oop te maak vir Christus se opstanding.

Amen.