Hoe lees ons die Psalms? - Psalm 27

Skriflesing (Psalm 27)

1Van Dawid. Die Here is my lig en my redding – vir wie sal ek vrees? Die Here is die toevlug van my lewe – vir wie sal ek bang wees? 2As kwaaddoeners op my toesak om my lewendig te verslind, ja, my teenstanders en my vyande, struikel hulle self en val. 3Al sou ‘n leër teen my laer opslaan, sal my hart nie bang wees nie; al sou ‘n oorlog teen my uitbreek, sal ek nogtans bly vertrou. 4Een ding het ek van die Here gevra en dit sal ek bly nastreef: om al die dae van my lewe in die huis van die Here te woon, om die lieflikhede van die Here te aanskou en daaroor na te dink in sy tempel. 5Ja, Hy steek my weg in sy skuiling op ‘n dag van onheil; Hy verberg my in die beskutting van sy tent; Hy tel my hoog op ‘n rots. 6Daarom is my kop hoog bo my vyande rondom my. Ek wil met uitroepe van vreugde offers bring in sy tent, ek wil sing, ek wil die Here besing. 7Luister tog, Here, na my stem wanneer ek roep, wees my genadig en antwoord my! 8My hart eggo u woorde: “Julle moet my teenwoordigheid opsoek!” U teenwoordigheid, Here, soek ek op. 9Moet u gesig nie vir my verberg nie, moet u dienskneg nie in toorn wegwys nie. U was my Helper, moet my nie verstoot of verlaat nie, God wat my red. 10Selfs al verlaat my vader en moeder my, die Here sal my aanneem. 11Here, leer my u pad, lei my op ‘n gelyk pad, vanweë my vyande. 12Moet my nie oorgee aan die begeerte van my teenstanders nie; want vals getuies het teen my opgestaan, en hulle blaas geweld aan. 13As ek darem nie geglo het dat ek die goedheid van die Here sal beleef in die land van die lewendes nie! 14Wag op die Here! Wees sterk en hou moed, ja, wag op die Here!

  

Preek

Die Psalms is soms ‘n vreemde literatuursoort om te bestudeer. Soms kom dit voor asof dit reguit en tot die punt is; asof dit eenvoudig en maklik is om te lees, maar baie keer is dit meer ingewikkeld as wat ‘n mens dink. Baie keer wanneer ‘n mens eers in diepte begin om die Psalms te lees, dan voel dit asof ons nie genoeg navorsing gedoen het nie. Asof daar nog baie meer is wat ‘n mens gemis het. Maar ek glo nie dis ‘n negatiewe ding nie. Dit is eintlik maar ‘n manier om te wys dat hierdie tekste wat ons in die Psalms kry reg deur die eeue soveel voeding vir ons siel kan gee.

 

Die Psalms gee vir ons die mees betroubare, teologiese, pastorale, en ook liturgiese hulpbron binne ons Bybelse tradisie. Binne die verskillende seisoene van ons lewens draai ons na die Psalms as ‘n baie hulpvaardige bron vir ‘n gesprek saam met God oor die dinge wat vir ons die meeste saak maak. Die Psalms is eerlik. Daar is gedigte wat vir God prys, vir God kwaad is, onseker is oor geloof, absolute sekerheid oor geloof en klomp ander emosies. Die Psalms sit ons hele lewe onder hierdie sambreel van God, waar ons alles en enige iets na God toe kan bring. Dit wys dat ons nie skaam hoef te wees oor enige iets wat ons na God toe bring nie.

 

Ons het aan die begin van hierdie jaar tydens ons week van gebed bietjie gesels oor die Psalms en die verskillende soorte wat daar is. Maar ek besef dat nie almal dit kon bywoon nie, so ek wil tog graag bietjie daaroor gesels. Ook want ek voel dat dit so verrykend kan wees. Basies, die Psalms is op so manier geskryf dat ons dit alleen kan bid, maar ook in ‘n groep kan bid. En die rede daarvoor is dat die baie keer gekoppel word aan die manier hoe ons asem haal. Dis ‘n manier hoe ons kan onthou en herinner word dat ons lewende wesens is, wat aan die lewe gehou word deur die asem van God, of soos hulle in Hebreeus sê, die “Ruach” van God. Dis die wind, asem, of Gees van God. Dit wat ons herhaaldelik reg deur ons lewens, 22 000 keer per dag doen. En dis eintlik ook ‘n baie terapeutiese ding om te doen! Ons lewe in ‘n tyd waar daar ontsettend baie druk op ons geplaas word. Ons raak moedeloos en ons voel soms asof ons sukkel om asem te skep, of ons voel dat ons sukkel om tyd te kry om asem te haal. Maar die Psalms help ons daarmee. Nie net vir die blote woorde wat daar geskryf is nie, maar ook in die manier hoe ons dit lees.

 

Julle sien, die Psalms is so geskryf dat wanneer dit in Hebreeus gelees word, dit op so ‘n manier gedoen word dat elke frase in een asem gelees word. Ongelukkig laat elke vertaling dit nie noodwendig toe nie, maar dis belangrik om hierdie as een van die doele van die Psalms te lees. Na elke frase is daar dan ‘n pouse om te kan asem skep voor die volgende frase gebid word. So die hele idee daarmee is dat die uitasem, wat gebeur terwyl jy lees, bietjie langer neem as wat dit vat om in te asem, wat dan tydens die pouse tussen elke frase gebeur. Dis eintlik ook wat asma-pasiënte geleer word om te doen wanneer hulle met angsaanvalle of asma aanvalle worstel. Die Psalms laat ons toe om asem te haal, om rustig te lees, om te bepeins oor wat ons sopas gelees het. Dis terapeuties. Dis eintlik ook ‘n Goddelike-ontmoeting. Dis ‘n manier om die Woord van God letterlik in te asem, en uit te asem, sodat ons weer genoeg asem het om aan te gaan met die volgende frase.

 

Daar is ‘n baie bekende teoloog met die naam Walter Brueggemann, wat ontsettende waardevolle werke geskryf het oor die Psalms en ons interpretasie daarvan. Hy skryf dat ons onsself dikwels op drie plekke in ons lewenspad bevind. Dit is ‘n plek van oriëntasie, waarin alles sin maak, ons voel goed en reg en opgewonde vir die lewe. Dan ‘n plek van disoriëntasie, waarin dit vir ons voel asof ons weg sink in ‘n diep put, waar dinge nie mer sin maak nie, waar ons onveilig, bang en angstig voel. En dan bevind ons onsself dikwels in ‘n plek van reoriëntasie, waarin ons besef dat God ons uit die put opgelig het en ons onsself op ‘n nuwe plek bevind, ‘n plek gevul met dankbaarheid en ‘n bewussyn van God se teenwoordigheid in ons lewe.

 

Nou hierdie drie plekke is nie net drie kategorieë waarin ons die verskillende Psalms netjies kan in pas nie. Dis eintlik ook ‘n beskrywing van die verskillende fases van ons lewens. Dit beskryf al hierdie emosies wat ons daagliks, weekliks, maandeliks en jaarliks beleef. Dis eintlik ‘n tipe van herhalende siklus wat ons beleef. Dis die op en af wat ons in die lewe ervaar. Die een oomblik is ons baie seker van onsself, vol selfvertroue en vol moed vir die lewe. Die woorde wat ons in die Psalms kry kan ons dan help om hierdie fases van oriëntasie te beleef: die belewing dat God goed is vir ons en dat alles goed saam werk. Maar die volgende oomblik kan iets gebeur, binne of buite ons, wat alles heeltemal omkeer en ontwrig, iets wat alle lewenskrag uit ons dreineer. Dan sukkel ons baie keer om iets raak te sien wat enige vorm van hoop en vertroue gee. Dis dan ‘n fase van disoriëntasie.

 

Die hoop is dan dat ons die moed bymekaar skraap om te erken dat ons hierdie oriëntasie wat ons op ‘n tyd gehad het, verloor het. Ons sing dan ons eie vorm van klaagliedere en klaag-Psalms. Ons maak dit dan ons eie woorde. Ons vra vrae soos “Hoekom Here? Hoekom gebeur hierdie nou met my? Wat het ek gedoen om hierdie te verdien? Wat gaan aan? Help my, Here”. Wanneer ons hierdie ons eie woorde maak, stel dit ons in staat om dan na ‘n fase van reoriëntasie te beweeg. ‘n Vorm van aanvaarding, ‘n spasie waar ons terug kyk na ons vorige fases van oriëntasie en disoriëntasie, dit verwerk, daaroor bid, dit bepeins, en uiteindelik besef hoe God met ons gewerk het binne daardie spasies. Ons beweeg dan van ‘n spasie van wanhoop, na hoop. Van wantroue, na geloofsvertroue, van dood na lewe. Dís hoe merkwaardig die Psalms is. Dis wat die Psalms so kragtig in ons lewens maak.

 

Maar kom ons kyk dan na Psalm 27. Watter tipe Psalm is dit? Hoe pas vanoggend se teks in by hierdie fases van oriëntasie, disoriëntasie en reoriëntasie? En nadat ons gesels het oor hoe hierdie Psalm in hierdie denkwyse in pas, hoe pas dit dan in binne ons eie lewens? Hierdie Psalm is eintlik baie moeilik om onder enige fase te sit. Dit kom eintlik voor asof dit twee onafhanklike afdelings is. Die een afdeling is vers 1-6, en die ander een is vers 7-14. Vers 1-6 klink asof dit vol selfvertroue is, vol hoop en energie. Vol lus vir die lewe. Maar as ons vers 7-14 lees, dan klink dit wees soos ‘n klaaglied. Onsekerheid, wanhoop, wantroue.

 

Die eerste helfte van hierdie Psalm gaan dan oor die Psalmdigter wat sy volkome vertroue in God beskryf. YHWH is sy redding, sy lig, sy sterkte. Maar in watter omstandighede is God die redder, lig en sterkte? Wanneer daar oor vyande gepraat word, van oorloë, militêre magte, soldate, ‘n inval. Maar daar word ook nie spesifiek genoem wie hierdie vyande is nie. En dis ook nie belangrik nie, want vir hierdie skrywer is God se mag groter as enige vyand wat by die naam genoem kan word. God het meer mag as enige bedreiging. So wat sê hierdie paar verse oor die menslike emosies wat hier gevoel word? Wat soek die skrywer dan van God? Dalk is dit eenvoudiger as wat ons dink. Teenwoordigheid. Miskien is daar ‘n parallel wat tussen hierdie skrywer en die skrywer van Prediker. Albei skrywers het alles probeer. Om te werk, om geld te kry, om plesier te kry, maar nie een van hierdie dinge was genoeg nie. Maar die skrywer van Prediker en die een van Psalms het twee verskillende gevolgtrekkings. Prediker eindig sinies. Maar die Psalm wat ons vanoggend gelees het, eindig op ‘n manier wat wys dat ons ‘n diepe verlange na God se teenwoordigheid het. Alles wat die wêreld het om te bied het hy probeer, maar niks is so goed soos God se teenwoordigheid nie.

 

Die hele konsep van God se teenwoordigheid is ook ongelooflik merkwaardig hier. Onthou, die Tempel was basies die enigste plek waar God se teenwoordigheid was. Dis daar waar mense offers gegee het, God geprys het, en God se teenwoordigheid gekry het. So die feit dat hierdie skrywer so baie na God se teenwoordigheid verlang, is nie net ‘n eenvoudige gebed nie. Dis ‘n verlange na een van die min plekke waar God se teenwoordigheid vir hom was.

 

Vers 7-12 is dan ‘n gebed van nood. Selfs al was daar baie selfvertroue in die eerste deel van die Psalm, vat dit nie die struikelblokke van die lewe weg nie. Die skrywer probeer nie om daaroor stil te bly, of om die onder die mat te vee nie. Hy is nie, soos hulle in Engels sê, “in denial” nie. En dit word baie duidelik gemaak in die laaste twee verse, in vers 13 en 14. Daar is ‘n terugkeer na ‘n diepe vertroue. Hoekom is daar ‘n diepe vertroue? Want die skrywer het alreeds ervaringe van God van waar God in die verlede gehelp het met hierdie emosies wat hy nou voel.

 

Vanoggend se Skriflesing, Psalm 27, straal van ‘n vertroue van reoriëntasie. Dit is een van klomp psalms van reoriëntasie, of nuwe oriëntasie — die derde en laaste tipe Psalm waarvan ons bietjie vroeër, en ook in ons Week van Gebed gesels het. Ek is eintlik bly vanoggend se skrifgedeelte is Psalm 27, want tydens ons Week van Gebed het ons by die paar byeenkomstes wat ons gehad het meesal op Psalms van oriëntasie en disoriëntasie gesels, maar nie veel oor Psalms van reoriëntasie nie. Psalm 27 praat baie duidelik van ‘n tipe van geloofsvertroue. Geloofsvertroue is iets wat ons almal nodig het en ons almal nastreef. Ons kan ook in hierdie Psalm hoor dat die psalmdigter ‘n diepe verlange na so ‘n geloofsvertroue het. ‘n Geloofsvertroue wat hand-aan-hand gaan met God se teenwoordigheid, waarvan ons ook vroeër gepraat het. Daardie psalmdigters wat psalms van nuwe oriëntasie geskryf het, het ‘n vorm van geloofsvertroue gehad. Jesus, wat in die laaste week van sy lewe in Jerusalem gekom het om met die kroon van heerlikheid gekroon te word, het natuurlik ook geloofsvertroue gehad. As volgelinge van Christus, is dit mos iets wat ons ook kan kry.

 

So wat is geloofsvertroue dan nou eintlik? Dink eers miskien aan wat selfvertroue kan wees. Selfvertroue kan die gemoedstoestand wees wat voortspruit uit iets wat reeds goed is, en die sterk waarskynlikheid dat jy binnekort selfs meer daarvan kan hê. ’n Goeie sinoniem is dalk verwagting, solank daardie verwagting in werklikheid gegrond is. Dis nie dieselfde as om vir iets te wens nie. Geloofsvertroue is soortgelyk hieraan. Geloofsvertroue is die denkraamwerk dat God vir ons al die dinge wil gee wat ons nodig het vir ons geloof om te floreer.

 

Nou, hoe kry ons dit? Hier kan die psalms van nuwe oriëntasie ons lei. Party mense praat van ‘n driepuntposisie wat ek in een sin saamgevoeg het. Luister bietjie hierna. Psalms van reoriëntasie sê dan dat: “Ten spyte van die huidige swaarkry in jou lewe … is dinge nie soos dit lyk nie … dus kan jy met vrymoedigheid saam met God lewe.”

 

So die eerste deel is dan: “Ten spyte van die huidige swaarkry in jou lewe …” Ons weet waaroor swaarkry in die lewe gaan. Dis nie nodig om meer daaroor te sê nie. Die psalmdigters het natuurlik ook baie van dieselfde swaarkry ervaar wat ons vandag ook nog ervaar. Maar die vreemde ding is dat ons vandag nie altyd daaroor wil praat of dit erken nie! Ons wil die voorkoms gee dat ons alles bymekaar het. Dat ons al ons varkies op hok het. Dat alles in ons lewens perfek is en dat daar niks is wat ons pla nie. Ons wil hierdie vals indruk skep dat ons nie swaar kry beleef nie. Ons mag mos nie huil nie. Ons leer ons kinders dat hulle nie mag huil as hulle ‘n slegte dag by die skool gehad het nie. Ons probeer ons trane terug hou en veg om nie te huil nie sodat ons sterker kan voorkom asof ons eintlik is. Is dit nie belaglik nie? Vir wat? Vir wie? Hoekom? Ten minste was hierdie psalmdigters braaf genoeg om te erken dat hulle nie alles bymekaar het nie. Dat hulle moedeloos voel. Dat hulle God se teenwoordigheid bitterlik nodig het. Is dit nie juis in hierdie spasies van die lewe waar ons óók vir God ontmoet nie?

 

Ek wil graag begin af sluit: Met hierdie gedagte dink ek ook is dit belangrik om te besef dat die manier hoe hierdie “swaarkry” verwoord word, verskil in die Psalms van disoriëntasie en reoriëntasie. Toe die psalmdigters in die psalms van disoriëntasie uitroep, was hulle kwaad vir God; hulle het uitgeroep oor hoe God hulle behandel het; hulle het gestraf en kwesbaar gevoel. Maar nou is dit anders in die psalms van reoriëntasie. Vir nou het die psalmis met die swaarkry vrede gemaak met sy probleem. Nou is daar ‘n duidelike gevoel van aanvaarding van die dilemma, en ‘n gewilligheid om verby dit te beweeg. Om dit reguit te sê, die psalmdigter sit nie meer vas in sy probleem nie.

 

“Ten spyte van die huidige swaarkry … is dinge nie soos dit lyk nie …” Dit is die tweede deel, dinge is nie soos dit lyk nie. Die verhale van die Tweede Wêreldoorlog het steeds ‘n groot impak op ons, ‘n mag wat ons 50 jaar later dalk nie sou kon dink nie. Die bekroonde rolprent Schindler’s List bewys weereens dat die geloof van sommige mense te midde van ‘n groot internasionale tragedie ons diep raak. Nog ‘n ware verhaal uit daardie era het gekom van ‘n groep naamlose mense wat deur die Nazi’s gejag is, en vervolg is as hulle gevind word. Sommige van hierdie mense het vir ‘n lang tydperk in ‘n donker en koue ondergrondse bunker geskuil. Vir baie maande was dit asof die aarde hulle ingesluk het. Nadat die oorlog geëindig het, is hierdie woorde gevind wat met vrymoedigheid op die muur van daardie bunker geskryf is.

 

Ek glo in die son, al skyn dit nie. Ek glo in God, al is hy stil. Ek glo in liefde, al is dit verborge.

 

Dink bietjie oor jou eie lewe. En ek wil graag ‘n paar oomblikke van stilte gee na elke vraag, sodat jy regtig daaroor kan dink. Met hierdie gedagte van Psalms van oriëntasie, disoriëntasie en reoriëntasie: Wanneer het jy al oriëntasie in jou lewe gevoel? Wanneer het jy al disoriëntasie in jou lewe gevoel? Wanneer het jy reoriëntasie in jou lewe gevoel? In watter spasie is jy nou? En op watter manier is God op hierdie oomblik besig om jou deur hierdie spasie te begelei?

 

Vers 13 en 14 van Psalm 27: 13As ek darem nie geglo het dat ek die goedheid van die Here sal beleef in die land van die lewendes nie! 14Wag op die Here! Wees sterk en hou moed, ja, wag op die Here!

 

Amen