Lukas 24:49-56 - Van Vrees na Vreugde

Skriflesing (Lukas 24:36-48)

Jesus se verskyning aan die dissipels

(Mark 16:14-15 , 19 ; Joh 20:19-23 )  

36 Terwyl hulle nog besig was om oor hierdie dinge te praat, staan Hy self tussen hulle en sê vir hulle: “Vrede vir julle!” 37 * Verskrik en beangs, het hulle gedink dat hulle ‘n gees sien. 38 Maar Hy sê vir hulle: “Waarom is julle ontsteld, en waarom kom daar twyfel in julle harte op? 39 Kyk na my hande en my voete, dit is Ek self! Vat aan my, en kyk – ‘n gees het nie vleis en bene soos julle sien dat Ek het nie.” 40 Nadat Hy dit gesê het, wys Hy hulle sy hande en voete. 41 Omdat hulle dit van vreugde steeds nie kon glo nie en verbaas was, sê Hy vir hulle: “Het julle iets te ete hier?” 42 En hulle het Hom ‘n stuk geroosterde vis gegee. 43 Hy het dit geneem en dit voor hulle geëet.  44 Daarna het Hy vir hulle gesê: “Dit was my  woorde wat Ek tot julle gerig het toe Ek nog saam met julle was, dat alles wat in die Wet van Moses en die Profete en die Psalms oor My geskryf is, vervul moet word.” 45 Daarop het Hy hulle verstand daarvoor geopen om die Skrifte te verstaan, 46 en vir hulle gesê: “So staan daar geskryf dat die Christus moet ly en op die derde dag uit die dood opstaan, l 47 en dat in sy Naam bekering tot die vergewing van sondes aan alle nasies verkondig moet word. Julle moet by Jerusalem begin, 48 en getuies van hierdie dinge wees. 49 En kyk, Ek sal die belofte van my Vader na julle stuur. Maar bly julle in die stad totdat julle met krag uit die hoogte toegerus word.” (2020-vertaling).

 


 Preek

‘n Spook. Dit is wat die dissipels geglo het. Hulle het geglo daar gaan iets aan in hulle koppe dat hulle nou ewe skielik ‘n dooie mens sien. Maar nee, wat hulle voor hulle gesien het is die opgestaande Jesus. Jesus wat weer lewe. Jesus wat aan hulle verskyn en die gate in sy hande en voete vir hulle wys. Maar hierdie is ook nie die eerste keer dat die opgestaande Jesus aan mense verskyn nie. In Lukas word Jesus se opstanding drie keer illustreer deur drie groepe mense.


Die eerste hiervan is natuurlik die vroue by die graf, tweedens die groep Emmausgangers, en laastens wat ons hier lees, waar Jesus aan die dissipels verskyn. Lukas is die derde evangelie en die laaste van die sinoptiese evangelies. Elke evangelieskrywer plaas die klem op ander aspekte van Jesus se bediening. Lukas besluit dat dit belangrik is om op die plek van Jerusalem te fokus, wat ook is waar die dissipels was. Lukas besluit ook om baie klem te plaas op die gebruik van die skrifte, so met ander woorde daar is baie verwysings na die verskeie profete, soos bv Jesus wat sê dat die Christus moes ly, in vers 46, wat natuurlik na Jesaja 53 verwys, en Jesus wat op die derde dag opstaan in vers 46, wat na Hosea 6:2 verwys.

Dit is vir my ongelooflik om te lees van alles wat Jesus gedoen het om vir die dissipels te bewys dat dit régtig hy in lewende lywe was. Jesus is natuurlik bewus van die menslike feilbare natuur: Jesus weet hoe moeilik dit is vir ons as mense om iets te glo. Ons soek bewyse, ons is krities, ons wil iets vir onsself sien voor ons dit glo. Dis inherent deel van ons om so te wil glo, so Jesus gebruik daardie kritiese denke van ons om te bewys dat hy werklik leef. Jesus eet ‘n stukkie vis wanneer hy met die dissipels praat. Vis? Wat is so merkwaardig aan vis? Jesus het 5000 mense met vis gevoer. Jesus laat sy dissipels aan sy hande en voete raak om self die gate te voel! En hy word nie eers kwaad daaroor nie! Jesus sê nie “Julle is dom omdat julle nie glo nie!” Nee, Jesus sê “Kyk vir julleself en glo!” Dis asof Jesus maar net ou vriende weer groet nadat hy hulle vir ‘n rukkie nie gesien het nie.


Nou, terwyl al hierdie dinge gebeur is dit duidelik dat Jesus die dissipels so gemaklik as moontlik wou laat voel het. Dit is duidelik in die groet wat Jesus gebruik het. Maar die dissipels het alles behalwe gemaklik gevoel! Hulle is totaal en al vreesbevange en glad nie seker van wat nou aangaan nie. Sommige van hulle dink heel moontlik dat die stem van Jesus wat hulle hoor iets tedoen het met die heidene wat met geeste kommunikeer en hulle weer tot lewe roep. Die dissipels is glad nie gereed vir Christus se opstanding nie. Maar Jesus se optrede verander hulle emosies. Vrees word vreugde, maar daar is nogsteeds ‘n gevoel van ongeloof en verwondering. Dis iets wat hulle nie verstaan nie. En as ek eerlik is met myself, as ek in die dissipels se skoene was, dink ek ook nie ek sou dit dadelik geglo het nie. Dit kom voor asof Jesus se opstanding en verskyning aan hulle te goed is om waar te wees. Hierdie moeilikheid wat die dissipels beleef; die onsekerheid en sukkel om te glo wat hulle sien, is ‘n goeie beskrywing van die misterie van God, want dit is die eerste keer in die Bybelse geskiedenis dat so iets gebeur. Dit is die eerste keer dat die lewende Jesus, seun van God, na sy dood weer lewendig word. Dis vreemd. Maar dikwels wanneer iets vreemds in die Bybel voorkom, dan beteken dit dat dit belangrik is.

In die 1960’s was daar die sogenaamde ‘God-is-dood’ teoloë. Hulle het misterie afgekeer en tot ‘n verstaan van alles probeer kom. Dus was hulle uitweg dat God dood is, oftewel, nie teenwoordig is of bestaan nie. In die moderne lewe is dit egter duidelik dat dit vir mense moontlik is om sonder die idee van God te leef. Hulle steur hulle nie aan die misterie van lewe nie en vind hulle doel in lewe deur elke dag uit te leef. Tog is daar ‘n mate van belangstelling in die misterie. Die gebruik van astrologie en toor bevestig dat selfs mense wat sonder die idee van God leef wel ‘n mate van nuuskierigheid tot die misterie van lewe het.


Wanneer ons terugkyk na geskiedenis is dit oplettend dat die mensdom baie suksesvol is om die misterie van sekere aspekte op te los. Daar is geweldige vordering gemaak in die soeke na geneesmiddels vir verskeie siektes, insluitend kanker. Mensdom is behep met die idee dat enige misterie opgelos kan word. Dit word gesien as ‘n probleem wat mettertyd opgelos kan word. Dit is die resultate van vorige sukses stories wat ons laat dink dat ons elke probleem kan oplos. Misterie is nie ‘n probleem nie. Dit is buite die navorsing vermoë van mense. Verskeie Gods-beelde beïnvloed die manier hoe ons oor hierdie misterie dink.


Die misterie in die lewe kan ook baie keer vergelyk word met ‘n legkaart. Wanneer ‘n persoon vir die eerste keer na ‘n legkaart kyk blyk dit asof dit glad nie sin maak nie. Al die stukkies lyk asof hulle lukraak is en maak nie op hulle eie sin nie. Dit is nie moontlik om dadelik te sien wat presies die legkaart behels nie, maar wanneer ons die stukkies bymekaar begin sit en die leidrade volg, begin ons ‘n idee te kry van wat die eindproduk gaan wees. Misterie is egter anders as ‘n legkaart. Misterie is iets wat nie opgelos kan word nie. Daar is nie ‘n antwoord nie. Die konsep van misterie sal altyd transendent bly: Ons sal dit nooit volledig met menslike denke verstaan nie. Daar is ook, soos vroeër genoem, ‘n verskil tussen ‘n probleem en ‘n misterie. ‘n Probleem kan opgelos word. Wanneer ‘n opvolger gekonfronteer word met dieselfde probleem, word die voorganger se formule herhaal en die probleem word weer opgelos. ‘n Misterie kan nie op hierdie wyse hanteer word nie. Die misterieë waarmee mensdom gekonfronteer word moet hanteer word op so ‘n wyse dat ons besef ons dit nooit volledig sal verstaan nie. Ons raak gemaklik binne hierdie ongemak. Ons raak hoopvol.


Hoop is geantisipeerde vreugde. Dit is wat die baie bekende Duitse teoloog Jürgen Moltmann sê. In dieselfde asem is angstigheid geantisipeerde vrees. Vandag leef ons meer in terme van vrees, eerder as hoop en vreugde: Die hoop en vreugde wat Jesus aan die dissipels wil bring wanneer hy in Lukas 24 aan hulle verskyn. So hoe vind ‘n mens die pad na vreugde? Moltmann verduidelik dat wanneerokal hy die teenwoordigheid van God ervaar is wanneer hy vreugde ervaar. Hierdie stelling maak sin, aangesien die dissipels eers bang en angstig was, maar nadat hulle besef het dat die Here Jesus by hulle teenwoordig was, het daardie vrees verander in vreugde. Wanneer daar vir Moltmann gevra word “wie is God vir jou” sê hy dadelik en sonder twyfel Jesus Christus. Sonder Christus sou hy nie in God geglo het nie.


Hierdie bring my weer terug na die kern van Moltmann se teologie, wat gaan oor die lyding van God. Maar God kan mos nie ly nie? God is God! Ons leef in ‘n wêreld waar daar soveel lyding is. Daar is grootskaalse ongelooflike armoede in ons land, duur mediese kostes, sanitering wat nie voldoende is nie. Wêreldwyd is daar oorloë en geweld. Die meeste van ons wat vanoggend hier sit het baie min van hierdie dinge al ervaar. Maar miskien is daar ander vorme van lyding wat ons al ervaar het? Miskien is ons finansies nie wat dit moet wees nie. Miskien sukkel ons om ‘n werk te kry. Miskien moes ons famielielede of vriende aan die dood afstaan. Dit is alles steeds lyding. Nou wonder ons: Hoe kan God, ‘n God van liefde, teenwoordig wees wanneer al hierdie dinge gebeur? Hoe kan God weet wat dit beteken om te ly? Hoe kan God hier wees as ek deur al hierdie dinge moet gaan? Hoekom laat God toe dat hierdie dinge gebeur?


Ons weet nie altyd hoekom dinge gebeur nie. En ek dink ook nie ons sal ooit weet hoekom dinge gebeur soos wat dit gebeur nie. Maar ek weet wel dat God weet wat dit beteken om te ly. Ek weet God self het gely. Dít is hoekom die kruis so ‘n merkwaardige simbool in die Christelike geloof is. Die kruis is ‘n simbool van die dood. As Jesus in die moderne tyd gesterf het sou ons hangertjies van ‘n elektriese stoel of ‘n hospitaalbed om ons nekke gedra het. Die kruis is ‘n simbool van die metode hoe Jesus gesterf het. Maar in Lukas 24 draai Jesus hierdie siening op sy kop. Ewe skielik word die kruis nie meer ‘n simbool van die dood nie, maar ‘n simbool hoe die dood oorwin is. Jesus het sélf gely aan die kruis. God het self gely aan die kruis. Die nie ‘n lighartige lyding van “ek sukkel met iets in my lewe” nie of “ek is bietjie bang” nie. Nee, dis ‘n lyding wat eindig met die dood. Dis ‘n stadige, pynlike wyse waarby lewe stadig weggeneem word terwyl jy vir die wêreld vertoon word. Dís die lyding van Jesus.


So wat probeer ek nou met al hierdie dinge sê? Hoekom is dit belangrik dat ons Jesus se lyding op hierdie Sondag bespreek? Paas-Sondag was mos maande gelede gewees! Dis belangrik, want die dissipels se emosies in Lukas 24 verander van vrees na vreugde. Dis belangrik sodat ons kan besef dat Christus se teenwoordigheid nie net iets is wat in die lug hang nie, maar die lewende Christus wat by ons is, wat ons eie lyding verstaan, wat ons eie vrees kan verander in vreugde. Die God wat self gely het, is by ons, verstaan ons, en is ons genadig.


Al hierdie woorde van hoop, geantisipeerde vreugde, en genade laat my baie dink aan Efesiërs 1. Iets wat Paulus geskryf het. Dis ‘n pragtige Joodse-styl gedig, wat Paulus ‘n loflied aan God gee oor alles wat God tot dusvêr gedoen het, in Christus. Paulus verwys hier ook na die verbond wat God gemaak het, wat weer terug verwys na Genesis 12. Paulus gebruik hierdie verbondsbeeld en verduidelik dat dit nou nie slegs Abraham, Isak en Jakob se afstammelinge is wat deel is van hierdie verbond nie, maar as gevolg van Christus, kan enige iemand nou ingesluit word. Hierdie genade, verduidelik Paulus, gee vir ons ‘n heeltemale nuwe manier om ons lewens te leef. Dis duidelik in vers 10: “Sy bedoeling was om alles wat in die hemel en alles wat op die aarde is, onder een hoof te verenig, naamlik onder Christus.”

Die hele doel van hierdie gedig wat Paulus skryf is om te illustreer hoe God se Genade nou deur Christus, vir almal toeganklik is. Tedanke aan hierdie lyding aan die kruis en opstanding. Skielik word mense se herkoms of familie nie meer gesien as ‘n diskwalifiserende faktor vir genade nie. Nou, vandag is daar baie goed wat mense sê en doen om te probeer bewys dat hulle nie God se genade kan ontvang nie. Miskien is hulle lief vir iemand van wie hulle familie nie hou nie. Miskien het hulle iets in hulle verlede gedoen wat ander mense oordeel. Mense probeer daagliks om God se genade te beperk.

Ons lees in vers 14 van Efesiërs 1: “14Die Heilige Gees is die waarborg dat ons ook verder sal ontvang wat God belowe het, wanneer Hy almal wat aan Hom behoort, volkome sal verlos. Daarom moet ons sy grootheid prys.” Die Heilige Gees is ons waarborg. Niks anders nie. Geen dade, geen vrees en geen materiële beloftes nie. Ons het dan mos nounet gelees dat Jesus hierdie siening oor die dood klaar op sy kop gedraai het! Dis werklik die inkarnasie van genade. Ons moet ontslae raak van hierdie “vrot” afdelings van ons geloof waar ons so behep is met ons “beloning” na die dood, en begin fokus op die Skepping; wat ons kan doen in God se skepping. Ons tyd hier op Aarde is nie ‘n toetslopie om te kyk of ons God se ewige belofte verdien nie, nee. Ons tyd hier op Aarde is so kosbaar, juis omdat dit God se skepping is. Psalm 139 sê ook dat God ons op ‘n wonderbaarlike wyse geskep het. Daar staan nie ons gaan eendag wanneer ons beloon word op ‘n wonderbaarlike wyse geskep word nie, nee, dit sê ons is hier en nou op ‘n wonderbaarlike wyse geskep sodat ons die genade van Christus aan alle mense kan bring, juis omdat ons, soos vers 13 van vanoggend se teks sê, ook [ons] deel geword van die volk van God toe [ons] die waarheid wat aan [ons] verkondig is, die evangelie van [ons] verlossing, gehoor en tot geloof gekom het. Miskien is dit deel van die hele konsep wat Jesus aan die dissipels wou oordra in vanoggend se skriflesing.

Die dissipels is die getuies van hierdie goeie nuus. Die taak geld allereers vir die dissipels, maar word van hulle af na die kerk as Jesus se nuwe geloofsgemeenskap uitgebrei. Die verkondiging van die nuwe lewensmoontlikheid moet na al die nasies gaan. Dit is nie beperk tot Israel van die Ou Testament nie, maar universeel. Die verkondigingsdaad begin histories gesproke by Jerusalem, maar sal verder na almal en oral gaan.


Die belofte word in Handelinge met die uitstorting van die Heilige Gees (Hand. 2) vervul. Die Heilige Gees word dikwels in die Nuwe Testament met “krag” verbind. Opvallend sluit die einde van Lukas en die begin van Handelinge dig bymekaar aan. Die Heilige Gees verskaf die dryfkrag (impetus) en die rigting vir die getuienis van Jesus se volgelinge.

God se verlossing bring redding van sonde, maar ook veel meer. Dit maak ook die wêreld nou reeds heel. Hoe is dit dan om in God se Naam die wêreld heel te maak?


Hierdie herstel of verlossing omvat alles, die geestelike lewe (herstel van ons verhouding met God) sowel as onderlinge verhoudings met ander mense en die res van die skepping.


Verlossing behels meer as iets persoonliks. Dit gaan ook oor die herstel van sosiale groepe (gesinne, families, vriendekringe, werkkringe, geloofsgemeenskappe en die breër gemeenskap) sowel as sosiale strukture (om iets aan onregverdige ekonomiese en politieke strukture te doen). God se verlossing neem Jesus se dood en opstanding as die sleutel tot die nuwe lewe volgens die model van Jesus se lewe op aarde (wat Hy gesê en gedoen het). Op al hierdie terreine bring Jesus genesing.


In hierdie evangelieteks is daar ‘n geleentheid om Jesus te ontmoet deur elkeen van ons sintuie te gebruik. Die dissipels het hier ‘n geleentheid om hom te sien, te hoor, aan hom te vat, aan hom te ruik en saam met hom te proe. Elkeen van die sintuie word gebruik vir erkenning van die Here. Miskien kan ons in hierdie teks ook kyk om ons sintuie te verhef en te verlewendig terwyl ons ook soek om die wonder van sy opstanding te ontvang.


Om ons stories vir mekaar te vertel is ‘n natuurlike en baie menslike ding om te doen. Die dissipels vertel hul stories in verwondering. Hulle is verstom oor wat die ervaring vir hulle oopmaak. Deur stories met mekaar te vertel, stel hulle in staat om die oorweldigende nuus en omstandighede van Jesus se opstanding onder woorde te bring en te probeer sin maak. Iets so onverwags het in hul lewens gebeur dat hulle ‘n manier soek om sin te maak van die gebeure en dus praat hulle met mekaar, deel met mekaar en vertel hul stories.


Dit is dikwels die onverwagte gebeurtenis, die onbeplande ervaring, wat ons aandag trek en ‘n storie die meeste lewendig maak. Dit is duidelik dat die feit dat Jesus na so ‘n gruwelike en ondraaglike dood gesien is, ‘n onverwagse gebeurtenis vir die dissipels en vir almal was. Om stories te vertel is ‘n manier om die onverwagte te verwerk en dit is presies wat die dissipels gedoen het toe Jesus weer verskyn het. Hulle was besig om die gebeure na die kruisiging te verwerk, sin te maak, hulle te heroriënteer na die wonder wat rondom hulle was deur hul stories met mekaar te deel.


Hoop, vreugde, stories vertel, die misterie van God en God wat self ly is alles temas waaraan ons vanoggend geraak het. Dis eintlik ook ‘n legkaart. Woorde wat die verskillende blokkies van ‘n hemels-groot legkaart vorm. Hoe meer ons van hierdie blokkies bymekaar sit, hoe meer sin begin alles maak. God gee ons hoop en vreugde. God het self gely.


So dink bietjie by jouself: Wat bring vir jou hoop en vreugde? Hoe erken jy God se misterie? Is jy gemaklik om binne hierdie misterie te leef? Of is jy ongemaklik? Het jy al God se misterie ervaar wanneer jy na iemand anders se storie luister? En watter storie in jou lewe kan jy vertel om God aan die mense rondom jou te openbaar?


God het baie misterie, en ons vertel vir mekaar stories van al hierdie hoop, vreugde, lyding en misterie wat op die ou end ons help om ‘n gesonde verhouding met God te bou. Die dissipels het Jesus gesien. En Jesus het hulle gerus gestel. En Jesus stel ons gerus.


Amen