Skriflesing (Hebreërs 10:16-25)
15Ook die Heilige Gees getuig teenoor ons; want nadat Hy gesê het, 16“Dit is dan die verbond wat Ek ná daardie dae met hulle sal sluit, sê die Here: Ek sal my wette in hulle harte gee, en dit op hulle verstand neerskryf,” sê Hy ook: 17“Aan hulle sondes en aan hulle wettelose dade sal Ek glad nie meer dink nie.” 18Waar daar vergifnis hiervoor is, word ‘n offer vir sondes nie meer gebring nie. 19Broers, ons het dus vrymoedigheid deur die bloed van Jesus om in te gaan na die heiligdom, 20langs ‘n nuwe en lewende weg wat Hy vir ons geopen het deur die voorhangsel heen, dit is deur sy liggaam, 21en ons het ‘n groot Priester oor die huis van God. 22Laat ons daarom ingaan met ‘n opregte hart, in volle geloofsekerheid, met ons harte besprinkel, vry van ‘n slegte gewete, en ons liggame gewas met skoon water.23Laat ons styf vashou aan die belydenis van wat ons hoop, sonder om af te wyk, want Hy wat die belofte gemaak het, is getrou. 24Laat ons ons ook daarop toelê om mekaar aan te spoor tot liefde en goeie dade
Preek
Die brief aan die Hebreërs het ‘n baie interessante geskiedenis. Ons wonder vandag nog wie dit eintlik geskryf het. Sommige mense glo dat dit deur Paulus geskryf is, ander dink wees dat dit heel moontlik een van Paulus se kollegas was, soos Barnabas of Apollos. Ons hoor egter in die boek dat die skrywer van hierdie brief ‘n nabye verhouding met die Apostels gehad het, wat nou weer ‘n eerstehandse ervaring met Jesus self gehad het. Maar dis nie waar die hele storie stop nie. Ons weet ook nie presies aan wie hierdie brief geskryf is nie, maar die skrywer van Hebreërs ken wel die mense aan wie hy skryf baie goed en neem aan dat hulle ‘n redelike goeie kennis van die Ou Testament gehad het, veral die Pentateug, of die eerste 5 boeke van die Bybel (Genesis, Eksodus, Levitikus, Numeri, en Deuteronomium). Dis basies hoe Abraham die vader van Israel geword het, hoe Moses hulle vanuit slawerny bevry het na die Sionsberg, waar hulle die Torah ontvang het en ‘n verbond met God gemaak het, waar hulle die tabernakel gebou het, waar die priesters offers gemaak het, en ook hoe hulle deur die wildernis gereis het op pad na die beloofde land. Dis nie stories wat die Hebreërskrywer herhaal nie, hy verwag net dat die mense wat hierdie brief lees alreeds hierdie kennis het. En dis ook waar die naam Hebreërs vandaan kom: Dis geskryf aan ‘n mengsel van Jode, Christene en ander volgelinge van Jesus.
Dit bring ons by wat die doel van hierdie brief is. Die meeste mense wat die Hebreërsbrief analiseer en bestudeer is van die mening dat dit geskryf is om ‘n sekere groep gelowiges in die vroeë Christelike kerk aan te moedig om in hulle geloof te volhard. Ons moet onthou dat hierdie in ‘n tyd geskryf is toe Christene ernstig vervolg is, wat natuurlik veroorsaak het dat hulle geloof en standvastigheid begin verloor. Hulle het gevrees vir hulle lewens en het dus hulle geloof in Christus onderdruk en weggesteek. Selfs vandag nog word Christene in sommige lande vervolg. Boonop het hierdie gelowiges met die probleem geworstel dat Jesus se verwagte wederkoms nog nie aangebreek het nie. Hulle was reeds ‘n tweede of derde geslag Christene, maar Jesus het nog steeds nie weer gekom nie. Die Hebreërsbrief was dus gerig tot mense wie se geloof kwaai getoets is deur die omstandighede waarin hulle hulself bevind het.
Om mense wat ly te bemoedig of raad te gee is altyd ‘n moeilike saak. Die skrywer van Hebreërs doen dit egter op ‘n voortreflike manier. Hy wissel naamlik in sy brief telkens leerstellinge en etiese gedeeltes met mekaar af. Hy begrond sy raad, vermanings en bemoedigings in die belangrike waarhede van die Christelike geloof. Hy sê nie net “want dit is hoe dit is” nie. Hy verduidelik sy logika, die redes en die motiverings hoekom dit belangrik is om hierdie vrymoedigheid van geloof te hê.
Nog iets wat belangrik is om te weet oor ons teks vanoggend is die plek wat hoofstuk 10:19-25 in die geheel van die brief inneem. Vanaf Hoofstuk 7 tot by hoofstuk 10:8 het ons met een van die hoogtepunte van Hebreërs te make In hierdie leerstellige gedeelte word uitvoerig geskryf oor Jesus as ons groot Hoëpriester. Net daarna volg dan, vanaf 10:19 tot 12:29 ‘n parentetiese gedeelte waarin belangrike gevolgtrekkings uit die voorafgaande leerstellige gedeelte gemaak word. Die lesers word daarin opgeroep om die teorie van die voorafgaande gedeelte nou ook prakties toe te pas.
Ons teks vir vanoggend wys belangrike ooreenkomste met 4:14 – 5:10. Professor Dirkie Smit, by wie ek die voorreg gehad het om klas te kry tydens my studentejare, skryf dat hierdie gedeelte in hoofstuk 4 tot 5 vorm “as t’ware die twee hakkies waarbinne die hoofdeel van hoofstuk 7 tot 10 staan”. Dit kan dus die moeite werd wees om vanoggend se teks saam met hoofstuk 4 en 5 te lees.
Vers 19-25, wat deel vorm van wat ons vanoggend gelees het, bestaan in die oorspronklike Grieks eintlik net uit een lang sin. ‘n Ryke verskeidenheid van gedagtes en motiewe word in dié gedeelte gevind, maar wanneer daar na die logiese opbou van die teks gekyk word, is daar ‘n paar dinge wat belangrik is.
Vers 19-21 gee ‘n kort samevatting van die voorafgaande leerstellige gedeelte waarin Jesus as groot hoëpriester aan die lesers voorgehou word. Gelowiges word in 19-21 herinner aan dít wat hulle in Jesus Christus besit. Vers 22-25 bou dan parenteties voort op wat in 19-21 gesê is. Nadat die skrywer in 19-21 die lesers aan hulle geloofsbesit herinner het, maak hy in 22-25 ‘n drieledige appèl op hulle. Deur drie ernstige vermaninge roep hy hulle op om, ten spyte van hulle moeilike omstandighede, in geloof tot God te nader (vers 22), om styf vas te hou aan die hoop wat ons bely (vers 23) en om in liefde na mekaar om te sien (vers 24-25). As mens dan taalkundig hierna kyk kan ‘n mens sê dat die indikatief van verse 19-21 opgevolg word met die imperatief van verse 22-25. Met ander woorde: Vers 22-25 sê wat ons moet doen omdat daar hierdie dinge in vers 19-21 staan.
Een van hierdie ‘dinge’ is natuurlik vers 19, waar daar staan dat gelowiges nou ‘vrye toegang’ tot die heiligdom het. Professor Dirkie Smit sê wenereens dat die Griekse woord wat hier gebruik word, ‘parresia’ beteken letterlik ‘om alles te sê’. Ons het ook vroeër hierdie jaar, in Februarie toe ons oor 2 Korintiërs 3 gesels het, oor parresia gepraat. Professor Dirkie Smit verduidelik verder dat dit in die antieke Griekse stadsdemokrasieë gebruik is as tegniese term vir die spreek- en stemreg van die vrye burgers. In dié sin het dit dus ‘n objektiewe klank gehad, te wete die reg, die verlof, die vryheid wat iemand het om in die openbaar te mag praat. Terselfdertyd het dit egter ook ‘n subjektiewe klank verkry, te wete die moed of selfs onverskrokkenheid wat iemand aan die dag gelê het om daardie verlof werklik ook te gebruik, veral teenoor belangrike persone of teenoor God. ‘parresia word veral in vers 19 in ‘n objektiewe sin gebruik. Deur sy bloed het Jesus vir die gelowiges ‘parresia’ verwerf, die vrymoedigheid om God te nader.
Die skrywer van die brief aan die Hebreërs verskaf ‘n paar antwoorde op die basiese vraag – wat het die dood van Jesus beteken? Vandag word ons vertel dat as gevolg van Jesus se bloed ons nou die heiligdom kan ingaan, oftewel, verlossing kry. Jesus het die weg vir die mensdom oopgemaak. Soos die Hebreërs ‘n nuwe begin ervaar het na hulle terugkeer uit ballingskap, maak God alles nuut, so nou het Jesus se daad die wêreld verander. God se liefdesdaad het ‘n nuwe verbond in die gedagtes en harte van gelowiges geskep. Dit is soos wat God eeue vroeër deur die profeet Jeremia verkondig het in Hoofstuk 31: 31“ ‘Kyk, daar kom dae,” is die uitspraak van die Here, “dat Ek met die huis van Israel en die huis van Juda ‘n nuwe verbond sal sluit. 32Dit sal nie wees soos die verbond wat Ek met hulle voorouers gesluit het die dag toe Ek hulle aan die hand gegryp het om hulle uit Egipteland uit te lei nie – my verbond wat hulle self verbreek het, al was Ek Heer oor hulle,” is die uitspraak van die Here. 33 “Nee, dít is die verbond wat Ek ná daardie dae met die huis van Israel sal sluit,” is die uitspraak van die Here: “Ek sal my wet in hulle binneste gee, en dit op hulle harte skryf. Ek sal vir hulle ‘n God wees, en hulle sal vir My ‘n volk wees. 34 Hulle sal nie meer elkeen sy medemens of sy broer leer en sê, ‘Ken die Here!’ nie, want hulle almal sal My ken, van die kleinste tot die grootste onder hulle,” is die uitspraak van die Here. “Want Ek sal hulle sondeskuld vergewe en aan hulle sonde sal Ek nie weer dink nie.”
Jesus se liefdesdaad het ons rein gemaak. Dit gee vir ons die vrymoedigheid om te wéét dat ons rein gemaak is. Die skrywer van Hebreërs vertel ons dat deur Jesus se bloed, ons harte skoon van die bose gemaak is; ons verstand en gewete is rein gewas. Ons is soos dié wat deur Johannes in die boek Openbaring genoem word: “Dit is hulle wat uit die groot beproewing gekom het: hulle het hul klere gewas en dit wit gemaak in die bloed van die Lam” (7:14). Jesus het sy lewe en nou sy dood gedeel op ‘n manier wat verlossend geword het. Deur sy dood is ons gereinig; hy het ‘n nuwe dag ingewy.
Jesus se genadegeskenk aan die kruis is nie ‘n laagtepunt nie, maar is eerder die toppunt van sy lewe, sy grootste oomblik. Die gebeure van Golgota bring dus ‘n nuwe dag vir God se volk. Jesus begin hierdie nuwe dag, maar ons, die hande en voete, die liggaam van Christus vandag in ons wêreld, moet voortgaan wat Christus begin het. Soos ons Bybeltekste sê, moet ons Jesus se liefdesdaad aan die kruis gebruik as die katalisator vir ons eie deel van God se goedheid aan ander. Ons word geroep om ander aan te moedig om liefde te toon en goeie dade te verrig.
Jesus se dood aan die kruis gelaai is met teologiese betekenisse, maar wat is die pastorale boodskap wat ons elke dag van ons lewe kan toepas? Jesus se dood roep ons op om ambassadeurs van Christus se liefde aan ander te wees. Soos Jesus volkome met ons gedeel het, so moet ons ook met ander deel. In wese is ons geroep om brugbouers tussen Christus en die wêreld te wees.
Voor ons die nagmaal vanoggend gebruik wil ek graag kort storie vertel. Twee broers het plase besit wat by mekaar aangesluit het. ’n Groot en pragtige wei het die twee broers se eiendom bymekaar gebring. Vir baie jare was die twee baie na aan mekaar, maar meningsverskille hier en daar het gemaak dat die twee broers so nou en dan gestry het en nie heeltemal met mekaar oor die weg gekom het nie. Op ‘n dag het een van die broers die rivieroewer met ‘n stootskraper oop gekrap sodat water vrylik in die weiveld afloop en ‘n natuurlike skeiding tussen hul eiendomme geskep het. Hy het basies ‘n rivier veroorsaak. Dit het so gebeur dat daar op dieselfde tyd ‘n reisende nutsman aan die voordeur van die ander broer se plaashuis kom klop het. Die nutsman het hom gevra: “Het jy enige werk vir my? Ek is goed met skrynwerk, loodgieterswerk en elektriese werk.” Die broer het geantwoord: “Om die waarheid te sê, ek het die perfekte werk vir jou.” Hy het die nutsman na die agterkant van sy huis geneem en vir hom die wei en die klein rivier wat nou daardeur loop, gewys. Hy het gesê: “Sien jy daardie houtstapel daar? Gebruik dit om ‘n heining van twee en ‘n half meter te bou wat my eiendom van my broer s’n sal skei.” Die nutsman het vir die broer gesê: “Geen probleem. Ek doen dit vir jou. As jy wil, kan jy dorp toe gaan en inkopies gaan doen vir die week. Ek sal teen die einde van die dag klaar wees.” So is die broer dorp toe en die nutsman het begin werk. Laatmiddag het die broer teruggekeer. Tot sy groot verbasing het die nutsman nie ‘n muur gebou nie, maar ‘n brug oor die stroompie. En aan die ander kant van die brug staan die ander broer met sy arms uitgestrek. Die twee mans het mekaar by die middel van die brug ontmoet en omhels.
As ambassadeurs van Christus se liefde in die wêreld word ons geroep om mure af te breek wat verdeel en brûe te bou wat verenig. Te dikwels plaas ons riviere en stroompies tussen onsself en ander. Ander struikelblokke word ook geplaas tussen Christus se liggaam, die kerk en die samelewing. Ons moet doen wat ons kan om hierdie struikelblokke weg te kry en God se liefde met ander te deel. Ons word geroep om die pyn en lyding van ander te deel en uit te reik na diegene wat ons die nodigste het. Ons word geroep om ‘n nuwe dag vir gespanne en gebroke verhoudings te verkondig. Ons word geroep om die verlede te laat gaan en ander aan te moedig om dieselfde te doen. Ons moet glo en oefen, soos Jesus duidelik gedoen het, dat die beste manier om God se liefde te deel is deur ons gebrokenheid en swakheid te erken. Paulus het dit goed geweet en kon dus met selfvertroue in 2 Korintiërs 12 skryf: “Ter wille van Christus verheug ek my in swakhede, beledigings, ontberings, vervolgings en benoudhede; want wanneer ek swak is, juis dan is ek sterk.”
Die jongste broer het gedink hy het niks van waarde om aan die koninkryk te gee nie, maar hy het regtig alles gehad. Dit was sy geskenk van liefde, gedeel met die mense, wat die dag gewen het, nie net vir sy hemelvaart na die kroon nie, maar meer fundamenteel deur ‘n nuwe begin vir die koninkryk te bring. Terwyl ons hierdie plegtige dag vier, laat ons by Jesus aansluit en ons lewens met ander deel. Dit is deur sulke optrede dat die wêreld ‘n beter plek word en ons die ewige lewe vind.
Amen.