Openbaring 21:1-6 - 'n Nuwe Hemel en 'n Nuwe Aarde

Skriflesing (Openbaring 21:1-6)

‘N NUWE HEMEL EN ‘N NUWE AARDE

1Toe het ek ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde gesien, want die eerste hemel en die eerste aarde het tot niet gegaan, en die see bestaan nie meer nie. 2En ek het die heilige stad, die Nuwe Jerusalem, van God af uit die hemel sien neerdaal. Sy is gereedgemaak, soos ‘n bruid wat versier is vir haar man. 3Ek het toe ‘n harde stem van die troon af hoor sê: “Kyk, God se woonplek is by die mense. En Hy sal by hulle woon; hulle sal sy volke wees, en God self sal by hulle wees as hulle God. 4Hy sal elke traan uit hulle oë afdroog. En die dood sal nie meer daar wees nie; ook nie rou of ‘n gehuil of pyn sal meer bestaan nie; want die eerste dinge het verbygegaan.” 5Hy wat op die troon sit, het gesê: “Kyk, Ek maak alles nuut.” En Hy het ook gesê: “Skryf neer dat hierdie woorde betroubaar en waar is.” 6Verder het Hy vir my gesê: “Dit is afgehandel! Ek is die Alfa en die Omega, die Begin en die Einde. Dié wat dors is, sal Ek laat drink uit die fontein van lewegewende water – verniet!

Preek

Ons het nou al ‘n hele paar simbole en metafore in Openbaring bespreek. In ons eerste week van ons preekreeks het ons gesels oor hoe ons Openbaring lees in terme van die verskillende literatuursoorte wat voorkom. Ons het bespreek dat Openbaring ‘n apokalips, ‘n profesie, en ook ‘n brief is. Hierdie literatuursoorte help ons om die boek op ‘n manier te lees wat sin maak. Om dit eenvoudiger te stel: ‘n Mens sal nie Openbaring op dieselfde manier lees as wat ons bv. die Evangelies sou lees nie, want, die Evangelies vertel die storie van Jesus se bediening, terwyl Openbaring ‘n visioen is wat deur God aan Johannes geopenbaar is. Ons gaan die pot heeltemal mis sit as ons nie die literatuursoorte in die Bybel in ag neem wanneer ons dit bestudeer nie. Dan, laasweek in Openbaring 7 het ons gesels oor die dankbaarheid wat ons vir God moet hê omdat ons deel is van daardie ontelbare skare wat almal God prys. Ons het dit gelees net nadat ons in Hoofstuk 6 van die 6 seëls gelees het: ‘n wit perd, ‘n rooi perd, ‘n swart perd, ‘n groen perd, die martelaars, en ‘n aardbewing, elkeen wat sy eie simboliese betekenis het: oorwinning, oorlog, hongersnood, dood, getuienis, en die einde wat naby is. Vandag lees ons oor die visioen wat Johannes kry van die nuwe Hemel en die nuwe Aarde en die koms van die nuwe Jerusalem na die aarde as die woonplek van God. Die kernboodskap is dat die skepping van die nuwe hemel en die nuwe aarde ‘n daad van God is. Mense kan nie die koninkryk tot stand bring nie. Maar die nuwe hemel en die nuwe aarde is nie die enigste dinge waarvan Johannes hier praat nie. Daar is klomp ander dinge.

Kyk, in vers 1 lees ons van die nuwe hemel en die nuwe aarde. Bietjie later in vers 1 lees ons dat daar nie meer ‘n see of waters gaan wees nie. Dan, in vers 2 lees ons van die nuwe Jerusalem wat “neerdaal”. Dan, vers 3, God se “woonplek” by die mense. En in vers 6 lees ons dat dit “afgehandel” is. So daar is 5 belangrike dinge waarna ons hier in hoofstuk 21 moet kyk: Nuwe hemel en nuwe aarde, “see”, “neerdaal”, “woonplek”, en “afgehandel”. 

Eerstens is natuurlik die nuwe hemel en die nuwe aarde. Ons het mos alreeds gesels oor Openbaring wat die “laaste hoofstuk” van die profesieë van die Ou Testament is. Openbaring verwys so baie keer terug na die Ou Testament, die profesieë en alles wat daar neergeskryf is. So dis dan geen verrassing dat Johannes hier wéér terug verwys na die Ou Testament wanneer hy praat oor die Nuwe hemel en die nuwe aarde. Die uitdrukkings “die nuwe hemel en die nuwe aarde” en “die nuwe Jerusalem” kom in die Ou Testament voor in plekke soos Jesaja 65:17-18. Dit is ‘n beeld van die herstelde Jerusalem, wat ‘n uitdrukking van die vervulling van God se beloftes aan sy volk is. Dit is ‘n beeld van samehang en voortgang tussen die aarde en die toekoms wat God se volk verwag. So met ander woorde, dit is ‘n beeld wat wys dat die aarde waar ons nou woon en die toekoms wat God vir ons in gedagte het nie twee aparte dinge is nie. Dis iets wat saam met mekaar gaan. Dit is waar God en sy volk sal saamwoon, die “blywende plek” wat “bokant die bergtoppe” uitstaan en waarheen “al die nasies sal stroom (Jes. 2:1-4; Miga 4:1-4; Sag. 14:8). 

Dan, die volgende ding waarna ons wil kyk kom bietjie later in vers 1 voor, waar daar van die see wat nie meer bestaan nie. Water het ‘n ongelooflike ryk betekenis in die Bybel. By ons erediens die 27ste Maart het ons ook oor die simboliek van water gesels toe ons uit Josua 5 gelees het. Kom ons gesels dan gou oor ‘n paar van die plekke in die Byebl waar God water gebruik het: Die see het geskei sodat Moses die Israeliete daardeur kon lei; en die Jordaanrivier het geskei sodat die Israeliete deur die beloofde land kon beweeg in Josua. Dan, in Numeri 20 lees ons weer van water, waar Moses die klip met sy staaf geslaan het: dieselfde staaf waarmee hy deur God se krag die see laat skei het. Water het uitgevloei sodat die Israeliete en hulle vee water kon drink. Later in die Bybel word water mos ook gebruik wanneer mense gedoop word. In die Ou Testament is water gebruik tydens die reinigings-rituele waar mense wat onrein is hulleself was om weer rein te word, net soos wat Jesus ook die melaatse mense genees het deur vir hulle te sê om hulle self te gaan was. En dan natuurlik ook by die troue in Kanaän, waar Jesus water in wyn verander. Maar daar is ook ander plekke waar water op ‘n ander manier gebruik word: In die eerste skeppingsverhaal simboliseer water die vormlose chaos en donkerte voordat God in liefde geskep en georden het. In Jesaja 57:20-21 word die goddeloses vergelyk met die “onstuimige see wat nie tot rus kan kom nie”; vir hulle is daar “geen vrede” nie. Toe Jesus op die water loop, is dit byna soos ‘n gelykenis wat wys hoe Hy die aardse toestand te bowe gaan en oor die magte wat ons bedreig, triomfeer. Sien julle raak dat daar ‘n bietjie van ‘n verskil is tussen die gebruik van ‘water’ en ‘see’?

Die see is grensloos – dit simboliseer hoe ons maklik op ons lewensreis verlore kan raak. Die see hou in ‘n sin die dood vas. As die see verdwyn, beteken dit dus hierdie toestand is verby. Teenoor die bedreigende “waters” staan die “water van die lewe” wat deur Jesus se koms gratis beskikbaar is. In Openbaring 7:17 en 22:1 lees ons ook van die lewende water. Dit herinner aan Jesus se woorde in Johannes 4:14 en 7:38, en verwys ook na Jesaja 55:1: “Kom, almal wat dors het, kom na die water toe, selfs ook dié wat geen geld het nie.” 

Die volgende woord waarvan ons gepraat het is “neerdaal”, wat ons in vers 2 lees. Hierdie woord het ‘n agtergrond wat in wese Grieks is. Nie metafories Grieks van waar dit nie sin maak nie, maar die antieke Griekse kultuur. Een van die groot bydraes tot die wêreld se filosofiese denke was Plato se leerstelling van idees of vorme, of soos dit seker meer bekend in Engels is, “doctrine of ideas or forms”. Plato het geskryf dat daar in die onsigbare wêreld die volmaakte vorm of idee van alles op aarde bestaan het, en dat alle dinge op aarde onvolmaakte kopieë van die hemelse realiteite was. As dit so is, is daar ‘n hemelse Jerusalem waarvan die aardse Jerusalem ‘n onvolmaakte kopie is. Dit is waaraan Paulus dink wanneer hy praat van die Jerusalem wat daarbo is (Gal.4:26), en ook wat in die gedagte van die skrywer aan die Hebreërs is wanneer hy praat van die hemelse Jerusalem (Heb.12:22). Die afkoms van die Nuwe Jerusalem gaan gepaard met ‘n verduideliking vanaf die troon dat God nou by mense woon en dat alle dood en lyding nou uit menslike ervaring uitgeskakel is (vv 3–4). In sommige dele van die Joodse eskatologie (die studie van die eind-tye) daal die hemelse Jerusalem na die aarde om die aardse Jerusalem te vervang, of ‘n hemelse tempel word ‘n plaasvervanger vir die aardse tempel. Die woord “neerdaal” in Openbaring 21:2 dui aan die nuwe Jerusalem kom “van God af uit die hemel”. Dit dui aan dat die heilige stad nie deur ons aktiwiteite op aarde gevestig word nie, maar volkome van God afkomstig is. Die nuut geskape stad is “gereed soos ‘n bruid wat vir haar man versier is”. Dit word “mooi gemaak” of “versier”. Hierdie alles klink seker nogal ingewikkeld, maar basies, waarop dit neerkom is, Johannes praat van ‘n aardse Jerusalem (die tradisionele plek van Godsdiens in die antieke tye), en ‘n hemelse Jerusalem waar alles perfek en rein en volmaak is. Hierdie nuwe Jerusalem daal neer vanuit die hemel om die aardse Jerusalem te vervang waar God se wil sal geskied.

So kom ons recap gou. In die teks wat ons vanoggend gelees het lees ons eerstens van die nuwe hemel en die nuwe aarde, dan dat die see nie meer daar gaan wees nie (‘n simbool vir pyn), en dat die nuwe Jerusalem sal “neerdaal” van die hemel (die perfekte een vervang die gebroke een). 

So kom ons kyk dan na die 4de ding waarvan ons in vers 3: “woon”. God se woonplek wat by die mense is. In die Ou Testament het die volk in die woestyn God se glorie gesien waar die tabernakel opgerig is. Nou sal God by sy volk “bly” of “woon”. Waar die Evangelie van Johannes begin met die gedagte dat die Woord vlees geword en onder ons kom “woon” het, eindig Openbaring met dieselfde gedagte – dat God by ons kom woon. Ek raak so opgewonde as ek hierdie goed lees, want ek onthou van vorige preke wat ek gedoen het van die Ou Testament waar al hierdie temas ook voorkom. Ons het mos nou al so baie gepraat oor Openbaring wat konstant terug verwys na die Ou Testament, en hier is dit geen uitsondering nie! God se woonplek was vir die Israeliete in die woestyn waar die tabernakel was, die plek van God se fisiese teenwoordigheid in die Ou Testament. So die hele punt is dat God teenwoordig was. By die Israeliete in die beloofde land, en ook toe hulle in die wildernis was. Dis eintlik nogal interessant, want ons word grootgemaak terwyl daar vir ons gesê is dat die Israeliete in die woestyn was, maar die Hebreeuse woord wat hier gebruik word is בַּמִּדְבָּ֥ר (ba-midbar) wat gedefinieer word as “‘n plek wat nog nie gekultiveer is nie”, so dit kan ‘n woestyn, ‘n wildernis, of selfs ‘n weiveld wees. Dit help ons om ‘n idee te kry van hoe die omstandighede van die Israeliete gelyk het. Dink ook aan die storie van Abraham, Sara en Hagar. Abraham het by sy slaaf, Hagar, ‘n kind gekry omdat Sara in daardie tyd nie ‘n kind kon kry nie. Lang storie kort, Sara raak jaloers op Hagar en wil nie hê dat haar eie kind, Isak, ‘n erfporsie met Ismael moet deel nie. So, Sara forseer Abraham om vir Hagar en haar seun Ismael weg te jaag in die woestyn in.

Hagar en Ismael is in die woestyn. Die woestyn is natuurlik ‘n baie sterk tema binne ons Christelike tradisie, omdat dit so baie keer in die Bybel voorkom. Dit kan gesien word as ‘n plek van ‘op pad wees’, baie soortgelyk aan die uittog uit Egipte. Maar die woestyn kan ook gesien word as ‘n plek van swaarkry, versoeking, en eensaamheid. Baie keer binne ons Christelike tradisie word die woestyn gesien as ‘n simbool van tye van droogheid en verlies. Dit is tye wanneer mense onseker is van God se teenwoordigheid. Daar is wel ‘n vreemde paradoks wat hier voorkom. Die woestyn kan ook gesien word as ‘n plek waar God ontmoet kan word. Hier word die woestyn ‘n plek waar mense ontslae kan raak van hulle wanpersepsies en waar hulle God en hulself kan herontdek. Alan Jones beskryf in sy boek Soul Making na die woestyn as ‘n plek van stilte, wag, en versoeking, maar ook as ‘n plek van openbaring, gesprek, en transformasie. Dis die tipe dinge wat ons in gedagte moet hou wanneer ons Openbaring lees. God se woonplek by God se mense is nie net ‘n oppervlakkige teenwoordigheid nie, nee, dis ‘n teenwoordigheid binne die woestyn, want dis die kulturele raamwerk waarbinne Johannes geleef en gedink het toe hy Openbaring neergepen het. 

 

En dan, die laaste ding wat in hierdie teks van vanoggend voorkom wat ek graag wil bespreek is dié van “afgehandel”. “Dit is afgehandel” soos dit in vers 6 staan. “Dit is afgehandel. Ek is die Alfa en die Omega, die Begin en die Einde”. Vir die eerste keer praat God self; hy is die God wat mag het om alles nuut te maak. Weereens is ons terug onder die drome van die antieke profete waarvan ons in die Ou Testament lees. Jesaja het God hoor sê: “ Moenie dinge van vroeër in herinnering roep nie; op vorige gebeure moet julle nie die aandag vestig nie.Kyk, Ek gaan iets nuuts doen” (Jes.43:18-19). En dan natuurlik ‘n getuienis van Paulus: “ Daarom, as iemand in Christus is, is hy ‘n nuwe skepping. Die ou dinge het verbygegaan – kyk, hulle het nuut geword.” (2Kor.5:17). God kan ‘n mens neem en hom herskep, en sal eendag ‘n nuwe heelal skep vir die wie se lewens hy hernu het.

 

“Ek is Alfa en Omega,” sê God vir Johannes, “die begin en die einde.” Ons het reeds op hierdie aanspraak deur die opgestane Christus afgekom in Openb. 1:8. Weer hoor Johannes die stem wat die groot profete gehoor het, “Ek is die Eerste en Ek is die Laaste; buiten My is daar geen God nie” (Jes.44:6). Alfa is die eerste letter van die Griekse alfabet en omega die laaste. Johannes gaan voort om hierdie stelling te versterk. God is die begin en die einde. Die woord vir “begin” is arche, en beteken nie bloot eerste in tyd nie, maar eerste in die sin van die bron van alle dinge. Die woord vir “einde” is telos, en beteken nie bloot einde in tyd nie, maar die einddoel. Johannes sê dat alle lewe in God begin en in God eindig. Paulus het dieselfde uitgedruk toe hy miskien ‘n bietjie meer filosofies gesê het: “Want uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge” (Rom.11:36), en toe hy gepraat het van “ een God en Vader van almal, wat oor almal en deur almal en in almal is.” (Ef.4:6). Dit is afgehandel. God is die Begin en die Einde. Die Alfa en Omega. Die A en die Z.

 

In vanoggend se teks praat Johannes van Jesus as die middelpunt, die tempel van die Nuwe Jerusalem. Jesus se wederkoms in heerlikheid sal duidelik wees, want hy sal gesien word as die sentrale figuur van die nuwe skepping, maar Johannes stop nie daar nie. Jesus is nie net die middelpunt, of die tempel nie, hy is ook die lig van die stad. Daar sal nie meer ‘n behoefte aan son of maan wees nie, want Jesus sal al die lig voorsien wat ‘n mens nodig het. Die lig bied ‘n gevoel van veiligheid, warmte en welkom. Almal verkies om in die lig te loop; dit laat ons beter voel. Maar wat selfs nog belangriker is, is dat Jesus, die lig, ons ook rigting gee. Die lig verlig die pad wat ons moet volg; dit wys ons die regte weg. Op ‘n breër skaal, in hierdie eskatologiese beeld, verskaf Jesus, die Nuwe Jerusalem, die lig en rigting vir ander volke en nasies. Soos Johannes sê: “Die nasies sal leef in haar lig” (Openbaring 21:24a). Jesus is die een wat die pas aangee, die rigting gee en die model is om te volg. Die lig van die Nuwe Jerusalem sal so helder skyn dat heersers van nasies geïnspireer sal word om te volg soos Jesus beveel. Met Jesus as ons gids sal daar geen nag wees nie.

 

Johannes praat van die lig as die bron van goedheid en groei. Mense word aangetrokke tot die lig en voel beter in staat om meer te doen en vorentoe te beweeg in ‘n atmosfeer van lig. Duisternis is geneig om ons vordering te belemmer. Ons word dan voorsien van ‘n metafoor, ‘n beeld van ‘n rivier wat deur die Nuwe Jerusalem vloei. Die bron van lewe en voedsel verskaf alles wat nodig is sodat bome langs sy walle twaalf maande per jaar vrugte kan produseer. In die omgewing van die lig, met sy rigting en onderhouding, is daar niks onreins of enige persoon wat sleg doen wat die stad kan binnegaan nie; niks vervloektes sal teenwoordig wees nie. Christus, die lig, voorsien alles wat nodig is vir die lewe; ons sal niks meer nodig hê nie. As ons die lig van Christus het, wat op soveel maniere na ons toe kom, sal ons tevrede wees.

 

Die beeld van God, en God se Seun as die bron van ons lig, ons lewensmiddele, en ons eie lewe, word deur die hele Skrif gevind. Die beeld van hoe die lig van God die duisternis verpletter is duidelik sigbaar. Die boodskap van die profete word duidelik deur hierdie visioen gekenmerk. Jesaja, toe hy God se boodskap aan die suidelike koninkryk van Juda verkondig het, het van hierdie werklikheid gepraat: “ Die volk wat in duisternis ronddwaal, het ‘n groot lig gesien; hulle wat in ‘n stikdonker land woon – oor hulle het ‘n lig geskyn.” Hy sluit af: “ Huis van Jakob, kom, laat ons leef in die lig van die Here.!” (Jesaja 9:1; 2:5). Miga, ’n tydgenoot van Jesaja, maar wat vir die noordelike koninkryk van Israel geprofeteer het, het verkondig: “…al sit ek in die donker, die Here is vir my ‘n lig.” (Miga 7:8b). Die verkondiging van die lig se krag om duisternis te verdryf, is ook deur die Hebreërs gehoor toe hulle in ballingskap in Babilon was. Omdat die mense moontlik besef het dat God hulle verlaat het, het die mense sekerheid van God se liefde en sorg nodig gehad, en Jesaja het dit aan hulle verskaf: “Ek laat blindes gaan op ‘n weg wat hulle nie ken nie; op paaie wat hulle nie ken nie, laat Ek hulle loop. Ek maak die duisternis voor hulle lig, die ongelyk plekke maak Ek gelyk.” (Jesaja 42:16). God was altyd gereed en gewillig om die lig te voorsien; God het nog nooit opgegee op iemand nie.

 

In die teks wat ons vanoggend gelees het lees ons eerstens van die nuwe hemel en die nuwe aarde, dan dat die see nie meer daar gaan wees nie (‘n simbool vir pyn), dat die nuwe Jerusalem sal “neerdaal” van die hemel (die perfekte een vervang die gebroke een), dat God se woonplek by die mense is, net soos wat dit in die woestyn by die Tabernakel was, en dat alles afgehandel is, dat God die begin en die einde, die Alfa en die Omega, en die A en Z is. Dis alles beloftes wat deel vorm van Christus se opstanding en God se beloftes aan ons. 

 

Dink bietjie oor jou eie lewe. Waar sien jy die nuwe Jerusalem vandag raak? Waar het God die rowwe see vir jou kalmeer? Waar ervaar jy God se teenwoordigheid soos wat die Israeliete en Hagar dit in die woestyn ervaar het? En watter dinge in jou lewe maak dat jy opnuut besef dat God werklik die bron van alle dinge en ook die einddoel van alle dinge is?

Die opstanding moet die katalisator wees om die energie in ons te vernuwe om helderder te skyn. Die mense van wie ons in die Nuwe Testament lees was duidelik geïnspireer deur die opstandingsgebeurtenis, wat hulle in staat gestel het om hul stelsels te herlaai en die lig vir ander te word. Petrus is miskien ‘n goeie voorbeeld hiervan. Petrus het vreesloos aan die Jode gepreek van sy geloof in Christus as Messias en Here. Net so is Paulus, wat as Saulus van Tarsus ‘n ywerige vervolger van Christene was, deur die opgestane Christus op pad na Damaskus tot bekering gekom. Die lig wat hy ontvang het was so helder dat sy duisternis van dwaling, onkunde en ongeloof verdryf is en hy in staat was om die groot apostel vir die heidene te word. Ons moet so geïnspireer wees sodat ons op soortgelyke, maar waarskynlik nie so dramatiese maniere nie, die lig van Christus aan ander kan bring en die duisternis van ons wêreld kan help verdryf.

 

Amen.