1 Samuel 8:4-11

Skriflesing (1 Samuel 8:4-11)

4Al die oudstes van Israel het toe byeengekom en na Samuel in Rama gegaan. 5Hulle het vir hom gesê: “Kyk, u het oud geword, en u seuns volg nie in u voetspore nie. Stel dan nou vir ons ‘n koning aan om ons te rig, soos dit by al die nasies is.” 6Dit was egter verkeerd in die oë van Samuel dat hulle gesê het: “Gee vir ons ‘n koning om ons te rig.” Samuel het toe tot die Here gebid. 7Die Here het vir Samuel gesê: “Luister na die volk in alles wat hulle vir jou sê, want dit is nie jou wat hulle verwerp het nie, maar My het hulle verwerp om oor hulle koning te wees. 8Dit stem ooreen met al die dade wat hulle gedoen het, van die dag dat Ek hulle uit Egipte laat optrek het tot vandag toe: Hulle het My verlaat en ander gode gedien. Presies so maak hulle nou ook met jou. 9Luister dan nou na hulle. Maar jy moet hulle net ernstig waarsku, en aan hulle die regte verduidelik van die koning wat oor hulle gaan regeer.” 10Samuel het al die woorde van die Here oorgedra aan die volk wat van hom ‘n koning gevra het. 11Hy het gesê: “Dit sal die regte van die koning wees wat oor julle gaan regeer: Julle seuns sal hy vat en hulle vir hom aanstel by sy strydwa en sy span perde. Hulle sal voor sy strydwa uit moet hardloop.

 

 

Preek

Nadat die Israeliete uit ballingskap gered is het hulle ‘n verbond met God gemaak en uiteindelik na die beloofde land getrek. In die beloofde land was die Israeliete veronderstel om God se verbond met hulle te gehoorsaam, maar, net voor die boeke van Samuel, in Rigters, lees ons hoe die Israeliete daarmee gesukkel het. Daar was absolute morele chaos en het duidelik gewys dat Israel wyse, morele leierskap dringend nodig gehad het. Die boeke van Samuel gee vir hulle ‘n antwoord op hierdie panarie waarin hulle hulleself bevind het.

1 Samuel, vanoggend se teks, word in 3 dele verdeel. Die eerste deel gaan oor Samuel, die tweede oor Saul, en die derde oor David en Jerusalem. Vanoggend se teks kom uit hoofstuk 8, wat oor Saul handel.

Hoofstuk 8 begin met die Israeliete wat na Samuel toe gaan en vir hom sê dat hulle ‘n koning soek, soos al die ander volke rondom hulle. Kom ons lees vanoggend se teks, waar Samuel tot God bid en leiding vra:

Skriflesing: 1 Samuel 8:4-11

Die ouderlinge van Israel was besig om paniekerig te raak. Hulle het gesien dat Samuel oud word en dat daar nie ‘n opvolger was om aan te gaan met die stryd teen die Fillistyne nie. Geskiedenis is besig om herhaal te word. Die sondes van Eli se seuns het groot veranderinge in Israel laat gebeur; en nou was dit die sondes van Samuel se seuns wat selfs groter veranderinge bring. In albei gevalle was die sondes glad nie ‘n geheim gewees nie, so die mense in die publiek het begin protesteer. Een belangrike verskil is dat Samuel se seuns nie onder sy direkte toesig was nie, want Berseba het vêr in die suide gelê, en nie God of die mens kon hom blameer vir wat hulle gedoen het nie. Daar is dramatiese ironie in al hierdie dinge. As gevolg van Eli en Samuel se seuns, was dit vir almal duidelik dat groot en goeie mense, kinders kan hê wat nie hulle voorbeeld volg nie.

So, die ouderlinge van Israel eis dat Samuel ‘n nuwe koning nodig het, juis omdat hulle nie vertroue in sy seuns het nie. Samuel bid daaroor, wat ons vanoggend gelees het, en God gee vir Samuel leiding oor wat om te doen.

Samuel se seuns het ‘n warboel van dinge gemaak, wat veroorsaak het dat die mense van Israel nou nie juis ‘n goeie toekoms gesien het nie. As Samuel se seuns sy plek sou vat, is die toekoms-uitkyk uiters swak. So wat doen die Israeliete? Hulle soek ‘n alternatief. Wat is fout met Samuel se seuns? Wel, hulle is basies die presiese teenoorgestelde as hulle pa. In teenstelling met die wyse, ou gesegde, val die appels in hierdie geval ‘n hele ent van die boom af! Soos ou Eli se seuns, was Samuel se seuns net op hul eie. Samuel het heel waarskynlik die ironie hierin gesien. Soos sommige politici en sakemanne selfs vandag nog, was Samuel se seuns besig om net oor hulleself te dink en nie oor die mense wat hulle moes dien en lei nie. Dit is ‘n verdere bewys dat onetiese gedrag op korporatiewe en regeringsvlak al baie lank bestaan. Dis glad nie ‘n nuwe ding nie. Dit het nie net in ons generasie begin nie.

SLIDE Duidelik het Samuel se seuns hulle korrupsie nooit agtergekom nie, maar die mense onder Samuel se sorg het wel en hulle sou niks daarvan gehad het nie. Hulle wou ‘n verandering hê. Hulle wou dadelik ‘n verandering hê. Hulle was glad nie bang om hul gevoelens te deel nie. Ek het ‘n kort storie oor ‘n jong monnik gehoor wat ‘n klooster binnegekom het waar almal ‘n gelofte van stilte moes aflê. Die hoof monnik het aan die jong monnik gesê dat hy net elke vyf jaar twee woorde mag sê. Die jong monnik het geweet dat dit ‘n uitdaging sou wees, maar hy ingestem. Aan die einde van die eerste vyf jaar vra die hoof vir hom: “Wat is u twee woorde?” Die jong monnik antwoord: ‘Bed hard.’ Aan die einde van die tweede vyf jaar het die hoof hom gevra wat sy twee woorde hierdie keer was. Die jong monnik antwoord: ‘Kos sleg.’ Aan die einde van die derde vyf jaar toe die hoof hom vra wat sy twee woorde is, antwoord die jong monnik: “Wil uit!” En die hoof het gesê: “Eks nie verbaas nie; jy het net gekla vandat jy hier aangekom het!”

Sommige mense kla net om te kla, maar in Samuel se geval lyk dit asof hulle oor genoeg rede het om te kla. Hulle was bekommerd oor hul toekoms en die toekoms van hulle kinders. Die ou man was ‘n goeie leier, maar sy seuns was ‘n ander storie. Die volk was baie gemotiveerd om ‘n paar veranderinge aan te bring. Daarom het hulle ‘n koning gevra.

Dis baie interessant wat God op hierdie belangrike oomblik doen. God kon maklik ingegryp het en net alles dadelik gestop het. God kon God se getroue dienskneg Samuel gered het en hom baie onnodige spanning gespaar het, want God weet dat mense ‘n baie foute kon maak in die proses van op ‘n koning aan te dring. Wat doen God eerder? God het dinge eenvoudig deur Samuel laat loop en toegelaat dat sy mense alles self uitsorteer. Hier is nog een van die vroeë voorbeelde van die leerstelling van die vrye wil waar God ons mense beweegruimte gee. Teoloë noem dit die toelaatbare wil van God. Ons kan kies tussen reg en verkeerd en ly dan onder die gevolge. Soms kies ons tussen die minste van twee euwels soos in politieke verkiesings. Op ander tye kies ons tussen die beste van twee goedere, wat baie meer uitdagend kan wees. Groot karakters in klassieke films maak dikwels sulke keuses. Hoe dit ook al gebeur, God laat ons kies. Hoekom? Want God het van die begin af besluit om ons nie soos marionette op ‘n tou te behandel op die grille van een of ander goddelike poppespeler nie. Dís genade. Dís onvoorwaardelike liefde. Dís hoekom God juis ‘n liefdevolle God is.

Ek dink dis belangrik om bewus te wees van die Israeliete se motiewe. Hoekom wou hulle ‘n nuwe koning hê? Tot op daardie punt was God basies die enigste koning wat hulle aanbid het. Die Israeliete het ‘n menslike koning begeer; iemand wie hulle persoonlik kon blameer vir alles wat fout gaan. God het ‘n duidelike plan met die Israeliete, maar stem in om hierdie plan bietjie aan te pas om ‘n vorm van vrede onder die Israeliete te bring. Dit verander glad nie die einddoel van God se plan nie, maar beïnvloed net die reis wat tydens hierdie plan geneem is.

Samuel het geweet dat hierdie hele storie bietjie bo sy vuurmaakplek is. So wat doen hy? Hy het na sy ou vriend om hulp gevra. Wie was sy ou vriend? God – die een wat in die vleuels wag om te sien wat ons gaan doen. Ons probeer gereeld om ons lewens self reg te ruk wanneer dinge begin skeef loop. Maar Samuel, wat ‘n heilige en regverdige man was, het beter geweet as om hierdie een self te probeer oplos. In plaas daarvan haal hy diep asem en vertrek ‘n rukkie om saam met God, die een wat altyd die regte antwoord het, te kommunikeer. Samuel het lankal geleer dat dit nie help om net bekommerd oor iets te wees nie. Samuel was miskien nie die skerpste spyker in die werkswinkel nie, maar hy het beslis geloof gehad; en baie daarvan. So, hy gaan na God in gebed terwyl hy hoogs omgekrap is oor die Israeliete wat sy leierskap bevraagteken en sy familie so wil aanval.

Wat doen God? God gee hom ‘n metaforiese klap op die hand en sê: “Ontspan, Samuel. Dit gaan nie oor jou nie, dit gaan oor my. Ek het dit al hanteer. Dit is ek wat hulle aanval. Jy moet leer hoe om te onderskei.”

Dit is so maklik om alles persoonlik op te neem as jy ‘n leier is, veral ‘n kerkleier. Maar dit gaan nie altyd oor jou nie. Soms is mense net kwaad vir God, soos miskien na ‘n sterfte. En dis ook nie verkeerd om vir God kwaad te wees nie! Dis normaal! Dis menslik. Om kwaad te bly vir God is ‘n ander storie, maar soms is dit nodig vir ons om deur ons kwaad te werk, en wie beter om ons daarmee te begelei as God self? Dit is wat met Samuel gebeur het. Dis wat God hom wou laat agterkom het. God kalmeer Samuel en herinner hom daaraan dat hy soms net dinge moet laat gaan, laat hulle in God se liefdevolle hande. Dit is immers wat gebed is – ‘n plek om ons bekommernisse te laat gaan. Wat ons moet sê, is dit: “God, ek het alles probeer om hierdie probleem alleen op te los. Ek het al die aanneemlike moontlikhede benut en vind nou dat ek na u gaan. Ek laat hierdie bekommernis na u toe gaan, God, dit behoort nou aan U. ‘ Dit is wat Samuel uiteindelik agter gekom het.

Alhoewel hulle daarop aandring om dinge op hul manier te doen, gee God nooit moed op met hulle nie. Samuel waarsku die mense dat die lewe nie perfek met ‘n koning sal wees nie, maar die volk dring daarop aan as gevolg van groepsdruk, wat die volk ironies genoeg so kinderagtig laat klink soos Samuel se eie seuns. Soos ‘n liefdevolle ouer wat hulle kinders ruimte gee om groot te word en foute te maak, gee God hulle wat hulle vra, selfs al gaan hierdie menslike konings ook ‘n klomp foute maak, soos Saul, Dawid, ensovoorts. God gee hulle konings wat nie volmaak is nie, maar die beste doen wat hulle kan. Al hierdie gebeurtenisse in hierdie storie bewys net die groot buigbaarhied, genade en vrygewigheid van God. Dit is die hele punt van hierdie teks.

As ons deur hierdie verhaal na die hele geskiedenis van die mensdom kyk, sien ons dat dinge nie regtig soveel verander het nie. Maar die goeie nuus is dat God altyd daar is om ons te help om die stukke op te tel, ongeag wat ons doen. Sedert Samuel het die mensdom klomp foute gemaak, net soos vandag. So God doen iets radikaal – God gee ons ‘n nuwe koning, ‘n koning vir alle tye. Wie is hierdie koning? Dit is die een wat ons die Christus noem, die Koning van die konings en die Here van die here, die een wat ons optel wanneer alles lyk of ons nie meer is nie, en as gevolg van hom het ons die geseënde versekering dat God altyd by ons sal wees binne die gemors wat ons in ons lewens maak. Alhoewel ons soms opgee, sal God nie opgee nie.

Ek wil afsluit met ‘n kort meditasie. Raak rusitg, jy kan jou oë toemaak as jy wil, en raak net bewus van jou eie gedagtes.

Dink bietjie aan jou eie lewe. Dink oor wat jy al voor gevra het, wat jy gekry het, maar wat jy later besef het nie noodwendig die beste uitkoms gegee het nie. Noem hierdie voorbeelde op die naam en identifiseer dit.

Het jy met God gepraat daaroor?

Wat het jou laat besef dat jy verkeerd was?

Hoe het God steeds hierdie dinge gebruik om jou lewe te verryk, net soos wat God die Israeliete in vanoggend se teks gebruik het? Hoe het God jou lewe hierdeur verryk.

Is jy dankbaar vir dit wat gebeur het? Is jy bly jy kon iets leer?

Wat kan jy doen om God se wil vir jou lewe te onderskei in die toekoms?