Skriflesing (Psalm 34:1-8)

341Van Dawid. Toe hy hom kranksinnig gehou het voor Abimeleg, dié hom weggejaag en hy toe weggegaan het.

א ALEF

2Ek wil die Here die hele tyd prys, my mond is voortdurend vol van sy lof.

ב BET

3In die Here sal ek roem;

verdruktes sal dit hoor en hulle verheug.

ג GIMEL

4Maak saam met my die Naam van die Here groot, ja, laat ons saam sy Naam verheerlik.

ד DALET

5Ek het die Here geraadpleeg, en Hy het my geantwoord; van al my verskrikkinge het Hy my gered.

ה HE

6Verdruktes kyk op na Hom en hulle straal; hulle gesigte hoef nie rooi van skaamte te wees nie.

ז ZAJIN

7Hierdie magtelose het geroep en die Here het gehoor, en uit al sy benoudhede het Hy hom verlos.

ח GET

8Die •Engel van die Here trek ‘n laer rondom hulle wat vir die Here ontsag het en Hy red hulle.

 

Preek

Psalm 34 is ‘n pragtige gedig oor David in die tyd toe hy in die land van die Filistyne was. Baie van die Psalms is ingewikkelde kunswerke wat ons soms sukkel om te vertaal en die volle skaal daarvan te verstaan. Die Psalms is natuurlik in Hebreeus geskryf; die meerderheid van die Ou Testament is natuurlik ook in Hebreeus geskryf, met so een of twee uitsonderings wat in Aramees geskryf is (soos dele van die boek Daniël).
Maar hoekom is dit belangrik om te weet voor ons hierdie gedig lees? Want daar is ‘n hele paar aspekte wat ons in gedagte moet hou wanneer ons Psalm 34 lees, waarvan die eerste heel moontlik is dat hierdie gedig waarskynlik geskryf is nadat David weer veilig gevoel het. Psalm 34 moet ons in verhouding met 1 Samuel 21 lees. David was besig om te vlug vir sy lewe omdat Saul hom gesoek het. God het vir David as koning uitgewys, maar Saul het geglo dat David net koning wou wees vir sy eie gewin en het daarom hom as ‘n bedreiging vir sy eie koninkryk gesien. Psalm 34 is nie net enige gedig nie. Dit is ‘n alfabeties akrostiese gedig. ‘n Ingewikkelde gedig. ‘n Gedig wat baie tyd sou neem om behoorlik te skryf. Dit is nie iets wat vinnig oor ‘n naweek geskryf is nie, maar een wat diep bepeins en oordenk is. Dis ‘n kunswerk. Dis ‘n kunswerk om God te eer. Vandag het ons orrelwerke, koorwerke, skilderye en standbeelde wat almal kunswerke is om God te eer. In die tyd van David was een van hierdie kunswerke gedigte. Dis liriese literatuur. Literatuur wat soms gesing word, waarop daar gedans word, iets wat gemaak het dat mense God se teenwoordigheid regtig naby aan hulle gevoel het.

‘n Alfabetiese akrostiese gedig beteken dat elke strofe begin met die volgende letter van die alfabet. In ons Romeinse Alfabet wat ons vandag gebruik is die kronologiese volgorde van letters mos A, B, C, D, E ensovoorts. In Hebreeus is dit anders. In Hebreeus is dit Alef, Beit, Gimmel, Dalet, Hei, Waw, Zayin, Get, Teit, Yod, ensovoorts. In die Hebreeuse Bybel is vers 1 die inleiding, waar die eintlike gedig by vers 2 begin. Vers 2 se eerste woord is “Awargah” (Ek wil prys). Hebreeus maak gebruik van voorvoegsels en agtervoegsels om die persoon, werkwoord en tyd aan te dui, so die een woord, “Awargah”, word as ‘n konsep vertaal. Vers 3 se eerste woord is BeYahweh (In die Here), maar word uitgespreek as BeAdonai omdat die woord Yahweh as te heilig beskou is. Vers 4 begin met “Gadool” wat as “loof” vertaal word.

So Awargah, BaAdonai en Gadool begin met Alef, Beit en Gimmel, die eerste 3 letters van die Hebreeuse Alfabet. Die res van die gedig volg hierdie selfde patroon. Maar dis nie waar die alfabetiese storie stop nie! Dis raak nóg meer ingewikkeld! Die eerste letter van vers 1, 11 en 22, die begin, middel en einde van die Psalm, se eerste woorde spel ook die woord “Alef”, die eerste letter van die Hebreeuse alfabet. Dis eintlik ongelooflik. Dis regtig ‘n kuns om ‘n gedig op so ‘n wyse te skryf en dis eintlik ongelooflik hartseer dat hierdie kuns weggesteek word binne ‘n vertaling. Dis eers wanneer ons die oorspronklike Hebreeus lees wanneer ons agterkom dat hierdie nie maar net ‘n geskribbel in David se dagboek was nie, maar ‘n ingewikkelde gedig wat hy geskryf het omdat hy bewus geword het van sy diepe afhanklikheid van God. Dis ‘n geskenk wat hy aan God gegee het. Dis sy manier om vir God te sê “Ek weet U is my genadig en het my lief, so ek wil óók iets vir U doen. Kyk, ek het baie tyd spandeer om hierdie gedig; hierdie kunswerk vir U te skryf”. Hierdie Akrostiese gedig is in die tyd van David dikwels geassosieer met wysheid. Psalm 34 het ook ‘n spesifiek didaktiese toon wat ook met Spreuke geassosieer word.

Psalm 34 kan ook nie net gesien word as ‘n Psalm wat een betekenis het nie. Enige iemand wat digkuns bestudeer sal agterkom dat gedigte menigte verskillende betekenisse, metafore en idiome bevat wat die kleurvolheid en betekenis daarvan soveel groter maak. Psalm 34 is geen uitsondering hiervan nie. Die oudste betekenis van vanoggend se teks is natuurlik David se stres en innerlike angstigheid oor Saul en sy eie lewe. Maar Johannes verwys na hierdie Psalm wanneer hy die gebeurtenisse van die Kruisiging vertel in Johannes 19:36. Johannes sien Psalm 34 as ‘n manier om die Messias se lyding te illustreer. ‘n Bietjie later, in die vroeë kerk, is hierdie Psalm gesien as ‘n nagmaalteks, omdat vers 9 begin met die Hebreeuse word Ta-amoe, wat vertaal kan word met “proe”. Die Engelse vertaling stel dit duideliker as die Afrikaanse vertaling: “Taste and see that the Lord is Good”. Die Afrikaanse vertaling gebruik woorde soos “ondervind dat die Here goed is” en “Beproef dit en ervaar die Here is goed”. Dis vir my ongelooflik hoe enkele woorde wat anders vertaal word so ‘n groot impak op ons verstaan van die teks kan hê. Dis nie verkeerd vertaal nie, dis net dat ons vertalers sukkel om gelykstaande ekwivalente te kry om dieselfde konsep oor te dra. ‘n Goeie voorbeeld hiervan is die Hebreeuse woord vir keel, “nefesh”. In Hebreeus, as iemand iets in hulle diepste binneste voel, praat hulle dat hulle dit in hulle “keel” voel, maar ons vertaal dit as “diepste binneste”, want ons weet dat dit die boodskap is wat hulle probeer oordra. As ons dit woord-vir-woord vertaal gaan die betekenis en konsep verlore gaan. Dieselfde geld vir Psalm 34. Ons vertaal dit op so ‘n manier dat die kern en betekenis daarvan behoue bly, maar soveel gaan ook verlore tydens die vertaling van literêre kunswerke, soos die alfabeties akrostiese styl waarin dit geskryf is, asook om te “proe” dat die Here goed is en die teks as ‘n nagmaalteks te lees. Dis nie net ‘n gedig nie. Dis ook ‘n kunswerk om lof te betoon.

Toe ek ‘n student was het ek vir my ouers gevra of ek ‘n boor vir my verjaarsdag kan kry. Ek het ‘n gedagte gehad om eenvoudige boekrakke te maak en te verkoop, aangesien die studente in my omgewing altyd boekrakke sal nodig hê. Ek het op hierdie stadium geen houtwerktoerusting gehad nie, so Timbercity het die hout vir my gesny, waarna ek die boekrakke met my nuwe boor aanmekaar geskroef het. Later het ek begin dink om kleiner voorwerpe te maak en dit by markte te verkoop, so met die bietjie wins wat ek gemaak het, het ek my eerste saag gekoop en plek bespreek by ‘n Saterdag-mark. Dit was ‘n fout. Ek het niks verkoop nie en het ‘n verlies gemaak (R500). Meeste mense sou teleurgesteld wees hieroor, maar daar was ‘n seëning: Voor die mark wou ek vir myself ‘n hout teken maak waarop my ‘besigheid’ se naam gedruk sou word. Ek het op die internet gesoek hoe om prentjies op hout te druk, waarna ek in die konyn-gat van houtwerk op die internet ingegaan het. Ek was gefassineerd deur die meubels wat mense maak en het gedink ‘Ek wil dit doen.’ Ek het nooit houtwerk op skool gehad nie, so ek het tussen my studies en deeltydse werk vir myself, met die hulp van die internet, geleer hoe om veilig en akkuraat houtwerk te doen.

Tydens my studentejare het ek vir Moederkerk Stellenbosch gewerk en het ‘n maandelikse honorarium gekry. Met hierdie geld het ek stelselmatig vir my ‘n werkswinkel aangeskaf. Ek het my eerste 3 groot stukke toerusting daarmee gekoop, maar die afgelope 2 jaar het ek net my wins gebruik om my toerusting uit te brei. Ek het lankal die geld terug gemaak wat ek deestyds spandeer het. Die kerk het my in staat gestel om te kan begin met houtwerk. Vandag het ek al talle soliede hout meubelstukke vir kliënte gemaak, soos koffietafels, eetkamertafels, banke, bedkassies, boekrakke en meer.

Vir my gaan houtwerk nie net oor die geld nie. Dis meer wat dit vir my siel doen wat belangrik is. Met houtwerk vat ek growwe, rowwe hout en verwerk dit na ‘n erfstuk. Ek doen houtwerk my eie stres te verwerk. Houtwerk is ‘n spirituele ervaring, omdat dit ‘n goeie metafoor is van hoe God met mense werk. Ons begin rof en grof, maar nadat ons geskaaf en geskuur is, word ons ‘n pragtige erfstuk. Miskien is dit hoekom Josef en Jesus albei skrynwerkers was… miskien het hulle ook hulle houtwerk gesien as ‘n manier om God te bedien; om kunstig te wees vir en voor God.

Miskien is dit ook hoe die skrywer van Psalm 34, of David, gedink het terwyl hy besig was om sy gedig vir God te skryf. Hy vat eenvoudige woorde en eenvoudige konsepte, en verwerk dit op so ‘n manier dat dit ‘n lofsang vir God is. Maar nie net enige lofsang nie. ‘n Lofsang waar hy sy eie unieke gawes en talente gebruik het om sy waardering vir God se teenwoordigheid uit te beeld.

(1)ALEF 2Ek wil die Here die hele tyd prys, my mond is voortdurend vol van sy lof. (2)BET 3In die Here sal ek roem; verdruktes sal dit hoor en hulle verheug. (3)GIMEL 4Maak saam met my die Naam van die Here groot, ja, laat ons saam sy Naam verheerlik. (4)DALET 5Ek het die Here geraadpleeg, en Hy het my geantwoord; van al my verskrikkinge het Hy my gered. (5)HE 6Verdruktes kyk op na Hom en hulle straal; hulle gesigte hoef nie rooi van skaamte te wees nie. (6)ZAJIN 7Hierdie magtelose het geroep en die Here het gehoor, en uit al sy benoudhede het Hy hom verlos. (7)GET 8Die •Engel van die Here trek ‘n laer rondom hulle wat vir die Here ontsag het en Hy red hulle.

Ek wonder soms hoe hierdie gedig vertaal sou word as die digkuns ‘n sentrale rol gespeel het. Ek het sommer self die 2020 vertaling bietjie aangepas en probeer om dieselfde effek te gee as ‘n alfabetiese akrostiese gedig.

A – Amen! Ek wil die Here die hele tyd prys, my mond is voortdurend vol van sy lof.

B – Bedags sal ek in die Here roem; verdruktes sal dit hoor en hulle verheug.

D – Daagliks moet julle saam met my die Naam van die Here groot maak, ja, laat ons saam sy Naam verheerlik

E – Elke dag het ek die Here geraadpleeg, en Hy het my geantwoord; van al my verskrikkinge het Hy my gered.

F – Fronsende Verdruktes kyk op na Hom en hulle straal; hulle gesigte hoef nie rooi van skaamte te wees nie.

G – Geroepe het hierdie magtelose na die Here gegaan en hy het hulle gehoor, en uit al sy benoudhede het Hy hom verlos.

E – Engele van die Here trek ‘n laer rondom hulle wat vir die Here ontsag het en Hy red hulle.

Ek wil graag afsluit met die bekende teoloog Walter Breuggemann, wat skryf skryf dat die danksegging van verse 1 -7 die gereelde kenmerke van ‘n oproep tot groot lof en verwys spesifiek daarna dat die God self is wat hierdie lof verdien. Om God op hierdie wyse te loof word natuurlik spesifiek deur kuns gedoen, deur digkuns, en dit verwys verder na ‘n persoonlike bevryding. In vers 3 roep die spreker ‘die verdruktes op. Selfs hulle kan en moet God prys. In vers 5 verwys hy na “verskrikkinge” en in vers 7 die “magteloses”.

Al hierdie dinge verwys saam na ‘n desperate persoon wat sosiaal marginaal is vir by wie die Here ingegryp het. Die ingryping is inderdaad massief, wonderbaarlik, en onweerstaanbaar (vers 8). Die werkwoorde wat op God toegepas word, is ‘antwoord’. Die Here antwoord hulle.

Ek dink die hele punt wat ek graag vanoggend wil maak is dat ons elkeen soveel verskillende maniere het hoe ons ons liefde vir God kan betoon. Nie noodwendig omdat God uitdruklik daarvoor vra nie, maar omdat God al soveel dinge vir ons gedoen het dat ons nie anders kan as om in verwondering te staan en iets terug te gee nie. Ons voel ‘n verpligting. Nie ‘n negatiewe verpligting nie, maar ‘n vrolike, positiewe verpligting om ons danksegging te betoon. Die Here het ons almal wat vanoggend hier sit veilig gehou die afgelope 2 jaar. Die Here wys elke dag wonderwerke aan ons. Die Here is teenwoordig in ons daaglikse roetine. Die Here is saam met ons wanneer ons swaar kry.

Dink bietjie oor jou eie lewe. Wat is jou talente? Wat geniet jy? Hoe kan jy dit inkorporeer in jou eie spiritualiteit? Wat is jou ekwivalent van ‘n alfabetiese akrostiese gedig wat jy vir die Here kan skryf? Is dit musiek maak? Miskien is dit om portrette te skilder. Sommige boere sien dalk hulle oes as ‘n spirituele ervaring omdat hulle weet hoe afhanklik hulle van God en die reën is. Sommige onderwysers sien dit dalk as ‘n spirituele ervaring wanneer daardie een student uiteindelik ‘n ingewikkelde konsep begryp. Daar is niks wat te klein is om jou liefde vir God te wys nie. Psalm 34 het heel waarskynlik toe dit geskryf is gevoel soos net ‘n klein dankie-sê gebed, maar dit is ‘n bewyse dat ons iets mooi in die alledaagse kan raaksien, en dat God dit opreg waardeer en ter harte neem. Moenie dink dat God nie jou offer van danksegging sal waardeer nie, maak nie saak hoe klein of eenvoudig dit dalk mag wees nie.

Amen.