Skriflesing (Jeremia 32:1-3, 6-15)
1Dit is die woord wat van die Here tot Jeremia gekom het in die tiende regeringsjaar van Sedekia, koning van Juda. Dit was die agttiende regeringsjaar van koning Nebukadnesar. 2Die leër van die koning van Babilonië was toe besig om Jerusalem te beleër. Die profeet Jeremia was ingeperk in die binnehof van die wagte se kwartiere, wat in die koninklike paleis van Juda was; 3want koning Sedekia van Juda het hom daar ingeperk
6Jeremia het gesê: “Die woord van die Here het tot my gekom, 7‘Kyk, Ganamel, seun van jou oom Sallum, is op pad na jou toe om te sê: “Koop vir jou my stuk grond wat in Anatot is, want jy het die reg om dit te koop volgens die loskoopreg.” 8“Ganamel, seun van my oom, het toe, ooreenkomstig die woord van die Here, na my toe gekom, in die binnehof van die wagte se kwartiere, en vir my gesê, ‘Koop asseblief my stuk grond wat in Anatot in die grondgebied van Benjamin is, want die besitreg en die loskoopreg behoort aan jou. Koop dit vir jou!’ “Ek het toe geweet dat dit die woord van die Here was, 9en ek het die stuk grond wat in Anatot is, by Ganamel, seun van my oom, gekoop. Ek het die silwer vir hom afgeweeg – sewentien sikkel silwer. 10Ek het die koopbrief uitgeskryf, dit verseël, en deur getuies laat bevestig, en die silwer op ‘n weegskaal afgeweeg. 11Toe het ek die koopkontrak geneem, die verseëlde een volgens voorskrif en wetlike bepalings, en ook ‘n oop afskrif, 12en die koopkontrak vir Barug, seun van Nerija, seun van Magseja, gegee in die teenwoordigheid van Ganamel, seun van my oom, en van die getuies wat die koopkontrak onderteken het, en van al die Judeërs wat daar in die binnehof van die wagte se kwartiere gesit het. 13Ek het Barug in hulle teenwoordigheid opdrag gegee, 14‘So sê die Here, Heerser oor alle magte, die God van Israel: “Neem hierdie briewe, hierdie koopkontrak, die verseëlde een en die oop afskrif, en plaas dit in ‘n erdekruik, sodat dit vir ‘n lang tyd behoue bly.” 15Want so sê die Here, Heerser oor alle magte, die God van Israel: “Daar sal weer huise, landerye en wingerde in hierdie land gekoop word.”
Preek
Jeremia was ‘n Israelitiese priester wat geleef en gewerk het in die laaste paar jaar van die bestaan van die koninkryk van Judea. Die koninkryk van Judea het in 589 v.C. tot ‘n einde gekom toe Nebukadneser II die gebied beleër het. So baie van wat ons in Jeremia lees, het plaasgevind voor Judea se val. Jeremia is geroep om die Israeliete te waarsku oor die gevolge van hulle aksies omdat hulle hulle verbond met God verbreek het. Hy het self gesê dat Babilonië sal kom as gevolg van hulle optrede. Dis alles goed wat wel gebeur het waarvan ons ook in 2 Konings 24-25 lees.
Maar kom ons kyk bietjie na die geskiedenis hie. Jeremia het begin profeteer terwyl Josia in ongeveer 627 vC koning oor Juda was. Josia se pogings om ‘n einde te maak aan afgodsaanbidding en om die nasie se waardes en praktyke rondom die Deuteronomiese wet te vorm was wel soortavn suksesvol, maar het hy gesterf terwyl hy probeer het om Egipte te keer om met Assirië teen Babilon saam te span. Juda het in 609 vC ‘n vasalnasie geword. ‘n Vasalstaat is enige staat wat ‘n wedersydse verpligting teenoor ‘n superieure staat of ryk het, in ‘n status soortgelyk aan dié van ‘n vasal in die feodale stelsel in Middeleeuse Europa. Dis eintlik nogal ‘n vreemde konsep. Toe is daar ‘n reeks konings in Jerusalem wat van die troon af forseer is of vermoor is, wat dan ‘n magsverskuiwing veroorsaak het, waarna Assirië in ongeveer 605 vC beheer oor Juda se lot oorgeneem het. Jeremia se besoek aan die pottebakker en sy uitgespreekte hartseer oor Juda het waarskynlik omstreeks hierdie tyd plaasgevind. Dis nogal ‘n mondvol.
Jojakim het etlike jare in Juda geregeer wat interne stabiliteit verskaf het, maar Babilon het stilweg krag gekry. In 598 het Jojakim gesterf, en terwyl sy seun, Jojagin, nog aan die rol akklimatiseer het, het koning Nebukadreser van Babilon Jerusalem binnegeval. Nebukadreser het die tempel en die skatkis geplunder, en Jojagin en die koninginmoeder in hegtenis geneem, maar nie die tempel of die stad in daardie tyd vernietig nie. Sedekia (die oom van Jojagin) is oorgelaat om Juda te regeer as ‘n marionetkoning, wie se snare deur Babilon georkestreer is.
Jeremia het meer doelbewus oor die val van Juda begin preek en gewaarsku dat die Judeërs vir sewentig jaar in ballingskap sou leef. Omdat Jeremia voortgegaan het om die mense van Juda te roep om God getrou te dien en te aanbid, blyk dit dat koning Josia se hervormings nie na sy dood volgehou is nie. Ten spyte van so baie van sy profesieë wat gebeur het, word Jeremia se boodskap nie goed ontvang of omhels nie. Sedekia laat Jeremia in die tronk in die paleis opsluit. Die groot profeet Jesaja, wat meer as 100 jaar tevore gepraat het, het immers belowe dat die tempel en die stad Jerusalem sou bly en nie in die hande van die vyand val nie. Wanneer koning Sedekia daardie woord meer begin vertrou as Jeremia s’n, raak hy rusteloos en probeer hy om ‘n omverwerping van Babilon te lei om weer beheer oor te neem.
As gevolg van die koning se poging tot staatsgreep klop die Babiloniese leër aan die deur. Jeremia is opgesluit in die paleis, en koning Sedekia bevraagteken Jeremia se lojaliteit as gevolg van sy doemprofesieë.
6Jeremia het gesê: “Die woord van die Here het tot my gekom, 7‘Kyk, Ganamel, seun van jou oom Sallum, is op pad na jou toe om te sê: “Koop vir jou my stuk grond wat in Anatot is, want jy het die reg om dit te koop volgens die loskoopreg.” 8“Ganamel, seun van my oom, het toe, ooreenkomstig die woord van die Here, na my toe gekom, in die binnehof van die wagte se kwartiere, en vir my gesê, ‘Koop asseblief my stuk grond wat in Anatot in die grondgebied van Benjamin is, want die besitreg en die loskoopreg behoort aan jou. Koop dit vir jou!’ “Ek het toe geweet dat dit die woord van die Here was — Jeremia 32:6-8
Terwyl die stad op die punt staan om vernietig te word en Jeremia klaarblyklik weggejaag sal word na relatiewe veiligheid in Egipte, doen hy iets ongeloofliks. Hy koop ‘n stuk grond in sy tuisdorp Anatot in die land Benjamin, net suid van Jerusalem. Jeremia koop die stuk grond om sy besit in die familie te hou.
Jeremia se baie openbare optrede om hierdie eiendom te koop, wetende dat hy vir baie jare nie daarop sal trap nie, demonstreer die voortdurende ritme van verlies en herstel wat Jeremia se profesieë op hierdie punt in Juda se geskiedenis kenmerk. Waar voorheen Jeremia se boodskap amper totaal een van somberheid en ondergang was, praat hy nou van ballingskap, maar verweef in hierdie haglike profesie die belofte dat Juda eendag na hul vaderland sal terugkeer. Jeremia is so seker daarvan dat hy sy geld sit waar sy mond is! Sy profesie het begin verander in ‘n boodskap van vertroosting. Hy stap nie terug van die moeilike tydperk wat voor Juda in die gesig staar nie. Trouens, hy het reeds aan die mense van Juda wat nou in ballingskap na Babilon woon, geskryf en hulle aangespoor om daar wortels te slaan:
Teen hierdie tyd in Jeremia is hy nou al vir iets soos 40 jaar besig om vir die volk te waarsku dat daar moeilikheid gaan kom. Hy was teen hierdie tyd seker al so moeg gewees om die heeltyd dieselfde dinge oor en oor te sê. Hulle land gaan val. Hulle gaan weggevoer word, hulle gaan vernietig word. Natuurlik wil die volk nie vir hom luister nie! Niemand wil sulke slegte nuus hoor nie. Niemand wil hoor dat alles wat vir hulle bekend is en waaraan hulle gewoond is gaan verander nie, veral nie as dit negatief gaan verander nie. Teen hierdie tyd is hulle ook nou al vir omtrent 2 jaar deur die Babiloniërs beleër! Hulle sien reeds wat rondom hulle gebeur en hoe sleg dinge geword het. Omstandighede in Jerusalem is haglik. Daar is siekte, wanhoop, hongersnood. En Jeremia hou nie op nie! Hy hou voet by stuk: ons gaan verloor. Die land gaan vernietig word.
Maar nou doen Jeremia, die profeet wat vir almal al vir dekades gewaarsku het oor die Babiloniërs wat hulle gaan vernietig, nou doen hy iets wat eintlik nie sin maak nie. Hy koop grond. Ons lees in vanoggend se teks in detail van hierdie koop-kontrak wat hy opstel sodat hy grond kan koop. Maar nie enige grond nie: Dis grond wat alreeds deur die Babiloniërs beset word. Die mense wat hulle vyhande is. Die mense wat oor ‘n paar weke of dae almal wat oorleef het gaan wegvoer na ballingskap. Hy koop grond in ‘n plek met die naam Anatot. Hoekom is dit so vreemd? Hoekom is dit vreemd dat Jeremia grond in Anatot koop? Nie net omdat dit reeds deur die Babiloniërs in beset geneem is nie, maar ook omdat dit dieselfde mense is wat in Jeremia 11:21 vir Jeremia probeer doodmaak het omdat hulle nie van sy boodskap gehou het nie. En oor wie God spesifiek ‘n ramp aangekondig het. Partykeer lees ons iets waarvan ons nie die gewig daarvan dadelik verstaan nie. Maar as ‘n mens die geskiedenis en die konteks van die tyd in ag neem, dan begin ons besef hoe merkwaardig dit eintlik is.
Die onoorwinbare leër van Babilon omsingel Jerusalem. Jeremia het onophoudelik die vernietiging van Juda voorspel. Terwyl ander sogenaamde profete probeer het om die brose moraal te versterk deur die volk te verseker dat God wel sou optree om die Heilige Stad te spaar, het Jeremia hardnekkig net die teenoorgestelde boodskap aangekondig. Nou, terwyl al hierdie dinge aan die gang was het hy probeer om die stad te verlaat en ander aangemoedig om dit ook te doen, maar gevolglik is hy gevange geneem vir hoogverraad. Sommige wou hom selfs dood hê.
So daar was hy, onder gewapende bewaking in die hof van koning Sedekia, ingeperk en hulpeloos – en kyk hoe sy mense sterf van hongersnood en siekte, selfs al het hulle vasgeklou aan valse patriotiese hoop. Hy was beslis nie in die posisie om sy beleggingsportefeulje te beplan nie.
Tog het Jeremia selfs daar en dan besef dat God steeds aan die werk was. Te midde van al daardie verwoesting het ‘n belaglike eiendomsvoorstel gekom. Neef Ganamel wou uitverkoop, en heel waarskynlik uitkom voor alles verlore was. Volgens die einste verbondstradisie wat Juda so skaamteloos geïgnoreer het, het die verantwoordelikheid op die naaste familielid geval om die eiendom te koop en sodoende in die familie te hou, toe ‘n bloedverwant in moeilike tye te staangekom het en gedwing is om sy familie-eiendom te verkoop. Jeremia het eerste opsie gekry om te belê in eiendom wat heel moontlik reeds onder buitelandse oorheersing was.
Hierdie was nou regtig glad nie vir Jeremia ‘n goeie deal nie. Hy koop grond wat hy nie op daardie oomblik kan gebruik nie. Miskien was dit vir Ganamel ‘n goeie transaksie, want hy loop weg met silver stukke in sy sakke! Maar Jeremia? Jeremia betaal ‘n goeie prys, ordentelike geld, vir ‘n stuk grond wat hy wéét eersdaags vernietig sou word, deur die mense wat hom letterlik wil dood hê. So die vraag is hoekom? Hoekom op dees aarde koop Jeremia hierdie usless stuk grond? As ons hierdie teks net so lees sonder om die geskiedenis in ag te neem dan maak dit nie sin nie. Dan is die argument eenvoudig “want God het vir hom gesê om dit te doen”. Maar nou dat ons weet wat hier aangaan tussen Babilon en Juda, tussen Jeremia en die mense in Anatot, en alles wat rondom dit gebeur, besef ons dat dit nie dadelik sin maak dat God vir Jeremia sê om hierdie grond te koop nie. So die vraag bly staan: Hoekom? Hoekom moet Jeremia hierdie grond koop?
Dis nie logies nie. Dit maak nie ekonomies sin nie. Maar dit was God se opdrag. En Jeremia koop die grond wettiglik. Hy stel ‘n kontrak op, maak ‘n kopie, kry getuies, doen alles woord vir woord soos wat dit in die sekulêre wette van die tyd gestaan het. Gewoonlik was daar twee kontrakte: een om te sê “dit was ons ooreenkoms” en nog een in ‘n kruik, sodat dit kan hou. Ingeval iemand kom en sê: “jy het met die dokumente gepeuter”, dan kan daar teruggegaan word na die oorspronklike, verseëlde dokument.
Jeremia maak seker hierdie transaksie gaan hou. Dis wettig. Jy kan terugkeer na jare en dit gaan steeds geldig staan. So (en hier kom die belangrike deel!), in die proses, so tussen die boodskap van oordeel en verval – wat mos nog steeds staan – verkondig Jeremia tog ook so bietjie hoop. Amper soos ‘n manier om te sê dat daardie grond wat hy koop weer eendat benut sal kan word. Die Babiloniese ballingskap is nie die einde van God se mense nie. Dis maar net deel van hulle storie en hulle reis.
Hierdie is nie die eerste keer waarvan ons les dat Jeremia iets moet koop nie. Daar is drie “koop opdragte” in Jeremia. Die eersgte keer lees ons dat Jeremia linne moet koop en dit dan te dra (Jer. 13:1), en dit dan in ‘n klipskeur weg te steek (13:4). Wanneer Jeremia terug gaan om dit te kry, het dit verrot (13:7), wat dan simbolies is van die vernietiging wat vir Juda wag. Die tweede keer waarvan ons lees dat Jeremia iets moet koop lees ons in hoofstuk 19. Dit is om ‘n kleipot te koop en dit dan voor getuies te breek (19:10) met die boodskap dat die stad ook net so gebreek gaan word. En dan natuurlik die laaste koop opdrag is waarvan ons vanoggend gelees het: Koop grond. Vroeër moes Jeremia ‘n kruik koop en breek, maar die kruik wat hy in hierdie transaksie gebruik om ‘n kopie van die kontrak in te stoor, gaan nie breek nie. Dit gaan hou. Dit gee vir hulle ‘n glimmer van hoop te midde haglike omstandighede. Te midde van die swaarkry is daar nog die hoop. Die belofte van God. Die belofte dat hulle weer die grond sal kan terug kry.
En dis ‘n belofte van God, ‘n belofte wat gaan hou. Deur God se opdrag het Jeremia in die toekoms belê, en hy het dit in die openbaar gedoen. Selfs terwyl Juda se sosiale, ekonomiese en regstelsel rondom hom verbrokkel het, het Jeremia soveel moeite gedoen om al die regte prosedures te volg. Hy het die geld opgeweeg (‘n ruim prys met inagneming van die mark) en die behoorlike kontrakte gebruik. Toe het hy gereël om die kontrak te bewaar, “sodat dit vir ‘n lang tyd kan hou.” Dit alles was ‘n openbare demonstrasie van vertroue – nie in die ekonomie nie, ook nie in die regering nie, maar in die krag en deernis van God. 14‘So sê die Here, Heerser oor alle magte, die God van Israel: “Neem hierdie briewe, hierdie koopkontrak, die verseëlde een en die oop afskrif, en plaas dit in ‘n erdekruik, sodat dit vir ‘n lang tyd behoue bly.” 15Want so sê die Here, Heerser oor alle magte, die God van Israel: “Daar sal weer huise, landerye en wingerde in hierdie land gekoop word.” (32:14-15).
Ek dink die hele punt wat God hier vir Jeremia wil maak is een van vertroue, hoop en beloftes wat behoue bly. Daar is die vertroue dat God nie sy mense in die steek sal laat nie. Die vertroue dat die God van ons lewens steeds weet hoe om ons lewens op so ‘n manier te begelei dat dit deel vorm van God se groter plan. Kyk, nie elke liewe ding wat in ons lewens gebeur is deel van God se plan nie. Ons as mense het die neiging om gedurig droog te maak en ons eie sin te volg. Dink ook sommer net aan die Israeliete en hoe baie hulle droog gemaak het. Maar, en daar is ‘n baie groot maar, God kan steeds al hierdie dinge wat ons verkeerd doen gebruik sodat dit op die ou end deel vorm van die groter prentjie. Dis hoe groot God se mag is en hoe ver ons vertroue in hom kan strek.
Dan die hoop. Daar is die hoop dat die land wat Jeremia koop weer eendag in hulle besit gaan wees. Dit vorm seker maar eintlik deel van die hele vertroue ding. Daar is die hoop dat, alhoewel dinge op die oomblik haglik en hopeloos lyk, dat God nie vir Jeremia verniet sê om iets te doen nie. Dis alles met ‘n doel. Dis om ‘n hoopvolle punt te bewys. Dis om te sê dat God se beloftes behoue bly.
Koop grond in Anatot, by die mense wat jou wil doodmaak, koop grond wat klaar deur die Babiloniërs beset is, wat op hierdie stadium onbruikbaar is. Want, dit is ‘n boodskap van hoop vir die toekoms, van vertroue in God, en ‘n bewyse dat God se beloftes nie leeg is nie.
Amen.