Christus se Liggaam - 1 Korintiërs 15:35-38,42-50

Skriflesing (1 Korintiërs 15:35-38, 42-50)

35Iemand sal egter kan vra: “Hoe word die dooies opgewek, en met watter soort liggaam verskyn hulle?” 36Hoe dwaas! Wat jy saai, kom nie tot lewe nie, tensy dit eers sterf. 37En wat jy saai, saai jy nie in die vorm wat dit sal aanneem nie, maar as ‘n blote saadkorrel, of dit nou ‘n koringkorrel is, of een van die ander sade. 38 Maar God sal, soos Hy beplan het, aan elkeen van die sade ‘n eie vorm gee. 

42So sal dit ook wees met die opstanding van die dooies: Wat gesaai word in verganklikheid, word opgewek in onsterflikheid; 43 wat gesaai word in oneer, word opgewek in heerlikheid; wat gesaai word in swakheid, word opgewek in krag. 44Wat gesaai word, is ‘n natuurlike menslike liggaam; wat opgewek word, is ‘n geestelike liggaam. As daar ‘n natuurlike menslike liggaam is, is daar ook ‘n geestelike liggaam. 45So staan daar immers geskryf: “Die eerste mens, Adam, het ‘n lewende wese geword.” Die laaste Adam het egter ‘n lewendmakende Gees geword. 46Die geestelike liggaam is egter nie eerste nie, maar wel die natuurlike menslike liggaam; daarna kom die geestelike. 47Die eerste mens was uit die aarde, en stoflik;  die tweede ‘n mens uit die hemel. 48Soos die aardse mens, so is ook die aardse mense; en soos die hemelse mens, so ook die hemelse mense. 49Soos ons die beeld van die stoflike mens gedra het, so sal ons die beeld van die hemelse mens dra. 50 Dit is wat ek bedoel, broers: dat mense van vlees en bloed nie die koninkryk van God kan beërf nie, en die verganklike beërf nie die onverganklike nie. 

Preek

Teen hierdie tyd weet ons al dat Korinthe ‘n groot kosmopolitiese hawestad was wat vir die mense van die tyd baie belangrik was. Dit was ‘n groot plek waar mense van klomp verskillende gelowe, kulture, agtergronde en filosofieë bymekaar gekom het. Dis eintlik die tipe stad wat ons vandag met plekke soos Parys, Rome of Londen kan vergelyk. Hierdie brief, 1 Korintiërs, wat Paulus skryf, is eintlik ‘n reaksie op twee briewe wat hy van hulle ontvang het wat vertel van oneenheid en onderlinge struwelinge waarmee die gemeente gesukkel het. So hulle draai dan na Paulus toe in ‘n tyd waar hulle onseker is, omdat hulle reeds ‘n verhouding met Paulus gehad het en omdat hulle geweet het dat sy skrywe oop en eerlik sal wees, maar ook terselfdertyd op die Evangelie gegrond sal wees. SLIDE

Die bekende teoloog Roger van Harn het al baie geskryf oor die opstanding se betekenis vir vandag. Van Harn gebruik hierdie prominente opskrif, “Die Boodskap van die Opstanding Vandag” om uit te brei oor hoe die opstanding vandag relevant is.  Amerikaanse protestante kerke het nogal ‘n groot invloed gehad op die geskiedenis van hoe ons die dood verstaan, wat ook gepaard gaan met die opstanding en die konsep van ‘n ‘nuwe lewe’.

Daar word gefokus op die siel van die individu en of daardie siel hemel toe gaan. So met ander woorde, dit gaan hier oor ‘n onmiddellike gebeurtenis. Maar hierdie siening is baie nader aan ‘n antieke Gnostiese siening en nie ‘n tradisionele historiese Ortodokse Christelike siening nie. So dis nie heeltemal in lyn met wat ons vandag glo nie. Ons moet versigtig wees dat die kerk hierdie besoedeling van die evangelie vermy, soos Van Harn dit beskryf. Hierdie siening is ‘n gevaar vir ons verstaan van die opstanding. Dis gevaarlik omdat dit op een gebeurtenis in die toekoms gebaseer is en nie gegrond is in Christus se bediening nie. Christus het ‘n massiewe bediening op die aarde gehad voor sy opstanding. Hy het ongelooflik baie werk met mense en binne die gemeenskap voltooi voor sy opstanding. Die opstanding is wel die belangrikste deel van hierdie evangelie, soos ons laas week bespreek het, maar die opstanding was nie die einde van Christus se bediening nie. Selfs na die opstanding het Christus steeds met mense gesels en die boodskap van die Evangelie versprei. Partykeer raak ons so behep met die belofte van die ewige lewe en ons eie opstanding dat ons vergeet van al die werk wat Christus ook ná sy opstanding gedoen het. Ons het ook in die hier-en-nou ‘n verantwoordelikheid om Christus te volg.

Van Harn beskryf ses teologiese refleksies oor die implikasies van die herevaluering van hoe die wêreld die opstanding sien. So kom ons kyk gou na hierdie refleksies sodat ons ‘n beter perspektief oor die opstanding in die moderne wêreld kan kry. 

Die eerste refleksie is dat die opstanding die mite van die menslike outonomie ondermyn. Maar wat beteken dit? Basies, so lank as wat ons die opstanding ignoreer (soos wat die mense in Korinthe gemaak het), kan ons die illusie behou dat ons in beheer is van ons eie lewens en self-onderhoubaar is. Ons dink dan ons is onafhanklik van God. Ons glo dat ons deur foute wat ons maak leer en sodoende ons eie probleme kan oplos. Maar die opstanding bewys dat hierdie alles ‘n leun is! Die opstanding maak dit baie duidelik dat ons nie ons eie is nie. Ons kan nie onsself red nie. Ons het hierdie Goddelike leiding nodig en ons het hierdie Goddelike invloed nodig in ons lewens. Ons kan nie daarsonder lewe nie. 

Tweedens, die opstanding verwyder die mure wat ons bou om geloof ‘veilig in sy eie boksie’ te hou. Hierdie mure is gebou teen siel en liggaam, sekulêr en geloof, asook politiek en spiritualiteit. Hierdie mure wat afgebreek word is ‘n bewyse dat God se mag oor alles heers, en dat God ook suksesvol betrokke is binne die materialistiese wêreld waarin ons leef. Weereens kan ons hier terug verwys na Romeine 8:21, soos Migliore, wat uitbeeld dat die skepping bevry is en kinders van God is. Die opstanding verwyder hierdie skeiding (mure) wat mensdom gemaak het om God weg te hou. Ons het ook laas week vinnig gesels oor die dualistiese verstaan wat die inwoners van Korinthe gehad het oor die lewe. Dat die vlees en siel geskei is. Siel is goed, liggaam is sleg, en ons moet alles doen wat ons kan om die twee van mekaar te skei. Christus se liggaamlike opstanding bewys dan hierdie mos verkeerd! Christus het nie die twee van mekaar geskei nie! God het ons dan mos geskep met beide ‘n liggaam en ‘n siel. Ons kan dan nie die twee van mekaar skei en probeer om hierdie denkbeeldige “mure” te bou nie. God is suksesvol betrokke binne hierdie materialistiese wêreld van ons en God se mag heers steeds oor alles hier. 

Derdens, die opstanding is ‘n teken van God se oordeel wat kom. En in hierdie deel wil ek graag een ding duidelik maak. Ons as gelowiges is klaar deur Christus verlos. Hierdie aspek van Goddelike oordeel is nie God wat God se eie mense straf nie. Christus het klaar ons verlos. Spesifiek hier gaan dit oor God se oordeel in terme van mense wat nie aandag aan God gee nie. Dis nie dat God ons wil straf vir elke klein dingetjie wat ons verkeerd doen nie, maar dis eerder God wat ons wil beskerm van dié wat nie die beste bedoelings het nie. Die hele idee hier is dat God natuurlik van beter weet as wat ons weet. God wil ons beskerm van die dinge wat ‘n negatiewe invloed op ons kan hê. ‘n Voorbeeld hiervan is wat met Paulus gebeur het. Nadat Paulus ontsnap het uit Thessalonika het hy aan beweeg na Areopagus waar hy ‘n goeie toespraak gelewer het. Toe het hy die mense begin aanvat oor hulle afgodery, wat met gemengde gevoelens ontvang is. So, die mense se opinies was verdeeld. Vir hierdie stad is ‘n Goddelike oordeel baie kommerwekkend. Weereens, dis God wat hierdie mense wil beskerm van dinge wat skadelik is vir hulle, alhoewel dit nie noodwendig is hoe daardie inwoners dit verstaan het nie. Afgodery het baie immorele aspekte verbonde aan dit gehad, soos die misbruik van alkohol (die wyngod Dionisus), oneerlikheid, tempel-prostitusie, en klomp ander dinge. Dis dinge wat nie goed vir hulle sou wees nie. Die opstanding is talle kere in die Bybel konnekteer met oordeel. Geregtigheid geskied nie altyd nie. Bose oorwin en regverdiges ly. Daarom is dit nodig dat God geregtigheid bewerkstellig deur in lewende vorm aarde toe te kom, waar God dood oorwin, net soos in Jesaja 25:7-8 verkondig word. En omdat hierdie dood vir ons oorwin is, kan ons verlos word van al hierdie dinge wat skadelik vir ons is. 

Vierdens, die opstanding transformeer ons siening. Dit opstanding daag ons siening uit oor ons sintuie. Dit daag ons siening uit van wat ‘werklik’ is, wat regtig gebeur het. Paulus was self ‘n fariseër en was gereed vir ‘n opstanding, maar nou lewe hy in ‘n wêreld waar die woord “opstanding” sy algemene sinne vorm en dit ‘n daaglikse realiteit geword het. Die idee dat die opstanding ongelooflik is, was vir Paulus dieselfde as wat dit is om vandag iemand te kry wat steeds dink die aarde is plat. Hierdie nuwe wêreldsiening word genoodsaak deur ‘n nuwe denkwyse. Ons word genoodsaak om te besef dat die opstanding die dood-illusie verwyder en dat ons nou vry is deur God se opstandingskrag. 

Vyfdens, die opstanding huldig ‘n nuwe gemeenskap wat teenstrydige politiek aanneem. Die opstanding verteenwoordig ‘n alternatiewe gemeenskap wat God se komende koninkryk verteenwoordig. Die rede hoekom die opstanding die wêreld omkrap is omdat dit op ‘n gemeenskap neerkom wat sy eie politiek het. Die eskatologiese gemeenskap van die opstanding is gemerk deur praktyke soos vergifnis, versoening tussen etniese groepe, heiligheid in liggaam, ens. (Eskatologie: die studie van die wederkoms en opstanding) 

Laastens, die opstanding van die liggaam gee vir ons hoop. Hierdie is dieselfde boodskap van die opstanding wat ook die wêreld omkrap. Hierdie boodskap is die enigste antwoord tot die wêreld se verlange en troos in die oë van dood. Dit is hierdie boodskap van hoop wat ons in staat stel om getrou en dapper te kan leef in vandag se tyd. In 1 Korintiërs 15 spreek Paulus immers hierdie hoop en bevestig dat wat die mensdom vir God doen nie tevergeefs is nie. Dit is hierdie God wat Jesus opgewek het. Dit is hierdie God wat getrou is. Daarom is dit net regverdig dat ons, as lewende wesens, na God kyk en ons lewens saam met ons liggame toewy.

En Paulus verduidelik hierdie in baie eenvoudige terme in vanoggend se teks. Hy gebruik natuurlik die beeld van sade wat eers moet “sterf” voor hulle ‘n nuwe lewe kry. Hy verduidelik verder dat hierdie sade nou ‘n nuwe vorm aanneem en ‘n nuwe lewe kry (dis nou ‘n nuwe lewe as plante). Verder gee God aan hierdie “plante” ‘n vorm wat God weet goed is vir hulle, maar ook sade lyk baie keer min-of-meer dieselfde, maar hulle verander in ‘n groot verskeidenheid plante. En nie een van hulle is dieselfde nie. Dit hou aan ontwikkel en pas aan by hulle omgewing.

Ek het noudiedag ‘n dokumentêre video gekyk wat oor piesangs gegaan het. Piesangs het altyd sade gehad wat ‘n mens kon plant, maar deesdae se piesangs het nie meer sade nie. Ons noem die groot meerderheid van piesangs vandag die Cavandish Piesang. Nou, die rede hiervoor is omdat plantkundiges begin rondspeel het, verskillende spesies van piesangs met mekaar gekombineer het, en ook selektiewe voortplanting gebruik het om slegs die beste saadlose piesangs te laat lewe. Maar ons sit nou met ‘n probleem. Elke piesang is ‘n presiese kloon van die ander een. Hulle is geneties presies dieselfde. 70 jaar gelede, in die 1950’s, was die dominante piesang reg oor die wêreld die Gros Michel piesang. Dis nie ‘n tipe piesang nie, dit was díé piesang. Klone van mekaar wat presies dieselfde was. Klone wat gemaak is omdat daar nie enige sade binne was nie en omdat dit ‘n lekker soet smaak gehad het.

Maar toe gebeur daar ‘n groot ding. ‘n Fungus met die naam “Fusarian Wilt Tropical Race 1”, of eerder net TR1, het groot verwoesting begin saai en hierdie piesangs begin dood maak. Die fungus het by die wortels ingegaan, en die piesangs begin vernietig. Nou, omdat al hierdie piesangs presiese genetiese klone van mekaar was, kon hulle glad nie enige weerstand opbou nie. Hulle het almal presies dieselfde swak eienskappe gehad en was almal kwesbaar tot hierdie siekte. En so het al die Gros Michel piesangs uitgesterf. Dit het vinnig reg oor die wêreld versprei en omtrent al die piesangs uitgewis. So wat het die plantkundiges in die 1950’s dan gedoen? Hulle het al die Gros Michel piesangs begin verruil vir die Cavendish piesang. Die Cavendish piesang is nie so soet of so lekker soos die Gros Michel piesang nie, maar hulle is wel immuun teen hierdie PR1 fungus. Die Cavendish piesang is 99% van alle uitgevoerde piesangs reg oor die wêreld. Maar, weereens, omdat almal genetiese klone van mekaar is, is daar steeds ‘n swakheid. Nou is daar ‘n ander fungus, die “Fusarian Wilt Tropical Race 4”, of TR4, en hierdie fungus kan die Cavendish piesang infekteer en doodmaak. Wanneer ‘n plaas geïnfekteer word met hierdie fungus, kan die spore vir dekades in die grond bly. So reën, skoene, en bande kan almal hierdie spore ronddra. En dis wat gebeur het. Die skrikwekkende ding is dat daar nie op die oomblik enige alternatiewe piesang is wat die Cavandish kan vervang nie.

Ek wil graag afsluit: Hoekom het ek nou so aangegaan oor piesangs? Wat het dit te doen met Paulus? Want ek dink dit illustreer sy punt! Sade is baie belangriker as wat ons dink! Die metafoor van ‘n saad wat hy hier gebruik is baie meer werd as wat ons dink. Ons is nie almal blote klone van mekaar nie. Ons elkeen se God-gegewe saad is anders.

  1. En as ons die merkwaardigheid van hierdie God-gegewe saad besef, dan besef ons dat ons afhanklik van God is (punt 1, “die mite van menslike outonomie”). God gee vir ons die water om ons te laat groei.
  2. Dat dit ons mure af breek en geloof uit sy boksie haal (punt 2, ook saam met die piesang plase wat mure rondom dit het om dit veilig te hou omdat hulle so kwesbaar is en almal dieselfde is). Dis God wat ons beskerm en ons geloof laat groei, nie die mure wat ons rondom ons geloof sit om dit volgens ons eie idees “veilig te hou” nie.
  3. Dat dit juis God is wat ons wil beskerm teen diegene wat nie goeie bedoelings het nie (Punt 3, “God se oordeel”).
  4. Dat ons sieninge oor die opstanding getransformeer word (punt 4), omdat ons self getransformeer word van saad na plant.
  5. Dat ons deel word van ‘n nuwe gemeenskap (punt 5), nie soos die piesangs wat almal dieselfde is nie, maar ‘n diverse gemeenskap waar ons mekaar konstant aanvul en beskerm.
  6. En dan laastens ook dat dit vir ons nuwe hoop gee (punt 6). Ons staan ook soos ‘n saad op en groei tot in ‘n nuwe lewe.

Om hierdie rede gebruik Paulus die analogie van die saad wat in ‘n plant verander om die liggaamlike opstanding aan die gemeente in Korinthe te verduidelik. Dit is ‘n bekende en baie vergelykbare voorbeeld van iets in die natuur wat van vorm verander of transformeer. Dis iets bekend. Dis iets wat ons vandag nog kan verstaan. Dis ‘n God-gegewe natuurlike verskynsel.

Nou een ding is ook baie belangrik om te besef. Paulus probeer glad nie die idee skep dat die opstanding maar net ‘n beeld of vergeesteliking behoort te wees van wat met mense gebeur wanneer hulle sterf nie. Hy probeer nie ‘n mooi sousie oor die verganklikheid van die mens gooi nie. Nee, Paulus probeer op ‘n baie praktiese en amper tasbare manier verduidelik dat die opstanding ‘n werklikheid is. Dat dit eintlik alreeds in die natuur gebeur.

Dink bietjie oor jou eie lewe. Hoe het jy al jou afhanklikheid van God besef? Het jy al die mure rondom jou geloof afgebreek sodat dit uit ‘n boksie kan ontsnap? Waar het God jou al beskerm teen mense wat nie die beste vir jou wil hê nie? Hoe het God jou van saad na plant verander? In ander woorde: Hoe het God jou al transformeer? Hoe kan jy in jou nuwe gemeenskap ander mense aanvul en God op so manier verheerlik? En watter spesifieke nuwe ‘hoop’ het God al in jou hart geplaas?


Die opstanding is ‘n God-gegewe werklikheid. Die mens bestaan op ‘n nuutgemaakte manier verder ná die dood. ‘n “Dooie” saad het immers geboorte gegee aan nuwe lewe. Deur God se werk en sy wil, kan nuwe lewe egter na vore kom. Danksy God kan ‘n dooie saad ‘n lewende plant voortbring. Christus het reeds hierdie vorm van ‘n getransformeerde liggaam aangeneem. Ons liggame sal wees in die vorm wat Christus reeds is.

Amen.