Om soos 'n Vy getransformeer te word - Lukas 13:1-9

Skriflesing (Lukas 13:1-9)

 

OPROEP TOT BEKERING

1Juis in daardie tyd was daar mense teenwoordig wat Hom vertel het van die Galileërs wie se bloed Pilatus met dié van hulle offerdiere gemeng het. 2Hy het hulle geantwoord en gesê: “Dink julle daardie Galileërs was groter sondaars as al die ander Galileërs omdat hulle hierdie dinge gely het? 3Beslis nie, sê Ek vir julle, maar as julle julle nie bekeer nie, sal julle almal net so omkom! 4Of daardie agttien wat dood is toe die toring van Siloam op hulle geval het, dink julle dat hulle skuldiger was as al die inwoners van Jerusalem? 5Beslis nie, sê Ek vir julle, maar as julle julle nie bekeer nie, sal julle almal net so omkom.”

GELYKENIS VAN DIE VYEBOOM

6Hy het toe die volgende gelykenis vertel: “Iemand het ‘n vyeboom gehad wat in sy wingerd geplant was. Hy het vrugte daaraan gaan soek en niks gevind nie. 7Toe het hy vir die tuinier gesê, ‘Kyk, dis al drie jaar wat ek vrugte aan hierdie vyeboom kom soek en niks kry nie. Kap dit uit. Waarom moet dit die grond langer uitput?’ 8Maar hy antwoord en sê vir hom, ‘Meneer, laat dit nog hierdie jaar bly staan, totdat ek rondom gespit en mis gegee het. 9En as dit dan volgende jaar vrugte dra, goed. Maar as dit nie gebeur nie, kan u dit uitkap.’ “

 

 

Preek

Die Evangelie van Lukas is een van die vroegste beskrywings van Jesus se lewe. Wat Lukas eintlik baie interessant maak is dat die boek “Lukas” die eerste volume van ‘n twee-volume werk is wat ons “Lukas-Handelinge” noem. Een van die redes hoekom ons dit weet is want as ons na die eerste twee tot vier verse van albei boeke se eerste hoofstuk kyk, dan is dit duidelik dat dit van dieselfde skrywer af kom. Lukas was een van die reisgenote en kollegas van die baie bekende Paulus. En ek dink die meeste van ons weet dat Lukas ook ‘n dokter was. Nou, Lukas erken in sy boek dat daar baie ander skrywers is wat die storie van Jesus se lewe geskryf het, maar hy verkies om terug te gaan na soveel as moontlik eerstehandse ooggetuies sodat die mense wat die lees, soos hy in vers vier van hoofstuk een sê: “…vir seker kan weet dat die onderrig wat u oor hierdie gebeure ontvang het, betroubaar is”. Lukas doen vreeslik baie moeite om te wys dat hierdie storie van Jesus se lewe nie net ‘n geskiedkundige gebeurtenis is nie, maar dat dit ook die storie is van hoe God se beloftes deur Jesus vervul is.

Nou in vanoggend se teks praat Jesus oor ‘n vyeboom wat nie vrugte dra nie. Maar ek dink ons moet ook verstaan hoe ‘n vyeboom werk voor ons verder hieroor kan gesels. Die manier hoe vye bevrug word en uiteindelik die vorm kry wat ons deesdae eet is ongelooflik ingewikkeld en vreemd. In eenvoudige terme, vye is tegnies nie ‘n vrug nie – dis omgekeerde blomme. Vyebome blom nie soos appels en perskes nie. Die blomme blom binne-in die peervormige peul, wat later verouder tot die vrugte wat ons eet. Elke blom produseer dan ‘n enkele, eensadige, harde dopvrug genaamd achene – dit is wat die vy die kraker gee wat ons ken – en die vy bestaan uit klomp achene. So wanneer ons ‘n vy eet, eet ons eintlik ‘n hele paar vrugte. Maar dit is nie die einde van die uniekheid wat die vy anders as ander vrugte maak nie.

Omdat vyeblomme inwendig blom, het hulle ‘n spesiale proses nodig vir bestuiwing. Hulle kan nie op wind of bye staatmaak om die stuifmeel te versprei nie ― dis waar die vyewesp (‘n tipe perdeby) inkom. ‘n Vy kan nie sonder die vyewesp oorleef om sy genetiese materiaal te versprei nie, en die vyewesp kan nie sonder die vy lewe nie, want dis waar hy sy larwe lê ― hierdie verhouding staan bekend as mutualisme.

Die vroulike vyewesp gaan binne in die mannetjievy in om sy eiers te lê – terloops, ons eet nie die mannetjievye nie. Die mannetjievy is gevorm op so ‘n manier om die lê van wesp-eiers te akkommodeer. Die wespwyfie se vlerke en antennas breek af wanneer hulle die klein gang in die vy binnegaan, so as dit eers in is, is daar geen uitweg nie. Dis dan die werk van die baba wespe om die lewensiklus voort te sit. Manlike baba wespies word sonder vlerke gebore, want hul enigste doel is om met die vroulike nageslag te paar – tegnies hul suster – en ‘n tonnel uit die vy te grawe. Dit is die vroulike nageslag wat die reis maak en stuifmeel saambring.

As ’n vyewesp per ongeluk ’n wyfievy binnedring—die wat ons eet—in plaas van ’n mannetjie, is daar geen plek in die binneland vir dit om voort te plant nie. En dit kan nie ontsnap nie, want sy vlerke en antennas het afgebreek. So die perdeby vrek binne, wat jammer maar noodsaaklik is, want dit is hoe dit die stuifmeel lewer wat ons die vrugte gee waarvoor ons lief is.

Moenie bekommerd wees nie, dit beteken nie dat die knars in die vy ‘n wesp-karkas is nie. Die vy gebruik ‘n ensiem bekend as ficin om die perdeby in proteïene af ​​te breek, hoewel dit nie altyd die hele eksoskelet afbreek nie. So, ja, tegnies, wanneer jy in ‘n vy eet, eet jy ook vyewespe – of wat eens ‘n vyewesp was – maar jy kan jouself ten minste troos met die feit dat hulle ongelooflik klein is. Sommige ‘vegans’ sal dalk as gevolg van hierdie rede kies om weg te bly van hierdie vrug.

So hoekom gaan Jesus dan nou so aan oor ‘n boom? Hoekom is ‘n vyeboom dan so ‘n goeie metafoor? Ek weet nie veel van plante nie. My ma is nou weer iemand vir wie jy in ‘n kwekery kan los en sy sal vir ure in die hemel wees. Ongelukkig het daardie intense belangstelling nie by my vasgehaak nie. Maar ek het die afgelope week ‘n bietjie meer oor plantkunde en botanie opgelees. Wat vir my uitgestaan het is dat boere nie noodwendig ‘n boom plant net om vrugte te dra nie. Die bekende kerkvader Calvyn vertel dat ‘n boer partykeer ‘n boom sal plant net om bietjie te eksperimenteer, nuwe dinge te probeer en om te kyk wat werk. Miskien probeer die boer ‘n nuwe tipe kunsmis, miskien spits hy bietjie anders rondom die boom, miskien probeer hy uitwerk wat die presiese hoeveelheid water is wat die boom nodig het, miskien kyk hy of die vrugte groter gaan wees as hy sekere takke af snoei sodat meer voedingstowwe na die ander vrugte kan gaan. Daar is ontelbare hoeveelheid dinge wat ‘n boer kan doen aan so ‘n boom om te kyk hoe hy die res van sy plantasie beter kan laat vaar.

Miskien wou hierdie boer in Lukas 13 bietjie eksperimenteer met die boom, maar toe kom hy agter dat sy eksperimente onsuksesvol was. Die boom dra mos dan nou nie meer vrugte nie, so iets moes verkeerd geloop het. Maar wat eintlik meer saak maak is die persoon wat na die boom kyk. En dis dan die tuinier. Die tuinier is die een hier wat al die kennis het oor hoe om vir ‘n boom te sorg. Dis hy wat dag na dag soveel moeite doen om seker te maak dat al die plante dit kry wat hulle nodig het om te floreer. En hierdie tuinier is oortuig daarvan dat hierdie vyeboom nog nie sy volle potensiaal bereik het nie. So hy vra dan vir die boer om vir die boom nog net een jaar te gee. Nog net een jaar sodat hy ekstra moeite kan doen en verder eksperimenteer om te kyk of hy weer die boom kan laat vrugte dra. Hy gee die boom nog ‘n kans. Hy is die boom genadig. Hy kap nie dadelik uit nie, maar hy gee die boom ‘n tweede kans.

Is dit nie wat genade is nie? En is dit nie wat bekering beteken nie? Is dit nie die kern van die boodskap van die Goeie nuus van Jesus vir ons wil leer nie? Is dit nie wat Christus vir ons wil leer nie? Jesus se boodskap van genade vertel vir ons dat ons ‘n tweede kans kry. Dat wanneer ons hierdie bekering ernstig opneem en toe laat dat God binne ons kom werk, dat ons elke keer ‘n tweede kans sal kry. Dis nie ‘n letterlike tweede kans van dat ons net twee kanse kry en dan is dinge verby nie. Dis ‘n figuurlike tweede kans wat beteken dat ons elke keer terug kan draai na Christus toe waar ons hierdie genade sal ontvang. Ons kan niks doen om God se genade te verdien nie. Dis vrylik beskikbaar danksy die kruis. Dis eintlik ook hoekom die kinderdoop vir my so mooi is. Dis ‘n manier om te sê dat ons kan regtig niks doen om God se genade te verdien nie. Ons kan dit nie verstaan nie. Ons kan dit nie begryp nie. So die feit dat ons babas doop, wat geen kognitiewe bewustheid het van wat in daardie oomblik rondom hulle aan gaan nie, is ‘n perfekte bewyse dat God se genade werklik vrylik gegee word, juis omdat dit iets is wat ons glad nie kan verdien nie en iets is wat ons glad nie kan verstaan nie.

Ons weet nie hoekom hierdie vyeboom in Lukas 13 nie vrugbaar was nie. Ons weet nie wat die boer gedoen of nie gedoen het nie. Al wat ons weet, en al wat belangrik is, is dat hierdie genade vir die boom gegee word. Dit kry ‘n tweede kans.

Toe ek nog op universiteit was, het ons ‘n spesiale lesing in etiek gehad by Dr. Mags Blackie, wat ‘n professor is by die Departement van Chemie en Polimeerwetenskap. Sy werk meesal met mediese wetenskap, maar sy het ook ‘n dipe belangstelling in Teologie. In haar boek “Rooted in Love” skryf sy meer oor haar verstaan van wat hierdie genade is. In hierdie boek lees ek van Karl Rahner se verstaan van wat genade is. Vir hom is God se kommunikasie beskikbaar vir elke mens, maar dit is ook ‘n unieke ervaring vir elke mens. Hierdie konsep van genade is ‘n moeilike een om te verstaan, maar dit is iets wat die kapasiteit het om die menslike persoon op ‘n fundamentele wyse te affekteer. Vroeër in haar boek praat sy ook oor die neiging dat ons “geliefde sondaars” is. Die neiging dat ons as mense inherent sondaar is, is nou wel niks nuuts in ons teologie nie. Maar ons bly geliefd. Ons is geliefde sondaars. Is dit nie ook miskien wat genade is nie? Karl Rahner skryf ook “God does not love me because I am good. God loves me because God is good”. God is nie lief vir my omdat ek self goed is nie. Nee. God is lief vir my omdat God goed is. Weereens: Ons kan niks doen om hierdie genade van God te verdien nie. Al wat ons kan doen is om saam met God in gebed te tree sodat ons elke dag meer en meer bewus kan word van hierdie genade. Dat ons elke dag meer en meer bewus sal word van hierdie vyeboom waarvan Jesus praat. Dat ons elke dag meer en meer sal probeer om hierdie vrugte te dra van die vyeboom.

Om saam met God in gebed te tree oor genade is nie net iets wat ons as ‘n oefening doen nie. Dis eintlik iets wat deel moet vorm van ons spiritualiteit. En ek preek ook vir myself hier. Om hierdie gebede van genade te doen is ‘n belangrike deel van ons dag-tot-dag lewe. Want dis hierdie gebede wat maak dat ons stelselmatig aan ons verhouding met God kan werk.

Ek soek altyd ‘n verskoning om oor Mike (my hond) te praat. Reg aan die begin van die eerste lockdown, toe ek nog by Durbanville Gemeente was, het ons video opnames van preke by ons huise gemaak wat ons dan die Sondag op die kerk se YouTube kanaal uitgesaai het. Ons was 4 predikante, so ons het preekbeurte gehad. Een Sondag was dit my beurt om te preek. Omdat ek die preek by my huis moes opneem het ek vir myself gedink “Nou is my kans! Nou kan ek vir Mike in die erediens gebruik!”. So vir die kinderoomblik het ek vir Mike gevat en vir die kinders al sy toertjies wat ek vir hom geleer het gewys. Ek het gewys hoe hy op net sy agterpote kan sit en balanseer, hoe hy kan omrol en maak asof hy dood is, en dan natuurlik die meer basiese sit, lê en poot gee.

My hele doel daarmee was om die punt te illustreer dat dit nie aan die begin so maklik was nie. Toe hy nog klein was, het ons mekaar glad nie verstaan nie. Ons het nie geweet wat die ander een probeer kommunikeer nie. Maar hoe meer ons met mekaar gewerk het, en hoe meer ons met mekaar geoefen en gewerk het, so het die kommunikasie stadig maar seker al hoe beter geword tot waar ons nou is. Nou verstaan ons mekaar en weet hoe om met mekaar te praat. My hele punt hiermee met die kinders was om te wys dat as ons ook op dieselfde wyse meer tyd in gebed spandeer, meer aandag gee aan God se genade, en meer bewus word van ons afhanklikheid van God, sal ons stelselmatig meer en meer begin verstaan en hoor wat God van ons vra. Aan die begin gaan dit moeilik wees, net soos wat dit moeilik vir my was om vir Mike alles te leer wat hy weet, maar hoe meer tyd en energie ons daaraan spandeer, hoe meer duidelik sal dit word. Dís hoekom hierdie genade-gebede so ‘n belangrike deel van ons spiritualiteit moet wees. Maar kom ons kom weet terug by die vyeboom. Want hierdie genade-gebede is nie ‘n een-rigting ding nie. Dit kom van twee kante af. Dit kom van my af, en dit kom van God af. Maar terug by die vyeboom waarvan Jesus praat:

So nog ‘n ding wat belangrik is, is dat dit nie net van die vyeboom self afhang nie. Die vyeboom kan nie sonder die vyewesp vrugte dra nie. Die vyeboom het nodig dat hierdie vyewesp binne in hom in gaan, dit bevrug en dan transformeer. En ek dink dat dit ‘n baie mooi metafoor is van hoe God ook met ons werk. In Jesus se vergelyking is dit mos duidelik dat ons die vyeboom is. Dis ons vir wie God nog ‘n kans gee. Dis ons vir wie God genadig is. So as ons die beeld gebruik van dat ons die vyeboom is, en dat die vy deel van die vyeboom is, dan moet ons mos ook toelaat dat die vyewespe ons van die binnekant af kom transformeer. God is konstant besig om ons te transformeer. Eintlik, God is konstant besig om die wêreld te transformeer. Maar wanneer ons toelaat dat God ons soos die vyewespe van binne af transformeer, dan verander ons van iets wat maar net ‘n blommetjie is, na iets wat regte voedsel vir die wêreld is.

Maar daar is wel ‘n verskil tussen die vy en die vyewespe, en ons en God. Die vyewespe sterf binne in die vy sodat die vy net een keer getransformeer kan word. Maar tussen ons en God, word ons konstant getransformeer. Dis nie staties nie. Ons as mense is dinamiese weses. Met ander woorde, ons verander konstant en ons pas gedurig aan by die ewige-veranderende wêreld wat God vir ons geskep het. God stel ons in staat om konstant, gedurig, permanent getransformeer te word om ‘n soet vrug in die wêreld te wees wat vir ander mense die voeding gee wat hulle so desperaat nodig het.

So dan net om vinnig weer op te som: Jesus praat oor ‘n vyeboom wat nie vrugte dra nie, maar die tuinier oortuig die boer om vir hierdie boom nog ‘n kans te gee sodat hy ekstra moeite kan doen. Die tuinier is die boom genadig. Hy gee dit nog ‘n kans. Jesus gee dan vir ons nog ‘n kans. Christus is ons genadig, net soos wat die tuinier die vyeboom genadig is. Maar dit hang nie net van die tuinier af of die boom vrugte dra of nie, want die vyewespe, daardie spesiale perdeby, is ook nodig om die blom van die vyeboom te bevrug. Die wyfie vyewespe boor dan binne-in die vy in en bevrug die ding wat later die vrug gaan word. In hierdie proses breek die antennas en vlerke af, so die wyewespe sterf binne die vy en word dan deel van die vy. So word hierdie vy getransformeer na iets wat voedingswaarde het. Na iets wat kos vir ‘n honger wêreld kan wees.

God transformeer ons. God is besig om ons konstant te transformeer om voedsel vir hierdie wêreld te wees. Onthou, ‘n massiewe deel van Jesus se bediening op hierdie aarde het rondom etenstafels plaasgevind. Jesus het gereeld by mense geëet, want hy het geweet hoe belangrik die hele konsep van voedsel is. So wanneerokal Jesus oor ‘n kossoort praat, dink ek moet ons mooi luister.

Dink bietjie oor jou eie lewe: Waar was God jou al genadig? Waar het God jou al so ‘n tweede kans gegee, net soos die tuinier vir die vyeboom ‘n tweede kans gegee het? Kan jy ‘n oomblik in jou lewe onthou waar God jou radikaal getransformeer het op een of ander manier? En waar in jou lewe was jy al die voedsel vir ‘n wêreld wat dit so nodig het? In ander woorde: Waar het jy jou gawes en talente gebruik om iemand anders se lewe positief te beïnvloed?

Kom ons laat God toe om ons te transformeer. Kom ons wees hierdie vrugte. Kom ons wees die voedsel vir die mense wat dit die nodigste het.

Amen.