Romeine 12:9-21

Skriflesing (Romeine 12:9-21)

9Julle liefde moet ongeveins wees. Verafsku die kwaad; hou vas aan die goeie. 10Julle moet mekaar liefhê met innige broederliefde. Gaan mekaar voor in eerbetoning. 11Moenie traag wees in julle toewyding nie; bly geesdriftig; hou vol om die Here te dien. 12Verbly julle in die hoop; wees standvastig wanneer julle swaarkry; volhard in die gebed. 13Betoon meelewing met die behoeftes van die •heiliges; lê julle toe op gasvryheid. 14Seën julle vervolgers; ja, seën hulle, moet hulle nie vervloek nie. 15Wees bly saam met diegene wat bly is; treur saam met diegene wat treur. 16Wees eensgesind onder mekaar; moenie hoogmoedig wees nie, maar skaar julle by die nederiges. Moenie wys wees in julle eie oë nie. 17Moet niemand kwaad met kwaad vergeld nie, maar rig julle gedagtes op dit wat vir alle mense goed is. 18As dit moontlik is, sover dit van julle afhang, leef in vrede met alle mense. 19Geliefdes, moet julle nie wreek nie, maar laat ruimte vir die oordeel. Daar staan immers geskryf: “Aan My kom die wraak toe; Ek sal vergeld,” sê die Here. 20Maar: “As jou vyand honger is, gee hom iets om te eet; as hy dors is, gee hom iets om te drink. Deur dit te doen, stapel jy vurige kole op sy hoof.” 21Moenie dat die kwaad jou oorwin nie, maar oorwin die kwaad met die goeie.

 

 

Preek

1 Korintiërs 13 word dikwels gepreek vanuit die staanspoor dat dit oor die liefde tussen twee mense gaan. Dit is ‘n teks wat gereeld gebruik word op ‘n manier wat nie die oorspronklike bedoeling was nie. Romeine 12 kan soms op dieselfde wyse hanteer word. “Liefde moet opreg wees”, sê vers 9. Maar liefde is ‘n baie breë konsep. Van watter liefde praat Paulus hier? Liefde tussen mense? Liefde tussen mens en God? Die liefde van Christus? Hierdie is die vrae wat soveel kommentators al gevra het.

 

Daar is ‘n groot spanning tussen “liefde” en “bose” in hierdie teksgedeelte. In romeine 5 en 8 word daar van liefde gepraat as die liefde van God, die agape van God. Later in hoofstuk 8 gaan dit weer oor Christus se liefde, en in hoofstuk 15 praat dit weer van die Gees se liefde. Paulus skryf in Romeine met ‘n algemene tema van Goddelike liefde, oftewel die Trinitariese liefde van God.

 

Maar hoekom fokus Paulus hier op liefde? Romeine begin met Paulus wat skryf hoe mense vasgevang is in sonde en dat ons as mense nie enige goeie dade kan doen om daarvan te ontsnap nie. God weet van mense se feilbaarheid en stuur vir Christus om ons te bevry, sodat ons ‘n multi-kulturele geloofsgemeenskap kan vorm as afstammelinge van Abraham. ‘n Geloofsgemeenskap wat in liefde vir God funksioneer.

 

Ons probeer dikwels self liefde definieer: Wie ons moet liefhê, wat ons moet doen om liefde vir ander mense te wys, hoe ons moet liefhê, maar Paulus probeer hier sê, nee, ons mis die punt! Hier gebruik Paulus spesifieke Griekse woorde, soos agape, wat normaalweg slegs gebruik word om Gods-liefde te beskryf, om te beskryf wat liefde beteken. So met ander woorde, dis slegs God wat in staat daartoe is om liefde te definieer. Net God kan vir ons wys wat ware liefde eintlik is.

 

“Onse Vader wat in die hemel is, laat U naam geheilig word. Laat U koninkryk kom, laat U wil geskied”. Die Onse Vader gebed, die gebed wat Jesus self vir ons geleer het. Dit verduidelik vir ons eerstehands wat dit beteken om God lief te hê. Soos die lied ook sê, “geheilig Sy U naam”. In Romeine 12 is God die selfstandige subjek. Paulus maak God spesifiek die selfstandige subjek van hierdie teks sodat die kerk, die geloofsgemeenskap, daardie liefde en vrede kan na-aap. Paulus definieer liefde in Romeine in terme van God sodat die geloofsgemeenskap (dis nou ons) kan verstaan wat opregte liefde beteken.

 

In die tyd toe Romeine geskryf is, het die vroeë Christene geweier om die Romeine empiriese orde (of keiserlike orde) as God se wil te aanvaar en die manier hoe God wil hê die wêreld moet wees. Lukas sien Jesus se openbare bediening as een van transformasie, aangesien Jesus, volgens Jesaja en homself, deur die Gees gesalf is. In hierdie Jesaja vers, word daar na die Jubilee tradisie verwys (skuld word elke 50 jaar geskrap, die einde van 7 x 7 jaar siklusse). Dit was natuurlik om te keer dat mag en rykdom in die mense met mag se hande bly. Dit was gebaseer op die gedagte dat alle land en rykdom aan God behoort, nie aan mense nie. In Lukas verklaar Jesus God se doel en doen transformatiewe aksies deur sy bediening. Hierdie visie en aksies het begin om die skade van die Romeinse ryk te herstel en antisipeer die einde daarvan deur die toepassing van God se wil/doel deur middel van die liefde en vrede wat hier in Romeine 12 beskryf word.

 

In die Romeinse ryk was daar nie spasie vir demokrasie nie (politiese partye, petisies, wette). Die mense met meer mag sou ook nie hulle eie krag vrywillig opgee nie. Baie Nuwe Testament tekste stel dan voor om alternatiewe gemeenskappe te vorm met lewegewende praktyke. As mens hierdie goed in gedagte hou begin dit al hoe moeiliker raak om mense regtig met ‘n goddelike liefde lief te hê soos Paulus beskryf. Hierdie nuwe stelsels is dan gevorm as ‘n alternatief vir die praktyke van die Romeinse ryk. Paulus skryf in Rom. 12:2 iets soos “moenie konformeer tot hierdie wêreld nie, maar wees getransformeer deur die vernuwing van jou gedagtes, sodat jy God se wil kan onderskei”. Weereens hier is God die selfstandige subjek. God definieer liefde. Paulus moedig hulle aan om ondersteunende gemeenskappe te vorm, mekaar lief te hê en om hul vyande te voer, eerder as om wrok te soek. In Matteus moedig Jesus ook gelowiges aan om alternatiewe gemeenskappe met alternatiewe praktyke te vorm (basies die teenoorgestelde van die Romeinse ryk: liefde eerder as haat, hulle manier van regeer, goed doen vir mekaar ens.).

 

Ander Nuwe Testament tekste sien die Romeinse wêreld op ‘n ander manier. In Romeine moedig Paulus die mense aan om onderdanig te wees aan regerende amptenare, slegs een hoofstuk nadat hy hulle opdrag gegee het om nie te konformeer nie. Dis baie vreemd… Die pastorale briewe moedig selfs ‘n patriargale huishouding aan (wat normaal was in die Romeinse ryk) waar vrouens onderdanig moet wees. Hulle verwag nie God se onmiddellike koms nie, so daar is nie veel hoop vir God se transformerende ingryping nie. Die vroeë Christene in hierdie tyd word aangemoedig om vir die Keiser te bid (nie tot die Keiser nie). Wanneer Timoteus praat van ‘om die Keiser te eer’ is dit heel moontlik om ‘n goeie naam vir die Christene te hou deurdat hulle goeie sosiale gedrag toon. Origen skryf dat dit moontlik is dat die vroeë Christene die bogenoemde ‘eer’ toegepas het deur offers te gee, maar dit nie te bedoel nie (dit was nie egtelike toewyding nie). Om Christus in jou hart te eer, beteken dus dat enige ander sosiale ‘eering’ nie van toepassing is nie. Weereens, God is die selfstandige subejek. God definieer liefde.

 

Daar is verskeie strategieë wat gebruik is om die daaglikse lewe binne Romeine te oorleef. Paulus het op Romeinse paaie  wat vir troepe, belasting en verkope gemaak is, geloop na plekke om sy boodskap te verkondig. Hulle preek in stede wat omring is deur groot armoede. Hierdie was plekke wat hopeloos gelyk het. Volgelinge van Jesus ken so ‘n tweeledige leefstyl (tussen die ryk en hoe hulle voel hulle moet leef). Gewoonlik sal gedomineerde mense nie in opstand kom nie, want hulle weet hulle gaan heel waarskynlik verloor. Dit is soos ‘n hanterings-strategie om aan te hou leef. Hoop is in hierdie omstandighede min, want liefde word nie geleef nie.

 

‘n Voorskrif word gewoonlik gegee om iemand te genees of om ‘n siekte te voorkom. In ons geval word hierdie voorskrif gegee om ons te herinner aan hoe ons soos Christus moet leef in terme van hierdie hoop en liefde. Hoe om so te leef dat ons lewe die eer van Jesus gee wat aan die kruis sy lewe gegee het sodat ons vergewing kan hê en die belofte van die ewige lewe as ons eie kan ken. Hier sê Paulus vir ons: “Verbly julle in die hoop.” En in die proses moet ons onthou waar die hoop vandaan kom. Dit is gebore uit ons verhouding met God deur Christus, wat ons telkens herinner, dat God, ongeag wat ons in die lewe gedoen het, onvoorwaardelik bly liefhet. Weereens, God is die selfstandige subjek. Romeine 5: 8 sê vir ons dat God bewys God se liefde vir ons deurdat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was.

 

‘n Vrou wat aan vigs ly het ‘n predikant gevra om haar te besoek. Haar emosionele pyn was net so intens soos haar liggaamlike pyn. Alles het hopeloos gelyk. ‘Ek is verlore,’ het sy gesê, ‘ek het my lewe en elke lewe rondom my verwoes. Daar is geen hoop vir my nie.’ Die predikant sien ‘n geraamde prentjie van ‘n mooi meisie op die spieëlkas en vra: “Wie is dit?” Die vrou se gesig verhelder dadelik: “Sy is my dogter, die een mooi ding in my lewe.” “Sou jy haar help as sy in die moeilikheid was,” het die predikant gevra, “maak nie saak hoeveel foute sy gemaak het nie. Sou jy haar vergewe as sy jou sou vra? Wil jy haar steeds liefhê, maak nie saak wat nie?” “Natuurlik sou ek,” het die vrou uitgeroep. “Hoekom sou jy ‘n vraag soos dit vra?” Die predikant het verduidelik: “Want ek wil hê jy moet verstaan dat God ook ‘n foto van jou op sy spieëlkas het.” Vriende, ons het rede om bly te wees in die hoop. En die rede is ons redding deur ons geloof in die genade en liefde van God. Wees bly in die hoop. Sien die liefde van God raak. Wys liefde soos God dit op die oomblik in ons lewens doen.

 

Ons is geroep om ons te verheug in die hoop en die Here te dien. Daar is eintlik net een manier waarop ons voldoende kan reageer op alles wat God vir ons gedoen het. Iemand het eenkeer gesê: ‘Die liefde van ‘n ouer hoef nie terugbetaal te word nie; dit kan net oorgedra word.’ En dit is dieselfde met ons redding. Dit kan nie terugbetaal word nie. Maar as ‘n antwoord op God se genade en vergifnis, kan ons God eer en die Here so dien dat ons dit deurgee.

 

Liefde speel ook in die gemeente ‘n belangrike rol. Die bring ons nader as naby aan mekaar. Ons kan op die kerkbanke baie naby aan mekaar sit, maar dis nog nie genoeg nie. God wil dat ons mekaar moet liefhê, nie net dat ons naby mekaar op die kerkbanke sal sit nie. Dis om in alle omstandighede vir die goeie te kies. Die hele gedeelte is ‘n beweging weg van die slegte, die kwaad, die boosheid, na die goeie, die liefde, na God toe! ‘n Lewe as erediens voor God, is ‘n lewe van liefde. Die liefde se gerigtheid is om ons rug op die kwaad te keer en ons gesig na die goeie te draai. Die liefde is die Christelike definisie van die goeie.

 

Ek wil graag afsluit deur ‘n storie te vertel uit die film ‘Pay It Forward’. In die film is Trevor McKinney (Haley Joel Osment) ‘n elfjarige seun wat saam met sy werkersklas-moeder, Arlene (Helen Hunt), wat ‘n herstellende alkoholis is, in Las Vegas woon. Sy het twee werke om haar en haar seun te onderhou, maar voel dat dit ‘n verlore stryd is. Trevor is ‘n kind wat gereeld vir homself moet sorg. Trevor raak vinnig opgewonde toe Eugene Simonet (Kevin Spacey), sy nuwe onderwyser, op die eerste skooldag ‘n ekstra kredietopdrag gee: ‘Dink aan ‘n idee om ons wêreld te verander en hoe om die prakties te maak.” Terwyl die res van die klas sukkel om verby die onderwyser se gesig vol littekens te kyk, besef Trevor dat hy nou ‘n morele avontuur gekry het. Die energieke en idealistiese seun besluit dat hy ‘n goeie daad vir drie mense sal doen, iets wat hulle nie vir hulself kan doen nie, en dan sal elkeen van hulle vra om dit “vooruit te betaal” deur net so moeilike groot gunste vir drie ander te doen.

 

Trevor begin deur ‘n hawelose, heroïenverslaafde man, te help. Hy gee hom slaapplek vir ‘n nag, kans om te stort en geld, sodat die man dit kan bymekaar kry en werk kan soek. Sy Ma is nie bewus van die reëling totdat sy een aand wakker word om die hawelose man te vind wat aan haar stukkende bakkie werk nie. Sy hou die man met ‘n geweer dop en sê vir hom om homself te verduidelik. Om te bewys dat hy die waarheid praat, draai hy die bakkie se sleutel, dit sit aan, en vertel haar van Trevor se vriendelikheid. Hy sê: “Wanneer iemand soos jou seun vir iemand soos ek ‘n been gee, dan gaan ek dit vat. Ek kan nie weer deurmekaar raak nie, anders sal ek dood gaan. Ek betaal dit net vooruit.” Vreemd genoeg vra Trevor se ma: “Wat beteken dit?” Die volgende dag verduidelik Trevor sy plan om dit vooruit te betaal aan sy klas. Sy onderwyser en klasmaats is betower. Om te verduidelik, trek hy ‘n sirkel en verduidelik: “Dit is ek.” Daaronder teken hy drie ander kringe en verduidelik: “Dit is drie ander mense. Ek gaan hulle help, maar dit moet iets groots wees, iets wat hulle nie vir hulself kan doen nie. Dus doen ek dit vir hulle, en hulle doen dit vir drie mense. Dit is nege mense. En nege lewens word 27. ” Terwyl die film voortgaan, verander “Paying It Forward” die lewens van rykes, armes, haweloses en ‘n gevangene. En ek dink dit vervul hierdie hele idee van die voorskrif waaroor ons praat, omdat ons die Here dien terwyl ons ander dien. Maar die enigste manier hoe ons dit doen, is wanneer ons erken dat hierdie liefde wat ons aan ander mense gee, net deur God gedefinieer kan word. Ons kan nie self kies wie ons liefde “verdien” nie. Net God kan.

 

Dis ‘n Verbond. God tree selfs in verbond met Abraham: Hy het nie altyd daarin geslaag om liefde en vrede te wys soos wat God wou hê nie, maar God het steeds getrou gebly. Dieselfde geld vir David en sy storie. Selfs Jesus se dissipels het in oomblik van nood hom verraai en verloën het, maar selfs die opgestaande Christus kom na Petrus toe en bied vergifnis aan. Ons liefde skiet kort, maar God se liefde kom haal ons weer. 1 Joh 4 stel dat God die bron van liefde is en stel ons in staat om lief te hê. Selfs liefde vir ons vyande en vervolgers; liefde wat nie terug bewys word nie. Dis moeilik. Waar kry ons krag om op daardie manier lief te hê? Ons hoef net terug te draa na agapé; God se liefde. Dís dalk een van die dinge wat Paulus in Romeine 12 vir ons wil sê.

 

Amen.