Markus 10:35-45

Skriflesing (Markus 10:35-45)

35Jakobus en Johannes, die seuns van Sebedeus, het na Hom gekom en gevra: “Meester, ons wil hê dat wat ons ook al van U vra, U vir ons moet doen.” 36Jesus vra hulle: “Wat wil julle hê moet Ek vir julle doen?” 37Hulle antwoord Hom: “Beskik dat, in u heerlikheid, een van ons aan u regterhand en een aan u linkerhand mag sit.” 38Maar Jesus antwoord hulle: “Julle besef nie wat julle vra nie. Kan julle die beker drink wat Ek drink of met die doop gedoop word waarmee Ek gedoop word?” 39Hulle sê vir Hom: “Ons kan.” Jesus sê toe vir hulle: “Die beker wat Ek drink, sal julle drink, en met die doop waarmee Ek gedoop word, sal julle gedoop word.40Maar om aan my regterhand of linkerhand te sit, is nie vir My om te beskik nie, maar dit is vir hulle vir wie dit voorberei is.” 41Toe die tien dit hoor, het hulle verontwaardig geword oor Jakobus en Johannes. 42Jesus het hulle na Hom toe geroep en vir hulle gesê: “Julle weet dat hulle wat as heersers oor die nasies beskou word, oor hulle baasspeel en dat hulle maghebbers oor hulle gesag uitoefen. 43So is dit egter nie by julle nie; maar wie belangrik onder julle wil wees, moet julle dienaar wees, 44en wie eerste onder julle wil wees, moet almal se slaaf wees. 45Want ook die •Seun van die Mens het nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as losprys vir baie.”

Preek

Wat is die koste om werklik ‘n dissipel te wees? Dit begin alles by Markus 8:34. Vanaf Markus 8, tot waar ons vandag is, handel alles oor die eis van navolging. Net voor vanoggend se teks, in Markus 10:17-22 het Jesus ‘n gesprek met die dissipels oor hoekom dit “duur” is om ‘n volgeling van Christus te wees, met die illustrasie van die ryk jong man wat na hom toe kom en vra wat hy moet doen om die ewige lewe te kry. Maar vanoggend fokus ons op dit wat Jakobus en Johannes vir Jesus gevra het.

 

Die bekende teoloë Grundmann en Groenewald sien die vraag van Johannes en Jakobus as ‘n uitdrukking van die totale blindheid, misverstand en onkunde van die dissipels wat nie besef waaroor dit in Christus se optog na Jerusalem gaan nie. Daar is wel sommige teoloë wat glo dat die dissipels wel geweet het wat volgende sou gebeur. Dis natuurlik Christus se kruisiging. Selfs Christus stel dit eintlik baie duidelik in v45: 45Want ook die •Seun van die Mens het nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as losprys vir baie.” Miskien was die dissipels net in ontkenning. Die Engelse woord is mos Denial. Dink bietjie daaraan. Hulle vriend, mentor en letterlike Here gee gereeld tekens dat die profesie is dat hy sal moet sterf, maar die dissipels sukkel om dit te glo of om vrede te maak daarmee. Persoonlik dink ek sou ek ook sukkel daarmee… Wie op aarde sal gemaklik daarmee wees as iemand naby aan hulle gereeld hulle sterwe beskryf, waarvan dit later sal waar word!

 

Dis moeilik. Dis moeilik om te dink wat deur die dissipels, sowel as Christus se kop moes gaan in hierdie teksgedeelte. Baie teoloë en eksegete het al oor hierdie “moeilikgheid” geskryf. Een van die merkwaardige dinge wat ek raakgelees het tydens my voorbereiding was dat die dissipels nie soseer verkeerd was in die sin dat hulle nie in Christus se Messiaskap en die koms van die ryk geglo het nie, maar dat hulle nie gesien het dat dit ‘n “gebroke” koms was nie. So, die dissipels het geglo dat Christus se, in daai tyd, “toekomstige” heerskappy sou wees soos dit waaraan hulle gewoond is! Hulle het gedink aan die inhuldiging van konings, feeste, partytjies; dat hierdie heerlikheid van Christus sou kom in ‘n tradisioneel koninklike wyse. Sonder pyn, sonder seer. Net met vreugde en blydskap. Dit dissipels het gesukkel om te besef dat dit eintlik ‘n gebroke koms sou wees, vol seer, pyn, lyding en dood.

 

So, die dissipels het geweet dat Jesus op pad was na glorie, maar hulle het in die ongebroke styl van verheerliking geglo, waarin hulle die kruis heeltemal wou vermy. Johannes en Jakobus wou deel wees van Christus se heerskappy. Hulle het nie gedink dat hulle tydens die ewige lewe langs Christus sou sit nie, maar hulle het gedink dat Christus saam met hulle op aarde ‘n heerser sou wees. Dat hulle langs hom sou sit, heel moontlik oor ‘n paar weke of maande in hulle kop. Hulle vra vir ‘n via crucis, die weg van ‘n offer saam met hom. So, die dissipels se misverstand hier was glad nie ongeloof nie, maar die feit dat hulle die draagwydte, die gewig, die grootheid in skaal van hulle vraag glad nie begryp het nie. Hulle het nie verstaan wat hulle gevra het nie. Maar wat doen Jesus? Jesus besef die misverstand en beantwoord hulle vraag vanuit sy eie lydensvoorbeeld. Hy korregeer hulle. Hy sê vir hulle “ja, dis reg, julle kan ook uit dieselfde beker as ek nagmaal hou en ook met dieselfde water gedoop word as waarmee ek gedoop is, MAAR, hierdie vraag wat julle nounet gevra het, is glad nie in dieselfde liga as die nagmaal en doop nie. Dis soveel groter. Julle verstaan net nog nie”.

 

Jesus was die meester van metafore en analogieë. So die gebruik van die simbole van die beker en die doop is nie sommer maar net sonder rede hier gebruik nie. Die beker wat gedrink word, kan sien op vreugde, maar meesal word dit gedrink as teken van die lyding en verval van die oordeel wat ‘n enkeling of ‘n groep, ‘n volk, of ook volkere, ervaar. Daar is soveel ander Bybeltekste wat hierdie beeld het, soos Psalm 75:9, Jesaja 51:17 en Jeremia 49:12. Verder kan hierdie beeld ook gesien word as ‘n Goddelike gerig wat veroordeeldes moet drink. Dan, die doop wat ook hier voorkom, kan gesien word as ‘n metafoor vir die dodelike bedreiging van die vloedwaters, van die oorspronklike chaosmagte waarin die dopeling verdrink word, soos ook verder illustreer deur 2 Samuel 22:5, Psalm 42:8, Jesaja 43L2 en Lukas 12:50. So dien die metafore as ‘n aanduiding van die lyding en dood van Jesus voor die deur staan en die dissipels word gevra of hulle Hom hierin kan navolg. Die Beker en die doop sou deur die dissipels aanvaar word as hulle bereid sou wees om sy noodlot en dood met hom te deel. Hierdie metafore het dan ook later op die matrelaarskap van toepassing geword. Die vraag of hulle dit “kon” is dan uiteindelik ‘n vraag of hulle vrywillig die martelaarskap op hulle wou neem. Die maak hierdie hele teksgedeelte selfs nóg moeiliker. Wat Jesus eintlik indirek vir die dissipels vra is of hulle bereid sou wees om saam met hom op die kruis te hang. Dít is hoekom Jesus vir Johannes en Jakobus gesê het dat hulle nie die gewig van hulle vraag verstaan nie. Want dit is ‘n baie swaar vraag!

 

Maar wat ons moet onthou, is dat die dissipels reeds geroep is tot lydensnavolging. Ons lees daarvan in Hoofstuk 8:34 tot 9:11. Teen die agtergrond van Jakobus en Johannes se versoek en met die gebruik van twee veelseggende metafore, word die twee nou gevra of hulle op hierdie weg van lydensnavolging en martelaarskap kan gaan. Hulle antwoord: “Ons kan” in vers 39. Hierdie antwoord is vir baie mense wat hierdie teks bestudeer ‘n trotse ligvaardige antwoord. Dis eintlik bietjie ontstellend. Sommige uitleggers praat van hierdie antwoord as “The proud pretentiousness of James and John”. Die dissipels het wel moontlik ‘n bewussyn gehad van ‘n martelaarsdood, maar dit word ingetrek in ‘n soort loongedagte waarin ‘n koel breking gemaak word: Soveel martelaarskap vir soveel ereplekke! ‘n Voorbeeld hiervan vind ons selfs in die preek van Bornemann: “Positions of honour came later, right now it’s just suffering”. Maar ander sê nou weer dat hierdie ‘n egte geloofsantwoord was wat profeties heengewys het na die feit dat ten minste Jakobus dit ook sou doen.

 

Ek lees gereeld hoe sommige teoloë een ding sê oor hierdie teks, en ander die teenoorgestelde sê. Een sê dit en die ander sê dat. Soms dink ons dat die Bybeltekste wat ons lees eenvoudig en duidelik swart en wit is. Maar dit is nie so nie. Dis ingewikkeld. Dis moeilik. Die kultuur-gaping tussen toe en nou is net te groot om alles op gesigwaarde te vat. As ons regtig die Bybel ernstig opneem en regtig die wil van God soek, dan moet ons onsself in die skoene plaas van die dissipels, binne hulle kultuur, binne hulle tyd, en soms ook binne hulle lyding. Hoe sou jy gepraat het as jy Johannes of Jakobus was? Wat sou jou antwoord gewees het? Wat sou jou denkpatroon gewees het? Hoe sou jy oor hierdie lydensnavolging gedink het?

 

Ek sou liewer wou aansluit by die opvatting van die teoloë Best en Rengstorf dat Jesus in sy antwoord in v39, “Julle sal” nie soseer profeties heenwys na die martelaarskap van Jakobus nie, maar wys na die lewenstyl van die gemeente wat die Here op sy weg wil navolg. SLIDE Inderdaad beteken navolging van die Messias ‘n martelaarskap – maar dan nie met ‘n selfversekerde trotse “Ja, ons kan” nie, maar met ‘n nederige gelowige “Ja, ons kan” in diepe verbondenheid aan die lydende Jesus, Jesus wat aan die kruis gely het, aan sy lydensbeker, aan sy eie doop, aan dy eie doodsangs daaroor in Getsemane. Hier word lyding nie gedra met martelaarstrots nie, maar in armoede, in aanvegting. In sy lyding en dood drink Hy uit die gifbeker van Gods toorn en kom in sy doop die strome van Hades oor Hom. “Ja, julle sal” is dan ‘n heenwysing daarna dat hulle in die gemeenskap ingetrek sou word van Hom wat al worstelend die lydensweg tot die einde sou loop. Christus voeg in v40 by dat God alleen oor die ryksbestel beslis; dit is nie iets vir ons om te besluit nie!

 

Ons het vanoggend gepraat oor Johannes en Jakobus se misverstand, oor Christus se simboliek met die nagmaalbeker en die doop, en ook ‘n nuwe idee van wat dit beteken om ‘n martelaar te wees. Nie ‘n arrogante “ja” nie, maar ‘n nederige “ja”. Mense was deur die geskiedenis so trots om ‘n martelaar te wees. Hulle glo “kyk, ek gaan dood vir God, hoekom gaan julle nie ook dood vir God nie?” Dis nie wat dit beteken om ‘n navolgeling, of selfs ‘n martelaar van Christus te wees nie. God se planne is soveel groter as blote, trotse, selfsugtige martelaarskap.Die martelaarskap wat Christus van ons eis, is liefde.

 

Dit beteken ‘n gewilligheid by gelowiges en die kerk om hulle nie alleen te vereenselwig met ander in nood, met die armes, die siekes, die verontregtes en regloses, dié wat in baie opsigte marginaal lewe nie, maar ook vir hulle in te tree – en, as dit nodig is, daarvoor verag te word, soos die koringkorrel in die grond in Johannes 12. Vir mense is dit onmoontlik, maar by God is dit wel moontlik. So lees ons ook in hoofstuk 10:26-27.

 

Johannes en Jakobus het na glorie gesoek. Hulle het begeer om aan Jesus se linker en regterhand te sit terwyl hy regeer. Sommiges sal sê dat hulle die mag wat daarmee gepaard gaan begeer het. Maar dis nie wat Jesus wou hê nie. Jesus se lyding was selfs groot genoeg om daardie selfsugtige gedagtes te oorkom. ‘n Dissipel en ‘n kerk kan alleen Christus volg en dien as hulle gewillig is om hulleself soos die ryk jong man uit te verkoop, soos die koringkorrel te sterwe. Maar nou is dit juis op dié lydenisweg waarop dissipels ander mense, alternatiewe mense, deel van ‘n alternatiewe gemeenskap word. Mense wat leef uit ‘n wonderwerk wat aan hulle geskied: die wonder van die loskoping, van die verlossing en bevryding. So word hulle vrye mense, vrye dissipels wat nou in gebondenheid aan Hom vir ander gaan lewe: so word gelowiges vry, so word ‘n kerk verlos van hulleself, verlos van hulle hebsug en magsug. So word daar deur Christus en sy loskopende offer ‘n pad geopen waarop die kerk kan volg. So kom daar ruimtes vry om ander te soek, om die eie lewe “plaasvervangend” vir ander te gee. Dan kan jy huiwerend, maar tog gelowig, sê: “Ja, ons kan”. Ons kan. Ons wil ander se diensknegte wees, resloos en onselektief; ons wil ander se nood op ons skouers neem. So word die dissipels uitgestuur wat in ‘n gemeenskap met die lydende Kneg ‘n knegsgemeenskap in die wêreld oprig, op weg na ‘n nuwe wêreld waarin ons almal weer kan asemhaal.

 

Ek wil graag afsluit met ‘n ou Franciskaanse seënbede wat ek dink baie gepas is vir vanoggend se teks. Dit wil ons seën om werklik uitgestuur te word en om ander mense se pyn en nood raak te sien. Om nie soos Johannes en Jakobus die hele punt van Christus se antwoord verkeerd te verstaan nie, maar om te weet wat die beteken en wat die werklike koste van navolgeling is.

 

Mag die Here jou seën met ongemak oor maklike antwoorde, halwe waarhede en oppervlakkige verhoudings sodat jy uit die diepte van jou hart kan leef. Mag die Here jou seën met woede oor onreg, onderdrukking en die uitbuiting van mense sodat jy kan werk vir geregtigheid, vryheid en vrede. Mag die Here jou seën met trane om te stort vir mense wat pyn, verwerping, honger en oorlog ervaar sodat jy ‘n hand kan uitreik en hulle pyn in blydskap kan verander. En mag God jou seën met genoeg dwaasheid om te glo dat jy ‘n verskil kan maak in hierdie wêreld, sodat jy dinge sal kan doen wat ander mense dink nie gedoen kan word nie.

 

Amen.