Skriflesing (Openbaring 1:4-8b)
GROETE EN LOFPRYSING
4Johannes, aan die sewe gemeentes in Asië: Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is; 5en van Jesus Christus, die betroubare getuie, die Eersgeborene uit die dood en die heerser oor die konings van die aarde. Aan Hom wat ons liefhet, en ons deur sy bloed van ons sondes verlos het, 6wat ons ‘n koninkryk gemaak het, priesters vir God, sy Vader – aan Hom kom die heerlikheid en die sterkte toe, vir ewig en ewig. Amen. 7Kyk, Hy kom met die wolke, en elke oog sal Hom sien, selfs hulle wat Hom deurboor het; en al die volke op die aarde sal oor Hom rou. Ja, amen! 8“Ek is die Alfa en die Omega, die Een wat is en wat was en wat kom,” sê die Here God, die Almagtige.
Preek
Tydens my eerste paar maande hier op Vaalwater het ‘n hele paar gemeentelede my gevra of ons ‘n preekreeks oor Openbaring kan doen. Ek het gesê dit klink soos ‘n baie goeie idee en dat dit iets is wat ons in die tweede kwartaal kan begin, na Paasfees. Nou, ek verkies gewoonlik om die leesrooster te volg en daardie tekste te gebruik op ‘n Sondag. So ek was nogal taamlik verbaas toe ek gesien het dat die Leesroostertekste vir die volgende 5 Sondae almal uit Openbaring kom. Dis vir my ongelooflik hoe die Here so met ‘n mens werk en eintlik dalk probeer sê “doen dit! Gesels bietjie oor Openbaring!”. So, hier is ek, en ek gaan my bes probeer.
Maar kom ons begin eers met ‘n agtergrond oor Openbaring. So, Openbaring is geskryf deur iemand met die naam Johannes. Dit kan óf Johannes die Dissipel wees, óf dit kan ‘n ander Johannes wees wat in die vroeë kerk rondgegaan het om Christus se boodskap aan mense te vertel. Maar wieookal dit geskryf het, hy maak aan die heel begin van die boek bekend watter tipe boek hy besig is om te skryf. Kyk, daar is ‘n magdom evrskillende literatuursoorte in die Bybel. Ons kry Liriese literatuur, soos Psalms en Hooglied, Wysheidsliteratuur, soos Job, die Evangelies, soos Markus en Johannes, onder andere, Profete, soos Jeremia, briewe, soos Korintiërs en 1,2,3 Johannes, en al hierdie literatuursoorte moet op ‘n ander manier gelees word. ‘n Mens lees mos nie die gedigte in die liriese literatuur op dieselfde manier as wat ons van Jesus se bediening in die Evangelies lees nie. Anders gaan ons die pot heeltemal mis sit. Openbaring het ook sy eie literatuursoort. Ons noem dit ‘n Apokalips. Die boek Daniël is ook ‘n Apokalips. ‘n Apokalips is ‘n profeet se drome en visioene wat ‘n openbaring gee wat van God afkomstig is. Daarom word dit in ons Bybels “Openbaring” genoem. Want dit is ‘n openbaring, ‘n stel idees en nuwe dinge, wat God aan die skrywer gegee het. Gewoonlik het hierdie openbarings te doen met die dinge wat in die verlede gebeur het, sodat die teenwoordige tyd, waar ons nou sit, gesien kan word deur daardie lens. So in ander woorde, die verlede se effek op ons toekoms. Dis ‘n profesie om mense te waarsku en te bemoedig binne ‘n tyd van krisis. Die skrywer, Johannes, van Openbaring vertel ook dat dit wat hy skryf in lyn is met die Ou Testamentiese tradisie van Profete en bring in sy skrywe hulle werke tot ‘n klimaks. So, Openbaring is dan die finale hoofstuk van Profesieë. In moderne taal, as jy van TV reekse hou, kan openbaring gesien word as die finale seisoen van ‘n reeks.
Openbaring is geskryf en gerig aan werklike mense wat Johannes persoonlik geken het. Dis geskryf as ‘n omsendbrief wat na klomp verskillende gemeentes van die tyd gestuur is. So dis dan nie verbasend dat Johannes in hoofstuk 1 begin deur die brief te rig aan die 7 gemeentes in die antieke Romeinse provinsie van Klein-Asië. Nou, Johannes gebruik nie sommer lukraak die getal 7 nie. Dis ‘n baie spesiale getal, veral in die Christelike tradisie. Dis ‘n volmaakte getal, ‘n getal wat daarop dui dat iets voltooi is. Daar is klomp sulke spesiale getalle in die Bybel, soos 3 (God drie enig), 7 (volmaakte getal, 7 dae in ‘n week), 40 (40 jaar in die woestyn en 40 dae van vloed), en nog ‘n paar ander. Maar hier verkies Johannes om stil te staan by die getal 7. Reg deur Openbaring word hierdie getalle gebruik op ‘n baie simboliese en profetiese manier. Die getal 7 is oral reg deur Openbaring ingeweef en is so intiem deel van die hele storie.
Nou met hierdie opening en inleiding wat Johannes in die eerste paar verse van Openbaring skryf, gee hy vir ons ‘n goeie riglyn oor hoe ons Openbaring moet lees en hoekom dit vir ons belangrik is. Joodse Apolalipse kommunikeer boodskappe deur klomp verskillende simbole en getalle. Dis nie een of ander abstrakte geheime kode wat ‘n mens moet probeer ontsyfer nie. Dis nie ‘n weggesteekte, verborge kodeks wat die datum van die einde van die wêreld vir ons probeer gee nie. Nee. Eintlik, hierdie is simbole en getalle in Openbaring, wat van die Ou Testament af kom, en die skrywer verwag van die lesers (dis nou ook ons), om te gaan op soek wat hierdie simbole nou beteken deur die tekste waarna hy verwys te gaan opsoek. En ook, omdat Openbaring ‘n brief is, beteken dit dat Johannes die konteks en omstandighede van die gemeentes aan wie hy skryf aanspreek. Dis baie soos beide Paulus en Johannes se briewe wat ook spesifieke gemeentes se omstandighede en konteks aanspreek. So alhoewel Openbaring vreeslik baie te sê het vir ons as Christene van later generasies, moet die boek se betekenis wel geanker bly binne die historiese konteks van Johannes se tyd, plek en gehoor. Wag, so wat is Openbaring nou? Is dit ‘n Apokalips? Is dit ‘n Profesie? Of is dit ‘n Brief? Want ons het ou al drie gehoor. Dis eintlik al drie.
Openbaring bestaan uit verskeie literatuursoorte, of genres, elk wat belangrik is om te verstaan wanneer die historiese konteks in ag geneem word. Die verskillende genres is apokalipties, profesie, en natuurlik ook ’n brief. So kom ons gaan in bietjie meer diepte. As ons ‘n hele preekreeks oor Openbaring gaan hê is dit regtig belangrik dat ons ‘n goeie inleiding het oor wat Openbaring nou eintlik is.
Die eerste en mees bekende genre waarvan ek seker is ons almal al gehoor het, is ‘n apokalips. Die eerste Griekse woord binne Openbaring kan direk vertaal word na ‘apokalips’. In die konteks van die outeur, Johannes, het hierdie term eenvoudig beteken dat dit iets wat geheimsinnig is, of weggesteek is, ontbloot, baie soortgelyk aan om ’n gordyn weg te trek. So Johannes steek nie dinge weg in Openbaring nie, hy probeer dit duidelik maak in terme van wat reeds in die Ou Testament geskryf is. Nog ‘n ding wat die apokalips genre uniek en effektief maak is die verwysing na vorige profesieë, waarvan ons ook nounet gepraat het. Hierdie is nie gedoen as gevolg van ’n gebrek aan oorspronklikheid nie, maar eerder om die werke van God se getrouheid te illustreer, sodat daar meer outoriteit aan die skrif kan wees.
Die tweede genre is ’n profesie. Die tweede sin van die boek verwys na die geseëndheid van die mense wat hierdie ‘profesie’ lees. Hierdie profesieë handel oor God se woord vir hulle eie dag en tyd. So dit sal dan onverantwoordelik wees om hierdie boek as ’n toekomstige profesie, wat slegs oor die eindtye handel, te lees, juis omdat dit nie die oorspronklike doel van die skrywer was nie. Maar, dit beteken nie dat die teks totaal en al onrelevant is vir vandag se tye. Ons moet net al hierdie dinge in ag neem.
Die laaste genre van Openbaring is ‘n brief. Die inleidingsparagraaf is in die tipiese styl van ’n brief geskryf, baie soortgelyk aan Johannes se ander briewe wat in die Nuwe Testament voorkom. Die brief se besprekings is gerig aan die spesifieke omstandighede waarin die verskeie groepe mense wat in die brief genoem word, hulself bevind.
Openbaring is geskryf om die gelowiges te help om hul geloof te versterk, om hulle voor te berei vir ‘oorlog’ teen anti-christelike magte, en ook om getuies van God te wees.
Dit bring ons dan by die eerste afdeling van Openbaring: Hoofstuk 1-3. Dit is Jesus se boodskap aan die 7 kerke. Johannes is na die eiland van Patmos verban. Daar het hy ‘n visioen van die opgestane Jesus as Koning van die heelal gesien. In hierdie visioen het Jesus gestaan saam met 7 brandende ligte, so Johannes vertel dan dat hierdie ‘n simbool is vir die 7 kerke in Klein-Asië. Hierdie kerke is Efese, Smirna, Pergamum, Thiatira, Sardis, Philadelphia en Laodicea. So in hierdie gedeelte begin Jesus om die probleme aan te spreek wat by elk een van hierdie sewe gemeente teenwoordig was.
Ons het mos vroeër gesê dat Openbaring ‘n brief is, en ons het ook gepraat oor hoekom die literatuursoort en konteks belangrik is. Maar hoe weet ons dat dit ‘n brief is, en nie dalk ‘n uitgebreide gedig, of ‘n lied nie? Want, die begin van die boek stem ooreen met die tipiese skryfstyl van ‘n brief van die eerste eeu. Ons kan hier spesifiek na vers 4 tot 6 kyk. Dit begin met die naam van die skrywer, die name van die ontvangers, die groet, en laastens die dankseggingsgebed. As ons vandag briewe skryf is dit baie soortgelyk, maar die volgorde verander so bietjie. Dink aan wanneer jy ‘n epos skryf. Hier begin jy mos met die naam van die persoon aan wie jy skryf (“Beste Pieter”, of “Hi Pieter”), dan die groet (“Ek hoop dit gaan goed” of “Hoe gaan dit?”), dan nadat jy die inhoud geskryf het ‘n tipe van dankseggingsgebed (“Vriendelike groete”, of as jy nie van die persoon hou nie, skryf jy net “groete”), en laastens jou naam. Al vier elemente van ‘n brief is steeds daar, maar dis net in ‘n ander volgorde.
Dan is ons volgende vraag: wat maak hierdie gedeelte in die brief spesiaal? Wat is dit wat vers 4 tot 8, wat ons vanoggend gelees het, uniek maak? Hier in Openbaring is dit uniek dat daar ‘n Trinitariese groet is. So, met ander woorde God, die Gees en Christus word almal hier genoem. Dis ‘n tipiese seëngroet wat die kern van die Evangelie bevat. Dit is natuurlik: Genade en Vrede. Onthou, die groet waarvan ons hier in vers vier lees kom nie van die skrywer af nie. Dit kom nie van Johannes nie. Dis ‘n onverdiende geskenk wat van God af kom. God alleen is die waarborg van die gemeente. God alleen gee aan die kerk sy stabiliteit en stutkrag. Die inhoud van hierdie groet aan die begin van Openbaring is aansienlik meer gelaai as wat dit voorkom.
Maar binne in die groet waarvan ons nou praat is daar iets anders. Johannes praat van die sewe Geeste voor God se troon. Onthou wat ons vroeër gesê het oor die getal 7. Dis ‘n volmaakte getal. ‘n Voltooide getal. Dis ‘n aanduiding van die volle werksaamheid van die Gees wat ten volle in sy gemeente werksaam is, wat hulle wil troos, versterk en in sy diens stuur. Die Gees omring dan die kerk op ‘n vernuwe manier en motiveer die lidmate, ook ons, tot aksie. Om iets te doen. En dan lees ons ook dat die groet van Christus af kom, die Een van wie die hele boek getuig. Christus wat in die middel van die hemeltroon, in die middelpunt van die heelal staan. Dan, in die volgende paar verse, word daar drie dinge van Christus gesê.
Nommer een: Christus is die “betroubare getuie”. Getuie vir die waarheid, soos in Johannes 3, wat met sy word en sy lewe instaan vir die waarheid, soos in 1 Timoteus 6, en so die triomf van die waarheid oor die leun, van die lig oor die duisternis, waarborg, soos in Johannes 1. Nommer twee is “Heerser oor die konings van die aarde”. God bevestig sy geloofwaardigheid as Hy Christus opwek uit die dode. Dis ‘n manier om te wys dat God nie in ons boksie geplaas word waar ons vasgevang is tussen lewe en dood nie. Nee, God se heerskappy, sê Johannes in Openbaring, is verhewe bo enige menslike vorm van mag. En dan nommer drie is Here van die gemeente. Dit gaan oor die almag van God se liefde.
Openbaring is vir ons as gelowiges eintlik ‘n boek van troos, aansporing en bemoediging. Nou, in die konteks van die tyd toe Openbaring geskryf is, het die gelowiges vreeslik swaar gekry as gevolg van Romeinse oorheersing en vervolging. So hoekom was hulle vervolg? Want, binne die Griekse kultuur van politeïsme, wat die aanbidding van klomp verskillende gode is, en ook die gebruik van keiseraanbidding, teenoor die Jode wat net een God aanbid, was daar geweldige vervolging en druk onder die Jode.
Daar was so baie dinge wat in daardie tyd in die wêreld aan die gang was. Mense was doodgemaak, weggestuur, verban, hulle moes hulle geloofs-identiteit wegsteek sodat hulle nie vervolg word nie! Dis geen wonder hulle het soms gevoel asof die hele wêreld tot ‘n einde kom nie! Dis geen wonder hulle het soms gevoel asof niks sin maak nie! So wat doen Openbaring dan binne hierdie deurmekaar wêreld? Openbaring wil sê dat die hele wêreld in God se hande is. Wie trou aan God bly en God bly volg, sal die oorwinning in Christus smaak. Jesus is die eersgeborene uit die dood.
Openbaring speel af tussen Jesus se eerste en tweede koms. Dit kyk terug op die eerste koms, en spel uit wat Christus vir die gelowiges gedoen het en vandag nog doen. Dis ‘n manier om alles te wys wat tussen die begin en die einde gebeur. Eerste en laaste. Soos die woordeboek se letter A en letter Z.
Ons lewens bestaan uit ‘n hele reeks eindes en begin. Elke ding wat gebeur is soms vreugdevol en soms met hartseer. Daar is eindes en beginne wat kom wanneer enkellopende mense kies om ‘n nuwe lewe saam in die huwelik te begin. Daar is eindes en beginne wanneer paartjies kinders het; wanneer gesinne daardie kinders vir doop bring, sekerlik een van die mees diepgaande simbole van eindes en begin. Daar is die eindes en begin van gradeplegtigheid, bevorderings en oorplasings; en daar is vir ons almal die einde van hierdie sterflike lewe en die verwagte begin van ‘n ewige lewe saam met Christus Jesus, onse Here. En as mens mooi daaroor dink, gebeur al hierdie dinge binne die verskillende openbarings wat ons in ons lewens kry, of deur middel van ‘n woord wat ons van God ontvang (die definisie van ‘n profesie), of ons ontvang hierdie inligting van beginne en eindes binne ‘n brief. Maar die dinge wat eintlik saak maak, is alles wat in die middel gebeur, tussen die begin en die einde, net soos wat die boek Openbaring maak.
Sulke eindes en begin is nie net persoonlike gebeure nie. Regoor die wêreld sien ons die ineenstorting van regeringstelsels en die opkoms van nuwes. Vir al hierdie is daar ‘n begin en ‘n einde. Ons geloofslewe word ook deur sulke begin en eindes beheer.
Christus is die getroue getuie, die eersgeborene van die dooies en die owerste van die konings van die aarde. Christus is heerser van sy koninkryk. Christus roep ons nou om priesters in daardie koninkryk van God te wees. Omdat Christus ons Koning is, word ons geroep om te dien totdat Hy in heerlikheid terugkeer om die koninkryk op te eis wat syne is. In die begin en eindes van ons alledaagse lewe – geboortes, huwelike, doop en sterftes, merk ons die verbygaan van die eeue totdat die koning terugkeer. In sulke eindes en begin van ons lewens word ons geroep om getroue getuies te wees van ‘n skeptiese wêreld dat die koning weer sal kom ten spyte van al ons twyfel.
Dink bietjie oor jou eie lewe. Openbaring vertel van alles wat tussen die begin en die einde gebeur. Die middel. Waar ons nou is. Waar is jy nou? Het jy ‘n openbaring van God nodig? Vir watter openbaring wag jy? Het jy nou ‘n profesie van God nodig? ‘n Wood van God wat jou in jou omstandighede sal help? Watter profesie het jy nou nodig? En laastens, Openbaring is geskryf binne ‘n tyd van vervolging. Dis ook geskryf met baie getalle en metafore. Watter vervolging, metafories of letterlik, ervaar jy nou in jou lewe? En hoe kan God jou daardeur help?
Openbaring is ‘n apokalips, ‘n profesie en ‘n brief. Dit is ‘n boek wat vertel van wat in die verlede gebeur het, wat die toekoms inhou in terme van die verlede, en wat dit wat nou gebeur in terme van die verlede en die toekoms vertel. Openbaring vertel van God se heerskappy binne tye van vervolging, van die begin, tot die einde, en ook die hede, omdat ons onsself hier en nou in die hede bevind. Openbaring is ook ‘n boek van troos, aansporing en bemoediging, en doen dit alles deur getalle en metafore te gebruik in terme van wat die Ou Testamentiese profete geskryf het. Dit is die finale hoofstuk van die profesieë.
Amen.