Lukas 11:1-13 - Leer ons Bid

Skriflesing (Lukas 11:1-13)

1Op ‘n keer het Jesus op ‘n sekere plek gebid, en toe Hy klaar was, het een van sy dissipels vir Hom gesê: “Here, leer ons bid, soos ook Johannes sy dissipels geleer het.” 2Hy het vir hulle gesê: “Wanneer julle bid, moet julle sê,” ‘Vader, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. 3Gee ons elke dag ons daaglikse brood 4en vergeef ons ons sondes; want ook ons vergeef elkeen wat teenoor ons skuldig staan. En bring ons nie in versoeking nie.’ ” 5Hierna het Hy vir hulle gesê: “Gestel een van julle het ‘n vriend, en hy gaan om middernag na hom en sê vir hom, ‘Vriend, leen tog vir my drie brode, 6want ‘n vriend van my wat op reis is, het by my aangekom en ek het niks om vir hom voor te sit nie.’ 7En daardie man antwoord van binne af, ‘Moet my nie pla nie! Die deur is al gesluit, en ek en my kindertjies is al in die bed. Ek kan nie opstaan om dit vir jou te gee nie.’ 8Ek sê vir julle, selfs al staan hy nie op om dit vir hom te gee omdat hy sy vriend is nie, sal hy tog opstaan en vir hom gee wat hy nodig het, omdat die man so onbeskaamd aanhou. 9Ek sê vir julle: “Vra, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal vind; klop, en vir julle sal oopgemaak word. 10Want elkeen wat vra, ontvang; en wie soek, vind; en vir wie klop, sal oopgemaak word. 11“Watter vader onder julle sal, as sy seun hom ‘n vis vra, hom ‘n slang in plaas van ‘n vis gee? 12Of as hy ‘n eier vra, vir hom ‘n skerpioen gee? 13As julle wat sleg is, dan weet om goeie geskenke aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal die hemelse Vader die Heilige Gees gee aan hulle wat Hom vra!”

 

 

Preek

“Here, leer ons bid”. Dis seker een van die treffendste vrae wat een van Jesus se dissipels kan vra. Leer ons bid. Nou, as ‘n mens so van die kantlyn af kyk, dan sal mens seker dink “ag kom nou man. dis mos nie so moeilik om te bid nie! Dis net om met God te gesels!”, maar hoe meer mens daaroor dink, hoe meer begin ‘n mens die dissipels se frustrasie verstaan.

Ek het al van ‘n hele paar dominees gehoor wat eerstehands vir my vertel het dat hulle sukkel om te bid. Dat hulle dit nie reg kry om te bid nie. Dat dit moeilik is. Ek was al by menigte huisbesoeke gewees waar mense vir my vertel hoe hulle sukkel om te bid. Partykeer is dit moeilik. Nee, baie keer is dit moeilik. Dinge gebeur in die lewe. Kanker, ongelukke, dood, siektes; dis alles dinge wat in die lewe gebeur wat ons hele raamwerk omkeer. Dan weet ons nie wat om volgende te doen nie. Ons weet nie waarheen om te draai nie. En as ons probeer bid, dan voel dit vir ons asof God nie luister nie. Dan voel ons eensaam en verwerp.

 

So, hierdie eenvoudige vraag van een van Jesus se dissipels wat wil weet hoe om te bid, is baie meer gelaai as wat ons dink. Om te bid. Die Griekse grondwoord wat hier gebruik word is προσεύχομαι (proseuchomai). Dit beteken letterlik “om met God te praat of om versoeke van God te maak”. In sommige tale is daar ‘n aantal verskillende terme wat vir gebed gebruik word, afhangende van die aard van die inhoud, byvoorbeeld versoeke om materiële seën, pleidooie vir geestelike hulp, voorbidding vir ander, danksegging en lofprysing. Daar kan ook belangrike onderskeidings wees op grond van dringendheid en behoefte. Die mees generiese uitdrukking vir gebed is dalk bloot ‘om met God te praat.’

So nadat Jesus hierdie vraag ontvang het, wat doen hy? Wat is sy antwoord? Seker die mees bekende gebed in die hele wêreld: Die Onse Vader gebed. Wat ons ook moet onthou is dat hierdie nie die eerste keer is wat die dissipels Jesus hoor bid nie. Ons lees ook in Lukas 9:18 en 28 van Jesus wat bid. So, hier is nie twyfelvrae oor die waarde van gebed of oor God se getrouheid om ons te hoor nie. Hier is gretige leerlinge wat reeds iets van die waarde van gebed in Jesus se lewe eerstehands beleef het. Hulle is begerig om soos Hy te leer bid. Hulle het reeds die gereg geniet, nóú wil hulle die geheime resep leer.

 

Die meeste van ons kies om ‘n kerk of ‘n Bybelstudie of ‘n klein groepie by te woon omdat ons daar goed voel. Ons voel die teenwoordigheid van God. Ons voel versorg. En tog, in byna elke Christelike byeenkoms, is daar ‘n oomblik wat vrees in elke mens se hart tref. Nee, dit is nie wanneer ons die dankoffer bordjie verbysteek nie. Dalk ook nie wanneer daar gesê word “draai na die persoon langs jou en groet hulle” nie. Dit is wanneer iemand sê: “Wie wil vir ons bid? Ek gaan ons net oopmaak met gebed, en dan bid elkeen van julle ’n gebed soos julle gelei voel.”

 

Nou hier kom daar ‘n baie interessante stukkie voor. Elke Evangelieskrywer het vir ‘n spesifieke gehoor geskryf. Met ander woorde: Matteus, Markus, Lukas en Johannes, die skrywers, het almal vir ‘n afsonderlike spesifieke groep mense geskryf. En dit maak dat die Evangelies vir ons soveel meer kan beteken, dat ons soveel meer waarde daarby kan kry. Party mense sien sulke dinge wat nie ooreenstem nie as hinderlik vir hulle geloof, maar ek sien dit nie so nie. As ons te veel op die historiese akkuraatheid van die Evangelies fokus en nie genoeg aandag aan die kern boodskap daarvan gee nie, dan kan ons baie maklik die punt mis. Byvoorbeeld: Matteus en Lukas stem nie 100% ooreen by hierdie gebeurtenis nie. Lukas skryf namens die gemarginaliseerde lede van die vroeë Christelike gemeenskap: die verarmdes, die siekes en vroue. In geen ander Evangelie is Jesus meer intiem betrokke by daardie lede nie. Een eenvoudige voorbeeld illustreer hierdie: Matteus se gehoor, die mense vir wie hy skryf, alhoewel hulle beslis deur die Romeinse besetting onderdruk word, het Matteus heel moontlik gevoel dat hulle meer op die geestelike aspekte moet fokus: “Geseënd is die armes van gees” (Matt 5:3). Maar, Lukas skryf net: “Geseënd is die armes” (Luk 6:20). En dan ook vind dieselfde preek wat Jesus in Lukas gelewer het nie op ‘n berg plaas nie, maar op ‘n vlakte. So daar is verskille tussen die Evangelies, ja, maar dis nie die punt nie! Die punt is wat Jesus vir ons wil leer, nie noodwendig waar of wanneer dit plaasgevind het nie.

 

So kom ons kom terug by vanoggend se teks. Lukas bevat nie die volledige Onse Vader gebed nie. Matteus bevat wel die volledige gebed. Dis nie omdat een beter is as die ander een nie. Dis maar net omdat hulle vir aparte groepe mense, aparte teikengehore geskryf het. Ek hou daarvan om te dink dat dit dalk een van die Here se maniere is om ons te leer dat die Evangelie nie vir ‘n spesiale sosiale groep geskryf is nie, maar vir almal wat dit lees. Ons moet hierdie verskille omarm! Nie net die verskille tussen ons mensegroepe nie, maar ook die verskille wat ons in die Evangelies lees omarm! Ons kan soveel oor God se genade en liefde op hierdie manier leer.

 

Maar kom ons kom terug by die hele konsep van gebed. Jesus wat ons leer hoe om te bid. Gebed trek ons in gemeenskap met hierdie lewende God in. Gebed, soos Jesus dit vir ons leer, help ons in die regte verhouding met hierdie God leef. Dissipels leef so dat ons lewens God se Naam Heilig en God se koninkryk laat kom. Dissipels leef van die brood wat uit die hand van God kom, en ook vanuit die vergifnis en bewaring wat God gee en moontlik maak. So word ons mense wat self brood gee, self vergewe en self ander se laste dra en bewaring van ons naaste moontlik maak.

 

Wat leer Jesus ons hier oor die Vader? Nie dat ons sy arm kan draai deur volhardende gebed, deur knaend te wees en aan te hou vra nie, maar bloot dat ons met vrymoedigheid ons nood na Hom kan bring.

 

Ons leer dit eerstens uit die gelykenis van die onbeskaamde vriend wat in die middel van die nag hulp vra. Hy kry hulp, omdat sy vriend nie kans sien vir die gevolge as hy nie help nie. Dit staan in skrille kontras met wie God is. God se arm hoef nie gedraai te word nie.

 

Ons kan hierdie prentjie van God ter harte neem. God is meer vrygewig as wat ons ooit kan dink. Hy is meer gereed om aan ons te gee wat ons vra, soek of voor klop. In elk geval baie meer as wat ons dit van aardse pa’s kan verwag. Die gawe van die Heilige Gees – God self – bewys dat Hy niks terughou wat goed is vir ons nie. Daarop kan ons vertrou. Met ander woorde, God leer vir ons dinge. God leer ons om nie net passief te bid nie, maar om aktief te bid. Jesus leer ons om nie net ‘n rympie op te sê nie, maar om letterlik sy voorbeeld te volg.

 

Toe ek ‘n student was het ek saam met ‘n groep mense Lesotho toe gegaan om meer te leer by die mense daar. Die meeste van die tyd het ons spandeer om in die mielielande te werk en mielies te pluk. Stadig maar seker het ons meer en meer begin verstaan hoe hierdie boerdery besigheid werk, hoe die mielies geplant word, en ook hoe ons die mielies moes pluk. Ons moes stelselmatig ry vir ry afgaan in die landerye, mielies pluk, dit afskil, in ‘n sak gooi en die mielieplant af trap sodat dit kompos vir die land kan word. Soos wat tyd aangeloop het, het ons stelsels begin uitwerk van wat die mees effektiewe manier sou wees om hierdie daaglikse taak te voltooi. So ons het in spanne verdeel. Sommige van ons het mielies gepluk en die plante afgetrap, waarna ons die mielies op ‘n hoop gegooi het, en ander van ons het op die grond gesit en mielies afgeskil en in sakke gegooi. Dit was werklik ‘n belewenis gewees om so op grondvlak die handearbeid te doen wat op die ou end mieliemeel vervaardig. Ons het nie gegaan as ‘n “uitreik” nie, maar eerder as ‘n “inreik”. So ons het nie gegaan om mense te gaan help nie. Nee, ons het Lesotho toe gegaan om te leer by die mense wat reeds deel is van ‘n program wat hulle help. Ons wou by hulle leer. En ons het baie by hulle geleer. Ek dink die grootste epifanie wat ek in Lesotho gehad het was een van afhanklikheid. Hoe afhanklik ons van God is.

 

Vir die eerste drie aande het ons in die berge van Lesotho in hutte geslaap. Dit was ongelooflik koud gewees. Wanneer die son ondergaan het dit pikdonker geraak. Die berge rondom ons het al die lig van die maan geblok en gemaak dat ek nie eers my hand voor my kon sien nie. Maar die sterre was iets ongeloofliks gewees. Dit het ook gesneeu terwyl ons op die berge was. Iets van daardie situasie het my laat besef dat as dit nie vir die vrugbaarheid van die lande rondom ons was nie, as dit nie vir die sonlig was nie, as dit nie vir die reën was nie, sou die mense wat hier so afgesonder is glad nie kon oorleef nie. Boonop sou hulle nie ons groep mense kon huisves nie. Toe ons so afgesonder van die moderne wêreld was, dink ek het die meeste van ons opnuut besef dat ons God se daaglikse voorsienigheid dikwels miskyk en nie altyd besef hoe afhanklik ons is nie. “Gee ons elke dag ons daaglikse brood” – vers 3. Dis hoe die 202 vertaling dit vertaal. Dit skep ‘n ander beeld as “gee ons vandag ons daaglikse brood”. Dis nie ‘n enkele gebeurtenis nie. Dis voortdurend. Ons bid vir die voortdurende afhanklikheid van God.

 

Ek dink die punt wat ek met hierdie storie wil maak is dat ons gebede nie net ons is wat met God praat nie, maar ons wat ook met God se wêreld praat. Binne God se skepping. “Laat u Koninkryk kom” lees ons in vers 2. Matteus gaan nog verder met sy vertelling van die Onse Vader. Hy skryf “Laat U koninkryk kom, laat U wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde“. So ook op die aarde. Wanneer ons bid, is dit dus nie net altyd tussen jou en God nie. Dit is ook, moet my nie verkeerd verstaan nie, maar dis ook om ons te motiveer om hande en voete op hierdie aarde, binne God se skepping te wees sodat God se liefde en genade deur ons in ander mense se lewens bewerkstellig kan word. En hoe weet ons dat dit dalk een van die doele van Jesus se gesprek met die dissipels is? Ons lees eksplisiet in Matteus van God se koningkryk wat beide in die hemele en op aarde gevestig word, maar in Lukas ontbreek dit. Hoekom? Is dit dan nie vir Lukas belangrik nie? Wel, as ons bietjie verder lees, dan kom ons agter dat God se wil en koninkryk op aarde net so belangrik vir hom is, selfs al noem hy dit nie eksplisiet nie. Hy vertel hoe Jesus ‘n storie gebruik om die belangrikheid van hierdie hande en voete wat ons moet wees, te illustreer. Kom ons lees weer verse 5 tot 10:

 

5Hierna (dis nou nadat die Onse Vader gebed verduidelik is) het Hy vir hulle gesê: “Gestel een van julle het ‘n vriend, en hy gaan om middernag na hom en sê vir hom, ‘Vriend, leen tog vir my drie brode, 6want ‘n vriend van my wat op reis is, het by my aangekom en ek het niks om vir hom voor te sit nie.’ 7En daardie man antwoord van binne af, ‘Moet my nie pla nie! Die deur is al gesluit, en ek en my kindertjies is al in die bed. Ek kan nie opstaan om dit vir jou te gee nie.’ 8Ek sê vir julle, selfs al staan hy nie op om dit vir hom te gee omdat hy sy vriend is nie, sal hy tog opstaan en vir hom gee wat hy nodig het, omdat die man so onbeskaamd aanhou. 9Ek sê vir julle: “Vra, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal vind; klop, en vir julle sal oopgemaak word. 10Want elkeen wat vra, ontvang; en wie soek, vind; en vir wie klop, sal oopgemaak word.

 

Jesus praat nou oor mense. Tasbare mense. Nie metaforiese mense nie. Die rol van hierdie gelykenis is om die gebed van die Onse Vader aan te moedig met die vertroue dat God, terwyl ons ons behoeftes voor Hom neerlê, positief op ons versoeke sal reageer. Vriende kom vir ons deur en help ons ten spyte van ongerief vir hulself, en soms ten spyte van gemengde motiewe vir hul goedheid. Hoeveel te meer kan ons vol vertroue wees dat God vir ons sal deurkom. Kom julle agter wat Jesus hier doen? Hy gebruik nou ook mense se aksies as die voorbeeld van hoe om te bid en hoe ons mekaar hanteer. Hoe ons God se koningkryk hier en nou kan laat geskied.

 

Daar is iets binne elkeen van ons wat ons in die rigting van God trek. Daar is ‘n God-vormige leë plek in ons wat met niks minder as God tevrede sal wees nie. Dikwels soek ons lewe op al die verkeerde plekke, net om te ontdek dat wat Augustinus gesê het waar is, “U het ons vir Uself gemaak o God, en ons harte is rusteloos totdat hulle hul rus in U vind.”

 

God het ons die gawe van gebed gegee as die primêre middel waardeur ons verbinding met God maak en ons wortels in die sin van die lewe stuur. Dit is duidelik dat Jesus ‘n man van gebed was. Hy was in staat om die merkwaardige dinge te doen wat Hy gedoen het net omdat Hy ingeskakel was by die bron van betekenis en krag in die lewe. En dis natuurlik God. Gebed is waar daardie kontak plaasgevind het. Jesus het aansienlike blokke tyd in intieme kontak met God deurgebring deur gebed. In gebed was Jesus stil en stil en het Hy die “Godheid” van God ervaar. Hy het sy lewe oopgemaak vir die bries van God se Gees. Hy het daagliks volgens gewoonte gebid. Maar veral wanneer Hy ‘n besluit gehad het om te neem, ‘n moeilike taak om te doen, of ‘n kruis om die hoof te bied, sou Hy eers tyd saam met God in gebed deurbring, en dan gaan doen wat Hy moes doen. Die dissipels het geweet dat gebed die bron van Jesus se krag was. Daarom het hulle Hom gevra: “Here, leer ons hoe om te bid.” Vandag is dit ook onsversoek.

 

As jy die Evangelies lees sal jy sien dat Jesus nie veel in lang gebede geglo het nie. Sy modelgebed, die Onse Vader, is regtig baie kort. En hy het diegene berispe wat gedink het dat hulle verhoor sou word omdat hulle lang gebede gebid het. Nee, Jesus het nie in lang gebede geglo nie, maar Hy het wel in ander tipe lang gebede geglo. Hy het soms dae, selfs weke in gebed deurgebring. Maar die meeste van daardie tyd het Hy in stilte deurgebring en God toegelaat om sy gees te vorm en sy lewe te vorm.

 

Dink aan God as teenwoordig, werklik teenwoordig, so werklik soos enige van die materiële dinge in jou teenwoordigheid. Sommige mense plaas ‘n stoel naby en stel God voor as in die stoel. Hier voor my staan ‘n kers wat brand. Doen wat jy ook al moet doen om aan God as werklik teenwoordig te dink.

 

Dit kan ook hulpvaardig wees om iets te lees om jou te help inskakel. Gebed is afskakel by jouself, en inskakel, of aanskakel by God. Die Skrif is goed, miskien iets uit die Psalms, of een of ander oordenkingsmateriaal. Poësie kan ook soms help. Dit is ons manier om die hindernisse tussen ons en God af te neem, ons te help om ons aandag te fokus en ons beskikbaar te stel vir God.

 

En dan ook, wees eerlik. Martin Luther se eerste reël van gebed was: “Moenie vir God lieg nie!” ‘n Groot struikelblok tot die werklikheid in gebed is dat ons geneig is om buite onsself te staan en te wonder hoe ons vir God lyk en klink. Ons probeer ‘n “gebedstaal” vervaardig wat vir ons klink soos ons dink ‘n gebed moet klink. Die feit is, God gee nie om hoe ons klink nie. Hy wil net hê ons moet onsself in Sy teenwoordigheid wees – om werklik te wees – sodat Hy ons kan liefhê en vir ons kan gee wat ons nodig het. God wil jou in gebed ontmoet, nie een of ander vrome beeld van jouself wat jy probeer uitdra nie. God het ons lief net soos ons is, daarom is ons vry om te wees wie ons is in gebed. So, wees opreg, wees eerlik.

 

“Here, leer ons bid, soos ook Johannes sy dissipels geleer het.”. Here, leer ons bid. Nie dominee leer ons bid nie, nie iemand anders nie. Here, leer ons bid. En hoekom kan ons die vrymoedigheid hê om dit vir God te vra? Want, vers 10, “elkeen wat vra, ontvang”.

 

Amen.