Skriflesing (Klaagliedere 1:1-6)
Eerste treurlied: Die verlate stad
ALEF
1 Ag, hoe verlate lê die stad wat vol mense was. Sy het soos ‘n weduwee geword, sy wat magtig was onder die nasies. Die prinses onder die provinsies, verrig dwangarbeid.
BET
2 Bedroef huil sy snags, die trane stroom oor haar wange. Daar is niemand onder haar geliefdes wat haar troos nie. Al haar vriende het haar verraai en haar vyande geword.
GIMEL
3 Gebuk onder lyding en geweldige onderdrukking, het Juda in ballingskap gegaan, Sy bevind haar onder die nasies; sy vind gee rus nie. Almal wat haar agtervolg, het haar in haar benoudheid ingehaal.
DALET
4 Die paaie na Sion treur, want niemand reis na haar feeste toe nie; al haar poorte is verlate, haar priesters sug. Haar jong meisies is bedroef, en self het sy dit bitter.
HE
5 Haar teenstanders het die oorhand gekry; haar vyande lewe rustig, want die HERE het haar laat ly, omdat sy soveel keer oortree het. Haar kinders moes as ballinge voor teenstanders uit loop.
WAW
6 Weg is al die luister van die dogter van Sion. Haar leiers het soos rooitakbokke sonder weiding geword, kragteloos het hulle voor hulle agtervolgers uit gevlug.
Preek
Ons het al vroeër oor Jeremia gesels. Klaagliedere is mos die klaagliedere van Jeremia. Wie was Jeremia? En hoekom skryf hy hierdie klaag-gebede? Wat het hom so ontstel?
Jeremia was ‘n Israelitiese priester wat geleef en gewerk het in die laaste paar jaar van die bestaan van die koninkryk van Judea. Die koninkryk van Judea het in 589 v.C. tot ‘n einde gekom toe Nebukadneser II die gebied beleër het. So baie van wat ons in Jeremia lees, het plaasgevind voor Judea se val. Klaagliedere, aan die ander kant, is geskryf na 586v.C, nadat die tempel vernietig is (soos Jeremia die volk gewaarsku het gaan gebeur). Nou, Jeremia is geroep om die Israeliete te waarsku oor die gevolge van hulle aksies omdat hulle hulle verbond met God verbreek het. Hy het self gesê dat Babilonië sal kom as gevolg van hulle optrede. Dis alles goed wat wel gebeur het waarvan ons ook in 2 Konings 24-25 lees. Nou, die manier hoe hierdie boek tot stand gekom het is nog ‘n interessante storie. Arme ou Jeremia was vir 20 jaar daar in Judea gewees toe God vir hom gesê het dat hy al sy preke, gedigte en ander denke bymekaar maak en dit neer pen. Ons lees daarvan in hoofstuk 36 van Jeremia. So, hy kry toe iemand om alles vir hom neer te skryf soos wat hy dit alles mondelings vertel. Die gevolg hiervan is dat hierdie skrywer van Jeremia, Barug, dit neergepen het as ‘n versameling van skrywe, ‘n versameling van verskillende gedagtes wat Jeremia gehad het. Interessant genoeg, daar is ook ‘n Boek van Barug in die Apokriewe versameling van die Deutero-kanoniese boeke. Maar kom ons kom terug by Klaagliedere.
Klaagliedere is ‘n unieke boek in die Ou Testament wat deur die tradisies van die tyd aan Jeremia toegeskryf is, maar ons weet eintlik nie wie presies dit geskryf het nie. Dink aan die Psalms. Baie Psalms sê dis ‘n Psalm van David, maar David het nie noodwendig almal geskryf nie. Wat wel gebeur het is dat mense dikwels dinge sou skryf namens iemand anders, terwyl hulle aan iemand dink, of hulleself in daardie persoon se skoene probeer plaas en skryf watter emosies hulle heel moontlik kon ervaar het. Klaagliedere is maar net een sulke voorbeeld. Dit kon dalk deur Jeremia geskryf gewees het, of dit kon iemand gewees het wat naby Jeremia was, of iemand wat Jeremia se emosionele reis probeer uitdruk het en op skrif plaas. Dit gee eintlik soveel meer diepte vir die teks as ons so daaraan dink. Dit maak dit meer opwindend om dit dan te lees! Klaagliedere is dan ‘n poëtiese uitdrukking van die vernietiging van Jerusalem. Die van van Jerusalem was die mees onwaarskynlike en aaklige gebeurtenis in die hele geskiedenis van Israel tot op hierdie punt. Dink bietjie daaraan. God het vi Abraham die land belowe, het vir David oorwinnig gegee om Jerusalem Israel se hoofstad te maak, en van David het die hele monargie van Israel ontstaan, waarvan al die konings af gekom het, God se teenwoordigheid was in die eintste tempel wat vernietig is! Onthou, hierdie was alles voor die uitstorting van die Gees in Handelinge, so in Israel se koppe en volgens hulle verstaan van God se teenwoordigheid: As die tempel vernietig is, dan is God ook weg, nie meer teenwoordig nie, dan is hulle alleen en eensaam. Dit was traumaties! Probeer bietjie vir jouself indink wat deur hulle koppe moes gegaan het. Na 500 jaar van al hierdie geskiedenis en tradisies, in die somermaande van 586v.C het Babilonië Jerusalem ingeval, die hele stad verwoes, die Israeliete gevangene geneem en hulle weggevoer; hulle was ontvoer.
Klaagliedere is dus ‘n tipe van ‘n gedenkdiens wat neergeskryf is oor Israel en die verwoesting van Jerusalem en die tempel. God wat, volgens hulle verstaan van God, saam met die tempel verwoes is. As ons net bietjie verder lees in vers 13, dan lees ons “Hy [die Here] het my aan verlatenheid oorgelewer” Hulle het werklik geglo dat God, wat volgens hulle in die tempel teenwoordig was, se teenwoordigheid saam met die tempel verwoes is. Dat God hulle verlaat het. Dit was hoe hulle God se teenwoordigheid verstaan het, en ons kan hulle eintlik nie blameer dat hulle so gedink het nie, want daar het soveel aaklige dinge met hulle gebeur! Kom ons lees gou weer vers 1 tot 6. Onthou die geskiedenis waaroor ons sopas gesels het terwyl jy dit lees.
Klaag-gedigte is glad nie uniek aan die Klaagliedere nie. Daar is baie ander plekke in die Bybel waar mense ook sulke gedigte lees. Psalm 10, 63, 69, 74 en 79 is almal Psalms wat ook klaag-gedigte is. Maar hoekom het die mense dan so gekla? Wat was die doel van hierdie gedigte wat baie keer voorkom asof mense net ondakbaar is en die heeltyd moan? Wel, eerstens is sulke gedigte ‘n vorm van protes. Dis ‘n manier om almal se aandag, insluitend God se aandag, te vestig op die aaklige dinge wat met hulle gebeur. Dinge wat eintlik glad nie moet gebeur nie. Hierdie gedigte is ook ‘n manier om emosies te verwerk. Dis ‘n manier hoe mense hulleself kan ontlaai van al hierdie opgeboude angstigheid, woede en ongemak wat binne hulle teenwoordig is. Dis ‘n manier om te vent. Laastens is hierdie gedigte ook ‘n plek om verwarring uit te druk. Hierdie verwarring en lyding forseer ons om vrae te vra en vir ‘n uitweg te soek oor God se karakter en beloftes. En weet julle wat? Nie een van heirdie dinge word op neergekyk in die Bybel nie. Niks. Dis eintlik presies die teenoorgestelde. Hierdie lyding en klaag-gedigte gee ‘n vorm van heilige waardigheid aan menslike lyding. Ek wil dit graag weer sê: Hierdie gedigte van lyding en ander klaagliedere gee ‘n vorm van heilige waardigheid aan menslike lyding. Dit sê ons maak saak, ons emosies is geregverdig, ons mag ontsteld en verward wees en hierdie gevoelens na God toe bring. Hierdie woorde van menslike verwarring het nou deel geword van God se boodskap aan God se mense, juis omdat dit deel van die Bybelse kanon is.
Klaagliedere is nie ‘n baie lang boek nie. Daar is net 5 gedigte daarin, maar elkeen se plasing speel ‘n groot rol in hoe ons dit alles lees. En dis waar ons by die regtige ongelooflike indrukwekkende dele kom. Dis nou die dele wat my vreeslik opgewonde maak. Hoofstukke 1 tot 4 is almal wat ons noem alfabeties akrostiese gedigte. Ons gaan nou daarby stilstaan, want dis nie eintlik iets wat ons baie in Afrikaanse digkuns kry nie. Maar hier kom bietjie Hebreeuse gramatika in, en toe ek die 202 vertaling wat ons vanoggend gelees het met die oorspronklike Hebreeus in my voorbereiding vergelyk het, was ek absoluut verstom gewees in wat die vertalers reggekry het. So kom ons gesels bietjie daaroor.
Eerstens is dit belangrik dat ons net ietsie van die Hebreeuse alfabet verstaan. Die Hebreeuse alfabed begin met die letter “alef”. Dan gaan dit aan met “beit” “gimmel” “dalet” “hei” “waw” “zayin” ensofoorts. Klink dit bekend? Ek hoop so, want in die vertaling het die vertalers die moeite gedoen om hierdie letters se fonetiese spelling by te sit! Net voor elke vers is daar die spelling van die Hebreeuse alfabet. Nou wat is ‘n Alfabeties Akrostiese gedig? My heel eerste erediens wat ek hier op Vaalwater waargeneem het, het oor Psalm 34 gegaan. Dis ook ‘n Alfabeties Akrostiese gedig.
‘n Alfabetiese akrostiese gedig beteken dat elke strofe begin met die volgende letter van die alfabet. In ons Romeinse Alfabet wat ons vandag gebruik is die kronologiese volgorde van letters mos A, B, C, D, E ensovoorts. In Hebreeus is dit anders. In Hebreeus is dit Alef, Beit, Gimmel, Dalet, Hei, Waw, Zayin, Get, Teit, Yod, ensovoorts.
So dis ‘n styl van gedig skryf. Nou dis alles mooi en wel, maar hoekom het die skrywer van hierdie gedig nou juis besluit om dit in hierdie styl te skryf? Hoekom het hy die alfabet gevat en elke strofe met ‘n volgende letter begin? Weereens, dink bietjie aan hoe die wêreld gelyk het in die tyd toe dit geskryf is. Alles was deurmekaar. Die Israeliete was onseker, hulle is weggevoer, alles wat bekend was is weg, hulle tempel is vernietig, die een plek waar hulle God kon aanbid was weg, hulle was bang en angstig. Maar tog was daar altyd hierdie hoop dat God steeds Sy belofte sal nakom. Hierdie klaag-gedigte was mos ‘n vorm van protes, ‘n manier om emosies te verwerk en ‘n manier om van opgeboude angs ontslae te raak. Alles in gesprek met God. So binne hierdie onsekerheid, was daar hierdie klein glimmer van stabiliteit, van hoop, van God. En dis wat hierdie gedig probeer doen in die styl waarin dit geskryf is. Die Hebreeuse alfabet is bekend en het ‘n vorm van orde en stabiliteit. Vier van die vyf gedigte is in hierdie stabiele, bekende styl geskryf. Dis ‘n manier om te sê “Dinge is baie onbekend en vreesaanjaend, maar binne hierdie onbekendheid is daar iets bekends; iets wat orde skep”.
Dan, hoofstuk 5 van Klaagliedere laat vaar hierdie Alfabeties Akrostiese styl heeltemal. So asof om te sê dat alles weer terug gaan na chaos. Maar dis ook ‘n gemeenskaplike gebed vir God se genade. Binne hierdie chaos, kan ons steeds na God toe draai. Binne hierdie onsekerheid, kan ons steeds na God toe gaan en eerlik wees oor wat ons ervarings is.
Wat ons vanoggend in Klaagliedere 1 gelees het is ongelooflik goed vertaal in die 2020 vertaling. Ons het nou gepraat oor wat ‘n akrostiese gedig is, wat die doel van ‘n klaaglied is en hoe hierdie akrostiese gedig Israel gehelp het om hulle eerlikheid en ervarings voor God se voete te plaas. En die vertalers het ‘n ongelooflike werk gedoen deur al hierdie dinge in ag te neem toe hierdie paar verse vertaal is. Het julle al opgelet wat die eerste letter van elke vers is? Het julle die Hebreeuse alfabet-letters voor elke vers opgelet? Vers 1: Alef – “Ag”, 2: Beit – “Bedroef”, 3: Gimel – “Gebuk”, 4: Dalet – “Die”, 5: He – “Haar” en vers 6: Waw – “Weg”. Dis alles doelbewus gedoen! Ek het na die Hebreeus gaan kyk, en mens kan sien dat die vertalers doelbewus sommige van die volgorde van die woorde rondgeskuif het sonder dat die betekenis daarvan weg gaan.
Ek het ook na die 83′ vertaling gaan kyk, en opgelet dat die Hebreeuse alfabet weggelaat is en dat dit nie met die gedig se styl in gedagte vertaal is nie.Vers 2, Beit, begin met ‘Onbedaarlik’, Vers 3, gimel, begin met ‘Juda’, en vers 6, waw, begin met ‘Die’. Moet my asseblief nie verkeerd verstaan nie: dis nie verkeerd vertaal nie, glad nie! Maar daar is iets wat ontbreek. Iets wat maak dat hierdie gedig nie so kragtig voorkom nie. Vra maar vir Oba; toe ek met my voorbereiding besig was het ek met sovel opgewondenheid na haar toe gegaan en bietjie uitgefreak oor hierdie gedig, die styl daarvan, die Hebreeus, en hoe dit vertaal is.
Klaagliedere handel oor die verval van Jerusalem en die tempel. Vandag kan ons dink aan ons planeet wat vernietig word deur die verval van die mens. Ons planeet kan nie meer alles hanteer wat met haar gebeur nie. Daarom sukkel ons met aardverwarming en besoedeling. As ons ons wêreld nie gaan begin oppas nie, sal alle stede wéér leeg word.
In die tyd van Klaagliedere is die verval verstaan as God se oordeel oor die moedswillige ontrouheid van die volk wat volledig in vervulling gegaan het. Wat oorbly, is die onbedaarlike geweeklaag, die ellendige pyn en lyding van die volk toe alles tot niet gaan. Die hartseerklag van die volk in ballingskap word veral duidelik in Psalm 137 verwoord. In 2 Timoteus 1 word ons aangemoedig om getrou te bly. Vers 1 van Klaagliedere 1 beklemtoon dit sterk: “Ag, hoe verlate lê die stad wat vol mense was! Sy het soos ‘n weduwee geword, sy wat magtig was onder die nasies. Sy wat heerskappy gevoer het oor ander moet nou dwangarbeid doen.”
Goed, maar wat beteken dit dan vir ons? Wat kan ons uit Klaagliedere 1 leer? Ek dink die eerste en seker een van die belangrikste dinge, is dat ons mag kla voor God. Ons mag eerlik wees en ons mag saam met al ons frustrasies, woede en bagasie na God toe gaan en vra “hoekom?”.
Ons het ‘n negatiewe konnotasie met kla. En die Bybel wys tereg ‘n sekere manier van kla af. Dit is daardie tipe klagtes wat jy so onderlangs mompel. Die Bybel noem dit murmureer of selfs rebelleer. Dit is wanneer jy die Here verkwalik dat dinge so verkeerd gaan.
Maar, Klaagliedere is ‘n ander manier van kla. Dit is “an honest facing of the darkness.” (Brueggemann). Dit is om eerlik jou vrees en die redes daarvoor in die oë te kyk en dit met die Here deur te bid, met al die donker emosies wat jy ervaar. Jou gevoelens moet gedagtes raak, sodat jy dit kan verstaan en kan deur bid met die Here.
En dit is hierdie manier van kla wat ons moet aanleer. Miskien moet ons begin om die woord lamenteer te gebruik hiervoor, want ons assosiasie met kla is nie positief nie. Die Engelse woord vir Klaagliedere is mos “Lamentations”. Lamenteer is om te weeklaag, om te huil, om te kerm, om al jou emosies in te sit in jou gebed. Om niks terug te hou nie. Om alles vir die Here te sê.
Amen.