2 Konings 2:1-2, 6-14 - God gebruik gewone mense

Skriflesing (2 Konings 2:1-2, 6-14)

1Dit is wat gebeur het toe die Here vir Elia in ‘n stormwind in die hemel opgeneem het. Elia en Elisa was van Gilgal af op pad, 2toe Elia vir Elisa sê: “Bly asseblief hier, want die Here stuur my na Bet-El.” Elisa het egter gesê: “So waar as die Here leef, en u leef, ek sal u nie verlaat nie!” Hulle het toe afgegaan na Bet-El.

6Elia het weer vir hom gesê: “Bly asseblief hier, want die Here stuur my na die Jordaan toe.” Maar hy het geantwoord: “So waar as die Here leef, en u leef, ek sal u nie verlaat nie!” Hulle twee het toe verder gegaan.

7Vyftig man van die profetegroep het ook gegaan en teenoor hulle op ‘n afstand bly staan. Hulle twee het langs die Jordaan gestaan. 8Elia het sy mantel gevat, dit opgerol en die water daarmee geslaan. Die water het na weerskante verdeel, en hulle twee het op droë grond oorgegaan. 9Hulle was net deur, toe vra Elia vir Elisa: “Vra wat ek vir jou kan doen voordat ek van jou af weggeneem word.” Elisa het geantwoord: “Laat daar asseblief ‘n dubbele deel van u gees na my kom.” 10Daarop sê Elia: “Jy vra iets wat moeilik is. As jy my sien terwyl ek van jou af weggeneem word, mag dit dan vir jou so wees; maar indien nie, sal dit nie gebeur nie.” 11Terwyl hulle nog so loop en praat, is daar skielik ‘n strydwa van vuur en perde van vuur! Dit het skeiding gebring tussen hulle twee, en Elia het in die stormwind opgegaan na die hemel. 12Elisa het dit sien gebeur en het bly uitroep: “My vader, my vader, strydwa van Israel en sy perde!” Toe hy hom nie meer kon sien nie, het hy sy klere vasgegryp en in twee geskeur.

13Hy het Elia se mantel wat van hom afgeval het, opgetel, omgedraai en by die kant van die Jordaan gaan staan. 14Toe neem hy Elia se mantel wat van hom afgeval het, slaan die water en sê: “Waar is die Here, die God van Elia?” Ook hy het die water geslaan, en die water het na weerskante verdeel, en Elisa het oorgegaan.

Preek

As jy nie die agtergrond van vanoggend se skrifgedeelte ken nie, gaan jy nie hierdie storie se konteks verstaan nie. So kom ons begin by die begin met ‘n oorsig oor 1 en 2 Konings, sodat ons kan weet waar in die storielyn van hierdie twee boeke ons nou is. 1 en 2 Konings is wel twee aparte boeke in ons Bybels vandag, maar dit is oorspronklik geskryf as een lang narratief wat opvolg op die boek(e) van Samuel wat net voor dit gekom het. Dis die “sequel” van Samuel. So, David het die hele volk van Israel omskep in ‘n Koningkryk, en God belowe dat vanuit sy bloedlyn sal daar ‘n Messiaanse Koning kom. Vandag weet ons natuurlik dat dit wel so gebeur het met Jesus. Hierdie Messiaanse Koning sal God se Koningkryk oor al die nasies vestig en die beloftes wat aan Abraham gemaak is vervul. So die boeke van 1 en 2 Konings vertel dan die storie van die hele string konings wat na David gekom het. Waaroor die boeke gaan is eintlik maar in die titel “Konings”. Maar die probleem is dat nie een van daardie Konings opgeleef het tot daardie beloftes nie. Hulle doen eintlik die teenoorgestelde. Hulle regeer Israel op so ‘n manier dat hulle eintlik in die afgrond ingaan. Maar, vir ingeval dit nog nie duidelik is nie, hier is ‘n tydlyn van Israel se geskiedenis:

 

1700’s v.C. – Abraham vestig hom in die land Israel (Kanaän). 1500 – Josef word in slawerny verkoop. Sy familie sluit by hom aan in Egipte. 1400’s – Die Hebreërs word deur die Egiptenare verslaaf. 1300 – Moses lei die Hebreërs uit Egipte. 1200’s – Die Hebreërs arriveer in Israel. 1020 – Saul word gekroon as die eerste koning van Israel. 1000 – Dawid word koning van Israel. 922 – Israel word in twee nasies verdeel: Israel in die noorde en Juda in die suide. 722 – Die Assiriërs verower die Noordryk. 586 – Babilon, onder regeer deur Nebukadnesar II, verower Juda en vernietig die Tempel en neem baie Israeliete gevange. 538 – Kores die Grote, koning van Persië, verower Babilonië. Hy laat die Joodse volk toe om terug te keer huis toe. 516 – Die Tweede Tempel word in Jerusalem gebou. 322 – Die Grieke, onder leiding van Alexander die Grote, verower Israel saam met die hele Persië en Egipte. 167 – Die Makkabese opstand vind plaas en bring onafhanklikheid aan die Jode. 63 – Rome, onder leiding van Pompeius die Grote, verower Israel. 37 – Herodes die Grote word deur Rome koning van Israel gemaak.

 

30 n.C. – Jesus Christus word gekruisig. 70 – Die Romeine vernietig die Tweede Tempel en ‘n groot deel van Jerusalem.

1 en 2 Konings is ontwerp om vyf hoof bewegings te hê. Die storie begin en einde met die fokus op Jerusalem. In 1 Konings hoofstuk 1 tot 11 fokus dit op Salomo se heerskappy, en hoofstukke 18-25 gaan dan oor Jerusalem se afsterwe en Babiloniese Ballingskap. Maar in die middel kry ons die hoofdeel van die storie. In hoofstukke 12 tot 16 lees ons van Israel wat in twee verdeel word, dan in hoofstukke 17- 2 Konings hoofstuk 8 gaan dit oor die profete se betrokkenheid by die Konings, en dan in hoofstuk 9 tot 17 beskryf dit die onkeerbare pad tot ballingskap. So vanoggend se teks val in die tydperk toe Israel in 2 verdeel is.

 

So die verhaal begin en eindig met die fokus op Jerusalem. Eers met Salomo se regering in die bou van die tempel, en dan die laaste gedeelte van 2 Konings, wat eindig met Jerusalem se vernietiging en Israel se ballingskap na Babilon. Die verhaal wat tot hierdie tragedie gelei het, is wat die middel drie afdelings van 1 en 2 Konings vertel. Dit verduidelik hoe Israel in twee mededingende koninkryke verdeel het en hoe God probeer het om die korrupsie van Israel te voorkom. God doen dit deur profete te stuur om vir Israel te verduidelik hoe ballingskap ‘n onvermydelike gevolg van Israel se sondes geword het. Hoor julle? Dis nie God wat Israel deolbewus straf nie, maar die gevolge van Israel se eie aksies (wat wel sondig was) wat gemaak het dat hulle nou in Ballingskap is. Die boek begin met twee hoofstukke oor die koninkryk wat oorgaan van die bejaarde Dawid na sy seun Salomo. Dawid se laaste woorde aan Salomo is baie soortgelyk aan dié van Moses, Josua en Samuel aan die volk. Dit is ‘n oproep om getrou te bly aan die bevele van die verbond en om getrou te bly aan die God van Israel alleen. Maar Dawid se woorde is ietwat hol hier, want Dawid en Salomo gaan dan voort om saam te sweer hoe hulle hierdie nuwe koninkryk gaan konsolideer deur ‘n hele reeks politieke sluipmoorde. So dit begin nie goed nie. Salomo se helderste oomblik kom toe hy God gevra het vir wysheid om Israel te lei en hy het selfs Dawid se droom voltooi om ‘n tempel vir die God van Israel te maak. Op hierdie punt in 1 Konings stop die verhaal eintlik en beskryf die ontwerp van hierdie tempel in detail, net soos die tabernakelontwerp in die Torah. Daar is klomp goud en juwele en uitbeeldings van engele en vrugtebome. Dit is alles simboliek wat terugklink na die tuin van Eden.

 

Die Tempel is die plek waar hemel en aarde ontmoet waar God se teenwoordigheid by sy mense woon, maar Salomo maak nie gou die tempel klaar nie. In plaas daarvan om die Tempel klaar te maak, maak hy werklik aaklige keuses en die Koninkryk val uitmekaar. Hy begin trou met die dogters van ander konings. Honderde van hulle vir politieke alliansies. Dan neem Salomo hulle gode aan en bring die aanbidding van daardie gode in Israel in. Salomo versamel ook groot hoeveelhede rykdom en hy het ‘n groot leër gebou. Hy stel selfs slawearbeid in vir al sy bouprojekte. Nou, as jy teruggaan na die Torah en kyk na God se riglyne vir Israel se konings in Deuteronomium 17, breek Salomo elkeen. So teen die tyd wanneer hy sterf, lyk Salomo meer soos Farao, die koning van Egipte, as sy pa, Dawid. Die volgende afdeling van Konings begin met Salomo se seun, Rehabeam, wat net soos sy pa optree. Dis ‘n baie hartseer verhaal van gierigheid en magsug. Hy probeer om belasting vir slawe-arbeid te verhoog en, onder leiding van Jerobeam, verwerp die noordelike stamme dit. Hulle het in opstand gekom, weggeskeur, en vorm hulle eie mededingende Koninkryk. Op hierdie punt in die verhaal het jy die suidelike koninkryk van Juda, gesentreer in Jerusalem met konings uit die geslag van Dawid, en nou hierdie nuwe noordelike koninkryk genaamd Israel, wie se hoofstad uiteindelik Samaria sal wees. Jerobeam bou ook twee nuwe tempels om te kompeteer met Salomo se tempel in die suide. Hy het die Goue Kalf in elkeen gesit om die God van Israel voor te stel. 

 

Daar is ‘n verband met Eksodus 32 en die Goue Kalf. Dit is alles baie eksplisiet. Van hierdie punt af gaan die verhaal heen en weer van noord na suid en volg die lot van beide koninkryke. Elkeen het ongeveer 20 opeenvolgende konings gehad, en terwyl die skrywer elke koning voorstel, evalueer hy hul regering volgens ‘n paar kriteria: Het hulle die God van Israel alleen aanbid, of het hulle die aanbidding van ander gode bevorder? Het hulle met afgodediens onder die volk te doen gehad, of het hulle getrou gebly aan die Verbond soos Dawid? En dan ook, word hulle korrup en onregverdig? Volgens hierdie kriteria vind die skrywer geen goeie konings in noordelike Israel. Niks. En dan in die suide van Juda kry net agt uit 12 ‘n positiewe gradering. Hierdie profete waarvan ons lees was nie waarsêers nie, maar hulle het namens die God van Israel gepraat, en hulle het die rol van Verbondswaghond gespeel. Dit het beteken dat hulle afgodediens en onreg onder die Konings en die mense uitgeroep het. Hulle het Israel voortdurend herinner aan hulle roeping om ‘n lig vir die nasies te wees dat hulle die bevele van die Torah moet gehoorsaam. En so het die profete Israel uitgedaag om hulle te bekeer en hulle God te volg. In hierdie sentrumafdelings vir elke Koning rig God dan profete op om hulle aanspreeklik te hou. Die mees prominente profete oor die noordelikes is Elia en sy dienskneg Elisa. Hier begin ons nou met ons skriflesing vanoggend. Reg hier in die middel van die boek (In die middel van 1 en 2 Konings). Elia was ‘n baie ongewone profeet wat in die woestyn gewoon het. Sy aartsvyand was die noordelike koning Agab en sy Kanaänitiese vrou Isebel. Mens lees dat daar lekker konflik was. 

Saam het hierdie twee mense (Agab en Isebel) die aanbidding van die Kanaänitiese God, Baäl, oor Israel ingestel. En so het Elia in ‘n bekende verhaal vierhonderd-en-vyftig profete van Baäl uitgedaag na ‘n wedstryd om te sien watter God ‘n ware is. Ek dink ons almal onthou hierdie storie. Hulle het altare gebou en tot hulle gode gebid, maar net die God van Israel antwoord met vuur. Hierna gebruik Agab sy koninklike mag om ‘n Israelitiese boer te vermoor en dan sy familie se wingerd te steel. Gevolglik konfronteer Elia weer Agab se onreg. Agab kondig dan die ondergang van sy huis aan. Elia gee uiteindelik die mantel van sy profetiese leierskap oor aan ‘n jong dissipel met die naam Elisa, wat twee keer die gesag van Elia vra. En dis waar vanoggend se skriflesing inkom.

 

Wanneer Elisa met Elia se hemelvaart in 2 Konings 2 vra dat hy ‘n dubbele deel van Elias se gees kry, verwys hy moontlik na die dubbele erfporsie wat eersgeborenes kon kry (Deut. 21:17). So hy vra hy eintlik net dat hy Elia se opvolger sal wees en nie om twee keer meer effektief as Elia te wees nie.

 

Want, hulle albei het besef, dit is die Here wat in beheer is, nie die profeet nie. Dit is waarom Elia vir Elisa sê, as jy my sien met die weggaan, sal jy die erfgenaam wees. Want, dit is net die Here wat Elisa se versoek kan waar maak.

Die verhaal sê dus vir ons op ‘n onomwonde manier dat dit God is wat in beheer is en wonderlike dinge deur ons bediening doen. Die mantel van Elia wat nou oorgaan op Elisa is net ‘n simbool van Elisa se roeping as profeet. En wys na die Here se gesag wat deur sy werk aan die orde kom.

 

Wat wel interessant is, is dat Elisa ‘n baie meer charismatiese profeet was as Elia. Hy het tyd geneem om die regte atmosfeer te skep met snaarinstrumente sodat God sy woord aan hom kan gee (2 Kon 3:15).

Dit tref ‘n mens in Elisa se bediening hoe hy, onder andere, gewone mense bedien het. Ons lees van die arm vrou van ‘n profeet wat hy van ‘n inkomste voorsien. Ons lees van die Sunemmitiese vrou, waarskynlik ‘n bietjie meer welvarend, vir wie hy bid dat sy ‘n kind sal hê. En ook bid dat die Here haar kind uit die dood uit opwek. En hy help die arme profeteseun met die verlore bylkop. ‘n Eenvoudige ding, maar wat ‘n groot impak gehad het.

Maar, dan was Elisa net so gemaklik om ander mense te bedien, soos die bevelvoerder Naäman wat hy van melaatsheid genees het, en die konings van Israel en Juda, en selfs van die Arameërs, wat hy met die woord van die Here bedien het. Soms met baie swaar woorde wat die Here hom gegee het om aan hulle oor te dra. In een geval het dit Elisa in trane laat uitbars.

 

Mag dit van ons ook waar wees. Dat ons bediening gewone mense sowel as magtiges sal aanspreek. Dat ons onbevreesd, maar ook met deernis met mense sal werk in opdrag van die Here.

Dink sommer aan sommige van die ander verhale in die Bybel. Moses was ‘n normale, gewone mens, maar is op ‘n buitengewone manier deur God gebruik. Maar onthou sy begin was minder as gesog. Hy was ‘n klein slawebaba, uit die water van die Nyl gered, met baie gewone lesse om te leer voordat hy die leier in ‘n nasie se bevryding geword het. Hy moet eers geskool word, moet hardloop vir sy lewe, moet skape oppas, moet sy onbekwaamheid erken as ‘n openbare spreker – dit alles, en meer, voordat God hom in ‘n man van buitengewone karakter kon vorm.

God het ook natuurlik ‘n geleerde Romein met die naam Paulus gekies as ‘n magtige woordvoerder vir die nuwe, sukkelende kerk wat hy tot stand gebring het, maar hy het meer dikwels as nie sy hand op “gewone” mense, soos tollenaars, vissers en gewone arbeiders, geplaas; ongeleerde manne soos Petrus, Jakobus, Johannes en ander.

Toe God ‘n skouspelagtige verandering in die godsdienstige wêreld wou maak, het hy ‘n ontstelde priester, gepla deur sy sondes en braaf in sy toespraak, geneem om hom, gewone soos hy gelyk het, in die vrymoedige en vreeslose hervormer te maak wat die godsdiens van sy wêreld verander het: Martin Luther.

 

Wie het al gehoor van water wat skei deur die eenvoudige daad van ‘n stok of ‘n mantel wat daaroor gehou word in die hand van ‘n gewone mens? Wie het al gehoor van die gebruik van so ‘n gewone ding soos wind om die buitengewone prestasie te doen om in twee teenoorgestelde rigtings gelyktydig te waai om die waters te skei? Wind waai altyd net een rigting! Toe ek leer vlieg het 10 jaar gelede, het my instrukteur my geleer om altyd my oë oop te hou oor waar ‘n oop veld is en watter rigting die wind waai, vir ingeval ons ‘n noodlanding moes doen. Ons sou rook sien waai, bome wat buig en golwe op die waters van damme en mere, en natuurlik ook die windkous by die lughawe sien waai. Die wind kan enige tyd sy koers verander, maar dit het steeds net een rigting op ‘n slag gewaai! Hierdie wind waarvan ons ook in Eksodus lees het ‘n paar magtige ongewone dinge gedoen. En wie het ooit gehoor van ‘n wolk wat tegelyk lig en duisternis was? God het hierdie gewone wolk gebruik om ‘n lig te wees om die Jode te lei en ‘n duisternis om die vyand te verwar. God gebruik gewone mense en geqwone dinge, om ongewone resultate te bereik. Elisa is maar net nog een van hierdie voorbeelde. Elisa vra om Elia se opvolger te wees sodat hy kan aanhou om God se profeet te wees. ‘n Profeet binne ‘n tydperk van ongelooflike onsekerheid, skeuring, konflik en ongemak.

 

Plaas jouself in Elisa se skoene. Dink aan hoe die wêreld gelyk het in Konings. Agab en Isebel wat soveel skade veroorsaak, Juda en Israel wat skei en in konflik met mekaar is, al hierdie konings wat droogmaak en net nie vir God wil luister nie. Hoe braaf moes Elisa gewees het nie? Maar tog was hy net ‘n doodgewone, normale mens, net soos ek en jy. ‘n Gewone mens wat God gebruik het om ‘n verskil te maak.

 

Jesus is in ‘n klein, gewone dorpie gebore om ‘n profesie te vervul wat in Miga 5:2-5 gevind word. In Hebreeus beteken die woorde Bet Lehem “Huis van Brood”. Vir gelowiges is dit betekenisvol dat “Huis van Brood” is waar hy wat “die Brood van die Lewe” is (Joh. 6:48) gebore is.

 

Bethlehem is vandag ‘n stad met ongeveer 50 000 mense, maar toe Jesus gebore is, was dit ‘n klein, normale, gewone dorpie. Daar is na dit verwys as ’n “jammer, arme dorpie.” Bethlehem is net sowat 10 kilometer suid van Jerusalem, sowat twee en ‘n half uur se stap. Josef en Maria, inwoners van Nasaret, het na Betlehem gegaan vir die sensus wat keiser Augustus beveel het. Daardie reis van Nasaret na Bethlehem is baie moeiliker as die reis vanaf Jerusalem, sowat 150 kilometer.

 

Die boodskap van Kersfees sou net so kragtig wees as Christus in ‘n groot metropool gebore is, maar op een of ander manier lyk dit of hierdie klein, gewone dorpie die kern van die Christus-gebeurtenis vasvang. 

 

Bethlehem herinner ons daaraan dat God gewone mense en gewone plekke op ‘n buitengewone manier kan gebruik.

Op Elisa se sterfbed is daar ‘n roerende ontmoeting met koning Joas van Samaria, waar Joas Elisa as die leier par excellence van Israel met trane geëer het: “My vader, my vader, strydwa van Israel en sy perde.” (2 Kon 13:14). Hy was soos ‘n een-man weermag van God vir Israel.

 

Mag dit ook ons nalatenskap wees. Omdat ons gehoorsaam was, omdat ons gewone mense is, en omdat ons die oë van gewone mense oopgemaak het om God te sien. Ons hoef nie buitengewoon of spesiale mense te wees nie. God het ons volmaak geskep net soos wat ons hier is. Daarom is ons gewone mense, inherent buitengewoon deur die genade van God.

 

Amen.