Maskers, Spieëls en Vrymoedigheid - 2 Korintiërs 3:12-4:2

Skriflesing (2 Korintiërs 3:12-4:2)

12Terwyl ons dan so ‘n hoop het, tree ons op met groot vrymoedigheid – 13nie soos Moses, wat ‘n sluier oor sy gesig getrek het, sodat die kinders van Israel nie die einde van dit wat aan die vergaan was, kon aanskou nie. 14Maar hulle denke was verhard. Want tot vandag toe lê dieselfde sluier oor die Ou Testament wanneer dit gelees word; en dit word nie weggeneem nie, want dit word slegs in Christus verwyder. 15Maar tot vandag toe, elke keer wanneer Moses gelees word, lê daar ‘n sluier oor hulle harte. 16Telkens egter, wanneer iemand hom tot die Here wend, word die sluier afgehaal. 17Die Here is die Gees, en waar die Gees van die Here is, daar is vryheid. 18En ons almal, terwyl ons met ontsluierde gesig die heerlikheid van die Here aanskou, soos in ‘n spieël, word na dieselfde beeld verander, van heerlikheid tot heerlikheid, soos afkomstig van die Here, die Gees.

41Daarom, aangesien ons hierdie bediening het volgens die ontferming wat aan ons betoon is, gee ons nie moed op nie. 2Ons het egter afstand gedoen van geheime skandelike dinge, en tree nie slinks op, of verdraai die Woord van God nie; maar deur die waarheid aan die lig te bring, beveel ons onsself voor God aan by die gewete van elke mens. 

 

Preek

Ons weet nou al reeds ‘n hele paar dinge van Korinthe. Ons weet dat dit ‘n groot stad was wat baie invloed gehad het. Ons weet ook dat Paulus hierdie stad al ‘n hele paar keer kom besoek het. Ons kan meer daarvan lees in Handelinge 18. En alhoewel hierdie brief in ons Bybels vandag genoem is “die Tweede brief aan die Korintiërs”, is dit nie noodwendig die tweede brief wat Paulus ooit aan hulle geskryf het nie. So Paulus kry briewe wat vir hom sê dat dinge nie so goed gaan in Korinthe as wanneer hy laas daar was nie. Ons lees daarvan in 1 Korintiërs 1:11. Nadat hy daardie brief gelees het, het hy ‘n brief geskryf, wat in ons Bybels vandag 1 Korintiërs is, waar Paulus hierdie probleme aanspreek waarvan hy gehoor het. Maar sy boodskap het ongelukkig in baie gevalle op dowe ore geval. Die mense daar het gesukkel om sy leiding te volg en na sy redenasies te luister.

 

So wat doen Paulus toe? Hy gaan fisies weer terug na Korinthe toe om hulle te besoek sodat hy sy boodskap nóg duideliker kan maak. Maar dit het nie so goed gegaan as wat hy gehoop het nie. Ons lees in 2 Korintiërs 2:1 dat hierdie besoek ‘n “droewige” besoek was. Hy skryf dat hy hom voorgeneem het om nie weer “met droefheid na julle te kom nie”. Verder in Hoofstuk 2 en later in hoofstuk 7 skryf hy ook dat hy hierdie brief met trane skryf en dat hy bedroef geword het. Hierdie harde woorde het baie van die Korintiërs laat besef dat hulle meer moet doen en harder moet werk om Paulus se skrywe ernstig op te neem. So Paulus bemoedig hulle dan weer en verduidelik dat hy nogsteeds baie liefde vir hulle het.

 

2 Korintiërs is in drie hoof dele verdeel wat elkeen ‘n spesifieke onderwerp bespreek. Hoofstuk 1 tot 7 is Paulus wat sy versoening met die gemeenskap bevestig, hoofstuk 8 tot 9 gaan oor vergete vrygewigheid, en in hoofstuk 10 tot 13 daag Paulus die oorblywende Korintiërs uit wat hom steeds verwerp. Maar hoekom het die mense Paulus verwerp? Wel, hulle het hom glad nie as ‘n leier gesien nie! Hy was arm, hy het geld verdien deur hande-arbeid te doen, hy was konstant vervolg en het baie gely, hy was gereeld haweloos en sonder ‘n huis om in te bly, en om die kersie op die koek te sit, was hy ook nie ‘n baie indrukwekkende spreker in die openbaar nie. So wanneer die Korintiërs blootgestel is aan ander leiers, wat baie ryker was as hy en wat soms kriptiese boodskappe gebring het, het hulle aansienlik minder begin dink van Paulus. Daar het vreeslike charismatiese persoonlikhede aangekom en hulle eie boodskappe begin bring, wat ‘n kontras was met Paulus se persoonlikheid. Paulus het ewe skielik baie vaal en vervelig vir hulle voorgekom. So met hierdie agtergrond, kom ons beweeg aan na vanoggend se teks. Ons weet dan nou dat vanoggend se teks by die eerste gedeelte in pas, Paulus wat sy versoening met die gemeenskap bevestig. 

 

Paulus verwys in vanoggend se teks nogal baie terug na wat met Moses gebeur het toe hy ‘n ontmoeting met YHWH gehad het. Ons lees daarvan in Eksodus 34. Basies wat gebeur het, is dat in Eksodus 32 lees ons van Moses wat die bloudrukke van die tabernakel van God ontvang het. Maar terwyl Moses nog op die berg was, het hulle ongeduldig begin raak en het vir Moses se broer, Aaron, gevra om vir hulle ‘n goue kalf te maak vir wie hulle kan aanbid as die God wat hulle uit slawerny bevry het. Hierdie is ongelooflik vreemd, want die Israeliete is basies aan die voet van die berg waarop Moses was! Hulle sien letterlik die wolk van God se teenwoordigheid! Maar hulle vra steeds vir Aaron om vir hulle ‘n afgod te maak; iets wat in direkte kontras met die eerste gebod is: die gebooie wat hulle eintlik sopas ontvang het! Maar daar is een ding wat by hierdie hele storie eintlik verstommend is. God vergewe die volk van Israel en bly steeds lief vir hulle. God vernuwe die verbond wat God met Israel gesluit het. Die hoeveelheid geduld wat God het is ongelooflik. Nou, die hele punt hiervan is net om te illustreer in watter spasie die Israeliete was. Skielik was hulle opnuut bewus van God se ingrypende hand en besef net weereens hoe God vir hulle sorg. Moses was op die berg binne God se teenwoordigheid gewees. En die gevolg daarvan is dat Moses se gesig op ‘n manier begin skyn het. Dink aan wanneer jy vir lank in die son was en jy bietjie bruin geword het omdat jy “getan” het. Maar na ‘n rukkie gaan daardie bruin ‘tan’ weg. Dis basies wat met Moses gebeur het. God se heerlikheid wat deur sy gesig gestraal het, het stadig maar seker begin verdof. Nie omdat God afwesig of ver geraak het nie, maar bloot net omdat die menslike liggaam nie gemaak is om hierdie heerlikheid vas te klou nie. Maar Moses was bang dat die Israeliete dit wel sou sien as God wat afwesig begin raak. So wat doen Moses toe? Hy bedek sy gesig met ‘n sluier sodat die Israeliete nie teleurgesteld sou raak soos wat hierdie fisiese, sigbare beeld van God se teenwoordigheid verdwyn nie.

 

Die Israeliete was ook bang gewees vir hierdie skyn van Moses se gesig. Die Hebreeus kan eintlik letterlik vertaal word met “die vel van sy gesig het strale uitgestuur”. So dit was eintlik ‘n baie skrikwekkende gebeurtenis! Niemand was gewoond aan so iets nie! Nie eers vandag is ons gewoond aan so iets nie!

 

Hierdie beeld van ‘n sluier waarvan Paulus hier in 2 Korintiërs praat is nie net ‘n blote verwysing na wat met Moses gebeur het nie. Die sluier wat Moses gedra het verteenwoordig ‘n hindernis wat op ‘n manier die waarheid van die Joodse lesers wegsteek. Wanneer die Jode in die antieke stede van Antiochië, Efese en Korinthe hierdie skrifte van Moses lees op hulle Sabbatdag, dan kom hulle nie die merkwaardigheid daarvan agter nie. In hulle koppe het hulle geglo dat dit God se finale woord was vir hulle. Maar Paulus draai hierdie siening weereens op sy kop. Paulus sê nee, hierdie is nie God se finale woord nie. Dit is God se manier om ons voor te berei vir Christus, soos Galasiërs 3:24 ook verduidelik. Maar wanneer ‘n Jood na God draai, soos Paulus daarna verwys, dan word hierdie sluier, hierdie doek, hierdie masker van hulle gesigte verwyder, en ewe skielik is Christus bekend reg deur al die geskrifte.

 

Nou, wat Paulus se skrywe eintlik nog meer interessant maak is hoe hy Griekse woorde met Hebreeuse idiome op ‘n manier in dieselfde asem gebruik. Die woord waarvan ek hier praat is “parresia – παρρησία”, wat beteken om vrymoedig te wees. Dit is die laaste woord wat ons in vers 12 lees – “…tree ons op met groot vrymoedigheid”. Maar Paulus gaan terug na Eksodus toe in sy verduideliking van hierdie sluier wat oor Moses se gesig was. En in die Hebreeus is daar ‘n baie spesifike idioom, wat “galleh reish – גלה ראשׁ“ uitgespreek word. Hierdie idioom word letterlik vertaal met “om jou kop te ontbloot”, wat beteken om vry te wees. Daar is ‘n ander uitdrukking wat uitgespreek word as “galleh appin – גלה אפין“, wat letterlik vertal word met “om jou gesig te ontbloot” – en hierdie idioom beteken om “vryheid van spraak” te hê.

 

So Paulus bring doelbewus hierdie parallelle uitdrukkings in sy skrywe, sodat hy hierdie antieke Rabbiniese uitdrukkings kan gebruik as ‘n teken dat Moses nie hierdie vrymoedigheid gehad het nie, hy het nie hierdie “parresia” gehad om sy letterlike gesig te ontbloot nie. Kan julle agterkom waarnatoe ek hiermee gaan? As ons die Hebreeuse idioom wat na Moses verwys gebruik, kan ons lees dat Moses nie sy kop of sy gesig ontbloot het nie, omdat hy nie sy kop of sy gesig ontbloot het nie. Moses het nie die vrymoedigheid, of soos hulle in Engels sê, die “boldness” gehad om sy gesig te ontbloot nie. Maar Paulus sê dan nou in vanoggend se teks dat ons as Christene nou deur Christus die vrymoedigheid kan hê om self direk na God toe te gaan. Onthou, in hierdie Hellenistiese Griekse tydperk het woorde baie spesifieke konnetasies gehad. Hierdie Grikse woord “parresia”, wat vrymoedigheid beteken, het eintlik die konnotasie gehad om die reg tot toegang tot God te hê, terwyl jy terselfdertyd dit met ‘n skoon gewete kan doen. En met Paulus se tweetaligheid in Griekse- en Hebreeuse literatuur was dit eintlik maar vanselfsprekend om ons toegang tot God op hierdie manier te verduidelik! So Moses het letterlik sy gesig bedek omdat hy figuurlik ook sy gesig bedek. Hy het dit gedoen omdat die Israeliete nie die vrymoedigheid, die paresia gehad het om direk na God toe te kan gaan nie. Maar nou, as gevolg van Christus, het ons almal die vrymoedigheid, die paresia om direk na God toe te gaan vir leiding. Dis ontsettend belangrik om hierdie antieke idiome te verstaan, want dis die wêreld waarin Paulus geleef het. Dis dinge wat vir hom en vir die mense vir wie hy skryf vanselfsprekend was. En dit het ‘n duidelike invloed op ons verstaan van die kompleksiteit van hierdie tekste.

 

Dan in vers 18 verduidelik Paulus dat ons elkeen nou binne onsself die refleksie van die Here kan sien, net soos wat Paulus dit ook gesien het. Ons word verander in dieselfde beeld van God. En dit maak eintlik net sin, want reeds in Genesis lees ons dat God ons in God se beeld geskep het. In die teologie wêreld praat ons van die Imago Dei: Imago – die beeld, en Dei – van God. In Engels is die die “Image of God” Imago – Image, Dei – God. En dis eintlik waarop alles wat Paulus hier skryf neer kom. Ons sien die Imago Dei wanneer ons in ‘n spieël kyk. Ons aanskou dan die Heerlikheid van God. Ons hoef nie ons gesigte te bedek nie, want ons kan met vrymoedigheid na God toe gaan. In ‘n sekere sin is ons almal nou ‘n Moses, omdat ons na God toe kan gaan sodat daardie Heerlikheid deur ons weerspieël word, net soos ‘n spieël.

So wat Paulus eintlik hier probeer sê is dat die Bybel soos ‘n spieël is. Elke keer wanneer ons na hierdie spieël kyk, dan sien ons drie dinge raak. Ons sien onsself, geteken in ons menslikheid, ons gebrokenheid, en ons sondigheid; Ons sien die wêreld en die lewe in sy verydeling en boosheid; en ons sien die beeld van Christus wat ons nie net uitnooi om soos Hy te word nie, maar wat in die raaksien en die herkenning van wie Hy is en wat Hy bied alreeds ons menswees verander. Hierdie is nie sommer maar ent arbitrêre stellings nie. Ons sien baie voorbeelde hiervan in die Bybel. Onder andere, in Jakobus 1 word daar gepraat van hoe ons onsself sien in die weerspieëling van die Woord, dat ons nie kan wegkruip van die prentjie wat die Bybel van ons skets nie. Ons moet hierdie wilskrag hê om werklik te wíl gaan na God wat ons kan verander na die Imago Dei. Dan ook in 1 Korintiërs 13 lees ons van hoe ons die lewe sien. Ons kyk in ‘n dowwe spieël. Onthou, die spieëls van die antieke tye was gepolitoerde metaal, so dis was glad nie so helder soos die spieëls wat ons vandag kry nie. Dit was nie helder nie, so dit beteken dalk dat ons nie alles kan verstaan nie! Maar Paulus sê weereens dat die liefde die belangrikste ding is, selfs al verstaan ons nie alles wat gebeur nie.

 

Die bekende kerkvader Calvyn het ook hieroor geskryf in sy bekende werk die Institusie van die Christelike geloof. Dat jy jouself net beter kan leer ken, as jy God leer ken – en dat jy net vir God regtig kan leer ken, as jy jouself beter leer ken. Godskennis en selfkennis, sê hy, gaan saam, die een kan nie sonder die ander nie. Ons kan nie onsself leer ken as ons hierdie sluier oor ons gesig het nie, en ons kan ook nie vir God leer ken as ons hierdie sluier oor ons gesig het nie.

 

Ek dink teen hierdie tyd is dit geen geheim dat ek van musiek hou nie. Daar is natuurlik die baie bekende musiekblyspel, of liewer, opera, met die naam “The Phantom of the Opera” wat gebaseer is op die roman deur die Franse Gaston Leroux. Dit is ook ‘n bekende film wat in 2004 uitgekom het wat gebaseer is op die bekende Andrew Lloyd Webber se musikale verwerking. In die film is daar ‘n gemaskerde persoon wat deur baie karakterontwikkeling gaan. Aan die begin van die film is hy die antagonis, maar na ‘n liefde wat tussen hom en een van die opera-sangeresse gevorm het, begin die gehoor later meer simpatie vir hom kry en word hy al hoe meer geliefd. Die Phantom hou die opera-sangeres se eintlike liefde gevange, maar aan die einde van die film begin hy meer empatie kry, grootliks omdat hy toegelaat het dat hierdie opera sangeres, Christine, sy ware gesig sien nadat sy masker afgehaal het. Hy het sy broosheid vir haar gewys. Gevolglik laat hy Christine se eintlike geliefde, Raul, vry en laat hulle toe om gelukkig saam te leef.

 

Hierdie maskers wat ons dra is eintlik soortgelyk aan wat met die Phantom gebeur het. Dikwels dra ons self hierdie maskers. Ons dra hierdie maskers wat maak dat ons sukkel om Christus se heerlikheid uit te straal. Paulus is baie duidelik dat ons self nie meer hierdie sluier oor ons gesig moet dra nie. Ons het die vrymoedigheid om self na God toe te gaan. Hoekom dra ons hierdie maskers? Om ons vriende te beïndruk deur anders op te tree wanneer ons in hulle teenwoordigheid is? Om ‘n vals indruk te skep wanneer ons iemand belangrik wil beïndruk? Om in te pas? Om uit te staan?Die hele punt wat Paulus hier probeer maak is miskien dat ons meer en meer bewus moet word dat ons ander mense kan beïnvloed bloot deur Christus se heerlikheid uit te straal. Ons kan die vrymoedigheid hê om die beeld van God, die Imago Dei, uit te leef vir die mense rondom ons. Dit beteken nie noodwendig dat ons die woord “Jesus” en “Here” in elke sin hoef te gebruik wanneer ons met iemand gesels nie, maar dat die heerlikheid van God wat deur ons straal kragtig genoeg is. Dit was kragtig genoeg vir Moses en die Israeliete, dit was kragtig genoeg vir die gemeenskap van Korinthe, en dit is kragtig genoeg vir ons vandag. 

 

So dink weer bietjie oor jou eie lewe. In watter plekke van jou lewe sukkel jy om jou sluier af te haal? Waar sukkel jy om God se heerlikheid uit te straal? Onthou, ek vra nie waar sukkel jy om oor God of oor Christus te praat nie, maar waar sukkel jy om God se heerlikheid uit te straal? Wat maak dit moeilik? En hoe kan God jou help om jou masker af te haal, om jou vrymoedigheid te laat uit straal, om die Imago Dei vir ander mense te wys?

 

Neem dan hierdie vrymoedigheid vir jouself. Neem hierdie parresia. Christus het dit vrylik vir ons gegee. Omarm dit. Verbly jou in dit. En straal dan God se heerlikheid uit in ‘n wêreld wat dit so nodig het.

 

Amen.