Skriflesing (Josua 5:9-12)
9Die Here het vir Josua gesê: “Vandag het Ek die bespotting van Egipte van julle afgewerp.” Daarom is die naam van hierdie plek Gilgal; dit is vandag nog so. 10Terwyl die Israeliete by Gilgal gekamp het, het hulle op die veertiende dag van die maand teen die aand die Pasga gevier in die vlaktes by Jerigo. 11Die dag ná die Pasga, presies op daardie dag, het hulle van die vrug van die land geëet – ongesuurde brood en gebraaide koring. 12Die manna het opgehou die dag ná hulle van die vrug van die land geëet het. Daar was nie meer manna vir die Israeliete nie. Hulle het in daardie jaar van die opbrengs van die land Kanaän geëet.
Preek
Vanoggend se teks begin so half in die middel van nêrens. So ons moet eers bietjie gesels oor waar in die Bybelse narratief hierdie storie in pas. So kom ons gaan eers bietjie terug. Ons begin by Abraham. God het vir Abraham gekies en so het sy mense die mense van Israel geword. Hierdie Israeliete is gevange geneem en word toe slawe in Egipte. En so deur Moses het God die Israeliete uit Egipte gered en hulle bevry, God het toe ‘n verbond met hulle gemaak by Berg Sinai (dis nou onder andere die 10 gebooie), en God het hulle deur die wildernis begelei. Hierna het die Israeliete buite die beloofde land gekamp, waar Moses hulle vertel het om God se gebooie te gehoorsaam, sodat hulle al die ander nasies kan wys hoe God se karakter lyk. So die boek van Josua begin net nadat Moses gesterf het en Israel gereed is om die beloofde land binne te tree. Die hele boek is verdeel in vier hoof gedagtes. Hoofstuk 1-5 gaan oor Josua wat die Israeliete begelei tot binne die beloofde land, in hoofstukke 6 tot 12 kry hulle baie teenstand teen die Kanaäniete, dan in Hoofstuk 13-22 verdeel Josua die beloofde land op in erfstukke vir die 12 stamme van Israel, en dan eindig die boek in hoofstukke 23 en 24 met Josua se laaste woorde wat hy vir die mense gee.
So kom ons kyk dan eers wat het tussen hoofstukke 1 en 5 gebeur, tot waar ons by vandag se skrifgedeelte kom. Die eerste deel van die boek begin met Moses se dood. Vir die van julle wat die “Bible Project” video gekyk het wat ek hierdie week op die kerk se WhatsApp groep gestuur het sal hierdie redelik bekend klink. So net na Moses se dood, is Josua aangestel as Israel se nuwe leier. Wat nogal interessant is, is dat die outeur van Josua hom doelbewus voorstel as ‘n “nuwe Moses”. Net soos Moses, het Josua die Israeliete aangemoedig om gehoorsaam aan die Torah te wees (basies die gebooie wat aan hulle gegee is), dan stuur Josua ook spioene in die land in, net soos wat Moses gemaak het (waarvan ons ons in Numeri 13 en 14 lees), maar hierdie keer gaan dit baie beter as wat die met Moses gegaan het. In hoofstuk 3 en 4 lei Josua die Israeliete deur die Jordaanrivier na die beloofde land. Nou net soos wat die see vir Moses geskei het in Eksodus, skei die waters van die Jordaanrivier sodat die priesters die Ark van die Verbond deur die rivier kan dra, met die Israeliete wat hulle volg. Dit bring ons by hoofstuk 5, waar ons vanoggend is. Hier verander die storie so bietjie. Die mense begin hier terug kyk na die begin van hulle verbond wat God met hulle gemaak het. Dis waar die nuwe generasie wat, onder andere, in die woestyn gebore is besny word en waar hulle hulle eerste Paasfees (oftewel, Pasga), vier. En dan net na vanoggend se skrifgedeelte, van vers 13 af, verskyn daar ‘n man met ‘n swaard, wat sommige mense interpreteer as ‘n bevelvoerder van God se weermag. Maar kom ons lees gou weer vanoggend se skrifgedeelte. Ons weet dan nou waar dit in die hele narratief inpas. Dis nou pas in die beloofde land, nadat hulle uit Egipte bevry is deur Moses, nadat hulle vir lank in die wildernis was, nadat hulle die gebooie ontvang het, waar die Israeliete terug kyk na God wat hulle begelei het en by hulle teenwoordig was:
9Die Here het vir Josua gesê: “Vandag het Ek die bespotting van Egipte van julle afgewerp.” Daarom is die naam van hierdie plek Gilgal; dit is vandag nog so. 10Terwyl die Israeliete by Gilgal gekamp het, het hulle op die veertiende dag van die maand teen die aand die Pasga gevier in die vlaktes by Jerigo. 11Die dag ná die Pasga, presies op daardie dag, het hulle van die vrug van die land geëet – ongesuurde brood en gebraaide koring. 12Die manna het opgehou die dag ná hulle van die vrug van die land geëet het. Daar was nie meer manna vir die Israeliete nie. Hulle het in daardie jaar van die opbrengs van die land Kanaän geëet.
So die hele punt is dat God teenwoordig was. Nou by die Israeliete in die beloofde land, en ook toe hulle in die wildernis was. Dis eintlik nogal interessant, want ons word grootgemaak terwyl daar vir ons gesê is dat die Israeliete in die woestyn was, maar die Hebreeuse woord wat hier gebruik word is בַּמִּדְבָּ֥ר (ba-midbar) wat gedefinieer word as “‘n plek wat nog nie gekultiveer is nie”, so dit kan ‘n woestyn, ‘n wildernis, of selfs ‘n weiveld wees. Dit help ons om ‘n idee te kry van hoe die omstandighede van die Israeliete gelyk het.
Maar kom ons breek die teks eers op in ‘n paar verskillende gedeeltes sodat ons makliker daaroor kan gesels. Ek wil eers oor die ontsnapping uit Egipte praat, van vers 9. Dan die viering van die Pasga in vers 10, en dan die hele tema van die Israeliete wat deur die wildernis moes wandel. So dis dan Egipte, die Pasga, en laastens die wildernis. Onthou dat ons konstant hierdie agtergrond van Abraham, Moses, die woestyn en Josua wat die nuwe Moses is in gedagte moet hou terwyl ons hieroor gesels.
So kom ons begin dan by God wat voorsien tydens die uittog uit Egipte. Daar is ‘n hele klomp parallelle wat getrek kan word tussen wat ons hier in Josua lees en wat tydens die uittog gebeur het, waarvan die merkwaardigste seker die beeld van water is. Die see het geskei sodat Moses die Israeliete daardeur kon lei; en die Jordaanrivier het geskei sodat die Israeliete deur die beloofde land kon beweeg. Dan, in Numeri 20 lees ons weer van water, waar Moses die klip met sy staaf geslaan het: dieselfde staaf waarmee hy deur God se krag die see laat skei het. Water het uitgevloei sodat die Israeliete en hulle vee water kon drink. Later in die Bybel word water mos ook gebruik wanneer mense gedoop word. In die Ou Testament is water gebruik tydens die reinigings-rituele waar mense wat onrein is hulleself was om weer rein te word, net soos wat Jesus ook die melaatse mense genees het deur vir hulle te sê om hulle self te gaan was. En dan natuurlik ook by die troue in Kanaän, waar Jesus water in wyn verander. God gebruik water reg deur die Bybel op ‘n besonderse manier, en hier in Josua is dit geen uitsondering nie. Elke keer wanneer water voorkom word dit as ‘n lewegewende oomblik beskou. Mense kry ‘n nuwe lewe, ‘n nuwe hoop, ‘n nuwe reiniging van God-self af. Dis dalk ‘n manier om ty wys dat dieselfde water wat vir ons aan die lewe hou en ons dors les, ook gebruik kan word om ons lewe te vernuwe in ‘n oomblik waar ons ons diepe afhanklikheid van God besef.
So kom ons beweeg dan aan na die 2de gedeelte van Josua 5: Die Pasga. Maar wat presies was die Pasga? Dis ‘n woord wat ons al so baie keer gehoor het, en sommige vertalings gebruik die woord Paasfees in plaas van Pasga. Maar ons vier dan Paasfees as Christene om Christus se dood aan die kruis en opstanding te herdenk? So wat het dit dan beteken vir die Jode in Josua? Pasga, of in Hebreeus Hebreeuse Pesach, is vandag ‘n Joodse fees (en vakansie) ter herdenking van die Hebreërs se bevryding uit slawerny in Egipte. In Engels word dit eintlik bietjie beter verstaan, want dit word “Passover” genoem, wat die “passing over” van die vernietigende magte verteenwoordig, of dis ook ‘n herdenking van die eersgeborenes in Egipte wat tydens die 10 plae gespaar was, net voor die groot uittog waarvan ons al so baie gehoor het. Pasga vind plaas tydens die maand van Nisan (nee, nie die kar nie. Dit word net met een “S” gespel). So dit begin op die 15de dag van Nisan en eindig dan weer op die 21ste (of, buite die land van Israel en Hervormde Jode, die 22ste) dag van die maand Deesdae is dit iewers tussen Maart en April, waar ons nou in die jaar is. Op hierdie sewe (of agt) dae is alle suurdeeg in brood of ander kos verbode, en slegs ongesuurde brode, wat matzo genoem word, mag geëet word. Die matzo simboliseer beide die Hebreërs se lyding terwyl hulle in slawerny was en die haas waarmee hulle Egipte verlaat het in die loop van die Eksodus. Pasga word ook soms die Fees van Ongesuurde Brode genoem. Pasga word hierdie jaar tussen Saterdag 16 April en Saterdag 23 April gevier.
Pasga word dikwels met ‘n groot seremonie gevier, veral op die eerste aand, wanneer ‘n spesiale gesinsmaaltyd, wat die seder genoem word, gehou word. By die seder word hierdie simboliese kosse wat ‘n mens aan die Israeliete se slawerny en bevryding herinner, geëet, en gebede en tradisionele voordragte word uitgevoer. Alhoewel die fees van Pasga bedoel is om een van groot vreugde te wees, is daar geweldige streng dieetwette wat nagekom moet word, en daar is ook dikwels ‘n verbod om enige werk te doen tydens hierdie tydperk. Vandag nog is dit so streng. Ek is deel van so Facebook groep waar net veeartse kommentaar mag lewer. Ek is daar op sodat ek kan weet waarvoor om te soek as my hond iets sal oorkom. In hierdie week het ek ‘n plasing gesien van ‘n Joodse vrou wat gevra het watter kos sy haar kat kan voer sodat sy by die wette van die Pasga kan bly. Dis seker ‘n bietjie van ‘n ekstreme voorbeeld, maar dit wys ‘n mens net hoe ernstig hierdie tydperk vir sommige mense is. Terloops, een van die veeartse het voorgestel dat sy haar kat vir hierdie tydperk by ‘n nie-Joodse vriend los.
So in ons Christelike tradisie het hierdie Pasga-fees, waar die Israeliete se lyding herdenk word, verskuif na een waar ons Christus se lyding en opstanding herdenk. So ons weet dan nou wat die verwysing na die uittog uit Egipte in Josua beteken het deur na die belangrikheid van water te kyk, en hoe God water gebruik het om mense te bevry. Ons weet ook hoekom die Pasga so ‘n belangrike tydperk was (en is) vir die Joodse mense, veral die Jode waarvan ons vanoggend in Josua 5 gelees het. Albei hierdie dinge het in die wildernis, of die woestyn, gebeur. Nog ‘n rede hoekom water so merkwaardig was. Die wildernis is dikwels ‘n droë plek, sonder water, en met baie beperkte kos, so dit was onmoontlik om die Pasga te herdenk. Die eerste Pasga is mos in Eksodus 12, waar ‘n lam of bok geslag word, die bloed aan die deurkosyne gesmeer word, waar hulle ongesuurde brood eet, met baie, baie spesifieke instruksies oor hoe om dit te doen, sodat die laaste van die 10 plae nie die Israeliete sal raak nie. Dan, net na hierdie bevryding vanuit Egipte en ook die wildernis, lees ons van die Israeliete wat die Pasga vier uit dankbaarheid van God. Die laaste area waaraan ek vanoggend dan wil raak, is die konsep van die wildernis, of die woestyn.
So dikwels voel dit asof ons in die woestyn is. Die Bybel is vol verhale van mense wat so in die wildernis of woestyn is. Een van die bekendste voorbeeld hiervan, behalwe natuurlik die Israeliete waarvan ons vanoggend gelees het, is natuurlik Hagar en Ismael wat in na die woestyn toe gestuur is. Net na Isak se geboorte het Sara se persepsie van Hagar heelwat verander. Hagar is nou nie meer ‘n bedreiging ten opsigte van Abraham nie, maar sy sien wel Hagar se seun, Ismael, as ‘n bedreiging. In vers 9 hoor ons dat die keerpunt vir Sara was toe sy Ismael sien “lag” die Hebreeuse woord wat hiervoor gebruik word is מְצַחֵֽק (Metsagei) wat op klomp verskillende maniere al vertaal is. Die 1953 vertaling vertaal dit as “spot”, 1983 as “lag” en die NRSV as “speel”. Hierdie een woord is die rede hoekom Sara vir Abraham oortuig om vir Hagar, die ma van een van sy seuns, weg te stuur. Dis hierdie een woord wat veroorsaak dat Sara wil hê Abraham moet vir Hagar en Ismael weg stuur. Dis hierdie een woord wat maak dat Hagar en Ismael in die letterlike en figuurlike woestyn moet ronddwaal. Hoekom wil Sara so graag hê hulle moet weg gaan? Wat is dan so belangrik?
Op hierdie oomblik sien Sara twee erfgename: Beide Isak en Ismael. In ‘n oomblik besef sy dat sy nie wil hê haar seun, Isak, saam met Hagar se seun, Ismael, erf nie, selfs al is Abraham beide van hulle se pa. Robert Alter se vertaling van vers 10 bied vir ons ‘n insig vanuit ‘n ander hoek. “Drive out this slavegirl and her son… for the slavegirls son will not inherit with my son, with Isaac”. Let op, Sara noem nie eers vir Hagar en Ismael op hulle name nie. Sy gebruik ‘n taal wat neerkyk, wat verneder, wat die menswaardigheid van Hagar en Ismael ontneem. Abraham voel natuurlik dat hierdie nie reg is nie. hy wil nie hê dat sy seun Ismael niks erf nie. Maar God gryp hier in. God maak aan Abraham ‘n belofte dat Ismael die vader van ‘n groot nasie sal word. Hier waar mense weer God se plan belemmer, kry God steeds dit reg om in te gryp.
Hagar en Ismael is in die woestyn. Die Israeliete in Josua is in die woestyn. Die woestyn is natuurlik ‘n baie sterk tema binne ons Christelike tradisie, omdat dit so baie keer in die Bybel voorkom. Dit kan gesien word as ‘n plek van ‘op pad wees’, baie soortgelyk aan die uittog uit Egipte. Maar die woestyn kan ook gesien word as ‘n plek van swaarkry, versoeking, en eensaamheid. Baie keer binne ons Christelike tradisie word die woestyn gesien as ‘n simbool van tye van droogheid en verlies. Let op droogheid: die teenoorgestelde van water. Dit is tye wanneer mense onseker is van God se teenwoordigheid. Daar is wel ‘n vreemde paradoks wat hier voorkom. Die woestyn kan ook gesien word as ‘n plek waar God ontmoet kan word. Hier word die woestyn ‘n plek waar mense ontslae kan raak van hulle wanpersepsies en waar hulle God en hulself kan herontdek. Alan Jones beskryf in sy boek Soul Making na die woestyn as ‘n plek van stilte, wag, en versoeking, maar ook as ‘n plek van openbaring, gesprek, en transformasie.
Dink bietjie oor jou eie lewe: Wanneer in jou lewe het God “water” gebruik? In ander woorde; God het water by die Israeliete gebruik om hulle veilig te hou waar waters geskei is, en ook om ‘n onmiddellike nood aan te spreek (wat hulle fisiese dors was), so wat ek eintlik vra is, waar in jou lewe het God jou al veilig gehou deur waters te skei, en waar het God ‘n onmiddellike nood aangespreek? En wat is die tye van jou lewe waar dit gevoel het asof jy in die woestyn, of in die wildernis was? Dink aan ‘n tyd toe dit gevoel het asof niks sin gemaak het nie en waar jy God opnuut herontdek het? ‘n Plek waar God Godself aan jou openbaar het, waar jy in gesprek met God getree het, en waar God jou getransformeer het?
God is ook in die wildernis. Ons is ook soms in die woestyn of in die wildernis, maar God is ook daar. God bring vir ons water wanneer ons in die wildernis is, net soos wat God vir die Israeliete water gebring het om te drink, en water geskei het om hulle veilig te hou. God bring vir ons kos wanneer ons in die wildernis is, net soos wat God ook die Israeliete met manna voorsien het, wat ook een van die redes is hoekom die Pasga so ‘n sentrale rol in vanoggend se skrifgedeelte speel. Ons lees mos ook in Johannes 6:55 dat Christus sê” my liggaam is ware voedsel, en my bloed is ware drank”. Dit gaan eintlik oor baie meer as kos en water. En God is ook teenwoordig binne die wildernis. Binne hierdie spasie waar ons soms voel asof ons verdwaal, asof niks sin maak nie, asof ons nie kan begryp wat aangaan nie. Maar in dieselfde asem is hierdie ook soms spasies waar ons God se teenwoordigheid ervaar, waar ons God opnuut ontdek, waar ons meer en meer bewus word van ons afhanklikheid van God. God gee vir ons water, God is saam met ons teenwoordig by sulke Pasga-maaltye, en God is saam met ons in die wildernis.
Amen.