Skriflesing (Psalm 122)
1‘n Pelgrimslied. Van Dawid. Ek was bly toe hulle vir my gesê het: “Kom ons gaan na die huis van die Here.” 2Ons voete staan in jou poorte, Jerusalem – 3Jerusalem, gebou as ‘n stad wat as ‘n eenheid saamgebind is, 4waarheen die stamme optrek, die stamme van die Here, soos aan Israel voorgeskryf is, om die Naam van die Here te prys. 5Want daar staan trone vir regspraak, die trone van die huis van Dawid. 6Bid vir die vrede van Jerusalem: “Mag dié wat jou liefhet, rustig leef; 7mag daar vrede wees by jou verdedigingswal, rustigheid in jou vestings.” 8Ter wille van my broers en vriende sê ek graag: “Mag daar vrede in jou wees!” 9Ter wille van die huis van die Here ons God wil ek die goeie vir jou nastreef.
Preek
Psalm 122 is ‘n lied vir die reis na Jerusalem, ‘n pelgrimslied. Pelgrims het meestal saam in groepe opgetrek vir die feeste en die liedere by bepaalde fases van of haltes op die tog gesing. Die belangrikheid van die saam op reis gaan, die gedeelde ervaring van die pelgrimstog, is ewe belangrik.
Hierdie teksgedeelte het eintlik ‘n baie belangrike parallel met Kersfees. Kersfees is gesentreer rondom Christus se koms na die wêreld. God se teenwoordigheid binne die wêreld. Vir die Israeliete was Jerusalem die middelpunt van God se teenwoordigheid. En nadat die oorspronklike tempel in Jerusalem vernietig is en herbou is, het dit vir die Israeliete ‘n soort vernuwe teenwoordigheid van God simboliseer. Maar kom ons kom terug by Psalm 122 en die pelgrimstog waarvan daar gepraat word.
Ek wil graag ‘n paar punte uitlig. Die eerste punt is dit: Die pelgrimstog het ‘n spesifieke fokus: Jerusalem. Vir Israel was Jerusalem die fokuspunt vir die wyse waarop hulle hulself en hul geloof verstaan het: Dit het die teenwoordigheid van God by sy volk uitgebeeld; dit was die bron van hul lewenskrag en seëninge; dáár is reg gespreek teenoor verontregtes; dáár is die stamme saamgebind tot eenheid; dít was die vesting van vrede, die bron van die goeie. Jerusalem was ‘n stad van skoonheid en prag met ‘n afskynsel van God se heerlikheid en lig. Dit was vir hulle letterlik die middelpunt van die wêreld, die sentrum waarheen al die volke uiteindelik sou stroom om daar in die vreugde en vrede te deel (vgl. Jes. 2:1-5, 56:3-7; Miga 4:1-4).
Die skrywer van Psalm 122 is ‘n godsdienstige pelgrim uit die binneland wat hom verlustig in die stil statigheid van Israel se herboude Tempel. Onthou, hierdie is die herboude tempel, sonder poorte soos vloeiende goud en met geen breë, vee howe nie, so dit skiet ver tekort aan die gebou wat Salomo so pragtig gebou het en wat Nebukadnesar so gewelddadig in 587 v.C. vernietig het. Nietemin vang hierdie bymekaarkompunt van die gelowiges die digter op in visioene van die grootsheid wat was. Gevolglik, omdat hy geen hartseer oor die verlede koester nie, is hy slegs bewus van die tempel se huidige heiligheid. Probeer om jouself in hierdie pelgrimse skoene te plaas terwyl hy op reis is na Jerusalem.
Dan die tweede punt wat ek wil maak: Die psalmdigter open sy lied met diepgevoelde dankbaarheid. Want hy wandel as een van ‘n goeie geselskap wat sy eerbied vir die tempel deel. Hy is heeltemal bewonder van die prag van die tempel waarheen hulle oppad is. Hy is ook deel van daardie geselskap omdat vriende en bure hom genooi het om die pelgrimstog saam met hulle te maak. Hy reis nie alleen nie. Hy reis saam met ‘n gemeenskap van gelowiges. Sê dit nie miskien iets vir ons van hoe ons veronderstel is om te leef nie?
Ek was bly toe hulle vir my gesê het: “Kom ons gaan na die huis van die Here.” (Psalm 122:1)
Dit is ‘n uitnodiging wat die digter as gevolg van ‘n aantal redes verwelkom, nie die minste nie die veiligheid wat die pelgrimsband bied. Dit sou glad nie slim gewees het om hierdie reis alleen aan te pak nie, aangesien die paaie vol padrowers is wat wag om op die eensame reisiger toe te val. Boonop is daar ‘n warm gemeenskap wat slegs in die deel van geloof te vinde is. Só reflekteer die psalmis terwyl hy tussen sy metgeselle binne die heilige poorte staan (Psalm 122:2; vgl. Psalm 147:2). Hierdie reis is só spesiaal vir alle Israeliete, ongeag hul stam-agtergrond. Want of dit nou afstammelinge van Benjamin of Juda, Efraim of Issaskar is, hier is hulle een in toewyding en enkel in doel. Hulle aanbid God, is op reis om God te ontmoet, en ervaar God se teenwoordigheid saam met ‘n diverse groep van verskillende kulture wat saam op reis is. Sê dit nie miskien iets vir ons van hoe ons veronderstel is om te leef nie?
Die digter droom ook nie enige wilde droom nie, verseker hy homself. Het die twaalf stamme van ouds nie by Israel se drie groot feeste in die Tempel bymekaargekom nie? (Psalm 122:4). Die twaalf stamme: twaal verskillende kulture, twaalf verskillende groepe mense, twaalf groepe wat saam die Een God aanbid. Dus sien hy homself as een met alle Israeliete, beide in die verlede en die hede.
Die gevoel van eenheid wat die Tempel dus by die skrywer wek, is egter nie sy enigste rede tot blydskap nie. Jerusalem self, erken hy, is God sowel as Israel s’n. Mens kan nie die bewyse van die goddelike teenwoordigheid oral oor mis nie. Hierdie bewyse van God se teenwoordigheid is dan nie net die nuwe tempel in Jerusalem nie. Dis ook die samesyn van mense.
Hierdie trotse stad het in puin gelê, oorval deur haar vyande, haar leiers in ballingskap weggevoer, haar profete – soos Jeremia – gevange geneem. Ons het hierdie jaar al so baie oor hierdie ballingskap gepraat, oor Jereima se omstandighede toe hy sy gedagtes laat neerpen het, en soveel ander stories. Maar met die Here se hulp, soos ‘n Feniks wat weer uit die as opstaan, het sy (Jerusalem) uit die puin opgestaan om haar regmatige plek in die son terug te eis. Weg is die verwoesting wat haar oorwinnaars aangerig het. Nou staan haar mure weer sterk, terwyl ry op ry huise afmarsjeer in strate wat eers gister puinhoop was (Psalm 122:3).
Hierdie gedagtes en waarnemings is regtig baie stimulerend. Dit laat ‘n mens dink. Maar, die pelgrim vertoef nie daarmee nie. Daar is nog ‘n ander rede, dui hy aan, vir die gevoel van eenheid wat sy besoek aan die nasie se hoofstad by hom ingeboesem het. En dit bring my by die derde punt wat ek wil maak: Dit is die koninklike erfenis wat hy met sy mede-Israeliete deel. En wat ‘n roemryke erfenis is dit tog!
Jerusalem is die stad van Dawid, die Here se gesalfde soewerein; en, ten spyte van haar af en toe las van swakkelende monarge soos Agas en Joachin, is die heerlikheid van die groot koning se aanraking steeds op haar – danksy opvolgers van sulke kwaliteit soos Joas en Josia, wie se trone setels van geregtigheid was (Psalm 122:5).
Die Psalm beeld uit hoe die fokus op Jerusalem ‘n bron van vreugde vir Israel was. Dit loop oor van die verwagting van vreugde wat die tog na Jerusalem saam met ander sal inhou, en ‘n versugting na die mooi en sterk stad waar die huis van Here is, waar die Here se Naam woon, waar God self teenwoordig is. Hierdie stad is die doel en die eindbestemming van die pelgrimstog.
Daarom het die pelgrims mekaar telkens opgeroep, herinner aan, uitgenooi vir die reis en is die offerandes en padkos vreugdevol gereedgemaak (Deut. 14:22-27). Dankbaarheid is met konkrete offerandes, maar ook met dankliedere en -gebede betuig. Dankbetuigings was die bevestiging dat Israel leef van die goeie gawes uit God se hand en dit daarom simbolies en dankbaar aan God kom teruggee.
As jy by die bekende poorte van die stad aangekom het, was daar die belewenis van heilige grond wat die pelgrims betree met verwondering, heilige eerbied, lofbetuiging in die teenwoordigheid van die Here.
So, basies wat hier aangaan: Die digter van hierdie Psalm is, saam met ander, op ‘n pelgrimstog, op ‘n reis, na die nuwe herboude Tempel in Jerusalem sodat hulle God se teenwoordigheid daar kan ervaar. Dis ‘n gemeenskaps uitstappie, ‘n reis wat hulle nie alleen doen nie, maar saam met ander mense wat ook op God se hand staat maak. Dit was ‘n gesellige reis, met gesprekke, padkos, en heel moontlik liedere saam sing. Die Psalms is mos immers ‘n mengsel van gedigte en liedere wat op sulke reise gesing is.
Maar tog is daar ‘n stukkie ironie wat ons eintlik in die gesig slaan. Ons hoor in Psalm 122 so baie oor eenheid, dat dit ‘n pelgrimstog is wat saam met ander gedoen word na ‘n stad wat idealisties en mooi uitgebeeld word. Jerusalem beliggaam die inhoud van Israel se geloof.
Die werklikheid van Israel se optrede beteken Jerusalem was in werklikheid meestal allesbehalwe die stad wat in Psalm 122 uitgebeeld word. Die profete herinner ons hoeveel ongehoorsaamheid in Jerusalem gepleeg is. Hoe die tempel en die regering van Israel dikwels gekaap is deur mense wat hulself wou verryk of hulle eie voordeel wou soek. Klink dit bekend?
Vir baie is Jerusalem tot vandag toe eerder simbool van onreg, ongehoorsaamheid, die onvermoë om te besef wie en wat regtig ware vrede kan bring. Jerusalem is vandag verdeel deur ‘n aaklige skeidslyn, ‘n muur wat sekere mense uitsluit op grond van hulle identiteit en ander bevoordeel. Dit is ook waar van ons wêreld. Die ideaal van vrede en veiligheid is nog nie werklikheid in ons wêreld nie; rondom ons is die werklikheid eerder gebroke en in donkerte gehul.
Jesus se koms gee egter nuwe betekenis aan en is in sekere sin die vervulling van die verwagtinge rondom die stad Jerusalem. En dis waar die Kersfeesboodskap inkom. Hy is Immanuel, God by ons, soos die tempel was. As Messias-Koning uit die geslag van Dawid bring Hy God se reg en geregtigheid in hierdie wêreld in. Hy is die Vredevors wat die omvattende vrede (sjalom) sou bring.
Jesus se verlossing aan die kruis lui ook vir ons die verwagting van die nuwe wêreld in. Die kruis het geweld en magsmisbruik gevange geneem en skep ‘n nuwe werklikheid uit alle vorme van menslike geweld. Soos God Jesus uit die graf lewend gemaak het, sal God ook met die res van die skepping doen, insluitend almal wat glo.
Daarom verbind die Nuwe Testament geloof in Jesus Christus aan die verwagting van ‘n nuwe Jerusalem. Hieraan herinner Advent ons. Advent verkondig: Jesus maak die inhoud van Psalm 122 volledig waar.
Jesus sal alles nuut en heel maak, die nuwe stad Jerusalem laat aanbreek. Soos Hy een maal gekom het, kom Hy ‘n tweede keer as oorwinnaar wat dan alles finaal heel en nuut maak. Dáárop is ons hoop gebou, hoop wat ons nou reeds tot konkrete dade aanspoor. Sê dit nie miskien iets vir ons van hoe ons veronderstel is om te leef nie?
Ons roeping is dus om intussen, totdat die nuwe Jerusalem kom, te bid en te werk vir hierdie nuwe stad, die stad van geregtigheid en vrede, die koms van God se koninkryk. En in ons bid en werk moet ons onthou dat hierdie nuwe stad vir almal bedoel is: die poorte daarvan staan wyd oop (Op 21:25-26). Kom ons werk saam en bou hierdie nuwe stad vir die mense rondom ons. Vir ons gemeenskap. Vir ons werkers, ons kollegas, ons arbeiders, ons gesinne, ons families, en ons gemeente. Ons is almal saam op reis na die nuwe Jerusalem, nes Psalm 122. Die enigste verskil is, ons is nie net op reis nie; ons is ook besig om te bou aan hierdie nuwe Jerusalem waar Christus se liefde tasbaar teenwoordig sal wees. Dis omdat Christus gebore is en gekom het, en omdat hy weer sal kom, dat ons saam met ander op hierdie opwindende reis kan gaan.
Amen.