Openbaring 22:12-14, 16-17, 20-21 - 'n Toekoms vol Genade

Skriflesing (Openbaring 22:12-14, 16-17, 20-21)

12“Kyk, Ek kom gou! En die beloning is by My, om elkeen volgens sy optrede te beloon. 13Ek is die Alfa en die Omega, die Eerste en die Laaste, die Begin en die Einde. 14Gelukkig is diegene wat hulle lang stolas was, sodat hulle reg kan hê op die boom van die lewe, en die stad deur die poorte kan binnegaan.

16“Ek, Jesus, het my engel gestuur om teenoor julle oor hierdie dinge in die gemeentes te getuig. Ek is die wortel en die geslag van Dawid, die helder môrester.” 17En die Gees en die bruid sê: “Kom!” En laat elkeen wat luister, sê: “Kom!” En laat elkeen wat dors het, kom. En laat elkeen wat dit begeer, die water van die lewe kom kry, verniet!

20Hy wat hierdie dinge getuig, sê: “Ja, Ek kom gou!” Amen! Kom, Here Jesus! 21Die genade van die Here Jesus bly by julle almal.

Preek

Stel jou voor dat jy een Sondagoggend die Rapport by Spar gaan koop, dit oopmaak en sien dat daar in groot swart letters staan: “Jesus Christus sal oor twee weke terugkeer”. Wat doen jy in daardie oomblik? Hoe sou jy reageer op inligting wat so jou hele wêreld omkeer? Miskien sou daar twee tipes reaksies wees. Party mense se eerste instink is dalk vrees. Hulle verander uit vrees dadelik hulle leefwyse. Die Here kom en ons is nie gereed nie. Miskien gaan sommige van ons meer gereeld kerk toe kom; dalk daag sommige mense elke dag hier op. Gebed sou ‘n baie hoër prioriteit in die lewe word. Ons het nie net soggens en saans gebid nie, maar baie keer elke dag. Ons sou versoening soek, dalk met ‘n familielid, buurman, medewerker, en natuurlik ook met God. Ander het dalk ‘n heel ander reaksie. Sommige van ons doen dalk niks anders nie. Dalk sê jy “Daar is niks wat ek nou so op die nippertjie kan doen nie. God het reeds my lot bepaal. Ek kan net sowel voortgaan wat ek al die tyd gedoen het.”

Ek dink as ons so oor God dink maak ons ‘n fout. Die bekende filosoof Paul Riccueur het gesê dat teologie wek dikwels die volgende gevoel in ons harte: Die vrees vir straf en die begeerte om beskerm te word. Dit skep die beeld dat God maar net iemand is wat vêrlangs sit en na ons kyk om ons te beoordeel vir elke klein dingetjie wat ons verkeerd doen. Dit skep nie ‘n beeld van die persoonlike, intieme God wat ons aanbid nie. Dit skep nie ‘n beeld van ‘n God van genade en liefde wat ons aanbid nie. Dit skep ‘n beeld van ‘n god wat nie in ‘n lewende verhouding met mense lewe nie. Dit gaan alles oor die mense se Godsbeeld. Watter Godsbeeld het die mens wat uit vrees reageer en dadelik hulle lewens verander? Watter Godsbeeld het die mense wat niks wil verander nadat hulle daai koerantopskrif gelees het nie?

Imago Dei is die teologiese term wat gebruik word om die unieke verwantskap tussen God en mensdom uit te lig. Dit beteken letterlik “Beeld van God”. Wanneer ons oor die Imago Dei praat, stel dit ons in staat om tot klomp verskillende gevolgtrekkings te kom. Een van hierdie gevolgtrekkinge is die feit dat die menslike wese tydelik is. Dit is ‘n kenmerk van menslikheid. Die Imago Dei maak dan dat ons verby hierdie tydlyn-obstruksie kan kyk en bewus word van God se ewigheid. Ons lees gereeld van hierdie ewigheid in Openbaring. Vers 13 wat ons vanoggend geles het sê mos “13Ek is die Alfa en die Omega, die Eerste en die Laaste, die Begin en die Einde”. Dit wys God se ewigheid, in kontras met ons menslike tydelikheid. Alhoewel die menslike liggaam tydelik is, help die Imago Dei ons om te besef dat die spirituele wese van die mens afsonderlik is van die fisiese wese.

In die skeppings narratief is dit klaar bekend dat die mensdom in die beeld van God geskep is. Dis niks nuuts vir ons nie. Hierdie is die eerste antropomorfiese eienskap in die beskrywing van die aard van God wat ons in die Bybel teëkom. Onthou, antropologie is mos die studie van mense en menswees. Die skeppingsnaratief waarvan ons in Genesis lees is die eerste antropomorfiese eienskap in die beskrywing van die aard van God wat ons in die Bybel teëkom. Die Bybel is egter nie baie duidelik oor wat presies hierdie ‘beeld’ na verwys nie. Sekere dele van die Ou Testament is verbasend antropomorfies, soos Genesis 3:8, terwyl ander teksgedeeltes baie meer klem lê op die transendensie en misterie van God. Dit sluit in Eksodus 20:4 wat uitdruklik enige beeld wat God voorstel verbied. Die Imago Dei wat ons het, die Godsbeeld wat ons in ons eie koppe het, speel ‘n dramatiese groot rol in hoe ons die Bybel lees, veral Openbaring, en veral omdat Openbaring baie oor die wederkoms praat wat baie mense angstig laat voel, juis omdat hulle ‘n spesifieke Godsbeeld het.

‘n Algemene beeld van God wat deesdae toegepas word is ‘n hiërargiese struktuur. Hierdie neiging is gebaseer op die Genesis teks wat gaan oor die mensdom wat heerskappy oor die Aarde en sy inwoners het. God heers oor die mensdom, die siel heers oor die liggaam, mans heers oor vrouens en die mensdom heers oor alle wesens. Maar hierdie beeld is duidelik problematies aangesien dit slegs fokus op een paradigma, en nie meervoudige paradigmas nie. Die moderne teoloë sal saamstem dat die simbool van die ‘beeld van God’ beskryf menslike lewe in verhouding met God en ander lewende wesens. Hierdie denkwyse is al bekend van Genesis af wanneer mensdom in ‘n konstante, intieme verhouding met God geleef het. Om mens te wees beteken om vry te wees en om in wedersydse liefde en respek met mekaar te leef. Die beeld van God is nie beperk tot ‘n stel menslike eienskappe nie, maar is transendent; Met ander woorde: God se wese gaan ons verstand en denkwyse te bowe.

Om geskape in God se beeld te wees is nie ‘n tydelike toestand nie, maar ‘n konstante beweging wat streef na ‘n doel. Die bekende teoloog Daniel Migliore bevestig dat die menslike lewe dinamies is en dat ons konstant vorentoe beweeg. Die kerkvader Augustinus stel hierdie dinamika op ‘n baie treffende manier in een van sy bekende gebede: “You have made us toward yourself”. Hierdie stelling van “You have made us toward yourself” stel die menslike neiging van konstante verandering voor, dis ‘n soektog en gaan oor vrae vra. Dit is in die menslike natuur om konstant te beweeg aangesien ons konstant na iets nuuts strewe. Mense se onrustigheid oor hulle huidige omstandighede dryf hulle daartoe om nie op een metaforiese plek stil te kan staan nie.

Maar kom ons gaan terug na daai koerantopskrif “Jesus Christus sal oor twee weke terugkeer”. Hoekom maak dit sommige mense bang? Is hulle bang omdat hulle sondige mense is? Is hulle angstig? Vers 12 wat ons vanoggend gelees het sê mos dan “12Kyk, Ek kom gou! En die beloning is by My, om elkeen volgens sy optrede te beloon.” Optrede? Ook dit wat ons sondig?

Die konsep van sonde word baie keer misverstaan. Sonde is nie die blote ontwrigting van ons morele waardes nie, maar is ook die ontwrigting van ons verhouding met God. Dit is ook moontlik om sonde te sien as antroposentries, aangesien die mensdom dan die middelpunt van alle bestaan word omdat daar net gedink word oor die bevoordeling van mensdom. Migliore beskryf ook dat dit godslasterlik kan word wanneer ons sondig. Deur te sondig bewys die mens dat hulle denke gesentreer is rondom onbeperkte vryheid: Die mens speel dus God. Hierdie is weereens antroposentriese optredes.

God se heerskappy word bevestig in die hantering van sonde. Die genade wat God aan die mensdom betoon bewys dat die mensdom onderdanig is. Wanneer sonde vergewe word is die natuurlike instink wat mensdom besit dankbaarheid. Om sonde te vergewe is ‘n genade-aksie: Dit is nie nodig vir enige iemand om te vergewe nie, maar dit word nogtans gedoen uit liefde en genade. Sonde is ook ‘n aspek wat antropologie uniek maak. Die mensdom is die enigste lewende wesens wat in staat daartoe is om te sondig. Om te sondig beteken om iets wetend en uit vrye wil te doen wat teen die morele en etiese strukture gaan. Wanneer ons sê dat ‘n dier bv. iets verkeerds gedoen het, bedoel ons nie dat die dier gesondig het nie, maar dat die dier iets gedoen het wat die mensdom op ‘n negatiewe manier affekteer. Diere kan nie logies dink nie: Hulle aksies is gebaseer op instink. Die mensdom kan wel logies dink. Daarom is sonde ‘n unieke dissipline in antropologie. Maar dit bly eintlik nogal ‘n misterie.

Die teenoorgestelde van misterie is openbaring (‘n baie gepaste woord). Hierdie twee konsepte gaan hand-aan-hand met mekaar wanneer daar gepraat word oor godsdiens. Godsdiens is gewoonlik ‘n respons tot die misterie van die menslike bestaan, so ons kan dus aflei dat die teenoorgestelde daarvan, ‘n openbaring, ook ‘n godsdienstige element bevat. Verskeie kulture ervaar ‘n openbaring op verskeie maniere. Dit word gewoonlik beskryf as ‘n ontmoeting met die teenwoordigheid van God in hulle sosiale en kulturele omgewing. Dit is die kragtige werking van God wat ‘n verbond sluit met God se mense. Hierdie openbaring het sy mees persoonlike vlak bereik met die inkarnasie van Christus; Christus wat mens geword het. Deur Christus maak God, die skepper, God-self bekend, oftewel, word God geopenbaar aan die mensdom. Christus leer ons om nie-antroposentries te dink.

Daar word tradisioneel verwys na Gods-beelde as die manier hoe mense God uitbeeld en verstaan. Gods-beelde kan ook gesien word vanuit ‘n ander perspektief. Die mens is gemaak in God se beeld, dus is daar iets baie spesiaal aangaande die mens se wese. Deur geskiedenis kan ons tot die gevolgtrekking kom dat God ‘n dinamiese wese is. Omdat ons geskep is in die beeld van God, is ons ook dinamiese wesens. Mensdom verander deur tyd en pas aan by die huidige sosiale en politiese omstandighede. Hierdie omstandighede beïnvloed ook die manier hoe ons dink oor God.

Ons kan nie verwyder word van ons verlede nie. Dit vorm ons tradisies, denke en teologie. Dis deel van ons identiteit. Tradisies en Gods-beelde binne tradisies is ‘n komplekse dissipline, aangesien elke kultuur verskil. Maar dit bly merkwaardig dat hierdie tradisies nie onveranderd gebly het deur die eeue nie. Hierdie dinamiese aard van mensdom bevestig eintlik ook die dinamiese, interaktiewe aard van God.

In Antropologiese teologie besef ons dat beide mensdom en God dinamiese wesens is. God is bewus van die aanpassings en veranderinge wat mensdom ondergaan. Omdat mensdom geskep is in die beeld van God, is dit dan logies dat God uiteraard self ook dinamies is en hierdie aanpassings wat ons maak baie beter verstaan as wat ons ooit sal.

Die Openbaring van God in antropologie speel ‘n kern rol in die samelewing. Hierdie openbaring is die persoonlike bekendmaking van God. Wanneer twee persone ontmoet, word hulle voorgestel deur hulle karakter, geaardheid en ingesteldheid. Christelike openbaringe is nie net hierdie aksies nie, maar ook ‘n Goddelike aksie wat gepaard gaan met die hernuwing van lewe. Openbaring beteken genade.

14Gelukkig is diegene wat hulle lang stolas was, sodat hulle reg kan hê op die boom van die lewe, en die stad deur die poorte kan binnegaan.”

In v14-15 is dit Jesus Christus wat in sy Kruis daardie genade voorsien het waardeur die mens, dis nou ons, vergewe kan word; maar die mens moet daardie offer toeëien. ‘n Eenvoudige voorbeeld is seep en water. Ons kan seep en water vir iemand gee, maar ons kan nie daai persoon dwing om dit te gebruik nie. Die wat in die stad van God ingaan, is diegene wat die offer van Jesus Christus aangeneem het.

Ons lees bietjie later ook die lys van diegene wat uitgesluit is van die stad van God. Ons het reeds ‘n baie soortgelyke lys in Openb 21:8 gelees. Dis van diegene wat in die poel van vuur gegooi is. Die nuwe frase hier is die honde. ‘n Baie vreemde woord om hier te gebruik. Dit kan dalk twee betekenisse hê.

(i) Die hond was die simbool vir alles wat wreed en onrein was. Nogal vreemd, want ek sou sê dat vandag sien ek ‘n hond as seker die enigste aardse simbool vir omgee en rein. Dis seker ook een van die redes hoekom die kulturele konteks van dít wat ons lees so belangrik is, anders sou ons hierdie vers heeltemal anders gelees het. H. B. Swete sê: “Niemand wat die honde dopgehou het wat in die kwartiere van ‘n oostelike stad rondloop, sal wonder oor die minagting en walging wat die woord vir die oosterse verstand voorstel nie.” Dit was hoekom die Jode die heidene honde genoem het. Daar is ‘n rabbynse gesegde wat sê: “Wie saam met ‘n afgodsdienaar eet, is dieselfde as hy wat saam met ‘n hond sal eet. Wie is ‘n hond? Hy wat nie besny is nie.” Ander stel weer voor dat die honde nie net die skaamteloses en die ongelowiges is nie, maar ook Christene wat ná hul doop “terugkeer na hul braaksel”. Die hond kan dus ‘n simbool wees van alles wat walglik is.

(ii) Maar daar is ‘n ander moontlikheid. Daar is ‘n vreemde frase in Deut.23:18. Die volledige vers sê: “18Die verdienste van ‘n prostituut en die loon van ‘n hond mag nie in die huis van die Here jou God kom om enige gelofte na te kom nie, want albei is vir die Here jou God afstootlik.” Die loon van ‘n hond is moeiliker. Die punt is dit. In die antieke tempels was daar nie net vroulike heilige prostitute nie, daar was ook manlike heilige prostitute; en hierdie manlike prostitute is bekend as honde. Hond kan ‘n heeltemal immorele persoon aandui, en dit kan hier die betekenis daarvan wees. Prys die Here ons konteks en kultuur verskil van Openbaring s’n teenoor honde.

Elkeen wat valsheid liefhet en optree, word uitgesluit. Hier is ‘n eggo van die Psalmdigter: “7Daar sal niemand in my huis woon wat bedrog pleeg nie. Wie leuens vertel, sal nie voor my oë standhou nie.” (Ps.101:7).

Hierdie laaste gedeeltes van die boek Openbaring gee ‘n treffende opsomming van die belangrikste sake.

Dit beklemtoon weer eens dat God in beheer is: God rig die mensegeskiedenis en inisieer die verloop van gebeure. Vir ons vandag is dit gerusstellend om in ‘n tyd van soveel onsekerhede vas te kan hou aan die waarhede in Openbaring, wat deur God self gewaarborg en begelei word. Dit gee gelowiges gemoedsrus, maar besiel ons ook met hoop omdat ons weet God is die Oorwinnaar. Dit gee moed vir die hede en hoop vir die toekoms.

Deur gelowiges se belydenis en lewenstyl word die kernboodskap van Openbaring oorgedra en gee dit lewe aan ‘n onseker wêreld in nood. Deur woord en daad word die Here se alleenheerskappy op aarde deur gelowiges uitgeleef. Die krag van die Gees stel gelowiges in staat om te kan volhard in geloof en ‘n verskil te maak in die wêreld rondom hulle. Dit bly altyd God se wêreld waarin die kerk en gelowiges deur die Gees, God se doel sigbaar maak. En dis in hierdie wêreld waar ons die beeld van God; die Imago Dei, meer sigbaar kan raaksien.

Die rede lê dalk daarin dat ons in ons lewe plaasvervangende dinge vir God het waarop ons eerder wag. Ons wag vir beter ekonomiese tye, of groter sekuriteit, of die een of ander geluk wat na ons kant toe moet kom. Natuurlik is dit menslik om hiervoor te wag, maar dit is nie verwagtings wat ons diepste dors kan les nie.

Dis daarom goed om te onthou dat die vroeë kerk, die tydperk toe Johannes Openbaring neergepen het, nie bloot vir ‘n nuwe tydperk gewag het nie, maar vir Iemand. Iemand wat sy liefde en betroubaarheid gewys het deur ‘n kruis en ‘n leë graf. Deur die werking van die Gees van die gekruisigde en opgestane Jesus in hulle lewe, het gelowiges beleef hoe hulle lewe aangeraak en verander word. Daarom wag hulle met ‘n gegronde verwagting. Daarom bid hulle: “Maranata!”

Vir ons om met verwagting en hoop te leef, is dit belangrik om nie ons fokus op die Een wat weer kom te verloor nie. Ons toekoms is nie iets nie, maar Iemand. Hierdie Iemand beloof om hierdie wêreld nuut te maak en roep ons op om aktiewe medewerkers in diens van God se komende wêreld te wees. Hoe kry ons dit reg om op die koms van God en sy wêreld te bly wag?

Ons lewe is vol aanduidings dat ons nie kan weet wat om van die toekoms te verwag nie. Openbaring 22 sê nie vir ons dat die toekoms mooi en goed is nie. Dit sê wel vir ons dat die toekoms God is. Dáárom is die toekoms goed. Daarom is die einde iets waarna ons met verwagting kan uitsien. Die einde is immers Iemand; daarom is die einde nie werklik die einde nie, maar die begin van ‘n dieper lewe saam met God.

Daar is beide patos en heerlikheid in die manier waarop die Openbaring eindig. Te midde van die verskriklike vervolging van sy dag, was die een ding waarna Johannes verlang het, die spoedige wederkoms van Christus. Daardie hoop is nooit verwesenlik op die manier waarop hy verwag het nie, maar ons kan nooit twyfel dat Christus nogtans sy belofte volop nagekom het dat Hy tot aan die einde van die wêreld by sy eie sou wees nie (Matt.28:20).

Dan kom die heerlikheid. Hoe dit ook al sy, Johannes se beeld van die Imago Dei, van die Beeld van God was seker van die genade van die Here Jesus Christus en ewe seker dat dit vir alles voldoende was.

Dit is sekerlik simbolies, en dit is sekerlik gepas, dat die laaste woord van die Bybel GENADE moet wees.