Onverwagse dinge Johannes 12:1-8b

Skriflesing (Johannes 12:1-8a)

1Ses dae voor die Pasga het Jesus na Betanië gegaan. Dit was die tuiste van Lasarus, wat Jesus uit die dood opgewek het. 2Daar het hulle vir Hom toe ‘n maaltyd voorberei, en Martha het hulle bedien. Lasarus was een van dié wat saam met Hom aan tafel was. 3Toe het Maria ‘n litra egte, uiters kosbare nardusolie geneem, die voete van Jesus gesalf en met haar hare sy voete afgedroog. En die huis is deurtrek met die geur van die olie. 4Toe sê Judas Iskariot, een van sy dissipels, die een wat Hom sou verraai: 5“Waarom is hierdie reukolie nie vir driehonderd denarius verkoop en die geld aan die armes gegee nie?” 6Hy het dit gesê, nie omdat hy vir die armes omgegee het nie, maar omdat hy ‘n dief was – hy het die geldbeurs gedra en het van die bydraes gevat. 7Daarop het Jesus gesê: “Laat haar begaan – sy het dit vir die dag van my begrafnis bewaar. 8Want die armes het julle altyd by julle, maar vir My het julle nie altyd nie.”

 

 

Preek

Die Evangelie volgens Johannes is een van die vroegste beskrywings van Jesus se lewe wat ons vandag het. Ons lees ook in die boek dat die skrywer een van Jesus se mees nabye volgelinge was. Johannes kom ook dikwels self voor binne hierdie storie wat hy self beskryf, maar daar is tog bietjie onsekerheid oor of dit Johannes die seun van Sebedeus, en of dit Johannes die Ouderling was, wat later in die vroeë kerk bekend geword het. So, wieookal dit was, die boek gaan oor hierdie Johannes se oogetuie van Jesus se bediening op aarde en is op ‘n fantastiese manier geskryf. Een van my Griekse professors het altyd in klas liries gegaan en konstant vir ons gesê hoe mooi die Grieks van Johannes geskryf is. Johannes beskryf dat die hele doel agter sy skryf van die boek is sodat jy wat dit lees, in Christus as die Messias sal glo, en deur te glo, die lewe in Christus se naam kan hê.

Die eerste deel van die boek, hoofstuk 1, begin met ‘n inleidende gedig, hoofstuk 2 tot 10 gaan dan oor Jesus se wondertekens en die ‘bohaai’ wat hy soms opgeskop het teen die skrifgeleerdes van die tyd, en hierdie is alles eintlik maar ‘n oploop tot een van Christus se grootste wondertekens: die opstanding van Lasarus, waarvan ons in hoofstukke 11 en 12 lees. Dit was net na hierdie wonderteken dat die leiers van die tyd besluit het om hom dood te maak. So hoofstukke 13 tot 17 fokus dan op Jesus se laaste nag en laaste woorde aan sy dissipels, wat dan in hoofstukke 18 tot 20 eindig met Jesus se dood en opstanding. Alles word dan saamgebring met ‘n slot in hoofstuk 21.

Vanoggend fokus ons op hoofstuk 12, wat net na Lasarus se opwekking plaasvind en word ook gesien as die afsluiting van Jesus se openbare bediening. Nou daar is een deel waarop ek graag wil fokus, en dit is vers 7 en 8: 7Daarop het Jesus gesê: “Laat haar begaan – sy het dit vir die dag van my begrafnis bewaar. 8Want die armes het julle altyd by julle, maar vir My het julle nie altyd nie.” So wat het Jesus hiermee bedoel? In my kop kan ek myself nie indink dat Jesus, die Messias van Liefde, so tussen die lyne sal sê dat ons nie vir die armes moet omgee nie. Het Jesus dan nie reg deur sy bediening met arm mense en verwerpte mense saamgeloop nie? Dis dan so onverwags dat Jesus in hierdie geval so anders optree? Maar die ding is… Jesus tree nie anders hier op nie. Ons verstaan dit net baie keer verkeerd. Hierdie twee verse is eintlik baie meer kompleks as wat dit voorkom. So kom ons gesels bietjie meer daaroor. SLIDE (Jesus is wéér aan tafel)

So Jesus is besig om saam met ‘n groep mense te eet. Ons weet nie in wie se huis dit gebeur het nie. In die skriflesing sê dit dat Lasarus ook by was, so hy was ook maar net ‘n gas gewees by hierdie huis in Betanië. En so vat Maria hierdie duur olie en giet dit uit op Jesus se voete volgens Johannes. Die hoeveelheid is een litra, wat die Romeinse pond was van ongeveer 330 gram. So, net om die prentjie bietjie te skep, verbeel jou jy sien Maria hierso wat basies die hoeveelheid van ‘n blikkie coke se olie op Jesus se voete uitgiet, wat ongeveer ‘n hele jaar se salaris gekos het. ‘n Blikkie Coke wat soveel kos soos ‘n jaar se salaris. Dis vrek baie olie. Normaalweg salf ‘n mens die eregas op die voorkop met olie, maar Maria doen hier die onverwagse ding. Sy salf Jesus op die voete, nie die voorkop nie. Julle sal agterkom dat reg deur vanoggend se skrifgedeelte gebeur daar onverwagse dinge. Dinge wat nie die norm van die tyd was nie. En omdat ons vandag nie meer hierdie kulture of rituele het nie, sal ons baie keer dit mis lees en nie agterkom wat die gewig van die betekenis van sommige van hierdie aksies waarvan ons lees is nie.

Miskien was Maria net so dankbaar dat Jesus haar broer weer lewendig gemaak het. Maar Johannes het dalk ook hierdie gebeurtenis voor Jesus se intog in Jerusalem geplaas net voor hy as koning van Israel vereer word. Maar miskien het Johannes dit ook juis op hierdie tydstip vertel as ‘n simboliese teken dat Jesus as koning gesalf is. Daar is klomp verskillende moontlikhede, elkeen baie kragtig op sy eie. Maria se optrede staan in sterk kontras met dié van Judas, wat ’n onbetroubare reaksie op die gebeure rondom die aanbreek van Jesus se laaste ure verteenwoordig. Judas reageer nie met ’n aksie van liefde nie, maar sy motivering is selfsugtig. Sy optrede maak dat die kudde verwilderd word, terwyl Maria se optrede die model van liefde voorstel wat ook die karakter van die kudde behoort te wees.

Die eerste ding wat hier belangrik is om te onthou is dat Christus nie vir materiële dinge omgee nie. Dit is reg deur die Evangelies duidelik gemaak. Die bekende kerkvader, Johannes Calvyn, verduidelik dat wat hierdie salwing van die olie wel merkwaardig maak is dat Maria dit doen op grond van sy wat besef dat Christus buitengewoon is. Maria sien Christus se bediening as buitengewoon en probeer dan om iets buitengewoon te doen om hierdie epifanie van haar te illustreer. So Maria het Christus se voete gesalf as ‘n laaste daad wat sy vir hom kan doen. Sy het daardie olie van haar vir lank gebêre om te verseker dat dit op die gepaste tyd gebruik word. Mense wat gesterf het word ook met olie behandel, so dit het ook ‘n parallel daarmee.

Calvyn gaan verder wanneer hy skryf oor Christus wat hierdie salwing van sy voete goedkeur. Hy sê dat mense wat Christus wil eer met duur besittings en grootse dinge is ape, nie nabootsers nie. “…[they] are apes, not imitators” Met ander woorde, dis net dwase mense wat Maria se aksies wil naboots in ‘n poging om God se guns te verdien. Christus het so ‘n salwing een keer goedgekeur, maar het die herhaling daarvan verbied. So Christus wat hier sê dat hy nie altyd by sy dissipels gaan wees nie, maar dat die armes altyd by hulle gaan wees, is ‘n manier om te sê ‘die regte dinge op die regte tyd’. Christus se teenwoordigheid by ons gaan nie oor ons wat olies uitgiet en grootse dinge doen nie. Christus se teenwoordigheid is by ons slegs deur genade. God wat by ons teenwoordig is deur sy bloed en deur sy Gees, het absoluut niks te doen met ons liggaamlike uitdrukking van liefde teenoor ons nie. Anders is dit voorwaardelike genade, in plaas van onvoorwardelike genade. Oftewel, soos Calvyn dit verwoord: “His presence with us by the grace and power of His Spirit, His dwelling in us and His feeding us with His flesh and blood, have nothing to do with bodily observances. Wanneer Christus dan sê dat die armes altyd by ons sal wees, spreek hy wel Judas aan oor sy geldgierigheid en alles wat daarme gepaard gaan, maar dit herinner ons ook dat wanneer ons God aanbid, ons nie moet verwag dat duur dinge en geldgierigheid ons enige guns by God gaan laat kry nie. SLIDE (WIE het mense gesalf?)

Om weer terug te kom by die salwing en die onverwagsheid daarvan: In die antieke tye was dit gewoonlik mans wat vir ander mans gesalf het. Dink aan Samuel en Saul. Samuel salf Saul as eerste koning van Israel. Manlike Pouse salf manlike keisers, waarvan ons bale lees in Westerse geskiedenis. Maar wat ons vanoggend lees is anders. Hier laat Maria haar hare sak, beide letterlik en figuurlik, saam met ‘n hele klomp kulturele konnotasies, en salf Jesus. ‘n Vrou salf ‘n man. As dit nie ‘n goeie voorbeeld is van God wat onverwagse dinge doen met onverwagse mense nie, dan weet ek nie wat is nie. Mense het verwag dat Christus, die Messias, soos Dawid sou lyk. Soos ‘n egte koning sou lyk. Dat dit algemene praktyk sou wees om die Messias te salf en alles te doen wat mens normaalweg met ‘n koning sou doen in daardie tyd. Maar Christus is anders. Christus se optrede teenoor Maria is anders, en dit wys ons net dat Christus nie ‘n alledaagse koning is nie. Wat ons gekry het in plaas van ‘n nuwe “Dawid”, was ‘n voormalige skrynwerker en rondgaande prediker. Wanneer Jesus ‘n paar verse later na ‘n skare toe gaan, verwag hulle dat hy die Romeinse owerhede sou sleg sê en verwerp. In plaas daarvan, is dit die einste Romeine wat hom kruisig. En dan wat seker die mees onverwagse ding is, is dat selfs Jesus se volgelinge verwag dat die kruisiging die einde van sy bediening en teenwoordigheid sou wees. Maar heeltemal onverwags, word dit dan eintlik maar net die begin van ‘n nuwe bediening.

Danie Mouton skryf: “God tree gereeld na vore om die onverwagte met, vir en deur onverwagte mense te doen. Die hoogtepunt van die vastyd en die viering van Paasfees, is die hoogtepunt van die werk en handelings van hierdie verrassende God, aangesien die dood as die laaste woord aanvaar word totdat Jesus uit die dood opgewek is.” God tree gereeld na vore om die onverwagte met, vir en deur onverwagte mense te doen. Die salwing wat Maria gedoen het was onverwags. Die feit dat dit Maria was wat gesalf het, dat dit ‘n vrou was, was onverwags. Die feit dat dit met sulke duur en met so baie olie gedoen is, was onverwags. Dat Jesus toe met Judas in ‘n argument betrokke geraak het was onverwags. Alles wat ons vanoggend gelees het is onverwags! SLIDE (God doen onverwagse dinge)

Met hierdie onverwagsheid in gedagte kan ons ook bietjie verder dink oor die lewe van die kerk. Ons lewe nie meer in die eerste eeu nie! En dit is duidelik met hoe kerke vandag funksioneer! Vandag het ons vroulike predikante, vroulike ouderlinge en vroulike diakens! In ons gemeente het ons die tradisionele vrouediens herdefinieer as die wyksdiens. Johannes beskryf hier ‘n vrou as die eerste persoon wat Jesus se liefde beliggaam – dié soort liefde wat Jesus van al sy dissipels verwag. Onthou, ‘n vroulike dissipel was heeltemal ongehoord in die eerste eeu. Dit was ‘n taboe. Dis iets waaroor daar nie eers gedebatteer is nie. Maar wat Christus hier in Johannes 12 doen staan heeltemal in kontras met daardie siening. Met hierdie gedagte gee Johannes ‘n baie dieper betekenis aan wat dit beteken om ‘n dissipels van Christus te wees. Dit gaan nie oor man of vrou nie. Dit gaan oor die persoon se toewyding, geloof en dissipelskap wat die belangrikste elemente is. En dis nog iets wat totaal en al onverwags was binne die kulturele konteks van die antieke tye (en somtyds ook in ons moderne kringe). Christus gebruik onverwagse mense op onverwagse tye deur onverwagse dinge te doen. Ons word op so manier deur God verras.

As ons een of ander verrassing in ons lewens kry, dan is dit gewoonlik verrassings wat onaangenaam is. Die oorstromings was verskriklik, die moord was wreed, die verkragting was ongelooflik, die hongersnood is onverstaanbaar.

In elke ander godsdiens van die wêreld soek die mensdom na God. Hulle klim berge, doen rituele, mediteer, alles in die hoop dat hulle op een of ander manier in staat sal wees om aan die Goddelike te koppel en hul geestelike honger te bevredig.

Christenskap is anders. In die Christendom volg God ons. Hy is die goeie Herder op soek na die een verlore skaap. Hy is die liefdevolle Vader wat met ope arms wag vir die verlore kind om huis toe te kom. Hy is die God van die heelal wat mens geword het om met ons te identifiseer. En soos ons vroeër bespreek het, is Christus se opstanding seker een van die mees onverwagte dinge wat in sy bediening gebeur het.

Die opstanding van Jesus is die sentrale element van die evangelies. Dit is ook die goue draad wat regdeur die apostoliese briewe, soos Paulus se skrywe, getrek word. Matteus 28:6 is maar net een voorbeeld hiervan waar daar gesê is deur ‘n engel “Hy is nie hier nie, want Hy is opgewek, soos Hy gesê het”. Deur Jesus op te wek het God die wêreld omgekeer. Dit gee vir ons ‘n glimp van waarheid wat transendent is en verby ons begrip van realiteit strek. Dit beeld ‘n wêreld uit wat nie meer deur die dood regeer word nie. SLIDE (Rigters 4: Debora en Barak se verhaal)

Hierdie hele ding van God wat mense op onverwagse maniere gebruik herinner my baie aan wat met Debora en Barak gebeur het in Rigters 4. Basies, Debora en Jael is twee vrouens wat leiers is vir die Israeliete. Die Israeliete word oorgegee aan die Kanaäniete omdat hulle gedoen het wat verkeerd is in God se oë. Jabin was koning van Kanaän en sy generaal was Sisera. Die Israeliete het net nie geluister na wat God vir hulle probeer sê het nie, so dit was die Israeliete se gevolge wat veroorsaak het dat hulle gevange geneem is. As hulle vir God geluister het, dan sou hulle nie gevange geneem word nie, omdat God se wysheid hulle sou beskerm het.

Debora gee vir Barak die raad wat hy nodig het om Sisera van Kanaän te oorwin. Debora, ‘n vrou, ‘n eenvoudige vrou, gee vir Barak, die een wat veronderstel was om ‘n leier vir die Israeliete in oorlog te wees, raad. Maar Barak is steeds huiwerig. Hy vra nogsteeds die “wat as” vraag. Wat as dinge skeef loop? Wat as Debora God verkeerd gehoor het? Wat as Sisera se leërmag net te veel mag het? Dit is eers wanneer Debora belowe om saam met hom te veg, dat hy instem om die aanval te loods. Nêrens word Barak as die held van die verhaal voorgestel nie. Alles behalwe. Hy is huiwerig en bang. En ek blameer hom nie. Ek sou self ook ongelooflik bang gewees het as ek in sy skoene gestaan het. Dit is geen wonder dat Debora dit duidelik stel dat hy nie die eer gaan kry vir hierdie veldtog nie. God sal vir Sisera aan ‘n vrou uitlewer, soos ons in vers 9 lees.

Onthou, eer en skande was ‘n groot deel van hierdie tydperk. As ‘n man nie eer gekry het deur oorloë te wen nie, moes hulle in skande lewe, wat ‘n massiewe impak op hulle sosiale status gehad het. Hierdie verhaal is nie goed vir Barak se eer nie. ‘n Vrou, nie ‘n man nie, kry die eer. Dit is ‘n ommekeer en verrassing. Iets heeltemal onverwags. Die mense wat op die bruin donkies ry; hulle wat swakker is en die onwaarskynlike groep is, wen die oorlog en nie die mense met die 900 strydwaens nie. Dit is so ‘n vroeë voorsmakie, oftewel ‘n gordyn wat vir ‘n oomblik effens ooptrek sodat iets daaragter vir ‘n oomblik sigbaar gemaak word. Iets van die laastes wat eerste sal kom. Hoe onverwags!

Teen die tyd wanneer ons van Joël lees, word dit al hoe duideliker dat God nogsteeds ongewonne mense op onverwagse maniere gebruik deur middel van hulle individuele en unieke gawes en talente, en deur middel van hulle geloof, en nie as gevolg van hulle geslag nie. Joël sê dat seuns en dogters profete sal wees, wat ook in Handelinge aangehaal word. Wanneer God mense roep, maak dit nie saak wie hulle is, wat hulle agtergrond is, of hoe hulle lyk nie. God roep jonk en oud, slawe en vrye mense, maak nie saak waar in die lewe hulle hulself bevind nie. Daar is geen limiet wanneer God ons roep nie, omdat ons gebore is, omdat ons is wie ons is, en omdat ons lyk soos wat ons lyk. SLIDE (Dink oor jou eie lewe…)

Dink bietjie oor jou eie lewe. Waar het God al op ‘n onverwagse manier by jou opgetree? Was dit ‘n onverwagse mens? Iets wat onverwags gebeur het? En hoe kan jy self die Evangelie op ‘n onverwagse manier uitleef?

Maria salf Jesus se voete. Dis onverwags. Jesus staan op uit die dood. Dis onverwags. Debora, ‘n vrou, tree as ‘n profeet op en maak dat die Israeliete die oorlog wen. Dis onverwags. Paulus se geloof verander heeltemal en hy word seker die grootste verspreider van die Evangelie in die wêreld. Dis onverwags. David, ‘n skaapwagter, word koning. Dis onverwags. So kom ons lees Johannes 12 anders, en kom ons raak meer en meer bewus van hoe God onverwagse dinge in ons lewens doen. Want dit kan op die ou end ‘n groot impak hê.

Amen.