Skriflesing (Jeremia 1:4-10)

4Die woord van die Here het tot my gekom: 5“Nog voordat Ek jou gevorm het in die baarmoeder, het Ek jou geken; nog voordat jy uitgegaan het uit die moederskoot, het Ek jou geheilig. As profeet vir die nasies het Ek jou bestem.” 6Daarop het ek gesê: “Ag, my Heer, die Here, kyk, ek weet nie hoe om te praat nie, want ek is nog ‘n kind.” 7 Maar die Here het vir my gesê: “Moenie sê, ‘Ek is nog ‘n kind’ nie, want na wie ook al Ek jou stuur, moet jy gaan, en wat ook al Ek jou beveel, moet jy sê. 8Jy moet nie vir hulle bang wees nie, want Ek is by jou om jou te red,” is die uitspraak van die Here. 9Die Here het toe sy hand uitgesteek en my mond aangeraak. Die Here het vir my gesê: “Kyk, Ek lê my woorde in jou mond. 10 “Let op, Ek stel jou vandag aan oor nasies en koninkryke om uit te ruk en af te breek, om ten gronde te laat gaan en plat te slaan, om te bou en te plant.”

 

 

Preek

Jeremia twyfel in homself. Hy glo hy is nog ‘n kind. Eintlik, die Hebreeuse woord wat hy hier vir ‘kind’ gebruik word is “na-ar”, wat ook met “seuntjie” vertaal kan word. Hy voel onbekwaam om nou juis te gaan doen wat God van hom vra.

Nou, Jeremia was ‘n Israelitiese priester wat geleef en gewerk het in die laaste paar jaar van die bestaan van die koninkryk van Judea. Jeremia is geroep om die Israeliete te waarsku oor die gevolge van hulle aksies omdat hulle hulle verbond met God verbreek het. Hy het self gesê dat Babilonië sal kom as gevolg van hulle optrede. Dis alles goed wat wel gebeur het waarvan ons ook in 2 Konings 24-25 lees. Nou, die manier hoe hierdie boek tot stand gekom het is nog ‘n interessante storie. Arme ou Jeremia was vir 20 jaar daar in Judea gewees toe God vir hom gesê het dat hy al sy preke, gedigte en ander denke bymekaar maak en dit neer pen. Ons lees daarvan in hoofstuk 36 van Jeremia. So, hy kry toe iemand om alles vir hom neer te skryf soos wat hy dit alles mondelings vertel. Die gevolg hiervan is dat hierdie skrywer van Jeremia, Barug, dit neergepen het as ‘n versameling van skrywe, ‘n versameling van verskillende gedagtes wat Jeremia gehad het. Interessant genoeg, daar is ook ‘n Boek van Barug in die Apokriewe versameling van die Deutero-kanoniese boeke. So die hele punt van hierdie skrywery is om te wys dat Jeremia ‘n boodskapper is van beide God se geregtigheid en God se genade.

Ons teks vir vanoggend is dan aan die begin van hierdie versameling, so dit vertel hoe alles begin het. God roep Jeremia om ‘n profeet te wees en om God se spreekbuis vir die mense te wees. So, hy sou ‘n profeet vir Israel wees, maar ook vir die nasies. Sy woorde sal beide ontwortel en afbreek, maar ook plant en laat groei. In ander woorde, hy sal Israel aanspreek en hulle vertel van die gevolge van hulle ongehoorsame aksies, maar hy het ook ‘n boodskap van hoop. En hierdie is basies wat gebeur binne die erste 24 hoofstukke van die boek. Nie die eerste 24 versies nie, maar die eerste 24 hoofstukke. Dis ‘n massiewe boodskap wat hierdie arme ou Jeremia moet oordra. En dit begin mos met slegte nuus! Vandag het ons mos die gesegde van “don’t shoot the messenger”, maar ek dink Jeremia het heel moontlik gevoel die Israeliete sou hom regtig wou seermaak omdat hy hierdie slegte nuus vir hulle bring.

Maar wat het Israel dan so gesondig? Wel, hulle het eerstens hulle verbond wat in die Torah is verbreek, hulle het allerhande Kanaänitiese afgode begin aanbid en sulke standbeelde vir hulle begin oprig.

 Jeremia het al hierdie kennis van wat Israel doen in sy agterkop en weet dat dit regtig ‘n uitdaging sou wees. So, wat doen God? God gryp in! God sê vir hom “nee man, moenie so dink nie! Jy is nie meer ‘n klein seuntjie nie! Ek het jou geken van voor jy jou moederskoot verlaat het! Dink jy nie Ek weet wat ek doen nie?” Natuurlik parafraseer ek, maar dis basies waarop dit neergekom het. Vers 5 sê dat God hom geskep het nog voor God hom geskep het. Dis regtig ‘n diepsinnige perspektief op die lewe. God skep Jeremia volgens die prentjie wat God van hom het en voer dit deur met sy vorming in die moederskoot en daarbuite vir die roeping wat God vir hom het. God is dus betrokke by mense van vóór hulle geboorte af. En God gee beloftes om almal van ons te motiveer om die roeping wat Hy vir ons het, aan te gryp.

By die kweekskool is die jaar 587v.C. in ons almal se breine in gegraveer, want dit is die jaar van die vernietiging van Jerusalem. Basies die jaar toe alles begin skeef loop het. So God gee vir Jeremia ‘n baie spesifieke roeping. God gee vir Jeremia vertroue in sy roeping. Jeremia weet dat dit nie lekker gaan wees nie en dat Israel dit glad nie sou wou hoor nie.

Hierdie teks van Jeremia laat my baie dink aan Psalm 139. “U het my op ‘n wonderbaarlike wyse geskep” “U het my gevorm, my aanmekaargeweef in die skoot van my moeder”. Ons het hierdie week tydens ons Week van Gebed diep gegaan in die werkinge van die Psalms en hoe ons dit vandag kan lees in die lig van oriëntasie, disoriëntasie en reoriëntasie. Ek let baie parallelle op tussen Jeremia se teks en Psalm 139 se teks. Beide praat van hierdie intieme kennis wat God van ons het. Beide praat oor God wat jou in jou moederskoot ken. Beide praat oor ‘n diepe vertroue in God. Nou, wat vreeslik interressant is in hierdie teks is eintlik die eerste sin van vers 4. “Die Woord van die Here het tot my gekom”. Ons praat daarvan dat dit ‘n profetiese orakel is. Die van julle wat al “The Matrix” gekyk het sal seker al gehoor het van die woord “The Oracle”. Dis ‘n profetiese gedagte wat normaalweg in die openbaar verkondig sou word. Kyk, ‘n profeet is mos iemand wat die Woord van God aan mense verkondig. So, dis natuurlik logies dat dit op ‘n openbare platvorm sou gebeur, maar hier in Jeremia is dit bietjie anders. Hier in Jeremia is dit ‘n private gebeurtenis. Wat hierdie storie nog meer merkwaardig maak is dat hierdie profetiese woorde wat mense van God ontvang gewoonlik ‘n een rigting woord is. Met ander woorde, dit is gewoonlik God wat praat, en mense luister. Wat Jeremia se ervaring anders maak is dat dit nie net Jeremia is wat luister nie, maar Jeremia wat saam praat. Dis ‘n dialoog. Jeremia luister nie net na hierdie profetiese woorde wat God vir hom gee nie, maar hy praat saam met God en vind meer uit. Hy sê hy is nog te jonk. Hy twyfel in homself. Maar anders as die meeste ander profetiese ervaringe in die Bybel wat net een-rigting is, kry Jeremia troosting van God. God maak hom gerus. God vertel vir Jeremia dat hy baie meer kan doen as wat hy dink. En hoekom vertel God dit vir Jeremia> Want hy het daarvoor gevra. Dis eintlik maar ‘n gebed wat veroor word in die huidige tydstip.

En dit bring ons by die rol van Jeremia se roeping. Die belangrike deel van die boodskap wat ek graag vanoggend met julle wil deel. Wat God vir Jeremia probeer sê hier is dat dit werklik sy roeping is om as profeet op te tree. God ken Jeremia. Die Hebreeuse woord wat hier vir ken gebruik word is “yada”, wat weereens eintlik as ‘n konsep vertaal moet word, want daar is nie ‘n enkele Afrikaanse woord wat die volle skaal daarvan verduidelik nie. Dis ‘n intieme kennis, om iemand goed te ken, om iemand so goed te ken dat hulle eintlik bekommerd oor hulle is. Dis ‘n woord wat gebruik word om te beklemtoon dat jy iemand anders regtig verstaan. So God is geregtig daarop om Jeremia se roeping vir hom te verduidelik omdat hy hierdie intieme kennis, hierdie “yada” van hom het.

Ek dink wel dis belangrik om te besef dat hierdie nie noodwendig God is wat Jeremia in ‘n blik probeer druk nie. Dis nie God wat vir Jeremia sê “jy sal hierdie doen, jy het nie ‘n keuse” nie. Dis nie God wat vir Jeremia sê “ek het jou vir een doel en slegs een doel geskep” nie. Dis bloot God wat vir Jeremia sê “kyk, ek ken jou op hierdie vreeslike intieme wyse. Ek weet waarin jy goed is, wat jou sal bly maak, en wat vir jou gaan laat voel asof jy ‘n groot impak in jou lewe gaan hê. Vertrou my. Ek weet jy sal hierdie kan doen. Ek weet jy sal ‘n sukses van hierdie roeping maak, en ek weet dat jy dan ‘n vorm van vervulling daardeur sal kry”. God gebruik nie Jeremia as net ‘n spreekbuis nie. God kon na enige ander persoon toe gegaan het om blote woorde oor te dra. Hierdie is God wat iets raakgesien het in Jeremia. Hierdie is God wat weet watter impak hierdie roeping van hom nie net op die mense rondom hom gaan hê nie, maar ook watter impak dit in Jeremia se eie lewe gaan hê. Natuurlik is dit nie ‘n maklike boodskap wat hy moet oordra nie. Plaas jouself in sy skoene. Dink net as jy na ‘n groep mense toe moes gegaan het en vir hulle moes sê “hey julle, raai wat. Julle gaan almal gevange geneem word en weggevoer word omdat julle nie na God se betere-kennis geluister het nie!”

Jeremia het sy direkte oproep van God probeer vermy. So ook Moses, Jesaja, Esegiël. Jona het van agter probeer uitglip. Petrus was ook onseker. Paulus het ineengekrimp by so ‘n gedagte. Elkeen van hierdie mense het geweier om aan hulself te dink as sterk en bekwaam. Maar God het hulle raakgesien en hulle gebruik. Dink bietjie daaraan:

– Moses – met sy stamelende tong

– Jona – met sy misleide patriotisme

– Jeremia – met sy minderwaardigheidskompleks, oorweldig deur ‘n gevoel van sy tekortkominge en gestremdhede

– Jesaja – oorweldig deur sy onwaardigheid

– Elia – wat soms manies-depressief was, amper geïmmobiliseer

– Esegiël – sprakeloos gemaak

– Paulus – wie se “doring in die vlees” hom voortdurend verlam het (2 Korintiërs 12)

– Petrus – vreesbevange en onstuimig

– Jesus van Nasaret- kan jy dink aan ‘n meer onwaarskynlike kandidaat vir “wêreld-Messias” as Jesus?

Ek wil graag afsluit: Moses, Samuel, Amos, Jesaja en Esegiël kon presiese oomblikke in hul reis identifiseer toe God hulle geroep het om profete te wees:  mense wat God die Woord van God verkondig. Wanneer God ‘n mens roep om ‘n sekere taak te doen, gee hy vir hulle die nodige gawes om daardie taak te doen en verwag hulle om voor te berei asof alles daarvan afhang.

Daar is ‘n verhaal van Francis van Assisi wat ‘n jong monnik genooi het om hom dorp toe te vergesel om te preek. Die jong man was opgewonde om saam met Francis te wees en wou soveel as moontlik by hom leer, so hy het hom fyn dopgehou. Hy het hierdie held van hom versigtig dopgehou terwyl hulle in die strate van die gemeenskap gekuier het. Francis het gereeld gestop om saam met die kinders en die handelaars te kuier. Na ‘n rukkie keer hulle terug huiswaarts. Die jong priester het gesê: “Meneer, u het vergeet dat ons dorp toe gegaan het om te preek.” Maar, Francis het hom geantwoord: “My seun, ons het gepreek! Ons is deur baie gesien. Ons gedrag is fyn waargeneem. Ons houdings is fyn gemeet. Ons woorde is gehoor. Dit was deur hierdie dinge wat ons preek vanoggend was.”

God roep onwaarskynlike mense. God sien dinge in ons raak wat ons nie geweet het bestaan het nie. Kom ons laat God toe om ons te gebruik, nie omdat ons geforseer word nie, maar omdat ons weet dat dit juis God is wat weet dat dit die moeite werd sal wees. Dink bietjie oor jou eie lewe. Het jy al gevoel asof God jou miskien roep om iets te doen waarvoor jy onbekwaam voel? Het jy al getwyfel in jou eie roeping? Of miskien, het jy al met God gesels oor wat jou persoonlike roeping is? Dalk is dit om uit te reik na aner mense. Miskien is dit om jou gawes met ander mense te deel. Of miskien is jou roeping iets waaraan jy nog nooit gedink het nie.

Moenie twyfel in God se vermoë om jou te help met jou roeping nie. God het jou intiem geken nog voor jy gebore is. God weet wat om te doen. Dit is al telkemale bewys in die Bybel wanneer ons aan Jesaja, Elia, Esegiël, Paulus, Petrus en klomp ander mense dink. So laat God toe om jou te help met jou roeping. Tree in dialoog met God, net soos wat Jeremia gemaak het. En moenie voel dat jy ongekwalifiseerd is as God iets van jou vra nie.

Amen.