Lukas 12:13-21 - Spiritualiteit

Skriflesing (Lukas 12:13-21)

13Iemand uit die skare het vir Hom gesê: “Meester, sê vir my broer om die erfenis met my te deel.” 14Maar Hy antwoord hom: “Mens, wie het My as regter of bemiddelaar oor julle aangestel?” 15Toe sê Hy vir hulle: “Pas op en wees op julle hoede vir elke vorm van gierigheid, want ‘n mens se lewe word nie bepaal deur die oorvloed van sy besittings nie.” 16Daarna het Hy vir hulle die volgende gelykenis vertel: “‘n Sekere ryk man se plaas het ‘n goeie oes opgelewer. 17Hy het homself toe afgevra, ‘Wat moet ek doen? Want ek het nie plek waar ek my oes kan opgaar nie.’ 18Toe sê hy, ‘Dit is wat ek sal doen. Ek sal my skure afbreek en groter skure bou. Daarin sal ek al my graan en my goedere opgaar. 19Dan sal ek vir myself sê, Mens, jy het baie goed opgegaar vir baie jare. Ontspan, eet, drink en wees vrolik.’ 20Maar God het vir hom gesê, ‘Jou dwaas! Vannag nog sal jou lewe opgeëis word. En wat jy bymekaargemaak het, aan wie sal dit dan behoort?’ 21So gaan dit met iemand wat vir homself skatte bymekaarmaak, en nie in God ryk is nie.”

 

Preek

Hoeveel van ons het ‘n garage wat nie meer plek vir ‘n kar het omdat dit vol is met soveel ander “goed?” Hoeveel van ons het ‘n stooreenheid by StorAge of een van die ander besighede omdat ons te veel “goed” het om in ons huise te hou, so ons reël vir besoekregte om ons “goed” te sien?

 

Die ontslape komediant George Carlin het ‘n hele monoloog oor hierdie “goed” gedoen – en verkondig dat die “betekenis van die lewe is om ‘n plek te probeer vind om jou goed te sit” en dat “‘n Huis net ‘n plek is om jou goed te hou terwyl jy uit gaan om nog meer goed te koop.” Dit klink na ‘n redelike goeie beskrywing van huise wat om 05:00 leegloop op “Swart Vrydag”. Dis seker meer wat in stede gebeur as hier in die dorp, maar ons almal het al videos gesien van hoe chaoties dae soos Swart Vrydag kan wees.

 

In vandag se evangelie teks gelykenis maak Jesus dit al te duidelik hoe “lewe” en “goed” nie een en dieselfde is nie. Die ryk man, wat ‘n goeie oes geniet, wens homself geluk met sy planne om al sy waardevolle goed veilig te stoor, en sien uit na ‘n toekoms wat gewy is aan ontspan, eet, drink en vrolik maak. Lekker visualisering — totdat God hom inlig dat dit die laaste dag van sy lewe is. Al daardie groot, nuwe stooreenhede, al daardie rykdom, al daardie “goed” gaan nie saam met hom nie.

Wat is dit wat Jesus die aanstootlikste, mees ontrou vind in hierdie ryk man se fantasie van sy toekoms? Dit is nie eet en drink en vrolik wees nie. Jesus het dit heeltyd gedoen. Dit is nie om te ontspan en vreugde in die lewe te skep nie. Jesus het dit heeltyd gedoen.

 

So wat is die ryk man se probleem? Dit is sy fokus op homself – met die uitsluiting van alle ander. Afgoderywesens met ‘n “ek”, en hierdie gegoede landbou-entrepeneur het ‘n fokus in die lewe, is gefikseerd op “ek.”

*Hy vra homself af hoe hy sy goeie “probleem” van oorvloed moet hanteer. *Hy wens homself geluk met die antwoord waarmee hy vorendag kom wat net homself bevoordeel. *Hy beloon homself met die verwagte resultate van hierdie besluite.

Die ryk man besluit dat hy sy te klein strukture sal afbreek, groot nuwe stoorruimtes sal oprig en ‘n lang en sorgvrye lewe sal lei van al die opbrengs wat uit hierdie slim optrede verkry sal word. Maar op geen tydstip, op geen plek, in geen deel van hierdie “ek” gesprek, nooi hierdie man God se deelname aan sy besluite of betrek ander mense, nie eers familie nie, in sy beraadslagings nie.

 

Die eerste sin van ons teks kon net sowel in vanoggend se koerant gestaan het: “Iemand uit die skare het vir Hom gesê: ‘Meester, sê vir my broer om die erfenis met my te deel.'” (vers 13) Mens is altyd bewus dat daar ander is wat meer het as jy. Of jy het die gevoel dat jy nie genoeg het nie. Hoe kan jy ook meer kry? Genoeg kry? Veilig voel omdat jy genoeg weg gesit het?

 

In die afloop van die Covid-pandemie is mens bewus hoeveel baie mense oor die afgelope twee jaar verloor het. Poste het in die slag gebly. Baie besighede het enorme verliese gelei. Kos op die tafel vir gesinne het in die slag gebly. Soos skaarsheid toeneem, so word mens in die versoeking gelei om al hoe meer te probeer versamel.  Daarby moedig ons kultuur versamel en vermeerder aan. Ons sien gierigheid moeilik raak. Iemand het ‘n groot grondbaron eenmaal gevra wanneer mens genoeg grond het. Die sê toe: “Wanneer jy al die grond besit wat tans aan jou grond grens.”

 

So was dit in Jesus se tyd ook. Mense wil dinge bymekaarmaak, meer hê. Dit is jou dryfveer, want die lewe het net ‘n aantal bronne. As iemand meer gaan kry as jy, gaan jy minder kry, swaarder kry, sukkel om te leef en te oorleef. Dit moet verhoed word. Dit is amper asof iets van jou weggeneem word wanneer ander iets kry of iets bereik. Dan sukkel jy om hulle geluk te wens en saam met hulle vreugde te ervaar.  Gierigheid is om dit wat jy besit te wil behou, en wel op sodanige wyse dat jy nie vir God of jou naaste raaksien nie, maar eerder die kwaliteit van jou lewe meet aan wat jy besit. Die uitgangspunt van hierdie lewenswyse is die beskouing dat as jy min het, jy onbelangrik is en mense op jou neersien. Daarom streef jy altyd daarna om soveel moontlik te besit. Daar is natuurlik nie inherent fout met besittings nie. Ek dink wat Christus hier probeer sê is dat ons baie keer so behep raak met ons besittings, dat ons versuim om op die Spiritualiteit te fokus. Ons ag ons besittings as so belangrik vir ons gemaklike oorlewing, dat ons die bron van die lewe minag. Ons fokus dan nie op ons Spiritualiteit nie. Vers 21: 21So gaan dit met iemand wat vir homself skatte bymekaarmaak, en nie in God ryk is nie.”

 

Iemand wat nie in God se ryk is nie. Iemand wat nie genoegsame aandag aan God gee nie. Iemand wat nie hulle Spiritualiteit deel van hulle lewens maak nie.

 

Die geskiedenis van spiritualiteit is ryk met die afmaking daarvan as iets wat onnodig is en nie bereik kan word nie. Maar, genadiglik, later in geskiedenis het klomp teoloë hulle werke daarop gevestig in die poging om die bogenoemde stelling verkeerd te bewys. Om te probeer bewys dat spiritualiteit wel ‘n ongelooflike groot rol in ons samelewing speel. Om vers 21 van vanoggend se teks ernstig op te neem. Hierdie teoloë se argument is dat spiritualiteit met praksis gepaard moet gaan om effektief te wees. met ander woorde: Spiritualiteit is nie net ‘n private ding wat jy alleen in jou kamer met jou Bybel doen nie. Nee. Dis iets wat ook ‘n praktiese, tasbare element het. Iets wat ander mense ook raak. Deur jou aksies.

 

Paulus se geskrifte is een van die vroegste dokumente wat na spiritualiteit verwys. Paulus se beskrywing van spiritualiteit handel oor feitlik enige iets wat te make het met die Gees en die invloed daarvan. Natuurlik het God se Gees ook ‘n invloed in hoe jy jou besittings hanteer. Oftewel, dis veronderstel om so te wees. Nou hier begin die baie interessant raak. Nou kom ons by ‘n konsep wat bekend staan as “dualisme”.  1 Korintiërs 2:14-15 blyk asof dit die ‘natuurlike persoon’ van die ‘spirituele persoon’ onderskei. Die filosowe van die 12de eeu het hierdie gedagte voortgesit met dualisme; die skeiding van die liggaam en die siel. Dit wil eers in die 17de eeu voorkom dat spiritualiteit as dissipline deur Christene toegepas is. In die 19de en 20ste eeu is spiritualiteit definieer as die uitlewering van ‘n persoon se interne lewe wat ‘n perfeksionistiese lewe as einddoel het. Maar hierdie dualisme, hierdie skeiding tussen vlees en siel is eintlik baie skadelik. God het ons geskep met ons vlees as deel van ons siel waar ons nou is. Albei is tydens ons lewens hier op aarde interverweef met mekaar.

 

Ons kan vandag twee benaderings aangaande die kontemporêre verstaan van spiritualiteit identifiseer: ‘n dogmatiese vertrekpunt, asook ‘n antropologiese vertrekpunt. Dit klink ingewikkeld, maar dit is nie eintlik nie. Basies, dogmaties: waar Spiritualiteit oor God gaan, en antropologies: waar dit oor jou en die mense rondom jou gaan. Die dogmatiese vertrekpunt stel dat spiritualiteit verweef met lewe is en dat spiritualiteit wat op ‘n sekulêre wyse beoefen word, Christelik gesien kan word mits dit vergelyk of uitgebrei word met die Christelike geloof. Die antropologiese benadering stel dat spiritualiteit ‘n wyse is om met vraagstukke om te gaan om ten einde ‘n voller en meer outentieke lewe tot stand te bring. So jy praat met God, worstel met God, probeer om jou lewe so eg as moontlik te maak. Wanneer jy in jou spiritualiteit met tekste soos Lukas 12 worstel op hierdie antropologiese manier, dan stel jy hierdie vraagstukke aan God, soos “wat moet ek met alles rondom my doen”, “Hoe kan ek dit wat ek het gebruik om God se Koninkryk te laat kom?” “Wat kan ek met my besittings maak om God se hande hier en nou te wees?” Tekste soos Lukas 12 is so diep verweef met spiritualiteit. Dis nie net ‘n gelykenis of ‘n storie wat Jesus vertel nie. Dis iets wat ons breine laat dink, dis ‘n motiveerder om meer te doen as wat ons op die oomblik doen.

 

Spiritualiteit kom vanuit ‘n diepe begeerte vir ‘n persoonlike goddelike ervaring. Die moderne wêreld is ‘n vreemde plek waar individualisme heers. Ons gee net om oor onsself. Dit het die gevolg dat mense dikwels ‘n leemte in hul siel voel. Mense sukkel met vertroue, aangesien daar so baie wantroue in die wêreld is. Binne hierdie onsekerhede soek mense standvastigheid; Spiritualiteit. Mense soek die sekerheid van God se nabyheid.

Dit wil baie keer voorkom asof die nabyheid van God ‘n waardevolle geskenk is wat slegs geluk en vreugde bied, maar dis nie altyd die geval nie. Dit beteken nie dat vreugde en geluk nie noodsaaklik is nie. Dit gebeur gereeld dat mense aktief poog om weg te bly van God se teenwoordigheid. ‘n Regte Jona-geval. Ander kere raak mense so behep met die aktiwiteite van die lewe dat hulle ‘n vals sin van vervulling kry sonder om die spirituele leemte te besef. Dis eintlik presies wat met ons vriend in Jesus se storie gebeur het. In vandag se moderne tyd raak mense so besig met hulle eie aktiwiteite aangaande hul individuele werke dat spiritualiteit gereeld aan die agterste speen suig. Verbruikerswese speel ‘n groot rol in mense se gevoel van vervulling en kan tot gevolg lei dat dit die belangrikheid van spiritualiteit verminder.

Wanneer mense uiteindelik besef dat hulle hierdie leemte in hulle lewens het, is dit hierdie mismoedige emosie wat die katalisator vir groei is. Ewe skielik is daar ‘n moontlikheid om na God toe oop te maak, aangesien die teenkanting teen God, wat vroeër genoem is, nie meer so sterk is nie. Om God se realiteit te besef, is dit eerstens noodsaaklik dat sekere vooropgestelde idees, ideologieë, van die hand gewys word. Die eerste sulke idee is dat die wêreld slegs uit sintuie en ervarings bestaan. Wanneer mense hierdie stelling glo, is dit onmoontlik om deur God verras te word. Daar kan ‘n plek vir misterie wees sonder dat daar die noodsaaklikheid bestaan om dit op een of ander wyse te probeer verklaar of om dit soos ‘n legkaart uiteen te sit.

 

Spiritualiteit het ‘n diepe verwysing na die fundamentele aard van die mens, die geleefde ervarings wat voeding bied aan daardie dimensie, asook die akademiese studie daarvan. Verder is dit noodsaaklik om te weet dat na Vatikaan II, die term ‘spiritualiteit’ se definisie verbreed het dat dit nie net na gebede of spirituele oefeninge verwys nie. Spiritualiteit moet eerder verstaan word as ‘n holistiese verstaanswyse wat die mens by kan baat. Met ander woorde, spiritualiteit is iets wat ‘n invloed in elke aspek van die lewe het, nie net sommige aspekte nie. So, dis nie net wat jy voel en ervaar nie, dis ook wat rondom jou gebeur, wat jy sien. wat jy hoor, hoe jy lewe, wat jy doen en alles tussenin.

 

Hoe spiritualiteit beoefen word is egter wel ‘n individu se persoonlike ervaring. Dit is op hierdie punt wat die Myers-Briggs persoonlikheidstoets handig kan wees. As gevolg van persoonlikheidsverskille is dit nie logies om aan te neem dat elke persoon se spitirualiteit beoefennig op dieselfde wyses gaan plaasvind nie. ‘n Introvert sal byvoorbeeld heel moontlik baie baat by ‘n vorm van stilte en meditasie wanneer hulle spiritualiteit beoefen, terwyl ‘n ekstrovert ongemaklik raak met lang periodes van stilte en kontemplasie. Hulle sal eerder in gesprek wil tree met iemand oor hulle spiritualiteit, of iets prakties doen om hulle spirituele behoeftes te bevredig. Frank Laubach stel dit mooi wanneer hy verduidelik dat enige metode om spiritualiteit te beoefen is jou metode, solank as wat dit jou help om nader aan God te beweeg. Maar enige metode wat jou nie baat in ‘n poging om nader aan God te beweeg nie, is nie jou metode nie.

 

Spiritualiteit is dus nie slegs ‘n oomblik van stilte, of ‘n kontemplasie oor die Bybel nie, maar ‘n kombinasie van verskillende faktore wat ‘n individu se geestelike groei op ‘n positiewe en konstruktiewe wyse beïnvloed. Vir sommige mense kan geraas net so waardevol as stilte wees. Vir ander kan digkuns net so waardevol soos gebed wees. Aangesien elke mens se persoonlikhede verskil, soos deur die Myers-Briggs uitgewys, is dit onmoontlik om van elke persoon te verwag om te baat by stilte, meditasie en kontemplasie. Dit kan wel egter so wees dat matige hoeveelhede van die bogenoemde waardevol kan wees. Daarom is dit tog belangrik dat mense verskillende spirituele dissiplines probeer om uit te vind wat vir jou werk.

Daar bestaan die gevaar dat spiritualiteit tot ‘n enkele oomblik geminag kan word. In die geskiedenis van protestante Christendom het dit dikwels gebeur dat aanvaarding tot die kerk gepaard moet gaan met ‘n vorm van ‘n bekering-storie. Dit kan ‘n gebeurtenis wees wat vir ‘n persoon ‘n epifanie oor ‘n goddelike teenwoordigheid gegee het. So ‘n bekering-storie kan wel ‘n belangrike aspek van ‘n gelowige persoon se spiritualiteit wees, maar daar is ‘n gevaar wat ook betrokke is. Dit kan gebeur dat die bekering-storie gesien word die enigste enkele spirituele gebeurtenis is van ‘n persoon se lewe. Dus word God se konstante en deurlopende werke nie ten volle erken nie. Wanneer ‘n persoon konstant bewus word van God se werke, gee dit ruimte vir spirituele groei.

 

‘n Verdere gevaar wat gepaard gaan met spiritualiteit is ‘n ervaring van ekstase. In sommige kerklike tradisies word dramatiese spirituele ervarings, soos profesie, tale praat en genesing gesien as ‘n ervaring wat mense nader aan God bring. Dit gaan gepaard met ‘n gevoel van spirituele trots en meerderwaardigheid. Omdat iemand ‘n dramatiese ervaring gehad het moet daardie persoon dus nader aan God leef. Hierdie is ‘n foutiewe denkwyse en neem weg van die wonder en misterie van spiritualiteit.

 

Dit gebeur gereeld in talle charismatiese kerke dat daar ‘n ontsaglike hoeveelheid klem op hierdie spirituele gawes geplaas word. Daar word gesê dat ‘n persoon kan slegs die Koninkryk ingaan indien hy/sy ‘weer gebore’ is. Hierdie wedergeboorte word dikwels aangedui wanneer ‘n persoon in tale praat. Alhoewel tale-praat ‘n geestelike gawe is wat Paulus noem, is dit egter oop vir interpretasie oor presies wat hierdie tale is. Dit kan bitter skadelik wees wanneer ‘n nuwe potensiële lidmaat ‘n kerk binnegaan en gebombardeer word met vreemdelinge wat onverklaarbare woorde mompel. Hierdie ervarings kan dikwels meer skade as goed doen. Alhoewel die bedoelings positief is, is die ervarings negatief en aangesien spiritualiteit ‘n geleefde ervaring is, word daar gevolglik ‘n negatiewe konnotasie aan spiritualiteit gekoppel.

 

Dit is soms nodig om beheer oor te gee aan die onbekende. Mense wil beheer oor hulle eie lewens handhaaf, soos hierdie ryk man waarvan ons vanoggend gelees het, maar dit is nie altyd so maklik nie. Om mens te wees is om te erken dat ons lewens nie in ons eie beheer of ons eie mag is nie. So, dis dan nodig om spirituele dissiplines te beoefen om vrede daarmee te maak dat ons nie altyd bewus is van wat rondom ons aangaan of gaan gebeur nie.

 

Ek dink baie van ons kan onsself raaksien in die storie van die ryk jong man. Ons het vanoggend gepraat oor hoe ons besittings ons baie keer selfsugtig maak. Ons dink net oor wat dit vir ons beteken en hoe dit ons eie lewens kan verryk, sonder om aan ander te dink. En wanneer ons so dink, dan kan dit ons spiritualiteit beïnvloed. Ons vergeet om God s liefde dan te deel. Ons vergeet om God in die middel te plaas.

 

Elk een van ons het ons eie unieke persoonlikheid. Ons vind aankalnk by verskillende dinge. Sommige van ons kry ons energie tydens geselskap met ander mense. Ander van ons raak weer uitgeput rondom te veel mense. Sommige van ons verkies ‘n rustige spiritualiteit, terwyl ander ‘n meer opgewekte ervaring verkies. Wat vir een persoon werk, gaan nie noodwendig vir iemand anders werk nie. ‘n Mens se lewe word nie bepaal deur die oorvloed van sy besittings nie. Dis nie my woorde daai nie. Dis Jesus se woorde. ‘n Mens se lewe word eerder bepaal deur die oorvloed van sy Spiritualiteit. Want dis daar waar God met jou praat, waar God vir jou leiding gee oor wat om met al die oes te doen wat in jou skure is.

 

Dink bietjie oor jou eie lewe. Waar vind jy aanklank in terme van spiritualiteit? Verkies jy ‘n rustige omgewing, of verkies jy ‘n meer opgewekte omgewing? Miskien speel musiek ‘n rol? Miskien speel digkuns ‘n rol? Miskien speel jou werk ‘n rol? Het jy al vir God gevra wat jy met jou oorvloed moet maak? Dalk kom daar iemand oor jou pad wat iets nodig het wat jy kan bied. En onthou, om spiritualiteit te beoefen is jou metode, solank as wat dit jou help om nader aan God te beweeg. Maar enige metode wat jou nie baat in ‘n poging om nader aan God te beweeg nie, is nie jou metode nie. Die ryk man in Jesus se storie het gedink om skure te bou was sy metode, maar dit was nie. Wat is jou metode?

 

Amen.