Skriflesing (Psalm 72:1-7)
1Van Salomo. O God, gee u beslissings aan die koning, u geregtigheid aan die seun van die koning. 2Mag hy u volk met geregtigheid oordeel, u magteloses met billikheid. 3Mag die berge vrede bring vir die volk, en die heuwels geregtigheid. 4Hy sal die magteloses van die volk se regte handhaaf, die kinders van behoeftiges verlos, maar onderdrukkers verpletter. 5Hulle sal vir U ontsag hê solank die son en die maan nog daar is, vir geslagte lank. 6Mag die koning wees soos reën wat neerdaal op ‘n gesnyde grasveld, soos reënbuie wat die aarde deurweek. 7In sy tyd sal regverdiges floreer, daar sal vrede in oorvloed wees tot die maan nie meer daar is nie.
Preek
Hierdie is nie die eerste keer hierdie jaar dat ons oor die Psalms gesels nie. Eintlik, laasweek het ons wéér oor ‘n Psalm gesels. Maar dit bly ‘n interessante boek om te lees. Die Psalms is deel van die liriese literatuur; boeke in die Bybel wat vol poësie en liedere is. Dit sluit ook ander boeke in, soos Hooglied en Klaagliedere. Mens kan dit eintlik as ‘n groot digbundel-versameling sien van klomp verskillende outeurs en skrywers. Hierdie Bybelse outeurs was mal daaroor om metafore en beeldspraak te gebruik om ‘n boodskap oor te dra. Die Psalms is geen uitsondering nie. Hierdie gedigte nooi ons uit na ‘n ervaring. Dit nooi ons uit na die gedagtes en denkwyses van die skrywers sodat ons regtig kan nadink en bepeins oor die idees wat hulle voorstel en dit van ‘n klomp verskillende hoeke bekyk.
Die Israeliete is mos natuurlik God se volk in die Ou Testament, onder andere die mense wat vanuit slawerny in Egipte bevry is, die mense wat in Ballingskap weggevoer is, die mense wat vir 40 jaar in die woestyn rondgedwaal het, en soveel meer). Die Israeliete het baie gedigte en liedere geskryf tydens hulle ryke geskiedenis. Hierdie gedigte is geskryf deur wyses, konings, en profete. Sommige van hierdie gedigte is deur kore in die Jerusalem Tempel gesing (waarvan ons laasweek gelees het) en ander is weer as gebede opgesê in familiehuishoudings. Oor die eeue is sommige van hierdie belangrikste gedigte en liedere saamgevoeg sodat dit op spesiale geleenthede gesing kan word. Dis waar vanoggend se Psalm, Psalm 72 in kom. Dis bedoel vir ‘n Koningsgeleentheid. Maar ons gaan bietjie later meer in diepte daaroor gesels.
Die Psalms is nou wel nie sommer net enige digbundel nie. In baie van die moderne digbundels wat mens kry is dit maklik om hier en daar ‘n gedig te lees en jou gunsteling paar gedigte te identifiseer. Dit maak nie saak in watter volgorde jy dit lees nie. Met die Psalms is dit bietjie anders. Elke gedig en elke lied is meestervol geskryf en doelbewus op ‘n spesifieke punt in tyd en plek geplaas sodat dit impak daarvan behoue kan bly, en sodat die storielyn behou kan bly van begin tot einde.
Die Psalms is ‘n poëtiese hervertelling van die hele Bybelse geskiedenis en nooi jou uit om deel daarvan te wees binne hierdie literêre tempel. Die woorde “literêre tempel” is baie doelbewus gebruik. Onthou, in die Ou Testament was die tabernakel, en later die tempel, die plek waar God se mense gegaan het om God te ontmoet. As jy binne die tempel ingaan sou jy kunswerke, skilderye, kleurvolle materiaal en allerhande kunstige elemente gesien het. Jy sou priesters gesien het wat rituele uitgevoer het, jy sou liedere en gebede gehoor het, alles elemente wat simbolies uitbeeld dat God hier teenwoordig is en dat jy in God se sitkamer is. Die tempel was ‘n plek waar jy in God se teenwoordigheid kon wees, en dis ook ‘n plek waar jy jouself in die hele storie van God se heerskappy deur geskiedenis kan omring. So dink net vir jouself hoe traumaties dit was toe die Babiloniërs Jerusalem binnegavl het, die tempel, die plek van God se teenwoordigheid, verwoes het en die Israeliete in ballingskap weggevoer word. Waarheen gaan hulle nou om God te ontmoet, waarheen gaan hulle nou om hulle stories te sing en gebede te bring? Dis waar die Psalms inkom. Dis waar hierdie literêre tempel inkom. Die Psalms is ‘n gebedsboek vir ballinge; mense wat van hulle tuiste af weggevoer is. Dis ‘n virtuele tempel vir die mense wie se tempel so gewelddadig vernietig is. Jy tree die Psalms binne om met God te ontmoet en om die hele Bybelse storie te herleef in die vorm van digkuns en liedere.
Die Psalms is ‘n versameling van 150 gedigte, opgebreek in 5 unieke afdelings. Die eerste twee afdelings bespreek die ingewikkelde storie van David en sy familie. Die derde afdeling fokus op Israel se ballingskap, waarna die vierde en vyfde afdeling weer nuwe hoop bring vir die Messias en God se tempel wanneer die ballingskap verby is.
Nou dat ons ‘n idee het oor die agtergrond van die Psalms, kan ons bietjie verder beweek, in fokus, en ons aandag op vanoggend se teks plaas, Psalm 72. Die eerste vers sê eintlik duidelik vir ons watter tipe Psalm hierdie is. “O God, gee u beslissings aan die koning, u geregtigheid aan die seun van die koning.” Onthou, ons het vroeër gesê dat die Psalms baie keer op ‘n spesifieke manier versamel is sodat dit by sekere rituele en gebeurtenisse gelees of gesing kan word. Psalm 72 is een van hierdie Psalms. Dis ‘n koningspsalm. ‘n Troonsbestygingspsalm. Van die oog af lyk dit nie asof dit na ‘n Messiaanse koning se koms, soos Christus verwys nie, maar eerder ‘n gewone aardse koning en hoe daar regeer moet word.
Wanneer mens die Bybel hoor praat oor die regeerder se rol om geregtigheid, vrede en voorspoed vir mense te bring, spits jy jou ore. God se verwagting van die regeerder se rol en nuusberigte oor wat die hedendaagse regering alles aanvang, klop nie so lekker nie. Dink maar wat in ons land gebeur met paaie, water en elektrisiteit. Dan dink jy aan God se verwagting oor die rol van die regeerder, of regering. Daar is ‘n kloof tussen die geregtigheid en beskerming van die belange van die mense wat God vra. Kom ons kyk na die inhoud van die Psalm en vra dan hoe ons as gelowiges in die lig van hierdie psalm behoort te reageer.
Psalm 72 het duidelike kenmerke van ‘n koningspsalm. Dit is gebruik by die troonbestygingsfeeste, maar ook by minder skouspelagtige geleenthede wanneer gebid is vir die koning se welstand. Die psalm dra klanke van die Messiasverwagting en druk die versugting uit dat die Dawid-ryk sal aanbreek waarin die vrede en volheid van God sal heers op die hele aarde. Hierdie verwagting word geïllustreer in luisterryke beelde, wat gewoonlik gebruik is in die koninklike hof. Maar kom ons begin eers deur die Psalm vers vir vers bietjie oop te breek:
“1Van Salomo. O God, gee u beslissings aan die koning, u geregtigheid aan die seun van die koning.” – God, seën die koning. Wees by die koning. laat al die mense in die land sien dat die koning ‘n goeie koning is wat weet hoe om goed na die mense in sy land te kyk. Behalwe vir Psalm 127 is hierdie die enigste psalm wat Salomo in die titel vermeld. Ons sien die aanknopingspunte tussen Psalm 72:1 en die luister van Salomo se regeringstyd. Soos God aan die koning ‘n opmerksame hart, rykdom, eer en wysheid kan skenk (Ps. 2:8, 20:5), gee God volgens vers 1 aan die koning die bevoegdheid om regsbeslissings te neem en dade van geregtigheid te doen. Reg en geregtigheid is twee kante van dieselfde munt. Die twee woorde word dikwels saam gebruik in die psalms. Mense wat nie sosiale status gehad het nie, kon nie na hulleself omsien nie en was dus afhanklik van medelye en simpatieke regspraak deur die koning.
Calvyn verstaan hierdie terme as ‘n welgeordende regeringsvorm, wat neerkom op die teenoorgestelde van “die tirannieke en buitensporige losbandigheid van die goddelose konings wat God minag en heers volgens hul eie bedorwe luste”.
“2Mag hy u volk met geregtigheid oordeel, u magteloses met billikheid.” – Laat die hele wêreld sien dat hierdie koning van ons iemand is wat baie omgee oor wat goed en reg is, dat hy seker maak dat die mense aan die onderkant van die samelewing se lewens ook betekenis het, dat die mense wat nie enige mag of sosiale posisie het nie, ook voordeel sal kry by hierdie koning.
“3Mag die berge vrede bring vir die volk, en die heuwels geregtigheid.” – Vers 3 spreek die wens uit dat die berge sal vrede dra vir die volk omdat die koning geregtigheid beoefen. Vrede (sjalom) beteken “voltooidheid” en “heelheid”. Dit is met ander woorde nie bloot die afwesigheid van konflik of maar net kalmte en rus (Calvyn) nie, maar dit hou verband met verlossing, hulp en redding, algehele welsyn, welwese, harmonieuse saamleef en florering. Laat god se skepping, dit wat jy rondom jou sien, getuig van wat hierdie koning doen. Daar is nie oorloë wat die lande rondom hulle verwoes nie, die riviere in die berge gee lewe aan die oeste, daar wag nie vyande agter die heuwels, gereed om die land binne te val nie. Al die natuur rondom hulle getuig van die koning se goeie heerskappy.
“4Hy sal die magteloses van die volk se regte handhaaf, die kinders van behoeftiges verlos, maar onderdrukkers verpletter.” – Dit is die koning se taak om te oordeel, maar ook om te bevry. Die koning moet die gewelddadige verdrukker omverwerp. Die koning kyk na die mense wat gemarginaliseer is, die mense wat geslaan, geboelie en as minder-as-niks beskou word. Hulle praat hier duidelik van onderdrukkers, nie onderdruktes nie, maar onderdrukkers. Die mense wat onderdruk. Die mense wat ander mense se menswaardigheid van hulle ontneem.
“5Hulle sal vir U ontsag hê solank die son en die maan nog daar is, vir geslagte lank.” – Dan spreek vers 5 die wens uit dat die gewelddadige verdrukkers die koning sal vrees. Die duur van die koning se heerskappy word idiomaties vergelyk met die skyn van die son en die maan (v 6-7). Omdat hierdie koning goed na sy volk sal kyk, is die gevolg dat dit natuurlik ook binne God se wil is dat hy goed na sy volk kyk.
“6Mag die koning wees soos reën wat neerdaal op ‘n gesnyde grasveld, soos reënbuie wat die aarde deurweek.” – Die koning se heerskappy word vergelyk met reën op die gras en buie op die land (vers 6). Die woord vir reënstrome word gevolg deur ‘n woord wat beteken “oorstroom” of “besproei”. Die koning se goeie heerskappy bring vrugbaarheid en geregtigheid vir die land. Die opmerklike is hier dat dit van God kom en nié soos in ander Ou Nabye-Oosterse godsdienstige kulture van die koning self nie. Reën gee lewe. Alle lewende dinge is totaal en al afhanklik van water. Anders sal niks kan oorleef nie. Die koning moet ook ‘n lewegewende bron wees. Nie ‘n lewenemende persoon nie, maar iemand wat die waarde van lewe raaksien en dit koester.
“7In sy tyd sal regverdiges floreer, daar sal vrede in oorvloed wees tot die maan nie meer daar is nie.” – Vrede, welbehae, regverdige optredes. Dis alles deel van die hele boodskap van die evangelie. Dis basies maar net liefde.
Psalm 72 is die laaste psalm van die tweede psalmboek – die tweede afdeling waarvan ons vroeër gepraat het. Daarom kan ons ook na die laaste verse daarvan kyk. Hier word verwys na die Bron van die regverdige koning se goeie heerskappy. Die koning is lofwaardig danksy die Here, wat alléén die gewer is van lewe, geregtigheid en mag.
Die koningskap van Israel is nie lofwaardig op grond van die koning se prestasies nie, maar is die ruimte waarin die mag, die regspraak en die vrede van God bekend word. Die eer kom God toe en nié menslike figure nie, ook al is hulle larger than life.
Die kontras tussen die reg en geregtigheid wat God deur die regering werk, en die regeringspraktyke is dikwels skreiend. Die regeerders is dikwels op eie verryking en voorspoed ten koste van die ondergeskiktes en veral die magteloses.
Dit is in Suid-Afrika so, maar feitlik in elke ander land van die wêreld. Dink maar aan die Oekraïne en die brutale Russiese inval met ‘n diktator aan die stuur. Die ekonomiese effekte van hierdie magsvergrype in Europa laat ekonomieë oor die wêreld steier. Weens stygende gaspryse is daar by verskeie Europese regerings kommer dat burgers nie noodsaaklike verwarming of voeding in die komende wintermaande sal kan bekostig nie.
Hierdie scenario – regering wat maghebbers bevoordeel en magteloses vertrap – speel hom op alle kontinente uit. Die God van die Bybel is anders. Die God van die Bybel vra ander optrede van regeerders. Lees maar net Psalm 72.
Psalm 72 herinner ons daaraan dat ons kán lewe met hoop. Ons hoor hierdie belofte vandag as mense wat weet dat Jesus gekom en vir ons God se omvattende verlossing gebring het. Ons weet dit sal eendag voltooi wees wanneer God die volmaakte vrederyk van Christus sal vestig, wanneer al hierdie dinge verby is.
Hierdie vertroue maak ons anders. Ons lewe nie vir ons eie koninkryke nie. Ons behoort nie aan die koninkryke van die wêreld wat die mag en die voordele van die sterkste soek nie. Ons is goddelike burgers wie se sterkste wil is om op te offer vir ander. En ons kan die NOU reeds doen! Ons is deel van ‘n geloofsgemeenskap, mense met ‘n roeping – Ons is NOU deel van hierdie geloofsgemeenskap. Ons roeping is om met die hoop wat Christus bring in diens te staan van sy vrede – en ons kan die NOU al doen.
Ons kan dit nié doen as ons aanhou dink die lewe gaan eintlik maar daaroor dat ekself hoër teen die suksesleer moet opklim nie. Om deel te neem aan die lewe van die koninkryk is eerder om met medelye – soos dié van Jesus – in verhouding te tree met mense wat nie sterk genoeg is om die lere van die wêreld te klim nie.
Dit beteken nie ons moet sonder die ambisie wees om deur harde werk, dissipline en goeie gewoontes te groei, ons gawes te ontwikkel en die beste te maak van wat die Here vir ons gegee het nie. Maar, soos Henri Nouwen sê, dit is nie uitstyg wat ons menslik maak nie, maar om te dien.
Die beste wat ons kan doen, is om ons kennis en ons kragte in diens te stel van ander. Wanneer ek God se liefde op ‘n diep persoonlike, spirituele vlak ontvang, kan ek hierdie pad loop en by ander wees wanneer en waar hulle swaarkry. Hierdie pad is juis God se pad na geregtigheid en vrede. Dit is nie ‘n opwaartse pad (soos in upward mobility) nie, maar die weg na almal wat medelye nodig het.
Hierdie Psalm het dus ook te doen met die manier waarop ek my vermoëns en gawes aanwend om reg, geregtigheid en groei by ander moontlik te maak.
Maar hierdie Psalm is ook die basis van gebed tot God om kwaliteit regering moontlik te maak in ons land. Gebed is die protes wat ons na God neem oor die swak, uitbuitende regering – in ons land, maar op elke kontinent van die wêreld. Ons land se politiek is glad nie uniek nie. Maar Psalm 72 help ons om protes aan te teken deur te bid.
Dink net aan die krag en hoop wat ontsluit word as ons hierdie Psalm gereeld as gebed bid. Kom ons sluit af, dan bid ons saam Psalm 72 vir hierdie ongelooflike mooi land waarin ons is, die land waarvoor ons so lief is:
O God, gee u beslissings aan die koning,
u geregtigheid aan die seun
van die koning.
2Mag hy u volk
met geregtigheid oordeel,
u magteloses met billikheid.
3Mag die berge vrede bring vir die volk,
en die heuwels geregtigheid.
4Hy sal die magteloses
van die volk se regte handhaaf,
die kinders van behoeftiges verlos,
maar onderdrukkers verpletter.
5Hulle sal vir U ontsag hê
solank die son en die maan
nog daar is, vir geslagte lank.
6Mag die koning wees soos reën
wat neerdaal op ‘n gesnyde grasveld,
soos reënbuie wat die aarde deurweek.
7In sy tyd sal regverdiges floreer,
daar sal vrede in oorvloed wees
tot die maan nie meer daar is nie.
Here, laat u lig skyn oor ons kontinent –
Vader, seën Afrika,
beskerm ons kinders,
transformeer ons leiers,
genees ons gemeenskappe,
herstel die natuur,
en gee ons vrede.