Filippense 4:4-7 - God is Naby

Skriflesing (Filippense 4:4-7)

4Verbly julle altyd in die Here! Ek herhaal: Verbly julle! 5Laat julle vriendelikheid aan alle mense bekend word. Die Here is naby. 6Moet oor niks bekommerd wees nie, maar maak in alles julle versoeke deur gebed en smeking met danksegging aan God bekend. 7En die vrede van God, wat alle begrip oortref, sal in Christus Jesus oor julle harte en gedagtes waak.

 

 

 Preek

Vriende, ons het verlede week oor Filippense 1 nagedink en gesels oor Paulus se diepe dankbaarheid. Ek wil graag net ‘n deel uit laasweek se boodskap weer herhaal, net om ‘n prentjie te skets van hoe die wêreld van Filippi gelyk het. Die kerk in Filippi is die eerste gemeenskap van gelowiges wat Paulus in Oos Europa gestig het. Ons lees ook daarvan in Handelike 16. Filippi was ‘n Roomse kolonie in Antieke Masedonië. Die inwoners was afgtrede soldate en was baie bekend vir die patriotiese nasionalisme wat daar teenwoordig was. So, natuurlik, het Paulus heelwat teenstand beleef toe hy Christus as die ware koning van die wêreld daar begin verkondig het. Dit het dan as verraad voorgekom! So nadat Paulus weggegaan het, het volgelinge van Christus natuurlik konstant vervolging ervaar en gesukkel om gemaklik aan te gaan met hulle lewens. Maar hulle het steeds ‘n goeie gemeenskap gebly wat aangehou het om Christus se leiding te volg.

Hoofstukke 1 tot 3 is ‘n vermaning wat spesifiek aan sekere persone gerig is, maar nou vanaf hoofstuk 4 tot 11 is dit ‘n oproep aan die hele gemeenskap van gelowiges in Filippi. Hoofstuk 4 is dan nou spesifiek ‘n oproep tot vreugde. “Die Here is Naby” sê vers 5. Paulus se diepe Christologiese skrywe het altyd temake met Christus se opstanding en verlossing, want dit is juis dit wat die oorsprong van ons oproep tot vreugde is. Dit is juis hierdie wat Christus se goeie nuus is.

Die opstanding van Jesus is ‘n gebeurtenis wat nie net op ‘n historiese perspektief of ‘n private perspektief verstaan kan word nie. Dit term ‘opstanding’ is iets wat eie was aan Joodse en vroeë Christelike apokaliptiese hoop. So met ander woorde: die woord ‘opstanding’ het hand-aan-hand gegaan met die konsep van Christus se wederkoms. Die inwoners van plekke soos Filippi het hulself in ‘n tussen-tyd bevind: Die tydperk tussen die Opstanding en die Wederkoms. In hulle koppe kon dit enige dag gebeur het. Miskien volgende week? Miskien oor ‘n paar ure? Dit was iets wat hulle in hulle onmiddelike toekoms gesien het. So, hierdie sogenaamde ‘apokaliptiese hoop’ wat die inwoners van Filippi beleef het, handel oor die vervolging en lyding van God se mense en die vervulling van profesieë. Dit is ‘n bewyse dat boosheid finaal oorwin is. Hierdie boodskap bestaan uit ‘n apokaliptiese- (die eindtye) en eskatologiese (die wederkoms) raamwerk wat ons op so baie verskillende maniere kan interpreteer. Dikwels soek ons as Christene swart en wit antwoorde. Maar ons moet leer om gemaklik te wees in die ongemak. Net soos wat ons nou is! Ons weet nie hoe die koms van Christus gaan werk nie, wanneer dit gaan gebeur nie, of enige ander details nie. Maar ons het gemaklik geraak om in hierdie ongemak en onsekerheid te lewe. En ek dink dis goed so. God gee nie altyd die antwoorde met ‘n lepel vir ons nie. God maak ons gemaklik om in ongemak te lewe. Ek wil graag 6 dimensies van die bekende teoloog Daniel Migliore uitlig wat verband hou met vanoggend se skrifgedeelte, en ook spesifiek vers 5 “Die Here is naby”. Ons word opgeroep tot vreugde, juis omdat Christus naby is. Ons het ook die 6de Februarie oor hierdie 6 dimensies gesels toe ons oor 1 Korintiërs 15 gesels het, maar ek voel dis belangrik om weer dit te noem, omdat dit so noue verband hou met Paulus se skrywe. Paulus het mos immers ook 1 Korintiërs gskryf.

Die eerste dimensie is die belangrike teologiese dimensie. God wat getrou is word hier baie duidelik uitgebeeld. Esegiël 37 is ‘n voorbeeld van hoe God alleen grafte kan oopmaak en mense weer lewend maak, nes God met Jesus gemaak het. Handelinge 3:13 sê immers: “Die God van Abraham en die God van Isak en die God van Jakob, die God van ons vaders, het sy Dienskneg Jesus verheerlik”. Ons moet ook weet dat wanneer ons oor die opstanding praat, word daar van God gepraat. Jesus se menslike eienskappe het nie homself uit die dood opgewek nie. Dit is ‘n werking van die getroue en genadige God. Net soos wat Jesus vir ons gesterf het, het hy ook vir ons opgestaan.

Die tweede dimensie is die Christologiese dimensie. Die Christus gesentreerd. Die hele Nuwe Testament beklemtoon die identiteit van die opgestane Christus met die gekruisigde Christus. Die opgestane Christus is die een wat menslike vorm geneem het, as dienskneg onder ons gewerk het, en ook wie gehoorsaam was, selfs tot die dood aan ‘n kruis, soos beskryf in Filippense 2:5-11. Die ernstige natuur van die kruisiging word weer beklemtoon deur die soldaat wat sy spies in Jesus se sy gesteek het. Daarom is dit nog meer merkwaardig dat dit dieselfde Jesus was wat opgewek is. Die lig van die opgestane Jesus lei almal in die donker. Dit beteken ook dat Paasfees, wat ons oor ‘n paar maande vier, ons menslikheid en vryheid beklemtoon. Die Kerkvader Irenaeus het immers self verkondig: “The glory of God is humanity alive”

Die derde dimensie is die pneumatologiese dimensie. Die dimensie van die Gees. Volgens die evangelie van Johannes blaas die opgestane Here die asem van die Gees op sy dissipels (Joh. 20:22). Paulus vertel in 1 Korintiërs dat die opstanding die ‘eerste vrugte’ van die nuwe skepping is, waar gelowiges nuwe lewe in Christus kry deur die Gees. Deur die Gees word die lig van Christus, die liefde van Christus en die uitgestrekte arm van Christus vir ons geskenk. Die Gees is ook sentraal tot die missionale aard van die Gees.

Die vierde dimensie is die ontvangs van die opgestane Christus wat ‘n ekklesiologiese dimensie het. In ander woorde: die Kerklike aspek. Die apostoliese verkondiging van die opstanding moet verstaan word deur ‘n persoonlike doening van geloof, maar is nooit ‘n geïsoleerde geval nie. Die grootheid van die krag van God gee vir ons ‘n nuwe gemeenskap: Die liggaam van Christus. Verskeie gebeurtenisse in die geskiedenis het ons siening van die opstanding beïnvloed. Die staptog na Emmaus is een van hierdie ekklesiologiese gebeurtenisse. Twee dissipels praat oor hulle verskeurde hoop. Wanneer ‘n ‘vreemdeling’ begin saamstap, kom hulle nie agter dat die Jesus is nie. Die opgestane Here word aan hulle bekend gemaak terwyl hy die Skrifte vir hulle interpreteer en saam met hulle die brood breek.

Die vyfde dimensie is ‘n politiese dimensie. Hierdie het veral groot betekenis gehad in die eerste eeu. As Christus Heer van die wêreld is, is die Keiser nie. En dis wat een van die groot oorsake van die vervolging in Filippi was. As God deur die opstanding Christus as Seun van God verklaar het, dan het God Christus se heerskappy bevestig, nie net oor dood en sonde nie, maar ook die gewelddadige optrede en agendas van die verskeie Keisers. Die “institusie van sonde en dood”, soos N.T Wright dit beskryf.

Die sesde, en laaste dimensie is die kosmiese dimensie. Ons kan dit ook sien as die eskatologiese dimensie van Christus se opstanding. Jürgen Moltmann gee ook die stelling dat Christus se opstanding die begin van God se nuwe wêreld is. Moltmann is bekend daarvoor dat sy teologie rakende die opstanding so ‘n kosmiese uitkyk het. Ek onthou Jürgen Moltmann het ‘n paar jaar gelede ‘n lesing gegee by die Universiteit van Stellenbosch wat ek bygewoon het. Hy het daardie dag so tussen die lyne bevestig dat honde ook deel gaan wees van God se nuwe wêreld. Die opstanding is nuwe hoop vir mense, gemeenskappe, en ook die hele kosmos wat nie meer gevangene is deur die gryp van dood nie, soos ook in Romeine 8:18-25 beklemtoon word. Migliore sluit af deur die stelling te maak dat om in die opstanding van Christus te glo, is om te glo dat God triomfeer oor dood in menslike geskiedenis, asook die dood wat tans vir die mensdom relevant is. Hierdie is die hart van die evangelie en sentraal rondom die boodskap wat Paulus probeer oordra aan die hele gemeenskap vir wie hy skryf. Paulus sê wees bly! Wees vrolik! Sien die vreugde raak in julle lewens!

As mens in enige boekwinkel instap sal mens gebombardeer word met boeke oor vreugde, of “joy” in Engels. Joy of Cooking, Joy of Not Working, The Complete Joy of Home Brewing, en nog baie  meer.

Ons Adventswoord en tema vir vandag is natuurlik ‘n oproep tot vreugde. Die Bybel is vol vreugdevolle woorde:

“Die vreugde van die Here, dit is julle toevlug” (Nehemia 8:11)

“Kyk, Ek bring vir julle ‘n goeie boodskap wat vir die hele volk ‘n bron van groot vreugde sal wees” (Luk 2:10)

“Verbly julle altyd in die Here, ek herhaal: Verbly julle!” (Filippense 4:4)

Die meeste van ons het ‘n lewe wat deur roetines definieer word. Ons eet by dieselfde restaurante, kyk na dieselfde TV-programme, doen inkopies in dieselfde winkels en sit in dieselfde banke by die kerk. Die lewe is net makliker so.

As ons een of ander verrassing in ons lewens kry, dan is dit gewoonlik verrassings wat onaangenaam is. Die oorstromings was verskriklik, die moord was wreed, die verkragting was ongelooflik, die hongersnood is onverstaanbaar.

In elke ander godsdiens van die wêreld soek die mensdom na God. Hulle klim berge, doen rituele, mediteer, alles in die hoop dat hulle op een of ander manier in staat sal wees om aan die Goddelike te koppel en hul geestelike honger te bevredig.

Christenskap is anders. In die Christendom volg God ons. Hy is die goeie Herder op soek na die een verlore skaap. Hy is die liefdevolle Vader wat met ope arms wag vir die verlore kind om huis toe te kom. Hy is die God van die heelal wat mens geword het om met ons te identifiseer.

Dit was die groot 20ste-eeuse teoloog, Karl Barth, wat gesê het dat die hele Kersverhaal opgesom kan word in hierdie woorde: “‘n Verlosser is vir ons gebore,” nie net vir die herders nie, nie net vir die wyse manne nie, maar ‘n Verlosser gebore vir julle, vir my.

Paulus sê: “Verbly julle in die Here! Ek herhaal: Verbly julle!.” Hy het dit in ‘n Romeinse tronk geskryf terwyl hy op teregstelling gewag het. Hierdie ou man wat bespot, gestenig, en verlaat is, het geweier dat die omstandighede van die lewe die vreugde wat hy gevind het om sy Here te dien te vernietig.

Paulus het geweet dat die Here naby is. Ons lees dit baie duidelik in vanoggend se skrifgedeelte. Maar dit is ook ‘n teologiese vraagstuk waaroor baie mense al gewonder het. Is dit soos Calvyn sê die nabyheid van die sorgsame Here, of is dit soos Steck sê die werklikheid van God, of is dit soos Karl Barth sê die koms van Christus? In Advent is dit eintlik gepas dat ons meer fokus op Barth se siening. Christus se opstanding en koms.

Die opstanding van Jesus is die sentrale element van die evangelies. Dit is ook die goue draad wat regdeur die apostoliese briewe, soos Paulus se skrywe, getrek word. Matteus 28:6 is maar net een voorbeeld hiervan waar daar gesê is deur ‘n engel “Hy is nie hier nie, want Hy is opgewek, soos Hy gesê het”. Deur Jesus op te wek het God die wêreld omgekeer. Dit gee vir ons ‘n glimp van waarheid wat transendent is en verby ons begrip van realiteit strek. Dit beeld ‘n wêreld uit wat nie meer deur die dood regeer word nie. Dit is immers hierdie realiteit wat ons reg deur advent saam met Kersfees vier.

Ek sluit af: Die ontvangs van die nuus van die opstanding is nie oral met ontsag en bewondering geneem nie. In Handelinge 17 lees ons van Paulus en Silas se aankoms in Thessalonika. Hulle het na die sinagoge beweeg en die nuus van Jesus verkondig. Paulus en Silas het by ‘n persoon met die naam Jason tuis gegaan. Toe die nuus van hulle verkondiging deur die stad beweeg het, was daar ‘n oproer gewees en nadat die mense na Jason se huis beweeg het en Paulus en Silas nie daar gekry het nie, het hulle Jason na die stadsowerhede geneem. Hulle het argumenteer dat Paulus en Silas die outoriteit van die Keiser ondermyn deur Jesus as koning te verklaar. Dit was algemene politieke praktyk dat die Keiser as Here beskou word. Jesus is koning en die Keiser is nie. Eerste eeuse geskrifte lui: “Goddelike Keiser Augustus, seun van ‘n god, bevelvoerder van land en see, weldoener en redder van die hele wêreld.

Nogtans het Paulus vreugde en blydskap ervaar wat hy met die inwoners van Filippi deel. Paulus gee ‘n paar duidelike instruksies. Leef vanuit die nabyheid van die Here. Die blydskap het twee gevare: dat ons op ons regte sal staan, ons eie wil deurvoer en dat ons besorgd sal raak. Daarom roep die nabye God ons op tot die regte instelling teenoor andere: die welwillendheid, die vriendelikheid, die sagtheid en toefeneentheid. Dit moet teenoor alle mense beoefen word, nie net teenoor mense daarbuite, byvoorbeeld in die kantoor – terwyl ons ‘n selfsugtige tiran by die huis is nie. Hieraan word die gelowige, dis nou ons, immers bekend by die wêreld. Geniet die vreugde! Dit is die vrede wat ons verstand tebowe gaan.

Ons teks sê dat ons alles moet doen vanuit die wete dat God naby is. God wil ook God se lig op almal laat skyn op almal wat in Goddelike nabyheid wil lewe. Dit wil ook hierdie feesseisoen mense opgewonde en bly maak. Dit wil mense dinge laat verwag; nuwe dinge wat nie daar was nie. Vreugde, vriendelikheid en vrede. En dis ook maar net een van die redes hoekom ons vanoggend met werklike Goddelike blydskap die Nagmaal kan vier.