Psalm 104:24-34, 35b - 'n Psalm van Lof

Skriflesing (Psalm 104:24-34, 35b)

 

24Hoe talryk is u werke, Here! Alles is met wysheid deur U gemaak; die aarde is vol van wat aan U behoort. 25Daar is die see, groot en na alle kante uitgestrek! Daar wemel dit van ontelbare diere, klein en groot; 26daar vaar die bote, en die Leviatan wat U gemaak het om daarin te speel. 27Hulle almal sien op na U om vir hulle kos te gee op tyd. 28Gee U vir hulle, raap hulle dit op; maak U u hand oop, word hulle versadig met wat goed is. 29Verberg U u gesig, is hulle angsbevange; neem U hulle asem weg, vergaan hulle en keer terug na die stof wat hulle was. 30Stuur U u asem, word hulle geskape. U gee die oppervlak van die grond ‘n nuwe voorkoms. 31Mag die majesteit van die Here vir ewig duur; mag die Here Hom verheug in sy werke, 32Hy wat na die aarde kyk en dit bewe, wat aan die berge raak, en hulle rook. 33Ek wil vir die Here sing solank ek leef, ek wil my God besing solank ek bestaan. 34Mag my bepeinsing vir Hom aangenaam wees. Ek, ek sal my verheug in die Here. 35b…Loof die Here, o my siel! Halleluja!

 

 Preek

Dit is vandag Pinksterfees. Dis die dag wat ons die uitstorting van die Heilige Gees herdenk. Ons moet onthou dat dit ‘n klein groepie bang dissipels was wat deur God bemagtig was om die kerk van God in hierdie wêreld te wees. Party mense noem vandag ook die geboortedag van die kerk. Dis dan seker gepas dat ons nounet met die kinders ‘n ballon as voorbeeld gebruik het.

Die Psalm wat ons nounet gelees het is een wat God as skepper eer. Dis baie soortgelyk aan die vermanings wat ons ook in Ps 103 lees, en is ‘n verwerking van die gewone oproepe tot lofprysing in gemeenskaplike gesange. Hierdie Psalm is heel waarskynlik geskryf vir gebruik deur ‘n aanbiddingsleier, by ‘n tempeldiens, om gemeenskaplike lof te stimuleer.

Psalm 104 is ‘n aangrypende lofsang van iemand wie se oë oop is vir hierdie rykdom van die skepping wat ons elke dag rondom ons sien. God se heerlikheid kom op soveel verskillende kleurvolle en beskrywende manier hier na vore. Baie teoloë beskou dit as poëtiese kommentaar op die eerste hoofstuk van Genesis, die skeppingsverhaal.

Daar is nie net ‘n band met Genesis 1 nie, maar ook met die voorafgaande Psalm. In Psalm 103 vier die skrywer God se goedheid, genade en liefde vir sy volk. In Psalm 104 vier die skrywer God se grootheid, majesteit en soewereine heerskappy. In Psalm 103 gee die skrywer aan God die eer vir sy verbondsgenade en liefde vir sy volk, terwyl hy in Psalm 104 aan God die eer gee vir sy skepping, voorsienigheid, heerskappy en die oorvloed van sy handewerk. In Psalm 103 prys die skrywer God vir sy genade, en in Psalm 104 word God as die God van die natuur geprys.

Maar kom ons gaan stelselmatig deur die Psalm en kyk wat dit vir ons te sê het. Kon ons begin by verse 24 tot 26.

24Hoe talryk is u werke, Here! Alles is met wysheid deur U gemaak; die aarde is vol van wat aan U behoort. 25Daar is die see, groot en na alle kante uitgestrek! Daar wemel dit van ontelbare diere, klein en groot; 26daar vaar die bote, en die Leviatan wat U gemaak het om daarin te speel.

God het so baie dinge geskep, tog is daar orde. Elke ding het sy plek. Ons kan dan duidelik sien dat God met wysheid geskep het. In die see is daar ‘n verskeidenheid van lewe. Vir ‘n Israeliet was die oseaan ‘n plek van misterie en gevaar. Onthou ons het ook oor hierdie konsep van die see gesels toe ons deur Openbaring gewerk het. Ek wil graag herhaal wat ek oor die see gesê het toe ons oor Openbaring 21 gesels het:

Water het ‘n ongelooflike ryk betekenis in die Bybel. By ons erediens die 27ste Maart het ons ook oor die simboliek van water gesels toe ons uit Josua 5 gelees het. Kom ons gesels dan gou oor ‘n paar van die plekke in die Bybel waar God water gebruik het: Die see het geskei sodat Moses die Israeliete daardeur kon lei; en die Jordaanrivier het geskei sodat die Israeliete deur die beloofde land kon beweeg in Josua. Dan, in Numeri 20 lees ons weer van water, waar Moses die klip met sy staaf geslaan het: dieselfde staaf waarmee hy deur God se krag die see laat skei het. Water het uitgevloei sodat die Israeliete en hulle vee water kon drink. Later in die Bybel word water mos ook gebruik wanneer mense gedoop word. In die Ou Testament is water gebruik tydens die reinigings-rituele waar mense wat onrein is hulleself was om weer rein te word, net soos wat Jesus ook die melaatse mense genees het deur vir hulle te sê om hulle self te gaan was. En dan natuurlik ook by die troue in Kanaän, waar Jesus water in wyn verander. Maar daar is ook ander plekke waar water op ‘n ander manier gebruik word: In die eerste skeppingsverhaal simboliseer water die vormlose chaos en donkerte voordat God in liefde geskep en georden het. In Jesaja 57:20-21 word die goddeloses vergelyk met die “onstuimige see wat nie tot rus kan kom nie”; vir hulle is daar “geen vrede” nie. Toe Jesus op die water loop, is dit byna soos ‘n gelykenis wat wys hoe Hy die aardse toestand te bowe gaan en oor die magte wat ons bedreig, triomfeer.

Ons lees ook van die skepe wat vaar, die manier hoe mense handel gedryf het. En daar woon die Leviatan, eens beskou as die oermonster van chaos, maar vir God niks ander as om mee te speel nie. So verse 24 tot 26 beskryf dan die grootheid van God in terme van die onstuimige see waarvoor mense bang was, maar wat God geskep het en beheer oor het. God hou God se mense veilig binne hierdie onstuimige waters.

Dan beweeg ons aan na verse 27 tot 30.

27Hulle almal sien op na U om vir hulle kos te gee op tyd. 28Gee U vir hulle, raap hulle dit op; maak U u hand oop, word hulle versadig met wat goed is. 29Verberg U u gesig, is hulle angsbevange; neem U hulle asem weg, vergaan hulle en keer terug na die stof wat hulle was. 30Stuur U u asem, word hulle geskape. U gee die oppervlak van die grond ‘n nuwe voorkoms.

Die hele skepping is van God afhanklik. God gee vir almal kos op die regte tyd. Waar God in God se genade teenwoordig is, daar is lewe. God is die bron van lewensasem, die fontein van die lewe (weer ‘n simbool van water). Lewe is net moontlik deur die genade van God. Wat ons hier lees is ‘n beskrywing van absolute afhanklikheid van God. Die wêreld van lewendige organismes kyk konstant na die hemele vir kos. Weereens, dink aan Openbaring. Waar staan die boom van die lewe? Hoeveel keer per jaar dra dit vrug?

Kom ons lees gou weer Openbaring 22:2

2In die middel, met die hoofstraat aan die een kant en die rivier aan die ander kant, staan die boom van die lewe, wat twaalf keer vrugte dra – elke maand dra dit vrug.

Tussen die hoofstraat van die stad en die waterstroom staan die boom van die lewe, ‘n boom wat elke maand vrugte dra. Die boom se blare bring genesing. Dit is ‘n geneesmiddel nie net vir Israel nie, maar vir ál die nasies. Niks wat vervloek was, is nou meer vervloek nie. Die troon van God en die Lam is gevestig in die stad. Die mense dien God. Hulle sien God.

Johannes neem sy beeld van die boom van die lewe uit twee bronne – van die boom in die tuin van Eden (Gen.3:6); en nog meer van Esegiël. Sien julle? Die Psalmdigter kry óók baie van sy beelde uit die skeppingsverhaal! “Aan weerskante van die stroom, op sy walle, sal allerhande vrugtebome groei. Hulle blare sal nie verwelk nie, en hulle vrugte sal nie opraak nie. Elke maand sal hulle nuwe vrugte dra, want dit is uit die heiligdom wat hulle water vloei. Hulle vrugte sal as voedsel dien en hulle blare tot genesing.” (Es.47:12).

Die boom gee baie en uiteenlopende vrugte. Sekerlik daarin kan ons die simboliek van die vrug van die Gees sien (Gal.5:22-23). In die verskillende vrugte vir elke maand van die jaar mag ons nie gesimboliseer sien dat in die lewe wat God gee daar ‘n spesiale genade vir elke eeu van die wieg tot die graf is nie? Die boom van die lewe is nie meer verbode nie; dit is daar in die middel van die stad vir almal om te neem. Die vrugte daarvan is ook nie tot die Jode beperk nie; sy blare is tot genesing van die nasies. Slegs in die Gees van God kan die wonde en die breuke van die nasies genees word.

Die hele punt hier is dat kos, soos water, een van die dinge is wat ons aan die lewe hou, iets wat van God afkomstig is. En die Psalmdigter was ongelooflik bewus hiervan gewees.

Efesiërs 47:12: Elke maand sal hulle nuwe vrugte dra, want dit is uit die heiligdom wat hulle water vloei.

Galasiërs 5:22-23: Maar die vrug van die Gees is: liefde, blydskap, vrede, geduld, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, 23sagmoedigheid, selfbeheersing. Teen hierdie soort dinge is daar nie ‘n wet nie.

Openbaring 22:2: 2In die middel, met die hoofstraat aan die een kant en die rivier aan die ander kant, staan die boom van die lewe, wat twaalf keer vrugte dra – elke maand dra dit vrug.

En dan wat ons vanoggend gelees het in Psalm 104:27: 27Hulle almal sien op na U om vir hulle kos te gee op tyd.

Reg deur die Bybel is daar sekere van hierdie lewegewende simbole. Dit word oor en oor herhaal. Dit word eintlik so baie herhaal dat dit voel asof ons moeg raak daarvoor! Maar, soos gewoonlik, wanneer iets so baie keer herhaal word, soos hierdie konsepte, dan moet dit sekerlik baie belangrik wees.

Kom ons beweeg dan aan na verse 31 en 32.

 

31Mag die majesteit van die Here vir ewig duur; mag die Here Hom verheug in sy werke, 32Hy wat na die aarde kyk en dit bewe, wat aan die berge raak, en hulle rook.

Die digter sluit die lang gedeelte oor God as Skepper en Voorsiener af met ‘n gebed. Hy bid dat daar nooit ‘n ellende mag kom aan die heerlikheid van die Here nie, sodat God hom in al sy werke kan verheug. Want net waar God as Skepper en Voorsiener erken word, dáár kan die harmonie tussen Skepper en skepsel ongeskonde voortduur. Hy is die magtige God voor wie die hele skepping bewe.

 

En dan, die laaste deel, verse 33 tot 35.

 

33Ek wil vir die Here sing solank ek leef, ek wil my God besing solank ek bestaan. 34Mag my bepeinsing vir Hom aangenaam wees. Ek, ek sal my verheug in die Here. 35b…Loof die Here, o my siel! Halleluja!

 

Dis hoe die digter sy gedig eindig – soos hy begin het. Aan die een kant bid hy dat dy oordenking, sy erkenning van God se skeppingsmag, God verheug. Die heerlikheid hier is die Skepper se heerlikheid wat in sy geskape heelal vertoon word. Met ander woorde, dit wat ons elke dag rondom ons sien. As hy hierdie heerlikheid sou onttrek, sou die heelal verdwyn. Hy alleen gee dit wese en stabiliteit. So solied soos dit mag voorkom, is dit van die uiterste broosheid in verhouding tot sy oë en vingers. So ‘n Skepper is ‘n onophoudelike lof werd, maar braafheid is uit plek en ons kan net bid dat ons arme lied welgevallig sal wees, want hy alleen is die Heilige.

 

So, om mee af te sluit: Ons het nou gesien daar dis vier hoofdele van ons skrifgedeelte vanoggend. Eerstens is dit vers 24-26, waar ons weereens die beeld van water en see kry, wat uitbeeld dat God selfs mag het oor die onstuimige see. Dan is dit verse 27-30, waar ons bewus word van ons afhankklikheid van God in terme van die kos wat God aan ons vorsien. Net hierna, in verse 31-32 gaan dit oor ‘n gebed waar die skrywer bid dat God se heerskappy vir ewig sal voortduur. En laastens, in verse 33-35 is dit God wat vir alles lewe en stabiliteit gee.

Daar is ‘n pragtige gedig van die Sweedse digter Carl Gustav Boberg: “O Sture Gud” (1885) wat wêreldwye aanklank gevind het en word regoor die wêreld gesing op die bekende Sweedse volkswysie.  Dit is vertaal en uitgebrei deur die Britse sendeling Stuart K Hine as: “How great Thou art”.  In die Liedboek van die NG Kerk lui dit soos volg (Lied 464):

 

O Heer my God as ek in eerbied wonder

En al U werke elke dag aanskou

Die son en maan, die aarde, sterre, wolke,

Hoe U dit elke dag so onderhou…

Refrein:

Dan moet ek juig, my Redder en my God!

Hoe groot is U, hoe groot is U!

Want deur die hele skepping klink dit saam

Hoe heerlik Heer U grote Naam!

Ek sien die veld – die bosse, berge, vlaktes

Ek hoor hoe fluister grasse, stroom en wind

O Heer, U sorg vir klein, vir groot, vir alles

en U sorg dag na dag vir my, U kind.

Refrein

U maak ons deel van al U grootse werke.

U laat ons bid, Heer, dat U ryk mag kom.

En kom U weer, in heerlikheid op wolke,

maak U volkome nuut U eiendom.

Refrein

 

Hoewel Psalm 8 waarskynlik die inspirasie vir Boberg se gedig was, onder andere na aanleiding van sy verrukking oor die natuurskoon van ’n geweldige storm wat opgevolg is deur ’n vredevolle kalmte, vind ’n mens dieselfde perspektiewe en selfs nog meer in Psalm 104.  Dit is by uitstek ’n lofpsalm uit die natuur en die skepping vir God se versorging. En hierdie skepping wat ons elke dag rondom ons sien, is maar net nog ‘n rede hoekom ons die Nagmaal kan vier. Christus wat redding gebring het binne ‘n gebrpke wêreld, wat omring is deur die perfekte skepping van God.

Amen.