Christus het Waarlik Opgestaan! - 1 Korintiërs 15:1-11

Skriflesing (1 Korintiërs 15:1-11)

OPWEKKING VAN CHRISTUS

1Broers, ek herinner julle aan die evangelie wat ek aan julle verkondig het, wat julle ook aangeneem het, en waarin julle ook vasstaan, 2waardeur julle ook verlos word; mits julle vashou aan die evangeliewoord wat ek aan julle verkondig het – tensy julle vergeefs tot geloof gekom het. 3Want die wesenlike wat ek ontvang en ook aan julle oorgelewer het, is: Christus het vir ons sondes gesterf, volgens die Skrifte; 4Hy is begrawe en op die derde dag opgewek, volgens die Skrifte; 5en Hy het aan Sefas verskyn, en toe aan die twaalf. 6Daarna het Hy aan meer as vyfhonderd broers tegelyk verskyn, van wie die meeste nou nog leef, maar sommige al ontslaap het. 7Daarna het Hy aan Jakobus verskyn, en toe aan al die apostels. 8As die laaste van almal het Hy ook aan my, die misgeboorte, verskyn. 9Want ek is die geringste van die apostels, nie geskik om ‘n apostel genoem te word nie, omdat ek die gemeente van God vervolg het. 10Maar deur die genade van God is ek wat ek is. Sy genade aan my was nie vergeefs nie, trouens, ek het baie harder gewerk as al die ander – eintlik nie ek nie, maar die genade van God, wat met my is. 11Daarom, of dit ek of hulle is, dit is wat ons verkondig, en daarvolgens het julle tot geloof gekom.

 

Preek

Vanoggend se teks is ‘n mondvol. ‘n Mens moet dit eintlik ‘n hele paar keer lees om dit te absorbeer. Nou, net ‘n bietjie agtergrond oor Korintiërs: Hierdie brief wat Paulus geskryf het is eintlik die tweede brief wat Paulus aan die gemeenskap in Korinthe geskryf het. Ons is nie seker wat van die eerste een geword het nie, maar ons weet wel dat hierdie een van 7 briewe is waarvan ons doodseker is dat dit Paulus is wat dit geskryf het. Paulus het 1 Korintiërs tydens sy 2de sendingsreis geskryf in ongeveer 49 nC en die hele doel daaragter is om vir die gemeenskap in Korinthe te skryf dat hulle die voorbeeld moet stel van hoe gelowiges in Christus moet lewe. Hy skryf dit as soort van ‘n riglyn wat handel oor liefde, vryheid, geregtigheid, heiligheid, en nog baie meer.

 

Alles wat Paulus vroeër geskryf het oor God, Christus, die Gees, die Christelike lewenswyse vir “die ander” in hierdie wêreld het hulle fondasie in alles wat hier in hoofstuk 15 bely word. Dis nie die klimaks of die gevolgtrekking van hierdie brief nie, maar eerder ‘n herhaling van wat alreeds gesê is.

 

Maar hoekom plaas Paulus soveel klem op die opstanding van Jesus? Dis eintlik ‘n vraag waarby ons eers ‘n paar stappe terug moet neem. Ons moet eers vra hoekom was Christus doodgemaak? Maar eintlik moet ons selfs nóg verder terug beweeg. Hoekom was Christus aanbid? Dit was immers glad nie te wagte dat Joodse volgelinge Jesus sou aanbid nie. Waarom het hulle Jesus tydens aanbidding begin vereer, gebede tot Jesus gerig, Jesus se dood in die nagmaal gevier, en begin doop in die Naam van onder meer Jesus? Waarom is genesing in sy Naam bedien en liedere tot sy eer gesing? Een ding wat ons goed moet verstaan is dat die Jode ‘n baie streng tradisionele siening van monoteïsme gehad het. Met ander woorde, hulle het net in een God geglo. Ons moet ook onthou dat hulle geleef het in ‘n tyd toe daar ontsettend baie ander gode was en politeïsme algemene praktyk was. Met ander woorde, daar was baie Romeinse en Griekse gode wat mense aanbid het. Nie net een nie, maar klomp ander. Onder andere is die Keiser ook gesien as ‘n Goddelike wese, so keiseraanbidding was ook algemene praktyk. So in ‘n wêreld waar die Jode eintlik maar die uitsondering was, het hulle begin om hierdie Jesus van Nasaret te aanbid as die seun van God, wat vir sommige mense baie teenstrydig was! Jode glo mos net in een God, en nou kom daar ook die Seun van God by? Glo hulle nou in een God of nie?

Ek plaas hier die klem op “tradisionele” monoteïstiese siening, want hierdie is toe die algemene verstaan wat ons vandag het van God-drie-enig nog besig was om ontwikkel te word. Dit was eintlik baanbreker werk wat daar gedoen is. Dit het die Jode wat in Christus geglo het se siening en Godsbeeld drasties verander. Skielik is God nie meer ‘n entiteit wat ver verhewe en passief neer kyk op hulle lewens nie, maar dis dieselfde God wat in menslike vorm neergekom het, deel geword het van die gemeenskap, verhoudings gebou het met die mense, en self al die pyn en lyding ervaar wat ons as mense ervaar. Dis anders. Dis ‘n ander tipe God as die Griekse en Romeinse gode van die tyd. Dis ‘n God wat belangstel, wat omgee, wat Godself op menslike vlak geplaas het omdat daar soveel liefde betrokke is.

 

Terwyl Paulus wel nie met die kerk in Jerusalem saamgestem het oor sommige dinge nie, het hy wel oor die belangrikste ding met hulle saamgestem: die aanbidding van Jesus. Maar ons vraag is nog nie beantwoord nie: Hoekom is Jesus nou eintlik aanbid? Wat het gemaak dat die monoteïstiese Jode Christus aanbid het? Daar is eintlik net een antwoord hiervoor: Jesus se verskyning aan die anderkant van die graf. Dit is ‘n ongeëwenaarde verskyning wat net deur God gedoen kon word. Om werklik op te staan na die dood. Jode moes nuut dink oor hulle geloofsoortuigings en het besef dat Jesus die lewende Seun van God is, soos Hy oor homself getuig het. Die opgestane Jesus het hulle kragtig aangeraak. Daarom verwys 1 Korintiërs 15:3-4 spesifiek na die kragtige belewenisse rakende Jesus wat die eerste Joodse gelowiges gehad het. Petrus (die verloënaar), Jakobus (die ongelowige) en Paulus (die vervolger) is almal daardeur hartgrondig verander.

So wat skryf Paulus dan wat ‘n konkrete bevestiging is dat Jesus werklik uit die dood opgestaan het? Hy verwys na ander skrifte. Hy vertel ‘n kronologiese volgorde van gebeurtenisse. Hy bely eintlik wat ander mense sê gebeur het en wat hy weet gebeur het. Christus is begrawe en het op die derde dag weer opgestaan (vers 4). Daarna het hy aan Sefas en die 12 dissipels verskyn (vers 5). En, daarna het hy meer as 500 mense toegespreek! (Vers 6). En dan ook daarna het hy aan die apostels en Jakobus verskyn! (vers 7). Kyk, dis nie net een persoon wat getuig van Christus se opstanding nie. Dis bykans 600 individuele mense wat elkeen van die werklike opstanding kan getuig. Boonop impliseer Paulus ook vir hulle dat as hulle hom nie glo nie, gaan vra dan vir al hierdie ander mense! Gaan vra vir hulle of Jesus werklik opgestaan het! So seker is hy van sy saak.

 

Ek wil graag 6 dimensies van die bekende teoloog Daniel Migliore uitlig wat verband hou met vanoggend se skrifgedeelte. Hy skryf spesifiek oor Christus se opstanding en die teologiese belangrikheid daarvan vir ons geloof vandag. Ek dink ons moet onthou dat die opstanding van Jesus ‘n gebeurtenis is wat nie net op ‘n historiese perspektief of ‘n private perspektief begryp kan word nie. Met ander woorde, die opstanding gaan nie net oor wat dit vir my en jou persoonlik beteken nie, en ook nie net wat dit vir die mense daarbuite beteken nie. Dis eintlik diep met mekaar verweef. Dit term ‘opstanding’ is uniek aan Joodse en vroeë Christelike apokaliptiese hoop. Ek wil dit weer bietjie anders hier stel: die term ‘apokaliptiese hoop’ beteken eintlik dat die Jode en vroeë Christene elke liewe dag die koms van Christus afgewag het. Dit kon vandag gebeur. Miskien more, miskien volgende week! Vir hulle was dit ‘n onmiddellike verwagting. Kyk, die woord ‘apokalips’ beteken mos eintlik die einde van tye. Maar hierdie apokaliptiese hoop handel oor nog ‘n ding. Dit handel oor die vervolging en lyding van God se mense en die vervulling van profesieë. Dit is ‘n bewyse dat boosheid finaal oorwin is. Hierdie boodskap bestaan uit ‘n apokaliptiese- (die eind-tye) en eskatologiese raamwerk (die wederkoms en oordeel) wat verskeie dimensies van interpretasie verg

Die eerste dimensie is die belangrike teologiese dimensie. Hier fokus ons eintlik op God se getrouheid. Esegiël 37 is ‘n voorbeeld van hoe God alleen grafte kan oopmaak en mense weer lewend maak, nes God met Jesus gemaak het. Handelinge 3:13 sê immers: “Die God van Abraham en die God van Isak en die God van Jakob, die God van ons vaders, het sy Dienskneg Jesus verheerlik”. Ons moet ook weet dat wanneer ons oor die opstanding praat, word daar van God gepraat. Jesus se menslike eienskappe het nie homself uit die dood opgewek nie. Dit is ‘n werking van die getroue en genadige God. Net soos wat Jesus vir ons gesterf het, het hy ook vir ons opgestaan.

Die tweede dimensie is die Christologiese dimensie. Dis Christus gesentreerd. Die hele Nuwe Testament beklemtoon die identiteit van die opgestane Christus met die gekruisigde Christus. Dis ook presies wat Paulus hier in Handelinge 15 doen. Die opgestane Christus is die een wat menslike vorm geneem het, as dienskneg onder ons gewerk het, en ook wat gehoorsaam was, selfs tot die dood aan ‘n kruis, soos beskryf in Filippense 2:5-11. Maar dis nie waar dit stop nie. Die ernstige natuur van die kruisiging word weer beklemtoon deur die soldaat wat sy spies in Jesus se sy gesteek het. Daarom is dit nog meer merkwaardig dat dit dieselfde Jesus is wat opgewek is. Die lig van die opgestane Jesus lei almal wat in die donker is. Dit beteken ook dat Paasfees, wat ons oor ‘n paar maande vier, ons menslikheid en vryheid beklemtoon. Die Kerkvader Irenaeus het immers self verkondig: “The glory of God is humanity alive”

Die derde dimensie is die pneumatologiese dimensie. Dis nou die dimensie van die Gees. Die woord pneumatologie word afgelei van die Griekse woord vir ‘Gees” Volgens die evangelie van Johannes blaas die opgestane Here die asem van die Gees op sy dissipels (Joh. 20:22). Paulus vertel in 1 Korintiërs dat die opstanding die ‘eerste vrugte’ van die nuwe skepping is, waar gelowiges nuwe lewe in Christus kry deur die Gees. Deur die Gees word die lig van Christus, die liefde van Christus en die uitgestrekte arm van Christus vir ons geskenk. Die Gees is ook sentraal tot die missionale aard van die Gees.

Die vierde dimensie is die ontvangs van die opgestane Christus wat ‘n ekklesiologiese dimensie het. In ander woorde: die Kerklike aspek. Ekklesiologie is die studie van kerke, so die ekklesiologiese dimensie gaan oor die kerklike dimensie. Die apostoliese verkondiging van die opstanding moet verstaan word deur ‘n persoonlike doening van geloof, maar is nooit ‘n geïsoleerde geval nie. Die grootheid van die krag van God gee vir ons ‘n nuwe gemeenskap: Die liggaam van Christus. Verskeie gebeurtenisse in die geskiedenis het ons siening van die opstanding beïnvloed. Die staptog na Emmaus is een van hierdie ekklesiologiese gebeurtenisse. Twee dissipels praat oor hulle verskeurde hoop. Wanneer ‘n ‘vreemdeling’ begin saamstap, kom hulle nie agter dat dit Jesus is nie. Die opgestane Here word aan hulle bekend gemaak terwyl hy die Skrifte vir hulle interpreteer en saam met hulle die brood breek.

Die vyfde dimensie is ‘n politiese dimensie. Hierdie het veral groot betekenis gehad in die eerste eeu. As Christus Heer van die wêreld is, is die Keiser nie. Ons het mos bietjie vroeër gepraat oor keiser-aanbidding. As God deur die opstanding Christus as Seun van God verklaar het, dan het God Christus se heerskappy bevestig, nie net oor dood en sonde nie, maar ook die gewelddadige optrede en agendas van die verskeie Keisers. Die “institusie van sonde en dood”, soos die bekende Nuwe-Testamentikus N.T Wright dit beskryf.

Ek wil graag afsluit met die sesde, en laaste dimensie, wat die kosmiese dimensie is. Ons kan dit ook sien as die eskatologiese dimensie van Christus se opstanding. Jürgen Moltmann gee ook die stelling dat Christus se opstanding die begin van God se nuwe wêreld is. Moltmann is bekend daarvoor dat sy teologie rakende die opstanding so ‘n kosmiese uitkyk het. Ek onthou Jürgen Moltmann het ‘n paar jaar gelede ‘n lesing gegee by die Universiteit van Stellenbosch wat ek bygewoon het. Hy het daardie dag so tussen die lyne bevestig dat honde ook deel gaan wees van God se nuwe wêreld. Ek gaan daardie dag nooit vergeet nie.

Die opstanding is nuwe hoop vir mense, gemeenskappe, en ook die hele kosmos wat nie meer gevangene is deur die gryp van dood nie, soos ook in Romeine 8:18-25 beklemtoon word. Migliore sluit af deur die stelling te maak dat om in die opstanding van Christus te glo, is om te glo dat God triomfeer oor dood in menslike geskiedenis, asook die dood wat tans vir die mensdom relevant is. En dis hoekom ons vandag die nagmaal kan vier. Christus se bloed is vir ons gestort en sy liggaam vir ons gebreek, met die einddoel van die opstanding, net soos wat 1 Korintiërs 15 getuig. Ons kan saam met Christus op staan.

 

Amen.