'n Eerste Belydenis van Geloof - Romeine 10:8b-13

Skriflesing (Romeine 10:8b-13)

 

…dit is die woord van geloof wat ons verkondig. 9Want as jy met jou mond bely dat Jesus die Here is, en jy glo met jou hart dat God Hom uit die dood opgewek het, sal jy verlos word. 10Want met die hart glo ons, en word so regverdig verklaar; met die mond bely ons, en word so verlos. 11Die Skrif sê tog: “Elkeen wat in Hom glo, sal nie beskaamd staan nie.” 12Dit maak inderdaad geen verskil of jy ‘n Jood of ‘n Griek is nie. Ons het almal dieselfde Here, en Hy deel sy rykdom uit aan almal wat Hom aanroep. 13Want “elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal verlos word.”

Preek

Romeine is een van die langste en mees invloedryke boeke wat deur Paulus geskryf is. Paulus is natuurlik ook bekend as Saulus van Tarsus, ‘n Fariseër. Paulus was ‘n Joodse Rabbi wat ongelooflik getrou was aan die Torah en die wette van Moses. So Paulus wat so vasgestel was in sy ideologie het natuurlik hierdie nuwe afdeling van Jode wat in Christus geglo het as ‘n bedreiging vir die Joodse geloof en kultuur gesien. Maar nadat hy ‘n ontmoeting met die opgestane Jesus gehad het, het hy ‘n radikale omekeer gemaak en ‘n Apostel geword. ‘n Apostel is basies net ‘n verteenwoordiger van Christus. So Paulus het toe begin om met sy Romeinse naam rond te gaan.  Hy het beweeg van ‘n area waar die mense Aramees gepraat het, na ‘n area waar hulle Grieks gepraat het, so hy was toe nie meer Saulus nie, maar Paulus. Dis eintlik ‘n mooi metafoor van hoe hy heeltemal ‘n ommekeer gemaak het in terme van sy vervolging.

 

So Paulus het dikwels na nuwe gemeenskappe toe gegaan, die boodskap van Christus se Evangelie versprei en kerke geplant. Wanneer hy nie by daardie gemeenskappe was nie (en hy miskien by ‘n ander gemeenskap was), sou hulle vir hom briewe skryf met vrae wat hulle gehad het. Paulus sou dan terug geskryf het om hulle vrae te beantwoord, om hulle te bemoedig, om vir hulle te sê as hulle iets verkeerd verstaan het, en allerhande ander dinge. Romeine is dan nou een van hierdie briewe.

 

Ons weet alreeds van wat ons in Handelinge 18 lees dat die kerk in Rome alreeds vir ‘n geruime tydjie bestaan het en dat dit uit beide Joodse en nie-Joodse volgelinge van Christus bestaan het. Maar op een punt het die Romeinse Keiser Clavdivs alle Jode uit Rome verban. En so het 5 jaar verby gegaan, waarna die Joodse en nie-Joodse volgelinge van Christus toegelaat was om terug te keer. Toe hulle terug gekom het, het hulle egter ‘n kerk gevind wat redelik geskeur is. Dit was nie meer soos vroeër nie. Mense het nie saamgestem oor hoe om Christus te volg nie, hulle kon nie saam stem oor of nie-Jode die Sabbatdag kon saam vier nie, of hulle kosher moes eet en of hulle besny moet wees nie. So Paulus het die brief aan die Romeine geskryf om ‘n paar dinge reg te kry. Onder andere wou hy gehad het dat hierdie verdeelde kerk verenig moes word. Maar eintlik vir ‘n baie praktiese rede. Paulus wou gehad het dat die kerk in Rome ‘n tipe van ‘model’ van kerke moes wees waarna hy kon terug verwys as hy nou verder Wes gaan in sy sendingreis, al die pad na Spanje toe. En hierdie is dan die motivering wat Paulus gebruik het om sy mees gedetailleerde verduideliking van die Evangelie te skryf. Romeine is ook in ‘n paar dele verdeel. Hoofstuk 1-4 gaan oor God se regverdigheid, hoofstuk 5-8 praat van ‘n nuwe menslikheid, hoofstuk 9-11 praat dan weer oor God se belofte aan Israel, en laastens is hoofstuk 12-16 die samevatting van hoe hierdie Evangelie die kerk een sal maak.

 

Vers 9 van vanoggend se teks is eintlik een van die vroegste vorme van ‘n gelofsbelydenis wat ons vandag tot ons beskikking het. Dis eintlik vreeslik interessant hoe die Grieks hier gebruik word. Vandag lees ons in vers 9 “as jy met jou mond bely”. In sommige ander tale word daar soms ‘n onderskeid getref tussen die woorde wat gebruik word wanneer jou mond toe is en wanneer jou mond oop is. Byvoorbeeld, in Handelinge 23:2 is dit eintlik hoogs waarskynlik dat die mond toe is. Maar in hierdie geval is dit natuurlik duidelik dat jou mond oop moet wees, aangesien jy nie met ‘n toe mond kan bely nie. Wat ook eintlik nogal vreemd is, is die feit dat daar hier op ‘n manier toutologie plaas vind. Met ander woorde, ‘n onnodige herhaling. As jy hardop bely, dan is jou mond mos natuurlik oop, so dis dan mos nie nodig om dit te herhaal nie. Dis soos om te sê “Ek reverse agteruit”, of om te praat van ‘n “ID Dokument”, terwyl die “D” in “ID” klaar vir “dokument” staan. In ander tale word hierdie hele frase nouweer anders vertaal. Sommige mense sal dalk sê hulle bely met hulle lippe, of hulle bely met hulle keel (Soos in Hebreeus of Aramees, waar die woord vir “keel”, ‘nefesh’ vertaal kan word na jou ‘diepste binneste’). Ek dink die hele punt wat ek hier wil maak is dat Paulus dalk doelbewus dit so geskryf het om die erns van die saak te illustreer. Jy moet hardop, met jou mond, jou tong, jou stem, jou hele wese, Christus se verlossing bely.

 

Ons het mos vroeër gehoor dat Paulus baie getrou aan die Torah was en daardie boeke baie goed geken het. So dit is geen verrassing dat hy gereeld terug verwys daarna nie. Hierdie deel wat ons in vers 10 lees oor om met jou hart te glo en om met jou mond te bly, is eintlik ‘n direkte aanhaling van Deuteronomium 30:14. Dit sê :Nee, die woord is baie naby jou, in jou mond en in jou hart, sodat jy dit kan uitvoer”. Wat hierdie hele ding nog meer merkwaardig maak is as ons die hele geskiedenis van Deuteronomium in ag neem. Eintlik die hele Pentateug (die eerste 5 boeke van die Ou Testament).

 

Die oorsprong van hierdie boeke lê eintlik maar in ‘n mondelingse tradisie. So met ander woorde, dit is stories wat oor en oor vertel is van geslag tot geslag. Onthou, in die tyd van Deuteronomium kon die groot meerderheid van mense nie lees of skryf nie. En alles wat geskryf is, is met die hand geskryf. So die hele tradisie van om hierdie stories mondelings oor te vertel het ‘n baie mooi parallel met ‘n belydenis wat ons hardop sê. Deuteronomium was heel waarskynlik vir ‘n groot aantal jare net oor vertel of afgelees deur iemand wat geletterd was, so hulle het met hulle ore gehoor dat hulle so met hulle hart moet glo en met hulle mond moet bely. Nou sê Paulus dat jy eintlik maar dieselfde tradisie moet voort sit! Bely hardop, soos wat die mense in Deuteronomium gemaak het. Glo hardop, soos wat die mense in Deuteronomium gemaak het. Hierdie mondelingse tradisie van om dinge hardop te sê en doen is so deel van ons belydenis van Christus.

 

Paulus verduidelik hier baie prakties wat ‘n mens moet doen om ‘n volgeling van Christus te word. Paulus sê mos dan eerstens dat dit nie nodig is om God se vryspraak te gaan soek nie. Dis nie iewers in die hemel of onder die aarde nie. Hy verduidelik dit in verse 6 en 7. Dit is so vrylik beskikbaar as wat dit is om net die boodskap van die Evangelie te ontvang. Paulus sê dat God se vryspraak nie in een of ander geheime kennis lê wat net vir die besonderse slim mense of net in een of andeer binnekring beskiknbaar is nie. Hy maak dit ook hier baie duidelik dat ons moet weg bly van enige sienings wat leer dat jy gered kan word deur ‘n trapsgewyse stelsel. Dis nou hierdie stelsels wat sê dat jy onder begin, en dan stelselmatig, soos wat jy “groei” in geloof, kom jy al hoe nader aan God.

 

Dis belangrik om te weet, want in die tyd toe Paulus hierdie brief geskryf het was daar baie sulke godsdienste wat hierdie geheime paaie na redding verkondig het. Dis nou groepe soos die Eleuniese, Orfiese, Mitras- en Osirus-Isis kultus. So in die opkoms van hierdie godsdienste, was die fokus geplaas op menslike persoonlike kontak met gode. Daar was nie enige klem op lewensomkeer, geloof, of die inwoning van die Heilige Gees nie, soos wat die klem in Christendom is nie. Vir húlle wat hierdie antieke geheimsinnige gelowe gevolg het, was die handelinge en kennis van die mense wat alreeds diep betrokke in hierdie gelowe was, die manier om ‘n ervaring van die vermeende god se teenwoordigheid te kry. So Paulus skryf teen hierdie dinge en sê dat om Christus te volg is iets heeltemal anders. Dis ‘n lewende belydenis. ‘n Lewende verhouding met Christus. Nie ‘n geheim wat weggesteek word nie. ‘n Hardop belydenis met jou mond.

 

Die Jode het ‘n baie mooi manier om hierdie belydenis te doen. Paulus verwys heel waarskynlik terug na Deuteronomium 6 wanneer hy van hierdie belydenis praat. Dis die “Shema”. Dis ‘n gebed wat die Jode in die antieke tye, en ook vandag nog, twee keer per dag opsê. Die woord “Shema” word as “luister” vertaal. Die openingsreël “Luister, Israel” beteken nie bloot om die klankgolwe in jou ore te laat ingaan nie. Inteendeel, die woord “luister” hier beteken om toe te laat dat die woorde in sink, begrip verskaf en ‘n reaksie genereer. Met ander woorde, in Hebreeus is “luister” en “doen” basies dieselfde ding, maar wat moet Israel doen in reaksie op die “hoor” dat die Here alleen hulle God is?

 

“Wees lief vir die Here jou God.” Dit lees ons letterlik in die volgende vers in Deuteronomium, net na die eerste “Luister” oftewel, “Shema” In konteks is liefde nie bloot die warm, vaag, emosionele energie wat ons voel wanneer ons van iemand hou nie. In die Bybel is liefde ‘n aksie. Jy is lief vir iemand wanneer jy in lojaliteit en getrouheid optree. En so vir Israel, beteken om lief te hê, getroue gehoorsaamheid aan die bepalings van hulle verbondsverhouding. Gehoorsaamheid aan hierdie wette het nooit gegaan oor wettisisme of om God se guns te probeer verdien nie. Gehoorsaamheid in die Ou Testament gaan oor liefde en luister. As ‘n Israeliet God liefhet, sal dit dit makliker maak om te luister en sy leringe en leiding te absorbeer. Dit is hoekom die woorde “luister” en “liefde” so nou verbind en herhaal word deur hierdie openingstoesprake van Deuteronomium.

 

“Shema Yisraeil. Adonai Eloheinoe. Adonai Eghad” – “Luister Israel, die Here is ons God. Die Here is een”. Dis hoe dit letterlik vertaal word. Om dit vandag te verstaan word dit vertaal as “Luister, Israel, die Here is ons God, die Here alleen”. Luister weer. “Shema Yisraeil. Adonai Eloheinoe. Adonai Eghad”

 

שְׁמַ֖ע

יְהוָ֥ה אֶחָֽד אֱלֹהֵ֖ינוּ יְהוָ֥ה יִשְׂרָאֵ֑ל             

 

Soos ons hierbo genoem het, het die Shema ‘n twee keer-daagse gebed binne Judaïsme geword. Dit was so wyd beoefen in die tweede-tempel tydperk, dat Jesus self grootgeword het om dit te bid. Hierdie gebed was vormend vir Jesus, en hy het dit in sy leringe gebruik. Jesus is mos eenkeer gevra watter opdrag in die Torah die grootste is: Jesus het geantwoord dat die eerste van al die gebooie is: ‘Luister, Israel, die Here ons God is een God. Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand en met al jou krag. Dit is die eerste gebod. Die tweede is dit: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’ Daar is geen ander gebod groter as hierdie nie. -Markus 12:29-31

 

In die boek Openbaring het Johannes hierdie gebed gebruik om Jesus se volgelinge te beskryf. ’n Deel van die Shema-gebed in Deuteronomium 6:8 bevat hierdie woorde: “Bind dit as ‘n teken om jou hand en laat dit ‘n versiering op jou voorkop wees.” Die fisiese ligging “om jou hande” en “op jou voorkop” (wat eintlik ook “tussen jou oë” is), is ‘n simbool met redelik duidelike betekenis. Jou oë is die plek waar jy sien en jy gebruik jou hande vir byna alles wat jy doen. Hierdie gebed was om die visie en aksie van elke oomblik van die lewe te rig. Dit is hoekom Johannes sê dat in die nuwe skepping, wanneer God se mense in die nabyheid van God en die opgestane Jesus woon, sal hulle God se aangesig sien, en sy Naam sal op hulle voorhoofde wees, soos dit in Openbaring 22:4 staan.

 

Vir Johannes is die keuse ‘n redelike gelaaide een. Jy gee óf jou getrouheid aan Jesus en laat toe dat dit invloed het op hoe jy sien en optree, óf jou getrouheid sal aan vernietigende magte behoort wat ook sal beheer hoe jy sien en wat jy in die lewe doen. Die een pad lei na die lewe, die ander na die dood. Al hierdie idees en beelde kom uit Moses se woorde in Deuteronomium, spesifiek uit die Shema.

 

So hoekom het ons nou so aangegaan oor die Shema? Hoekom is dit belangrik om dit te weet? Wat het hierdie Shema-gebed van die Jode te doen met Paulus en Romeine 10? Want dis ‘n belydenis. In vanoggend se gedeelte het ons mos in vers 9 gelees: “9Want as jy met jou mond bely dat Jesus die Here is, en jy glo met jou hart dat God Hom uit die dood opgewek het, sal jy verlos word.” En dis ‘n belydenis! Paulus sê vir die Romeine dat hulle op hierdie manier Christus moet bely. En so ‘n belydenis was nie iets nuuts vir hulle nie. Hulle was gewoond daaraan om die Shema-gebed twee keer per dag op te sê, of liewer, hulle was gewoond daaraan om die Shema-gebed twee keer per dag te bely. Hulle bely klaar vir God, maar hulle moet óók Christus bely. Hulle volg klaar hierdie wette van die Ou Testament, maar hulle moet óók Christus volg.

 

Die predikant Danie Mouton stel dit eintlik so mooi: “Die wet het vooruit geroep en in Jesus Christus in volvoering gaan. Paulus se uitleg van die Ou-Testamentiese tekste onderstreep die posisie van Jesus as Here van die kosmos. God se doel met die verbond met Israel, en die volvoering van daardie doel in Jesus Christus, hou verband. Deur Christus is God se heerskappy verstewig en na alle nasies uitgebrei. God verryk mense se lewe oor die aarde heen deur Jesus. Daar is geen bevoorregte groep meer in God se oë nie: Alle mense word opgeroep om God in Christus te herken en God deur Christus te ontmoet.”

 

Hy gaan ook verder en sê: “Ons is mense van die Woord. Die kwaliteit van ons geloof in Jesus en van ons verbondenheid aan die Woord blyk uit ons uitleef daarvan. Die Woord wat tot naby ons gekom het, is immers die Woord van ons Here, Jesus Christus. Om ‘n mens van die Woord te wees, moet jy die Naam van die Here aanroep, met jou mond bely dat Hy Here is en glo dat God hom as Messias bevestig het deur Hom uit die dood op te wek. Dit is nie ‘n rympie wat mens opsê en alles is afgehandel nie. Die belydenis dat Jesus Here is, is ‘n reis wat mens met die Woord van God onderneem, in groeiende toewyding en gehoorsaamheid.”

 

Dink bietjie oor jou eie lewe. Hoe bely jy vir Christus? Wat beteken dit vir jou om te bely dat Christus ons God is? Probeer om nou in jou eie denke nie individualisties te wees nie. Met ander woorde: in Johannes 1 praat Johannes van die Lig wat na die wêreld toe gekom het. So wat beteken dit vir jou om Christus binne hierdie wêreld te bely. Hoe affekteer jou aktiewe belydenis met jou mond die mense rondom jou?

 

Ons is geroep om hierdie belydenis ernstig op te neem. Ons is geroep om aktief te wees met ons mond en met ons hart. So gaan dan uit in die wêreld en gebruik hierdie mond en gebruik hierdie hart wat God uit genade vir jou gegee het sodat jy die wêreld ‘n beter plek kan maak. Ons sien gereeld in hierdie wetenskap-fiksie films (of science-fiction) oor mense wat in tyd kan rondbeweeg (of “time-travel”) dat mense so versigtig is om nie eers die kleinste ding te doen wat die toekoms kan affekteer nie. Ons noem dit die “Butterfly Effect”, maar ons dink so gereeld dat die kleinste ding wat ons vandag doen, nie ‘n groot impak op die toekoms kan hê nie. Maar hierdie belydenis waarvan Paulus ons leer, mag dalk voel asof dit iets kleins is, maar dit kan ‘n groot impak in die wêreld hê.

 

Amen.