Johannes 15:1-8

Skriflesing (Johannes 15:1-8)

151“Ek is die egte druiwestok en my Vader is die landbouer. 2Elke loot aan My wat nie vrug dra nie, sny Hy weg;  maar elkeen wat vrug dra, snoei Hy skoon, sodat dit meer vrug kan dra. 3Julle is egter reeds skoon deur die woorde wat Ek vir julle gesê het. 4Bly in My, soos Ek in julle. Net soos die loot nie uit sy eie vrug kan dra as dit nie in die druiwestok bly nie, so julle ook nie as julle nie in My bly nie. 5Ek is die druiwestok, julle die lote. Wie in My bly en Ek in hom, hy dra baie vrug, want sonder My kan julle niks doen nie. 6As iemand nie in My bly nie, word hy soos ‘n loot buite uitgegooi, en verdroog. Hulle maak dit bymekaar en gooi dit in die vuur,cen dit verbrand. 7As julle in My bly, en my woorde in julle bly, vra dan wat julle wil, en dit sal met julle gebeur. 8Hierdeur word my Vader verheerlik, dat julle baie vrug dra en my dissipels kan wees.”

 

 

Preek

Oral rondom ons is daar plase en oop velde. Dit was regtig iets besonders om te sien. Die plaasgemeenskappe is ‘n konteks wat eie is aan plekke soos waar ons vanoggend sit. Jesus was baie bewus van wie die mense was met wie hy gepraat het. In Johannes 15 weet Jesus dat hy met mense praat wat plase ken; mense wat wingerde ken; mense wat weet hoe om goeie wyn te maak. So wat doen Jesus? Jesus gebruik die beeld van ‘n wingerd om ‘n punt te maak. Hy gebruik iets wat eie is aan die omgewing waarin hy is, en maak ‘n konsep verstaanbaar vir die mense met wie hy praat.

 

Johannes 15 is seker een van die bekendste dele van die Nuwe Testament. Dit is iets wat ons al honderde kere vantevore gehoor het. Dit is die klassieke vergelyking van die wingerde en die landbouer. Johannes is ‘n wonderlike evangelie met besonderse mooi Grieks. Meer spesifiek: Johannes 15 is die laaste van Jesus se “Ek Is” stellings, of in Grieks: die ‘Ego Eimi’ stellings. Dit is ‘n hele klomp stellings wat Christus oor homself gemaak het met hierdie heilige woorde “Ek Is”. “Ek is die lig van die wêreld” “Ek is die brood van die lewe”. Hierdie is absolute stellings wat Christus maak oor homself. Maar hoekom is hierdie so belangrik? Hoekom is al hierdie “Ek is” stellings so merkwaardig in Christus se bediening? Wat maak vanoggend se Johannes 15 teks so spesiaal?

 

Een van die redes hoekom hierdie “Ek Is” stellings so belangrik is, is omdat dit dieselfde naam is wat God in die Ou Testament gebruik het om God aan Moses bekend te maak, soos byvoorbeeld in Eksodus. Eksodus 3:13-14 sê: 13Daarna sê Moses vir God: “Sê nou maar ek kom by die Israeliete en ek sê vir hulle: ‘Die God van julle voorvaders het my na julle toe gestuur,’ en hulle vra vir my: ‘Wat is sy Naam?’ wat moet ek dan vir hulle sê?” 14Toe sê God vir Moses: “Ek is wat Ek is. Jy moet vir die Israeliete sê: ‘Ek is’ het my na julle toe gestuur.” Die Goddelike naam van “Ek is” is deur die Jode as ontsaglik heilig gesien. En vir hierdie rede was dit ongehoord dat gewone mense dit sou gebruik. So die Joodse leiers wat Jesus gehoor het, het heel moontlik koue rillings gekry omdat Jesus self hierdie heilige “Ek Is” stellings gemaak het. Hulle het gedink Jesus laster. Hulle het gedink Jesus is heeltemal van sy kop af. Hulle het nie gedink dat Jesus die Messias is nie. Maar hierdie is presies die punt wat Johannes wil maak. Johannes gebruik doelbewus hierdie spesifieke Griekse woorde om te bewys dat Jesus nie net ‘n mens was nie, maar ook God. Volledig mens, en ook volledig God. Christus het die mag en outoriteit om hierdie “Ek Is” stellings te maak.

 

Christus se gelykenis dat hy die wingerdstok is, is seker een van die duidelikste uitbeeldings van die intieme rol van God in die lewe van gelowiges wat totaal en al afhanklik is van die geskenk van die lewe. Christus verwys twee keer na homself as die wingerdstok. Eerstens as die ware wingerdstok in vers 1, en tweedens as “Ek Is die wingerdstok” in vers 5.

 

Jesus was die meester van figuurlike taal. Hy het stories gebruik om sy lesse te illustreer en verstaanbaar vir alle mense te maak. Hy het gelykenisse vertel, hy het woordfoto’s geskilder, hy het na gewone dinge verwys om buitengewone en ewige waarhede bekend te maak. Die dissipels sou hierdie beeld van Jesus kon verstaan; die beeld van die wingerdstok en die takke, vrugdra, snoei en dooie takke verbrand. Hulle sou hulle daarmee kon vereenselwig omdat Palestina die land van wingerde was. Maar meer nog, die wingerdstok was die simbool van Israel. In die Ou Testament, in die Psalms en in die profete word daar gereeld weer na Israel verwys as die wingerdstok, en nog meer as die wingerd van God. Maar hoe skokkend moes dit vir daardie dissipels gewees het toe hulle Jesus gehoor het? In een dapper, onvervalste, onverdunde, onvoorwaardelike bewering het Jesus die totale eksklusiewe denke van die Jode opsy gesit. Vir die Jode was hulle nie net die wingerdstok in hulle eie gedagtes nie, maar die wingerd van God. En tog, het Jesus vir hulle gesê, “nee!” dit is nie so nie. Ek is die ware wingerdstok. Ek is die ware wingerdstok. En die wat My liefhet is die takke. Nie slegs die wat afstam van Abraham en Isak en Jakob nie, nie die wat besny is nie, nie die Joodse leiers nie, maar die wat My liefhet, dit is die takke. Nou het die dissipels die boodskap gekry. Nou het dit skielik in hulle koppe vasgebrand.

 

Daar is ‘n paar konsepte in vanoggend se teksgedeelte wat ek dink belangrik is om uit te lig. Die eerste hiervan is Christus wat die ware wingerdstok is. Soos ek vroeër gesê het begin vanoggend se teks met Jesus se laaste “Ek Is” stelling voor die kruisiging. Hierdie formulier wat Christus gebruik staan ook bekend as die openbaringsformulier, omdat hy natuurlik ‘n stelling oor homself maak. Daar is die “Ek Is” en dan ‘n beeld; wat in Hoofstuk 15 natuurlik die ware wingerdstok is. Dit is ‘n selfverklaring van Christus. Dit is maklik om slegs hierdie beeld uit te maak as ‘n allegorie of gelykenis, maar dit is nou hier nie die geval nie. In ‘n sin word Christus hier geplaas teenoor alle bekende wynstokke of denkbare lewensbronne. Dit is ook die funksie van die woord “ware”: Dit aksentueer sy uniekheid, dit grens Christus af as dié Wynstok, met ‘n hoofletter W. Die bekende teoloog Bultmann sê dat die beeld hier funksioneer as ‘n “herkennings formule” Hy veronderstel die vraag: wie is die ware wynstok, en bied dan ‘n antwoord: “Ek is dit! Ek en geen ander nie”. Christus kom in die plek van Israel as die ware, vrugdraende wynstok wat die Vader verseker nie sal teleurstel nie.

 

Die tweede belangrike konsep is “julle is die lote”, wat net na “ek is die ware wingerd” voorkom. Die beslissende oomblik in al die “Ek Is” uitsprake in Johannes is die gerigtheid op die gemeente: In ander woorde, ons! Hierdie beeld maak dat Johannes se Christologie ‘n baie sterk soteriologiese element het. In ander woorde: Die wyse waarby Johannes Christus se lering sien is grootliks gebaseer op verlossingsleer. Dit wat Christus is, is Hy vir en ter wille van sy gemeente. Christus bied homself eksklusief aan ter wille van ‘n wêreld wat nie eers noodwendig besef dat hulle hom nodig het nie. Is dit nie die definisie van verlossing en genade nie? Ek wil dit graag herhaal. Christus bied homself eksklusief aan ter wille van ‘n wêreld wat nie eers noodwendig besef dat hulle hom nodig het nie. Is dit nie die definisie van verlossing en genade nie? Om hulp te gee, selfs al besef ons nie ons het dit nodig nie?

 

Toe ek ‘n student was het ek saam met ‘n groep mense Lesotho toe gegaan om meer te leer by die mense daar. Die meeste van die tyd het ons spandeer om in die mielielande te werk en mielies te pluk. Stadig maar seker het ons meer en meer begin verstaan hoe hierdie boerdery besigheid werk, hoe die mielies geplant word, en ook hoe ons die mielies moes pluk. Ons moes stelselmatig ry vir ry afgaan in die landerye, mielies pluk, dit afskil, in ‘n sak gooi en die mielieplant af trap sodat dit kompos vir die land kan word. Soos wat tyd aangeloop het, het ons stelsels begin uitwerk van wat die mees effektiewe manier sou wees om hierdie daaglikse taak te voltooi. So ons het in spanne verdeel. Sommige van ons het mielies gepluk en die plante afgetrap, waarna ons die mielies op ‘n hoop gegooi het, en ander van ons het op die grond gesit en mielies afgeskil en in sakke gegooi. Dit was werklik ‘n belewenis gewees om so op grondvlak die handearbeid te doen wat op die ou end mieliemeel vervaardig. Ons het nie gegaan as ‘n “uitreik” nie, maar eerder as ‘n “inreik”. So ons het nie gegaan om mense te gaan help nie. Nee, ons het Lesotho toe gegaan om te leer by die mense wat reeds deel is van ‘n program wat hulle help. Ons wou by hulle leer. En ons het baie by hulle geleer. Ek dink die grootste epifanie wat ek in Lesotho gehad het was een van afhanklikheid. Hoe afhanklik ons van God is. Hoe afhanklik ons van die Ware Wingerd is.

 

Vir die eerste drie aande het ons in die berge van Lesotho in hutte geslaap. Dit was ongelooflik koud gewees. Wanneer die son ondergaan het dit pikdonker geraak. Die berge rondom ons het al die lig van die maan geblok en gemaak dat ek nie eers my hand voor my kon sien nie. Maar die sterre was iets ongeloofliks gewees. Dit het ook gesneeu terwyl ons op die berge was. Iets van daardie situasie het my laat besef dat as dit nie vir die vrugbaarheid van die lande rondom ons was nie, as dit nie vir die sonlig was nie, as dit nie vir die reën was nie, sou die mense wat hier so afgesonder is glad nie kon oorleef nie. Boonop sou hulle nie ons groep mense kon huisves nie. Toe ons so afgesonder van die moderne wêreld was, dink ek het die meeste van ons opnuut besef dat ons God se daaglikse voorsienigheid dikwewls miskyk en nie altyd besef hoe afhanklik ons is nie.

 

My punt met hierdie storie is maar net om te wys dat dit miskien is wat Jesus in gedagte gehad het met sy laaste “Ek Is” stelling oor die wingerdstok. Die gelykenis oor die wingerdstok mag dalk vir die mense wat in Lesotho op die landerye bly baie duidelik wees en maklik om te verstaan, maar nie vir almal nie. Ek dink hier in Vaalwater is die meeste mense goed bewus van hoe boerdery werk en hoe afhanklik ons van die Ware Wingerdstok is. Boere weet van vrugbaarheid, droogtes en afhanklikheid. Christus praat hier direk met ons. Dit is vir my ongelooflik hoe tydloos hierdie teks is. Dit maak nie saak wanneer iemand leef nie, of dit nou in die oertyd is of in die verre toekoms nie, boerdery sal altyd noodsaaklik wees. Vrugbaarheid sal altyd noodsaaklik wees. Christus se stelling van die ware wingerdstok is ‘n stelling wat tot in ewigheid verstaanbaar sal wees.

 

Wanneer Jesus oor wingerde gepraat het, het die mense van Judea geweet waarvan hy praat. Dit was ‘n bedryf wat eeue lank sorgvuldig gekweek is in die hele land. Dit was van kardinale belang omdat dit ‘n gewas was wat oor en oor druiwe kan dra, in teenstelling met graan wat suiwer vir verbruik gekweek is.

 

Eerlik gesê, moet ek erken dat ek baie min oor die wynbedryf weet. Tydens my voorbereiding vir hierdie preek het ek bietjie gelees en dit was regtig fassinerend. Die wingerdstokke is op ‘n manier ‘n baie rowwe gewas en in ‘n ander sin is dit ‘n baie fyn vrug en moet met delikate handskoene behandel word. ‘n Jong wingerdstok kan baie keer die eerste drie jaar nie vrugte dra nie, so dit word in Desember en Januarie drasties gesnoei om die energie te behou. Die takke wat nie vrugte dra nie, word uitgesny sodat daar nie onnodig water en energie na hierdie vrugtelose takke toe gaan nie. As hierdie konstante besnoeiing nie gedoen word nie, sou die gewas ‘n gewas wees wat nie sy volle potensiaal bereik het nie.

 

Wanneer Jesus dus oor wingerde praat, kan die mense hulle met daardie beeld vereenselwig, net soos die talle wynboere hier in Suid-Afrika. Maar daar is nog iets wat hierdie luisteraars beslis sal weet. ‘n Wingerd was die simbool van die nasie. In die Ou Testament word Israel telkens weer voorgestel as die wingerdstok of die wingerd van God.

 

Ek sluit af: Die illustrasie wat Christus hier maak met die wingerd het ‘n direkte uitwerking op ons as gemeente vandag. Dit gee  ‘n anti-hiërargiese beeld van die kerk. Dink bietjie aan hoe ‘n wingerd lyk. Al die takke vloei in mekaar in en maak ‘n mengelmoes wat die uiteindelike wingerd maak. Daar is nie ‘n ‘koning’ tak, of ‘n tak wat uitstaan as die beste van almal nie. Hulle almal werk saam om op die ou end een magtige wingerdstelsel te vorm. Al die takke is gelyk. Die takke wat te groot is word afgesnoei, anders neem dit te veel energie van die plant weg. Is dit nie ‘n pragtige beeld van hoe ons as gemeente van God funksioneer nie? As gemeente van Christus is daar nie ‘n hiërargie nie. Ons staan almal gelyk voor Christus, die Ware Wingerd. Daar is nie sommige van ons wat meer belangrik in die wingerd is as ander nie. Ons almal werk saam as gemeente om te verseker dat ons wingerd floreer.

 

Ons is deel van God se wingerd. Kom ons wéés die individuele takke van God se wingerd en werk saam om ‘n verskil te maak. Kom ons werk saam om die beste nagmaalwyn van ons wingerd te maak. Kom ons werk saam om deel te wees van God se bloed en liggaam.

Amen.