Skriflesing (Lukas 12:32-40)
32Moenie bang wees nie, klein kuddetjie, want julle Vader het dit goedgevind om die koninkryk aan julle te gee. 33Verkoop julle besittings en gee vir liefdadigheid. Maak vir julle beursies wat nie vergaan nie, ‘n onuitputlike skat in die hemel, waar ‘n dief nie kan bykom en geen mot kan verniel nie. 34Want waar julle skat is, daar sal julle hart ook wees.”
GELYKENIS VAN DIE WAAKSAME SLAAF
(Matt 24:45-51; Mark 13:33-37)
35“Laat julle heupe omgord wees en julle lampe aan die brand. 36En wees soos mense wat vir hulle eienaar wag om van die bruilofsfees terug te kom, sodat hulle, wanneer hy tuiskom en klop, dadelik vir hom kan oopmaak. 37Gelukkig is daardie slawe vir wie die eienaar wakker aantref wanneer hy terugkom. Amen, Ek sê vir julle: Hy sal sy gordel vasmaak, hulle vir ete laat aanleun en hulle kom bedien. 38En as hy in die tweede of derde nagwaak kom en hulle só aantref – gelukkig is daardie slawe. 39Maar dit moet julle weet: As die huiseienaar geweet het op watter tydstip die dief kom, sou hy nie by sy huis laat inbreek het nie. 40Wees julle ook gereed, want die Seun van die Mens kom op ‘n tyd wanneer julle dit nie verwag nie.”
Preek
Wat is die eerste ding wat jou opval in vanoggend se skrifgedeelte? Wat staan vir jou uit asof dit jou deur die gesig wil klap. Vir elke persoon is dit iets anders. Toe ek hierdie teks vir die eerste keer gelees het tydens my voorbereiding, was dit die konsep van slawe wat vir my uitgestaan het. Slawe. Slawearbeid. Die ding wat vir baie jare al onwettig in omtrent elke land in die wêreld is. Tog is daar vandag steeds slawehandel en slawearbeid op die ondergrondse markte. So ek het regtig geworstel met Jesus wat hier, plus in 8 ander gelykenisse, slawe gebruik as voorbeeld.
Hoekom slawe? Hoekom gehoorsame slawe? Dis mos oneties om slawe te gebruik, want slawe moet heeltemal onderdanig wees, verdien geen vergoeding vir hulle werk nie, en word as objekte, oftewel, voorwerpe gesien en nie as mense met menswaardigheid nie. So voor ons eers kan begin om te probeer om die boodskap in vanoggend se teks op te spoor, dink ek dit is eers noodsaaklik om die hele konsep van slawe in die Grieks-Romeinse tyd te verstaan. Nou, die eerste ding wat ons moet onthou, is dat niks van die materiaal wat ons het deur slawe geskryf is nie. Dis alles deur slawe-eienaars geskryf. Slawe het nie die geleentheid gehad om invloedryke materiaal te skryf nie en meeste van hulle was ongeletterd gewees. Dis die klassieke ding van geskiedenis wat deur die oorwinnaar geskryf is. Dis nooit 100% objektief nie. Geen geskiedenisboek is 100% objektief nie, want maak nie saak hoeveel feite jy het nie, daar sal altyd feite wees wat verlore gaan, of feite wat selektief gebruik word. Dieselfde geld vir alles wat in die Grieks-Romeinse tyd, die tyd van die Nuwe Testament, oor slawe geskryf is.
Slawehandel en slawearbeid was deel van die kulturele konteks. Dit was alledaags, normaal, iets wat nie ongewoon was om te sien nie. Dit was deel van die sosiale orde van die dag. Baie van hierdie slawe was krygsgevangenisse, of in Engels, “Prisoners of war”. Hulle menswaardigheid is weggeneem, hulle is verkoop as voorwerpe en geforseer om vir hulle “meester te werk”. Genadiglik het menslike geskiedenis bevorder dat ons vandag besef hoe oneties dit is om mense op hierdie manier te behandel. Ek het so tydjie terug die film “12 years a slave” gekyk, wat werklik aan ‘n mens se hartsnare pluk. ‘n Ware verhaal van hoe ‘n vry man onvoer is en as ‘n slaaf verkoop is.
Jesus praat in vanoggend se skrifgedeelte oor slawe wat opgewonde is om hulle eienaar te sien, wat werksaam is en wat saam met hulle eienaar aan tafel sit. Hoekom gebruik Jesus hierdie beeld? Dis eintlik vreemd, want Jesus se hele bediening op aarde was eintlik maar meesal gefokus op die verwerptes van die samelewing: Die tollenaars, prostitute, weduwees, egbreukers en soveel meer. Slawe is eintlik deel van hierdie groep mense. Maar ek dink Jesus is hier besig om baie strategies te wees. En ek dink Paulus het dalk dieselfde taktiek gebruik. Maar watter taktiek? Watter strategie? Kom ons kyk gou na Romeine 13:7 – “Betaal aan almal wat hulle toekom: belasting aan wie belasting, tolgeld aan wie tolgeld, ontsag aan wie ontsag, eer aan wie eer toekom”. Hoekom sê Paulus dit? Nougoed, hy sê wel in die vorige verse dat gesaghebbers deur God aangestel is, maar dis nie bloot so eenvoudig nie. Dit klink amper soos iemand wat sê “Want ek sê so” sonder om ‘n behoorlike rede te gee. Maar die punt is: Die doel is nie om die nuwe Christene af te maak as ‘n groep reëlbrekers nie, maar eerder dat hulle (en ons) tussen die mense in die sekulêre samelewing moet woon en deur ons aksies die verskil maak. Om te wys dat hulle volledige, funksionerende, bydraende lede van die samelewing is. Dit was die sosiale orde. Dit sou glad nie effektief wees om heeltemal teen die sisteem te gaan nie.
Miskien wou Jesus dieselfde effek gehad het. Of liewer, Jesus was eerste. Paulus het hierdie later geskryf. So, miskien wou Paulus dieselfde effek hê in sy skrywe as Jesus met sy gelykenisse. Slawehandel en slawearbeid was deel van die sosiale orde. Selfs al was dit oneties, sou dit heel waarskynlik eintlik net ‘n negatiewe invloed gehad het in almal se lewens as iemand teen die politieke stelsels uitgepraat het sonder om ‘n oplossing te bied. So wat doen Jesus? Hy werk binne hierdie sosio-politiese instelling en probeer om die mense wat na hom luister te laat besef dat slawe ook menswaardigheid het. Dis onrealisties om so ‘n sosio-polities-ekonomiese stelsel oornag te laat verdwyn, so Christus probeer hier dalk om eienaars te leer dat hulle slawe nie blote objekte is nie, maar mense. Met menswaardigheid.
In vers 37 lees ons dat die slawe-eienaars “[die slawe] vir ete laat aanleun en hulle kom bedien”. Nou, dit kan dalk wees om vir die slawe te sê dat hulle goed moet werk, maar ek dink die klem lê op ‘n ander plek. Ek dink dat Christus hierdie sin gesê het sodat die eienaars van die slawe bietjie hulle koppe sal regruk en besef dat slawe se menswaardigheid van genoeg waarde is dat hulle aan dieselfde tafel kan sit (oftewel, lê, soos die antieke praktyk was) as hulle en hulle familie. Hulle kan nie die stelsel van slawearbeid net so vernietig nie, maar hulle kan met die proses begin! En hoe begin die proses? Deur mense te laat besef dat hierdie slawe wat vir hulle gratis, geforseerde arbeid doen, ook mense is. Mense wat deur God geliefd is. Mense wat ook deel vorm van God se skepping. Dis dalk die eerste stap in die verandering van mense se denke. Dis iets wat ons teoloë ‘n paradigmaskuif noem.
Ons het nou ‘n rowwe idee van hoekom Jesus die slawe-beeld gebruik. Dis iets wat bekend was vir die mense met wie hy gesels. Dit was deel van die sosiale orde. Jesus het heel waarskynlik besef dat dit die menswaardigheid van die slawe wegneem, maar het die fondasie geskep om mense se ideologieë te verander en ‘n werklike paradigmaskuif aan te spoor deur eienaars aan te moedig om hulle slawe soos mense te behandel; om hulle saam met hulle aan tafel te laat sit, om hulle menswaardigheid raak te sien. Alles eintlik op ‘n baie effektiewe en subtiele manier. Ek glo glad nie dat Christus die beeld van slawe 9 keer in die Bybel gebruik om dit goed te praat of om dit te regverdig nie. As ons dit so verstaan dan dink ek mis ons die hele punt van die Evangelie.
Slawerny. In Romeine 6 praat Paulus ook van slawerny. Dit was ‘n gevestigde instelling van sy tyd. Daar is geen bewyse dat hy dit probeer hervorm het nie. Een van sy briewe is geskryf aan ‘n slaaf-eienaar met die naam Filemon. Tydens een van sy vakansies in die tronk het Paulus ‘n weghol slaaf met die naam Onesimus ontmoet. Hulle het begin praat, en Onesimus het ‘n Christen geword. Toe sy vonnis op was, het Paulus ‘n brief in sy hand gesit en hom teruggestuur na sy eienaar, wat ook ‘n Christen was. En Paulus sê: “Nou kry jy hom terug, as meer as ‘n slaaf – hy is ‘n broer.” Dit was ‘n mooi ding om te sê, maar die jong man was nog steeds ‘n slaaf.
In hierdie teks het ons ‘n lering van Jesus oor die soort gesindheid wat ons as volgelinge van die Christus moet aanneem. Ook in Lukas 17 gebruik Jesus die storie van ‘n slaaf. Hier het Jesus ‘n baie eenvoudige storie gebruik oor ‘n man wat in sy huis ingekom het na ‘n harde dag se werk. Jesus het ‘n baie humoristiese voorstel gegee en gevra of ons, as die eienaar van die huis, ons slawe sal laat sit terwyl ons hulle kos gee. Die skare wat na Jesus geluister het, sou dadelik die antwoord geweet het, nie omdat hulle slawe besit het nie, maar omdat hulle arm was en ander bedien het en miskien selfs self slawe was. Geen meester gaan die slawe dien nie. Hy gaan van hulle verwag om na hom en sy behoeftes om te sien en hy gaan nie oor hul wonderlike diens uitstort en ‘n groot fooi gee nie. Hulle kan niks verwag nie, nie eers ‘n dankie nie. In Lukas 12 kom dit eintlik voor asof Jesus die teenoorgestelde voorstel.
In Lukas se verhaal van Jesus wat die bevelvoerder oor honderd se dienaar genees, (centurio) sien ons ook die beginsel van die uitbreiding van grense. Of miskien sou dit nader aan die waarheid wees om te sê dat ons ‘n paradigmaskuif hier raaksien. Nadat Jesus die “Die Preek op die Vlakte” gegee het, gaan hulle Kapernaum binne. Die dorp sal as sy bedieningsbasis dien. Ons word vertel dat terwyl Jesus daar is, daar hierdie bevelvoerder oor honderd is wat ‘n slaaf het. Dit is ‘n slaaf wat hy waardeer. Maar daar is een probleem. Die slaaf is siek en op die punt van dood. Uit daardie bietjie inligting kan ons baie optel. Jesus word erken as ‘n meesterleraar. Later in die hoofstuk word daar gesê: ”n Groot profeet het onder ons opgestaan!’ (Lukas 7:16). Jesus is iemand om mee rekening te hou – net soos die hoofman oor honderd. ‘n Hoofman oor honderd was ‘n Romeinse militêre offisier in beheer van ‘n groep van honderd manne. Hierdie manne was waarskynlik nie in beheer van al die troepe wat by Kapernaum gestasioneer was nie, maar hy was moontlik in beheer van sommige in diens van Herodes Antipas, die plaaslike goewerneur wat deur Rome aangestel is.
Dat hierdie man ‘n slaaf het wat hy waardeer, is onthullend. Slawe is as “lewende gereedskap” beskou. Romeinse eienaars van slawe kon hulle behandel soos hulle goeddink. Hulle kon hulle straf wanneer hulle wou, en selfs doodmaak as hulle so voel. Slawe was onmisbaar. Die feit dat hierdie man genoeg vir sy slaaf omgegee het om hom te wil red, dui daarop dat hierdie man ‘n goeie man was, selfs ‘n deernisvolle een. Weereens, dit was deel van die sosiale orde van die dag. Jesus het maar net sy bes probeer om beter omstandighede te skep deur realisties te bly oor die omgewing waarin hy is. En Jesus sien iets daarvan in hierdie man. Toe hierdie man hoor Jesus is in die stad, het die hy uit sy pad gegaan om te sien dat sy slaaf die hulp kry wat hy nodig het.
Interessant genoeg konfronteer die centurio nie Jesus self met sy versoek nie. Later sal ons uitvind hoekom, maar vir eers gebruik die man die bestaande netwerk wat hy met die plaaslike Joodse ouderlinge het om sy wense te verwesenlik. Hy gebruik hulle om Jesus te kry om sy slaaf te kom genees. Hierdie ouderlinge is vinnig om die centurio se bevel te doen. Hulle verloor geen tyd om Jesus, ‘n Joodse leermeester, te probeer oortuig om hierdie slaaf, ‘n nie-Jood, te genees. Met ander woorde, om hierdie buitestander te genees. Of in wat waarskynlik hul evaluasie was, selfs minder as ‘n buitestaander, meer soos ‘n niemand, ‘n slaaf. Die ouderlinge se beroep op Jesus is nie gebaseer op die feit dat die slaaf hulp nodig het nie, maar vanweë die agting wat hulle vir sy heer het. “Hy is waardig dat julle dit vir hom doen, want hy het ons mense lief, en dit is hy wat ons sinagoge vir ons gebou het” (Lukas 7:4b, 5). ‘n Bietjie druk word op Jesus geplaas om te verseker dat Jesus met die goeie daad oorkom. Dit is asof om te sê: “Jesus, jy moet die slaaf genees vir hierdie centurio, want ons is baie aan hom verskuldig.” Ons weet vir ‘n feit dat die Romeine baie Joodse sinagoges help bou het. Die Romeine het gevoel dit was in hul belang om goeie orde en stabiliteit op die platteland te handhaaf. Hoor weer: Die Romeine het gevoel dit was in hul belang om goeie orde en stabiliteit op die platteland te handhaaf. Is dit nie presies dieselfde taktiek wat Jesus met die slawe gemaak het nie? Positiewe, effektiewe verandering in daardie konteks sou met stabiliteit kon plaasvind.
So wat is ons taak dan nou? Wat is ons verantwoordelikheid? Moet ons radikaal anders wees? Moet ons op ‘n seepboks klim en so hard skree as wat ons kan? Wel, tot ‘n mate ja, en tot ‘n mate nee. Dis nie so swart en wit nie. Ek dink Jesus het dit baie duidelik gemaak dat dinge nie so swart en wit is as wat ons dink deur slawe as voorbeelde in sy gelykenisse te stel. Een gelykenis stel ons as God se slawe voor en ‘n ander gelykenis stel ons as die meesters oor die slawe. Ander gelykenisse vertel net vanuit ‘n 3de oogpunt van slawe en meesters. Die punt is, Ons word geroep om Christus se voorbeeld te volg. Dis baie duidelik reg deur die evangelies. Om Christus se voorbeeld te volg. In vanoggend se teks is dit dan om die verandering te wees. Ons kan bitter min doen aan die sosiale omstandighede en politieke sake wat rondom ons aangaan. Jesus ook nie. Maar wat het Jesus gedoen? Hy was die verandering. Hy het hierdie verwerptes van die samelewing werklik omarm. Prostitute, tollenaars, vissermanne, arbeiders, melaatses, weduwees en ook slawe. Alhoewel die samelewing rondom hom nie hierdie mense as menswaardig beskou het nie, het hy wel. En sy dissipels het dit gesien. En sy dissipels het sy voorbeeld gevolg. Jesus was die meester van storievertelling. Hy het geweet hoe om ‘n storie op so ‘n manier te vertel dat dit mense werklik sou aanraak. Vanoggend se teks van die werksame slaaf is geen uitsondering nie.
Jesus beklemtoon eintlik op ‘n subtiele manier, sonder dat die mense dit dalk bewustelik agterkom, dat slawe óók waardig is. Dat hulle ook mense is. En dat hulle waardig is om saam met hulle meesters aan tafel te sit. Dis die eerste stap na verandering. Dis die eerste stap na die denkwyse van hierdie eienaars verander. Dis die eerste stap om slawe vrye mense te maak. Werklike sosiale verandering gebeur eers wanneer jy die geleefde ervarings van ander mense raaksien. Dis nie jou ervaring nie, dis hulle ervaring. Jy kan nooit jouself voorstel van hoe dit mag wees om ‘n slaaf te wees nie, want jy was nog nooit ‘n slaaf nie. Jy kan net luister na daardie slaaf se ervarings en die werklikheid daarvan besef. Miskien is dit een van die dinge wat Jesus wil hê ons moet raaksien. Want as ons dit raaksien, dan kan ons die eerste stap na verandering wees, net soos wat Jesus gedoen het.
Dink bietjie oor jou eie lewe? Wie is die slawe in jou lewe? Met ander woorde, wie is die mense rondom jou wat dikwels deur die samelewing rondom jou verwerp word? Mense wat nie dieselfde hanteer word as die ander mense rondom jou nie? Wie is hierdie melaatses, tollenaars, weduwees en slawe in jou lewe? En wat kan jy fisies, tasbaar doen om hierdie verskil te maak, soos wat Jesus gemaak het? Jesus het stories vertel en hierdie verwerptes van die samelewing met menswaardigheid behandel. Wat kan jy doen?
Dis nie altyd ‘n maklike taak om te doen nie. Maar om dissipels van Cristus te wees is nie altyd maklik nie. Maar, wat ons wel kan doen is om uit Christus se aksies te leer, sy voorbeeld te volg, en werklik hierdie verskil te wees.
Amen.