Skriflesing (Jesaja 43:1-7)
Preek
Die ouers in die gemeente sal weet dat wanneer ‘n kind hartseer is, het hulle gewoonlik ‘n vorm van troosting nodig. Iemand om vir hulle te sê dat alles goed sal uitdraai. Of, soos die meer informele ouers miskien sal sê: “Alles sal oraait wees”. Wat doen jy as jou kind by die huis kom na ‘n lang dag by die skool en hulle in trane is? Gee jy hulle ‘n drukkie? Vra jy hulle om jou meer te vertel oor wat die dag gebeur het? Gee jy miskien vir hulle ‘n bederfie? Daar is so baie dinge wat ons kan doen om ons kinders te troos wanneer hulle hartseer voel. Dis eintlik die doel van Jesaja 43, ons teks vanoggend. Soos met al die skrifgedeeltes in die Bybel, is daar ‘n magdom verskillende genres van tekse. Ons het poësie, soos Hooglied en die Psalms. Ons het profete, soos Jesaja en Jeremia. Ons het apokaliptiese boeke, soos Openbaring en Daniël. Maar binne hierdie genres, is daar dikwels ook sub-genres, soos met vanoggend se teks. Jesaja is eintlik deel van die profetiese literatuur, met ander woorde ‘n boek wat geskryf is om God se woorde vir mense oor te vertel, maar spesifiek is hoofstuk 43 wat ‘n mens noem ‘n heilsorakel. Dis ‘n teks wat troos bied. Wanneer die Israeliet sy nood en ellende voor God gebring het, is hy deur die priester getroos met ‘n heilstoelegging wat ‘n redelike vaste vorm gehad het, naamlik: die aanhef, of adresering; die heilstoelegging en begronding; en dan die gevolge van God se ingrype en sy doel van ingrype. So, die Israeliet voel onseker oor hulle geloof. Hulle is bang, angstig en onseker oor wat God se reaksie sal wees. Wat doen God dan in hierdie situasie?
God gryp hier in. God sê in vers 1 “moenie bang wees nie”. Hoekom moet ons nie bang wees nie? “Want Ek het jou losgekoop”, “Want ek is by jou”, vers 2, “want ek is die Here jou God”, vers 3”, “omdat jy kosbaar in my oë is”, vers 4, “Want ek is by jou” vers 5, “want ek het jou geskep, gemaak, en gevorm” vers 7. Kyk, hierdie is regtig ‘n vorm van troos. God verduidelik op so baie verskillende maniere in hierdie teks hoekom ons rustig kan wees in ons angstigheid. Ons is die kinders wat huil omdat ons bang is, maar God gryp in en sê “moenie bang wees nie” met al die redes hoekom ons nie bang hoef te wees nie.
Hierdie is ‘n baie interessante wending wat plaasvind. Die onverwagsheid, die onbegryplikheid hiervan kan nie sterk genoeg beklemtoon word nie. So wat is dit? Wat is hierdie wending in vers 1 wat so ongelooflik belangrik is? Dit is dat dit alles deur God self geïnisieer word. Israel het in die ballingskap in ‘n situasie beland waarin hulle eintlik maar hoop in God en in gebed verloor het. Hulle het verwyt gevoel. Bang. Amper ontroosbaar. So wat het aangegaan in die tyd van Jesaja en tydens die ballingskap? Wat het gemaak dat die mense troosting nodig gehad het?
So, Jesaja het gelewe in ‘n tyd toe daar vreeslik baie politieke onsekerheid en gevegte was. Die groot Assirië, die groot koloniese mag van die tyd, het Klein-Asië in die loop van die tweede helfte van die 8e eeu v.C. heeltemal onderwerp. Lande wat teen hulle gestem het en nie wou gehad het dat Asirië hulle koloniseer nie, is met baie geweld stil gemaak en later weggevoer na ander lande. In hierdie gevaarlike en verwarrende situasie het Jesaja ʼn beroep op die agtereenvolgende konings van Juda gedoen om hulle van die politiek te weerhou en rustig te raak, omdat dit vanuit ʼn politieke oogpunt die verstandigste sou wees, en ook omdat dit – soos Jesaja herhaaldelik gesê het nie die groot magte is wat die loop van die geskiedenis bepaal nie. Hulle magte is nie groot genoeg daarvoor nie.
So, Jesaja het ‘n geweldige taak gehad om die mense rondom hom te troos en hulle weer te laat besef dat dit God is wat eintlik die groot mag is, en dat God se wil op die ou end vrede sal bring. Daarom is dit dat Jesaja hierdie heilstoelegging vir sy mense skryf. Moenie bang wees nie, want God het nie opgegee nie. Vanoggend se teks is eintlik ‘n stuk suiwer evangelie. Ons almal weet dat die Israeliete nou glad nie die mees gelowige of beste volk van God was nie. Hulle het konstant gesondig, weggedwaal van God af, nie geluister nie, en nog 100 ander dinge ook. Maar hier in Jesaja 43, word daar glad nie van hulle verlede gepraat nie, en ook glad nie van hulle toekomstige opdrag nie. Daar word net gepraat van God se teenwoordigheid by hulle. Dis eintlik maar net genade. Die Israeliete verdien net so min God se genade as wat ons dit verdien, want ons is almal maar sondig, maar wat doen God? God gee dit nogsteeds. God gee hierdie troos en genade bloot uit liefde. Nie omdat ons iets daarvoor gedoen het nie. Nie omdat ons die verdien nie. Bloot uit liefde. Hierdie is ‘n vrolike teks. Dit herinner ons dat ons niks kan doen om God se genade te verdien nie.
Kyk, God se genade en liefde is nie gegrond in titels of status nie. Soos die bekende skrywer Stephan Joubert sê, is Jesaja 43 die gunsteling teks van so baie mense is. Maar dalk mis ons die diepte hiervan omdat ons nie fyn hoor hoe God ons hier as sy volk aanspreek nie. Hoor mooi: Hy roep ons op ons naam. Maar, wats die punt hiervan? Hoekom spesifiek op ons naam? Wel, die punt is, ons het so tietelbehep en statusbehep geraak dat ons nie snap dat dinge soos titels en status nie vir God saak maak nie. Daar is so baie titels, soos dominee, pastoor, vader, eerwaarde en klomp ander. Maar het jy al opgelet dat God ons nie op een van daardie titels aanspreek nie? Nog nooit het God menslike titels gebruik om ons aan te spreek nie. Jesus het self in Matteus 23 ook teen die gebruik van eretitels gepraat. Net God is in hierdie dimensie van ons spiritualiteit geregtig op eretitels. Vir dier es ken God ons op ons naam. God luister nie meer aandagtig na die gebede van een persoon as van ‘n ander persoon bloot omdat hulle ‘n titel dra nie. God roep al God se mense gesamentlik en afsonderlik op hulle naam. Of jy nou in die dorp bly of op ‘n plaas bly. Of jy vir iemand werk en of jy vir jouself werk. Of jy nou trokke laai of gras sny vir ‘n lewe en of jy die bestuurder van ‘n groot besigheid is. God luister en troos elk een van hierdie persone wanneer hulle in gebed tgree.
Wanneer ons agterkom dat ons soveel waarde vir God het dat God ons op ons naam ken, klink ons lewensmusiek, soos Joubert dit stel, anders. Dan is ons posisie in die lewe nie bepalend vir ons eiewaarde nie. Ook nie vir enige titels wat ons dalk het nie. Die wete dat God die moeite doen om ons op ons naam te ken, gee vir ons ‘n nuwe vorm van identiteit en eiewaarde. Dink bietjie daaroor. Persoonlik is ek nie baie goed om name te onthou nie. Ek onthou gesigte en die stories wat deur daardie gesig vertel is, maar dit vat my gewoonlik bietjie langer om iemand se naam te leer ken. Ek gee nou eintlik bietjie baie oor myself weg hier, maar baie keer as ek nie iemand se naam kan onthou nie en hulle vra my hoe dit gaan, antwoord ek dikwels met “goed en self?” Of ek sal my sinne in my kop so voorberei dat ek die gebruik van ‘n naam ten alle kostes vermy. As iemand ‘n titel het, maak dit die storie nog makliker. Ek spreek hulle net aan as “dokter”, of “dominee” of iets soortgelyks. So die feit dat God hierdie moeite doen om ons naam te leer ken, sê eintlik so baie oor die liefde wat God vir ons het. God troos ons op ons naam. God roep ons op ons naam. Dis eintlik baie meer spesiaal as om titels te gebruik. Ons weet ons is nie onpersoonlike nommers of identiteitlose items iewers op ‘n godsdienstige register nie. Ons is lewende, kosbare mense wat deur God op die naam geroep word om God te volg. Ons behoort aan God. Ons identiteit is onherroeplik aan God gekoppel. Ons is God se persoonlike, op die naam geroepte en voltyds afgesonderde eiendom. Dit is ons vars lewensmusiek. Dis nie dat ons God se eiendom is soos wat ‘n slaaf onwillig aan iemand behoort nie, nee. Ons is God se eiendom in dieselfde sin as wat jou kind aan jou behoort. Niks kan gedoen word om daardie verhouding te skei nie. Dis ‘n liefdesverhouding. ‘n Verhouding wat ons in staat stel dat God enige vorm van hartseer in ons lewens kan troos.
God gryp in. Weereens, God sê in vers 1 “moenie bang wees nie”. Hoekom moet ons nie bang wees nie? “Want Ek het jou losgekoop”, “Want ek is by jou”, vers 2, “want ek is die Here jou God”, vers 3”, “omdat jy kosbaar in my oë is”, vers 4, “Want ek is by jou” vers 5, “want ek het jou geskep, gemaak, en gevorm” vers 7.
Hartseer mense het troos nodig. Treurende mense soek nie preke nie, maar iemand wat vashou, verstaan en omgee. Jesus het in sy saligsprekinge spesiaal gedink aan mense wat treur. Hulle sal vertroos word, want God hou nie daarvan as God se kinders huil nie. Ons teks vanoggend deel eintlik baie elemente met die bekende Matteus 5. En soos ‘n aardse pa of ma die huilende kleuter optel en vasdruk, wil God dit graag met ons, die treurende kinders, doen.
Die Hebreeuse woord wat hier vir “moenie bang wees nie” kom van die stamwoord “yaré” af, wat eintlik ‘n konnotasie van om te bewe van bang wees, om te sidder, om so verskrik te wees dat jy nie met jou alledaagse take kan aangaan nie. In engels praat hulle van “to shudder” en ook om vrees in iemand te verwek. Dis hierdie vrees wat God wegneem. Dis hierdie vrees waarvan God ons troos. Nog ‘n interessante ding van die Hebreeus in hierdie teks is die woord wat vir Naam gebruik word. God wat ons op ons naam roep. Die woord is “Sheim”, wat baie dieper gaan as net ‘n naam. Dis jou nalatenskap. Dis die woord wat gebruik word wanneer daar van iemand gepraat word wanneer hulle oor hulle bestaan en aanleef na die dood praat. Met ander woorde, dis nie net God wat jou op jou naam roep in hierdie oomblik nie, maar ook God wat jou naam roep en jou op jou naam ken binne die konteks van die invloed wat jy op die mense rondom jou gehad het, selfs al is jy nie meer op die aarde nie. So, God wat jou troos en jou op jou naam ken is soveel meer as wat ons eintlik kan indink.
Dis interessant dat Jesus nie die treurendes bejammer nie, maar hulle eerder gelukkig of geseënd noem in Matteus 5. Die rede vir geluk lê in die troos wat hulle gaan ontvang. Wanneer God jou troos, is daar altyd hoop en is jou toekoms nooit troosteloos nie. Ja, vir seker sal jy hartseer wees oor klomp dinge, soos die verlies van ‘n geliefde, maar jy sal verder kyk as vandag se pyn ervaring. Jy sal God se ondersteunende krag ervaar en weet dat daar met God in jou ‘n toekoms is. God se troos is genesend. Ons leef in ‘n stukkende wêreld en ons word self dikwels blootgestel aan die gevolge van die breekspul. Maar vir God se kinders is die seerkry nie die einde van die wêreld nie. Ons word eerder deur pyn gelouter om vir ander wat swaarkry tot seën te wees. En wat maak ‘n mens gelukkiger as om vir iemand tot troos te wees?
Dink bietjie oor jou eie lewe. Dink aan ‘n spesifieke situasie waar jy God se troos ervaar het. Wat het daardie troos jou in jou hart laat voel? Wie was saam met jou in daardie situasie? Dink ook aan wanneer jy ‘n vorm van troos was vir iemand wat dit nodig gehad het? Hoe het God jou gehelp om ‘n bron van troos te wees? En hoe het God self jou al getroos?
Jesus het belowe om te bid dat God vir ons ‘n trooster sal stuur. En dié trooster is die Heilige Gees wat by ons inwoon en ons met krag sal versterk.
Amen.