Skriflesing (Johannes 2:1-11)
21Op die derde dag was daar ‘n •bruilofsfees by Kana in Galilea, en Jesus se moeder was daar. 2Ook Jesus en sy dissipels is na die bruilofsfees genooi. 3Toe die wyn opraak, sê Jesus se moeder vir Hom: “Hulle het nie meer wyn nie.” 4Maar Jesus sê vir haar: “Vrou, waarom pla u My? My uur het nog nie aangebreek nie.” 5Sy moeder sê vir die dienaars: “Doen wat Hy ook al vir julle sê.” 6Daar het, ooreenkomstig die reinigingsgebruike van die Jode, ses klipkanne gestaan wat elk tussen twee en drie metretes kon hou. 7Jesus sê toe vir hulle: “Maak die kanne vol water.” En hulle het dit tot bo toe volgemaak. 8Daarop sê Hy vir hulle: “Skep nou daarvan uit en neem dit vir die hoofkelner.” Hulle het dit toe geneem. 9Toe die hoofkelner die water proe wat wyn geword het – hy het nie geweet waar dit vandaan kom nie, hoewel die dienaars wat die water uitgeskep het, geweet het – roep hy die bruidegom 10en sê vir hom: “’n Mens sit eers die goeie wyn voor, en eers wanneer hulle begin dronk word, dié van swakker gehalte; maar jy het die goeie wyn tot nou teruggehou.” 11Dit het Jesus by Kana in Galilea gedoen, die begin van sy tekens. Hy het sy heerlikheid geopenbaar en sy dissipels het in Hom geglo.
Preek
Die begin van Jesus se openbare bediening word in Johannes 2 geïllustreer. In kort: Daar was ‘n massiewe troue in Kana gewees. Baie mense, baie eet en drink goed, dit was eintlik een groot partytjie gewees. Die troue in Johannes is nie soos troues wat ons vandag ken nie. Dit was ‘n groot feesmaal wat dae en dae geduur het. So dit het ook natuurlik beteken dat die gaste van die troue van ver af gekom het om hierdie hele storie by te woon. Al hierdie mense het slaapplek nodig gehad en hulle het kos nodig gehad. Dit was die algemene gebruik dat die organiseerders van hierdie troues, die ouers van die paartjie, moes sorg vir al hierdie dinge. So ons kan onsself net indink watter krisis dit sou wees as die wyn opraak.
Die wyn was nie net om ‘n goeie tyd te hê nie. In baie omstandighede was dit ook die mees hegiëniese vloeistofmiddel om te drink. Skoon, drinkbare water was nie altyd beskikbaar gewees nie, so wyn was soms gebruik as die vloeistofmiddel wat gedrink word. Met ander woorde, as die wyn op was, kon die gaste nie hulle dors les nie. Dit was eintlik ‘n mengsel van wyn wat die partytjie meer gesellig gemaak het en die vloiestof wat mense móés drink om te oorleef. Dit was die verantwoordleikheid van die bruidegom en sy familie om die wyn vir die fees te voorsien. Vir hulle was dit ‘n saak van eer dat die wyn goed en volop moes wees. So as die wyn op raak is dit nie net ‘n groot verleentheid vir die familie nie. Dit kon ook oneer of skande aan die familie bring. In die konteks van die tyd het eer en skande ‘n baie groot rol in die sosiale dinamika van die samelewing gespeel. Dit het vir die gaste gewys dat die familie nie genoeg geld gehad het om genoeg wyn te kry nie, en ook dat hulle nie genoeg vriende het om te help met die wyn nie. Maar ek dink die mees skokkende deel van hierdie hele storie is dat, volgens die Joodse reg, kon die gaste selfs ‘n eis vir skadevergoeding instel. Met ander woorde, die gaste van die troue kon die bruidegom se familie dagvaar as die wyn opraak.
Nou, natuurlik sou die gaste van die partytjie eerste agterkom dat die wyn opraak en nie die bruidegom nie. ‘n Persoon se maag is mos net só groot en kan net sóveel vloeistof hou. Maria let op dat die wyn opraak en dink by haarself dat Jesus iets daaraan sal kan doen. Sy het mos voor Jesus se geboorte geweet dat Jesus nie ‘n gewone mens is nie. So wat doen sy? Sy vra vir Jesus om te help sodat die familie van die bruilof nie oneer op hulle naam sou kry nie. Jesus se groep dissipels wat hy saamgebring het na die troue word gesien as deel van sy familie, en dit het beteken dat hy ook ‘n mate van verantwoordelikheid gehad het vir hulle kos en drank. Dit is daarom dat dit duidelik is dat Maria bekommerd is oor die feit dat die wyn opgeraak het. Om die familie die verlies van eer te spaar, het Maria vir Jesus gevra om iets te doen rondom die situasie, alhoewel sy nie ʼn wonderwerk verwag het nie. Onthou, hierdie is Jesus se eerste openbare wonderwerk, so eintlik het niemand dit verwag nie.
Hierdie waterkanne wat by die bruilof was, is nog ‘n interssante storie. So, by ‘n gewone huis van die tyd was daar gewoonlik een groot waterkan wat omtrent 750L water kon hou. Hierdie water is gewoonlik gebruik om hande en voete te was. Voor die maaltye sou die gaste hierdie water gebruik het om hulle hande mee af te spoel en sulke dinge. Johannes sê vir ons hoeveel van hierdie waterkanne daar was. Maar hoekom sê Johannes dit vir ons? Hy sê dit, want dit wys vir ons dat daar ongelooflik baie mense by hierdie troue was. As ons 2000 jaar terug gelewe het sou dit ons in die gesig geslaan het! Ons sou gesê het “hoeveel kanne?” “Was dit dan nodig?” “Was daar só baie mense by daardie troue?”
Die feit dat daar by hierdie geleentheid ses kanne was kan miskien beteken dat daar by bure kanne geleen was. Nou, die feit dat daar ses kanne was, het ook ‘n mooi simboliek betrokke. Binne die Bybel is daar ‘n paar verskillende kombinasie van getalle, soos 3 (God drie-enig) 7 (volmaakte getal, die aarde is in 7 dae geskep) of 40 (Noag se ark, die Israeliete in die woestyn). 6 kan miskien vir ons ‘n idee gee dat dit ‘n onvolmaakte getal is, omdat dit een getal weg van 7 is. Miskien sê dit dalk iets oor Jesus wat dinge volmaak kom maak het. Of, die getal kanne kan ook miskien verwys na die volheid van die genade van Christus. Maar wat wel absoluut duidelik is, is dat Johannes soveel moeite doen om al hierdie ekstra detail te gee sodat ons kan besef dat dit wat ons lees nie net oppervlakkig gelees moet word nie. Dit is God-gegewe woorde wat die volheid van Christus vir ons probeer openbaar. Ek sê probeer, want net wanneer ons dink dat ons hierdie tekste verstaan, besef ons net weereens dat ons dit eintlik glad nie verstaan nie en dat ons nóg dieper moet gaan kyk.
Hierdie storie van Jesus wat die water in wyn verander vertel nou nie juis veel oor die bruilof nie. Dit sê nie wie getrou het nie, presies hoeveel mense daar was nie en ook nie hoekom Jesus en sy dissipels juis daar was nie. Miskien het Johannes dit doelbewus so geskryf. Miskien wou Johannes gehad het dat ons moet besef dat daardie detail nie belangrik is nie. Die belangrikste dinge waarop ons moet fokus is dat: 1: Daar was regtig baie mense gewees. 2: Die wyn het onverwags opgeraak. 3: Jesus sien dat daar hierdie waterkanne is wat hy kan gebruik. En 4: Jesus doen sy eerste openbare wonderteken deur hierdie water in wyn te verander. Heeltemal onverwags. Die mense is heel waarskynlik onkant gevang. Maar dis nie al nie. Ons moet verder lees.
In Amos 9:13-14 staan daar dat die berge in die tyd van die Messias van druiwesap sal drup en dat die volk Israel dán die wyn sal drink. Dit is ‘n tipiese Ou Testamentiese beeld van Jesus se koms. Weereens, Johannes skryf alles doelbewys. Anders as die sinoptiese Evangelies soos Matteus, Markus en Lukas, fokus Johannes op die Messiaskap van Jesus en gebruik al hierdie Ou Testamentiese en profetiese beelde om te bewys dat Christus se outoriteit eg Goddelik is. Maar hoekom het Johannes hierdie evangelie op so ‘n ander manier geskryf? Wat maak die Johannesevangelie so spesiaal?
Die doel van die skrywe van die Johannes evangelie is baie duidelik in hoofstuk 20:31, wat op ’n baie spesifieke evangeliese wyse oorgedra word. Die doel is om geloof in Christus as die Seun van God te bewerkstellig. Ek herhaal: Die doel is om geloof in Christus as die Seun van God te bewerkstellig.
Die storie van Jesus wat water in wyn verander gaan nie net oor die troue nie. Dit was die eerste keer waarvan ons lees dat Jesus voor sy dissipels ‘n wonderteken gedoen het. Dit is iets wat heel waarskynlik hulle asems weggeslaan het. Hulle het nie geweet wat sopas gebeur het nie! Hier kom hierdie vreemde man wat vir hulle gesê het “volg my” en doen iets heeltemal onverwags. Hy doen iets wat net van God kan kom. Hy vat een ding, en verander dit heeltemal in iets anders in. Miskien het Jesus hierdie wonderteken gedoen om vir sy dissipels te bewys dat hy meer is as wat hulle dink. Jesus gebruik ‘n tasbare voorbeeld en bewys sy Goddelikheid aan hulle.
Dis eintlik nogal simbolies dat die eerste wonderteken een van voedsel is. Jesus het baie wondertekens gedoen met kos. Daar is natuurlik vanoggend se teks, dan is daar die vissies en die broodjies wat vermeerder het, dan as mens verder kyk kan mens die eerste nagmaal ook as ‘n wonderteken beskou omdat Jesus alreeds daar van sy kruisiging geweet het.
Maar ook het Jesus “wondertekens” met kos in aanhalingstekens gedoen sonder dat mense dit eers besef. ‘n Groot deel van Jesus se bediening het rondom etenstafels gebeur. Jesus se voete wat deur ‘n vrou gewas is met olie en met haar hare afgevee is: Dit het by ‘n etenstafel gebeur. Toe Jesus Saggeus ontmoet het, sy hy vir hom dat hy in sy huis moet gaan bly: So daar was beslis kos en etes teenwoordig. Mens moet net nog verder in die evangelies lees en ons sal agterkom dat Jesus aan tafel met álle mense gesit het. Sondaars, prostitute, tollenaars. Jesus se bediening was gevul met voedsel. Fisiese voedsel vir die liggaam. Vanoggend se teks wat oor die wyn gaan is geen uitsondering nie. Johannes sê nie wie by die troue was nie. Hy sê nie watter tipe mense by die troue was nie, want dit is nie belangrik vir Jesus se bediening nie. Dis die mense se menswaardigheid wat vir Jesus die prioriteit was. Nie hulle sosiale status, hulle finansiële status of enige iets anders nie. Daar is mos hierdie ou Engelse gesegde wat sê “give a man a fish and you feed him for a day. Teach a man how to fish and you feed him for a lifetime”. Maar daar is een massiewe fout met hierdie gesegde, en ek dink Jesus het dit besef nog voor hierdie gesegde eers uitgedink is. Jesus het besef dat jy eerstens ‘n persoon kos moet gee en daarna vir hulle leer hoe om vis te vang. Jesus het besef dat wanneer ‘n persoon honger is, wanneer daardie onmiddelike nood van kos daar is, kan mens nie eers op die basieste dinge konsentreer nie. So Jesus het geleef met ‘n aangepasde gesegde oor die vis: Gee vir ‘n persoon ‘n vis sodat hy kos het vir die dag, en dan leer hom hoe om vis te vang sodat hulle nie verder hoef te ly van hongerte nie. Ek dink Jesus is die een wat eintlik weet wat dit beteken om te ly. Die God wat self gely het, is saam met ons binne ons lyding, soos die bekende Duitse teoloog Detrich Bonhoeffer dit stel. Om honger te wees is om te ly. So Jesus het in al hierdie gevalle van sy etens-bedienings eerstens gefokus om die fisiese kos, en daarna, wanneer die mense kon fokus, het hy hulle siele gevoed met die ewige wysheid. Die simboliek in Johannes maak eintlik dat ons besef dat hierdie fisiese voedsel en siels-voedsel diep met mekaar verweef is.
Ek het mos vroeër gesê dat In Amos 9:13-14 daar staan dat die berge in die tyd van die Messias van druiwesap sal drup en dat die volk Israel dán die wyn sal drink. Jesus verander water in wyn, En die volk se geestelike dors sal dan daardeur geles word omdat hulle bewyse sal sien van Jesus se Goddelikheid.
Ons het almal hierdie dors. Ons het almal Christus se wyn nodig. In Johannes was dit letterlike wyn wat die gaste by die troue nodig gehad het, maar vandag, wanneer ons oor hierdie wonderwerk lees, besef ons dat dit nie net is om vir ons ‘n voorbeeld van Christus se Goddelikheid te wees nie, maar ook om ons te laat besef dat Christus se figuurlike wyn ons aan die lewe hou. Jesus het saam met mense aan tafel gesit, saam met hulle fisiese kos geëet, en hulle dan geleer hoe om sy wyn van wysheid vir hulleself te neem en aan die wêreld te gee. Weereens, Jesus het nie hierdie fisiese en geestelike kos vir homself gehou nie. Hy het dit aan die mense gegee wat ons nie altyd as ‘waardig’ sou beskou nie. Dit is ons plig as gelowiges om hierdie werk voort te sit. Dit is ons plig om mense te nooi om aan Christus se etenstafel te sit. Mense wat ons nie altyd mee saamstem nie. Mense wat ander opinies as ons het. Mense wat ‘n ander sosiale status as ons het. Want dit is hierdie mense vir wie die evangelie geskryf is. Dis hierdie mense wat Christus die meeste nodig het. Ons moet net onsself oopmaak en toelaat dat ons deel kan wees van die ses waterkanne, sodat ons Christus se wyn vir die wêreld kan gee. Ons is so geneig om te dink dat ons lewe net om God se ewige beloning te ontvang, maar ons vergeet so maklik dat God die aarde geskep het, en dat waar ons hier en nou is, ook deel is van God se skepping. Ons moet Christus se wyn hier en nou binne God se skepping uitdeel.
Dink bietjie oor jou eie lewe. Wie is die mense rondom jou wat Christus se wyn die nodigste het. Wie is die mense wat jy dink dit dalk nie verdien nie? Dink jy Christus sou saam met hulle aan tafel gesit het, net soos wat hy saam met tollenaars, prostitute en sondaars aan tafel gesit het? Wat kan jy doen om saam met hierdie mense rondom jou aan tafel te sit? Hoe kan jy Christus se wyn aan hulle uitdeel?
Christus se wyn is vir almal. Christus se genade is vir almal. Christus se liefde is vir almal. Besef dit. Leef dit. Deel die wyn uit.
Amen.